Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Jy bewaar wat jy liefhet


Lina Spies - 2009-06-18

In Leopold Scholtz se insiggewende artikel “SA moet elders kers opsteek oor taalbeleid” (Die Burger, 8 Mei 2009) het sy skrywe oor die taalbeleid van die Universiteit van Barcelona my veral geïnteresseer. Dié universiteit, sê Scholtz, is onapologeties amptelik Katalaans, alhoewel ’n program aangebied word vir studente wat die taal nie beheers nie. Geen toegewings aan die sterker taal, Spaans, by wyse van parallel- of dubbelmedium word gemaak nie, en boonop koester en bevorder sowel die federale as die provinsiale regering die minderheidstaal.

Scholtz het my direk gelei na wat die wêreldberoemde tjellis Pablo Casals oor sy moedertaal Katalaans in sy outobiografie sê. Om dit in konteks te lees moet mens kortliks stilstaan by Casals se lewe. Hy is in Katalonia in Spanje in die dorp El Vendrell gebore as seun van ’n outoritêre vader wat die plaaslike orrelis en koormeester was en ’n moeder van Katalaanse afkoms, gebore in Puerto Rico. Van sy vader het Casals as klein seuntjie reeds ’n streng musikale opvoeding gekry, maar dit was sy moeder wat hom na Barcelona geneem het waar hy hom ingeskryf het aan die Escola Muniscipal de Música. Daar het hy as tjellis wonderbaarlike vordering gemaak en na sy eerste uitvoering op veertienjarige leeftyd in Barcelona, twee jaar later sy studie met die hoogste lof geslaag.

Lees ’n mens Casals se outobiografie Joys and sorrows, kom jy onder die indruk van sy menswees wat nie net sy hartstog vir die musiek omvat het nie, maar ook sy hartstog vir sy moedertaal, Katalaans. Hy het ’n intense bewussyn gehad van die “taal wat ’n moeder bewaar” om met die Nederlandse digter Martinus Nijhoff te spreek. In teenstelling met die wydverbreide ongegronde stereotipering van die kunstenaar as “wêreldvreemd” was Casals ook ten diepste betrokke by die politieke gebeure van sy tyd. Hy was ’n vurige ondersteuner van die kortstondige Spaanse Republiek (1931–36). Die bewind wat die Republiek voorafgegaan het, was ’n monargie met ’n militêre diktatuur wat Katalaans as onderrigtaal op skool verbied het. Daaroor sê Casals: “During the first years of the Republic, almost ten thousand new schools were built! And many of them in rural areas, where illiteracy was widespread. In the schools of Catalonia it had been forbidden under the monarchy to teach the Catalan language … What is more shameful than denying a child the right to learn his native tongue and destroying his pride in the culture of his own people? All of that was changed under the Republic.” Die omverwerping van die republiek en die Franco-diktatuur het Casals ’n eed laat neem om nie na Spanje terug te keer voor die herstel van demokrasie nie. Hy is in 1973 op ses-en-negentigjarige leeftyd in Puerto Rico oorlede, net te vroeg om die herstel van die konstitusionele monargie in 1975 in Spanje te beleef. En veels te vroeg om te weet dat Barcelona, wat so ’n prominente plek in sy loopbaan as tjellis beklee het, ’n vesting vir Katalaans geword het.

Casals het die noodroep gehoor van jong Katalane wat hulle taal en kultuur ontneem is. Hoor die US nog die stemme van Afrikaanstaliges wat dieselfde gevaar loop? Weet ons nog op Stellenbosch hoe wydverspreid ongeletterdheid op die platteland van die Wes-Kaap onder bruin Afrikaanssprekendes is? Hulle emansipasie kan moontlik gemaak word slegs deur onderrig in die moedertaal. Jy kan as blanke Afrikaanstalige skaars waag om dit met verwysing na jou eie geskiedenis te sê, want dan word jy verdink van ’n versteekte Afrikaner-agenda en gestereotipeer as iemand wat nie vernuwend kan dink nie, soos wat die akademikus Desidero Nova met haar/sy gereelde briewe in DieBurger te kenne gee.

Word Afrikaans nog as ’n bate vir die hele land aan die US gekoester of word die taal verneder tot ’n klein, plaaslike taaltjie ondanks sy belangrike kulturele bydrae, veral deur sy literatuur wat vir soveel digters en skrywers van totaal verskillende godsdienstige en politieke oortuigings die vanselfsprekende uitdrukkingsmedium was/is? Dis te betwyfel as dit vir ’n oudstudent bykans onmoontlik gemaak word om sy voorbereide Afrikaanse toespraak – soos amptelik ooreengekom – te lewer en die apologie nie aan hom wat die vyandige aanslag moes verduur, gerig word nie, maar aan die anderstaliges in die gehoor.

 

ʼn Verkorte weergawe van hierdie artikel het verskyn in Die Burger van 21 Mei 2009.