Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Bes en Christien: ’n Storie uit die Depressiejare


Susan la Grange - 2009-06-17

(Dit is ’n ware verhaal. Ek het Bes in haar latere jare leer ken, maar het ongelukkig nooit vir Christien ontmoet nie.)

Mejuffrou Bes Mostert was gedurende die Depressiejare ’n laerskoolonderwyseres in die Kaap. Ek skat die Depressie het min of meer geduur van 1926 tot laat in die jare dertig.

By Bes se ouers was ’n jong bruin meisie, Christien, so agtien jaar oud, in diens. Die egpaar was al bejaard en Christien het by hulle gebly tot hulle afsterwe. Toe is Christien na Bes om vir haar huis te hou.

Christien het van Plettenbergbaai se wêreld gekom, maar het met verloop van tyd kontak met haar mense verloor.

Bes was baie afhanklik van Christien, en die verhouding tussen hulle was meer soos dié van susters. In latere jare, ná Bes se aftrede, het sy elke dag beplan met Christien as haar regterhand.

As daar byvoorbeeld vir ’n kerkbasaar koek gebak moes word, was hulle twee baie bedrywig. Bes was al so 90, toe sê sy vir my dat hulle twee 16 speserykoeke gebak het. Vyftien vir die kerkkermis, en een vir hulleself, waarvan ek ook ’n porsie gekry het. Dit was ’n heerlike, geurige koek. Die een resep is vir al die gebak gebruik. Daar was nooit ’n gebrek aan kopers nie.

Bes en Christien het ook baie konfyt gekook – vir kerkverkope of somaar vir weggee vir vriende. Flessies aan laasgenoemde het altyd ’n etiket op gehad: "Hierdie flessie behoort aan Bes Mostert." Sy wou haar leë flessie vir hergebruik terughê. Ek glo dit het gehelp.

Ná meer as vyftig jaar saam was beide Bes en Christien maar bekwaald, en het Bes vir Christien gesê om uit te kyk vir ’n jong meisie wat sy kan oplei sodat sy wat Christien is, dit makliker kan hê. Ná navraag en onderhoude het Christien toe uiteindelik ’n keuse gemaak. Hulle het goed oor die weg gekom, en die meisie het tot Bes se afsterwe by hulle gebly.

Bes was met haar dood reeds in haar laat neëntigerjare. Van haar familie het kom opruim.

Nicolene, Bes se jonger suster, ook 90 of ouer, was nou die enigste oorlewende lid van die Mostert-gesin. (Sy is intussen ook al oorlede.) Sy het vertel: “Christien het besluit om ná al die jare terug te keer na haar plek van oorsprong, waar daar glo nog familie van haar woonagtig was.

Bes se familie het voorsorg vir Christien gemaak vir ’n huisie en haar die reg gegee om alles te neem wat sy nodig sou hê om haar nuwe woonplek leefbaar te maak.

Ek hoop van harte dat Christien gelukkig sal wees by haar nuwe tuiste. Ek glo sy sal Bes mis.

 


<< Terug na Vintage@LitNet <<