Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Ons skrywer-sterre en speler-sterre


Albert Maritz - 2009-06-19

 ‘n Scoop – die eerste keer wat Louw Verwey praat oor die grootste performance NOG in SA. Hoekom het hy na openingsaand verdwyn?

Nog hierdie week te sien in Impresario (kykNET)

 

“Thinking is easy, acting is difficult, and to put one's thoughts into action is the most difficult thing in the world.”

Johann Wolfgang von Goethe

Tonele uit Faan se stasie

Na Aardklop se fees twee jaar gelede ry ek terug en doen by Faan se graf op Luckhoff aan. Ja, daar was rêrig ’n Faan, en die stuk Faan se trein is losweg op sy lewe in die dorpie Luckhoff gebaseer.

Pieter Fourie het ook jarre daar gewoon. As jy nou daar kom, vertel die mense graag hy het by die poskantoor gewerk. Maar die geskiedenis verander sommer nou al – terwyl ons in hom woon. En elkeen se weergawe daarvan is vanuit ’n ander oogpunt. En soos ’n goeie huweliksberader vir jou sal sê: dis hoekom julle beide se prentjie van dieselfde ding vir julle anders lyk.

So - met die ongelooflike geleentheid wat Karen Meiring my gegee het om vir KKNK Faan se trein se regie te doen, het sy eintlik hulde gebring aan selfs die dorpie; selfs die ou stukkie grond waar Faan en sy pa gebly het – kompleet met die hele omgewing nes hy in die stuk beskryf word; selfs aan die begraafplaas. En die snaakse gewaarwording wat ek gemaak het terwyl ek daar was, het ek ’n ruk daarna weer gemaak.

Ons het op Standerton verfilm aan Feast of the Uninvited. Ons het eendag die begraafplaas besoek, en ... soos op Luckhof, het ek gedink … die dag as ons ons begraafplase weer gaan versorg, daai dag sal getuie wees dat ons voorvaders weer vir ons glimlag. Nou ...! Nou wil mens die plekke nie sien nie, want dis ’n aantyging teen ons almal, en ’n slegte weerspieëling van wat ons WIL.

Maar daarmee sê ek nie dit gaan met ons sleg nie. Allermins. Boonop het ons die werke van Pieter Fourie; en dis groots. Op universiteit het ons departementshoof neerhalend daarna verwys as “Volksteater”, tot ek hom in my derde jaar konfronteer het. Dit het wat my betref al die elemente bevat wat hy ons geleer het in goeie teater tuishoort. En 23 jaar later kon ek dit in die praktyk uittoets.

Selfs na die sukses daarvan het sommige (groot en gesiene) mense neerhalend na die werk bly verwys as Volksteater. Een was uit ’n politieke hoek, toe ons by Kunstekaap gaan speel het. Die ander was ’n baie prominente teaterpraktisyn wat ooglopend nie die sukses van die stukke kon hanteer nie. Dié een het vir die twee jaar wat Trein en Stasie gespeel het, met ’n frons geloop.

Nou werk ons aan Taraboemdery. En die stuk van Chris Barnard ontvou voor ons oë, in die stemme en gebare en emosies en tegnieke van ons voorste spelers en tegnici. Ek wil niemand uitsonder nie; almal is baie spesiaal. Kyk self. Mag ons geseënd wees op Innibos, Nelspruit - dat gehore die werk so betekenisvol beleef soos ons (Vrydag die 19de op De Kat, SABC3). Mag die werk so ’n vreugde bly wat so optimisties gedeel word deur gehore en werkers soos die geval was met die Faan'e. Ons dramaturge uit die verlede is baie, baie spesiaal. Wie dit wil ontken, het beter smaak as ek, of is seker slimmer as ek. Maklik.

Richard van der Westhuizen, Neil Sandilands en Milan Murray tydens 'n repetisie aan Taraboemdery

Soos ons sulke skrywer-sterre het, het ons ook ons speler-sterre. Dis lankal geen geheim dat Cobus Rossouw my held is op die Suid-Afrikaanse verhoog nie. En omdat ek grootgeword het met die mense van die Kaapse teaterwêreld in die dae voor TV, het ek ’n besonder sagte plekkie vir hulle. Sommer outomaties. Maar sommer ’n bewondering vir hulle ook. Hulle was ongelooflike vakmanne. En in ’n episode van Impresario, oor Hans Strydom (kykNET, Sondagaande 20h30), raak hy toe – slim en klinies uitstekend soos hy is – aan enkele elemente wat my emosionele besorgdheid oor die mense deels verklaar. En die een gesprek na die ander volg.

Na sulke gesprekke weet ons – die mense werk in ’n gemeenskap waar jy nie sommer geld maak nie. En hul KAN speel. Maar as hul werk, werk hulle. En soms oorskry werk - op talle terreine – die grense van wat die gemiddelde man op straat sal beskryf as “aanvaarbaar”. Philip Moolman by die Blou Hond met telebemarking; David Muller, die Kaapse akteur wat lank na hy 50 geword het, soos Philip, pamflette oor sy optredes uitdeel; Francois Coertse, wat met sy vrou en sy flieks die land omgetoer het en die flieks orals gewys het ...

Maar ook op emosionele en fisiese vlak mergel die werk mens soms. Een so ’n uiterste was die eienaardige ervaring van een van ons groot akteurs. Hy het  openingsaand die hoofrol in ’n stuk gespeel, en nooit weer nie. Dit was skreiend. Hy het bloot verdwyn. Wat het gebeur? Dit was en is die soort ding wat nie mag gebeur nie. Maar destyds is dit onder die mat ingevee. So niemand weet nie. Min mense weet dat hy vir vyf jaar nie weer deur iemand in diens geneem is nie.

Hierdie fassinerende verhaal – wat presies daar gebeur het – is die eerste keer deur homself vertel, tydens die 1996-opnames van die program nou op kykNET, Impresario. Moenie Sondagaand s’n misloop nie. 20h30.