Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Uittreksel uit Karin Eloff se Stiletto


Karin Eloff - 2009-06-10

Hier volg ʼn uittreksel uit Karin Eloff se opspraakwekkende boek, Stiletto, wat pas by Tafelberg verskyn het. Die medeskrywer is Carel F Cronjé.

Karin Eloff is 'n voormalige werker in die volwasse vermaakindustrie. Sy werk tans as joernalis by die weeklikse koerant Sondag en woon in Johannesburg. Carel F Cronje is 'n musikant, joernalis en skrywer van onder ander Sonja Heroldt se biografie.

Karin Eloff is 'n Boeremeisie met 'n honneursgraad in sielkunde en 'n Dopper-agtergrond. STILETTO vertel die ware verhaal van die pad wat dié kuis en voorbeeldige skooldogter gestap het om uiteindelik Zoë te word - eers as gewone stripper, toe as danseres en masseuse in die Streel-kasteel en uiteindelik redakteur van 'n pornografiese tydskrif. Haar pad lê besaai met middeljarige mans, Afrikanermeisies met eksotiese Engelse verhoogname, gevaarlike seks en dwelms. STILETTO vertel hoe sy daar beland het, wat sy daaruit geleer het en hoe sy dit oorleef het. Dit raak pertinente kwelvrae oor ons samelewing aan - oor mans, oor vroue, oor seks, oor liefde en oor wie die delers en die stelers is. STILETTO draai nie doekies om oor die skadubestaan van die sekswerker nie.

***

Dit was 'n verligting om by die Streelkasteel te werk, omdat ek dit in die dag kon doen. Ek het nie nodig gehad om in die vroeë oggendure deur strate vol dronk mense te ry en te hoop niemand agtervolg my nie. Die mans wat na die Streelkasteel toe gekom het, was ook nie dronk nie. Hulle het gewoonlik oor middagete gekom of net na werk, maar teen tienuur saans was die deure gesluit en almal veilig tuis.

Om vir die eerste keer 'n erotiese massering te doen en boonop hoog swanger te wees, is nogal 'n ervaring. Die vrae wat by my opgekom het was lagwekkend. In die eerste plek is draadtrek nie so eenvoudig soos wat 'n mens dink nie, en mans ook nie. Alle mans is beslis ook nie dieselfde nie. Ek het angstig geraak. Wat as ek dit verkeerd doen? Wat as ek aanhou en aanhou en aanhou en aanhou en niks gebeur nie? En waar moet ek kyk as die ou uiteindelik kom? Dis eintlik só onnatuurlik as jy nie intiem by die ou betrokke is nie.

Moet ek plafon toe kyk?

Moet ek hom in die oë kyk? (Asseblief net nie dit nie!)

Moet ek afkyk?

En wat sê 'n mens as die customer nou sy bydrae tot die verrigtinge gelewer het?

Ek dink die eerste paar keer het ek iets soos Aitsa! of Daar's hy! gemompel.

Dan is die volgende vraag natuurlik: Wáár kom hy?

Op sy maag?

Op 'n handdoek, of wat?

Ek vind toe uit dis op jou hand. En dit sou uiters slegte etiket wees om ná die komskoot die goed onmiddellik van jou hande af te vee, in die lug te probeer afskud of om 'n gesig te trek. Kyk, by die Streelkasteel word elke man se semen verafgod, al is dit groen, want hy gaan nie terugkom as hy 'n spesmaas kry jy aanvaar nie sy liggaamsvloeistowwe in liefde nie.

Die eerste man wat 'n treatment by my gekry het, was die Streelkasteel se mede-eienaar. Hy't my plegtig die Gebooie van Draadtrek voorgelees. Bowenal moes ek die customers laat voel ek gee regtig om . . .

Ek het baie geleer van menslikheid by die Streelkasteel. Van meegevoel, van toneelspeel, van die kameraderie tussen vroue, hoe hulle mekaar soos wolwe kan beskerm, maar ook hoe onbetroubaar en emosioneel onstabiel hulle kan wees. Michelle self het by 'n latere geleentheid vir my gesê sy het in die masseerbedryf geleer daar is meer eerlikheid by mans te vinde as by vroue, en dat sy 'n groot gly in vroue gevang het.

Die customers wat effens aangeklam was, was altyd die moeilikste. Jy voel later soos 'n Boesman wat verwoed 'n vuurtjie aan die gang probeer kry, maar die kêrel sukkel om sy vonkies te laat skiet. En die ergste is: hulle wil so graag.

Ek het 'n customer gehad wat 'n kankerlyer was. Sy komskoot was siekgroen. En ek moes hom aanvaarbaar laat voel, nie my gesig wegdraai nie, nie gewalg lyk nie. Hy't my oor en oor bedank. En vir my gesê geen ander vrou was bereid om daarmee opgeskeep te sit nie.

Ek moes 'n patologiese nerd wat heeltyd sy pruikie op sy kop reggeskuif het laat voel of hy Austin Powers op steroids is. Sy lyf het met die fyndraai só geruk dat hy byna die bed gebreek het. En ek kon nie vir hom lag nie.

Daar was die advokaat. Hy was erg gestres en impotent. Ek het hom so ver gekry om van sy onvermoë te vergeet dat hy uiteindelik amper sy eie gesig raakgespuit het. Ek moes ure lank met hom speel sonder om die aandag op sy penis te vestig. Ek het net liggies aan hom geraak, kaal op hom gesit en hom liggies geterg, oor koeitjies en kalfies gesels totdat hy 'n spontane ereksie gekry het. En dit terwyl ek absoluut niks vir die man voel nie.

Daar was die ou wat kort tevore deur die ongelooflikste trauma gegaan het. Ek moes hom vashou, geliefd en veilig laat voel. Ek het regtig gesukkel om die emosionele intimiteit waarna hy so gesmag het na te boots.

Daar was die wonderlikste man wie se testikels verwyder is nadat dit in 'n rugbywedstryd afgeskop is toe hy agttien was. Die vrou vir wie hy oneindig lief was, is dood en hy het nie kans gesien om vir elke date te verduidelik hoekom hy net 'n penis met 'n leë sakkie het nie. Ek het my bes gedoen om sy vertroue in sy manlikheid te herstel.

My grootste vernedering was die ou wat wou hê ek moes in sy oë kyk terwyl hy kom. Ek kon nie. Ek kon net nie. Hy't sy moer vir my gestrip en sy geld teruggevra. Ek kon hom nie bevredig nie.

Daar was ander ook van wie ek liewer wil vergeet.

Een ou was 'n psigopaat. Ek is oortuig daarvan. Hy't my vertel hy het 'n mes in sy sak gehad en dat hy my borste wou afsny en saam met hom huis toe vat. Ek het gevoel hoe my uitgeswelde maagspiere saamtrek om my ongebore kind nader aan my lyf te trek. Ek kon eenvoudig nie klaarmaak nie. Die man se energie het soos kak teen die mure gesit. Sy oë was diep en donker en onpeilbaar gevaarlik. Ek het uitgestorm en my beskermengel Michelle het hom vriendelik dog ferm die deur gewys.

Daar was Richard. Hy't nie in draadtrek belanggestel nie, hy wou my penetreer. Maar penetrerende seks was nooit deel van ons repertoire by die Streelkasteel nie. Richard is 'n prokureur, 'n indrukwekkende slim man. Met 'n indrukwekkende klein pielietjie. Ek is nou nog bang vir mans met klein pielietjies of enigiets wat na klein-pielietjie-sindroom lyk. Dis húlle wat gevaarlik is.

Ek het my laat verkrag.

Hy't my beveel om handeviervoet op die bed te staan en ek het net daarop gefokus om asem te haal. Ek dink hy't 'n pistool by hom gehad. Hy't van agter af iets in my opgedruk wat hard en koud was. Ek was bang. Ek dink ek het my in 'n stadium natgepie. Ek was rêrig oortuig hy wou my doodskiet. Maar hy het nie. Toe hy met my klaar was, het hy 'n rol note in my hand gedruk en geloop. Ek het gaan stort. Lank. Maar ek kon hom nie van my afwas of uit my gedagtes kry nie. Vir weke nie.

Ek dink die heel ergste was die ou op Valentynsdag. Hy was 'n vreeslike vriendelike, ordentlike man en uit sy praatjies kon ek aflei hoe baie sy vrou en kinders vir hom beteken. Die rook het omtrent uit my brein getrek soos ek probeer uitwerk het wat máák die ou dan hier? Terwyl ek toe met sy penis in my hand gesit het, lui sy selfoon. Oeps. Sy vrou, het hy beduie, en gewys dat ek moet voortgaan.

"Ja, my skat," het hy geborrel, "ek's net gou hier by die hardewarewinkel, ek sal jou en die kinders sommer by McDonald's kry. Jy moet sien watse mooi present ek vir jou het. Lief vir jou! Oukei, koebaai!''

Sekondes later het ek sy warm semen op my hand gevoel. En hom vir ewig en altyd begin haat.