Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Te perd oor die berg


Susan la Grange - 2009-06-09

 

Ek is Susan la Grange, gebore Els.

My vriendin, Louie Hugo, gebore Coetzer, is ’n paar maande ouer as ek. Sy is op 2  November 1920 gebore en ek op 29 Mei 1921. Sy is in 1927 skool toe, en ek Januarie 1928.

Aangesien Afrikaans eers in 1914 as onderrigtaal in skole erken is, is ons van die vroeëre seksie leerders wat nie meer in Nederlands onderrig is nie. En wat ’n genade!

Die kerk het byvoorbeeld jare later eers afgesien van Nederlands. Eers in 1933 het die Bybel in Afrikaans verskyn.

Op my twaalfde verjaarsdag, 29 Mei 1933, het die Carnarvon Castle uit Engeland in Tafelbaai-hawe vasgemeer, met 10 000 eksemplare van die eerste besending volledige Afrikaanse Bybels. (Sedertdien het die Bybelgenootskap al meer as 10 miljoen Afrikaanse Bybels versprei.)

Louie se pa het in die distrik van Graaff-Reinet geboer en die plaas het aan die Cradock-distrik gegrens, geskei deur ’n berg.

Louie het op Cradock skoolgegaan; daar was geen koshuis nie en sy moes, soos die ander plaaskinders, by ’n tannie loseer. Vakansietye het haar ouers haar kom haal. In die begin was sy as oudste die enigste skoolgaande kind van die gesin.

Ná ’n vakansie het haar pa haar soms te perd oor die sykant van die berg geneem omdat dit ’n volstrekte kortpad was. Daar was nie eintlik ’n pad nie, boonop was dit baie steil en skuins. Hulle het die oggend baie vroeg begin; dan het haar pa haar op die perd getel, terwyl hy die perd met sy een hand gelei het, en in die ander hand die portmanto. In die portmanto was al Louie se kleertjies vir die nuwe kwartaal.

Die rit was maar stadig en moeisaam. Hulle bestemming was ’n plaashuis van vriende, hoog teen die ander kant van die berg.

Die egpaar was kinderloos, en die tannie was baie eensaam. Sy het die jong swart kinders van hulle hutte na die plaasopstal gelok. Daar het sy ’n stuk of vier van hulle geleer om Afrikaans te praat en hulle ook gekersten. Die swart kinders in die huis was vir Louie snaaks. Die kinders was merkbaar baie geheg aan die tannie. Sy het hulle dan ook aangesê om vir Louie te sing. Hulle Afrikaans het nog heelwat skaafwerk benodig; so het hulle die woord “gou-gou” uitgespreek as “goe-goe”.

Die suiwer stemme van die kinders het ’n onuitwisbare indruk op die agtjarige Louie gemaak. Vandag nog, ná meer as tagtig jaar, sing Louie daardie liedjie na.

Hier volg die woorde:

Hierdie pennie het ek met my saamgebring
vir die heidenkinders en die sendeling,
Gaan dan, pennie, goe-goe (gou-gou)
al is jy so klein, en vertel die heiden
Jesus maak jou rein.

Die tannie sou natuurlik maar altyd die pennies vir die “heidenkinders en die sendeling” moes voorsien het. Want hoe sou kinders van veld en bos ’n pennie kon bekom?

Louie het dan by die goeie egpaar oorgeslaap en dan het die oom en tannie haar die volgende oggend met die perdekar Cradock toe geneem, en dan somaar hul inkopies gedoen. Dit was ’n grondpad, en baie kronkelend en ongelyk.

Die oggend voor hulle vertrek, het hulle net koffie met beskuit gekry. Louie onthou die lekkerste van daardie rit dorp toe was die padkos. Halfpad dorp toe is daar langs die pad stilgehou om, soos die tannie gesê het, bene te rek, bossies toe te gaan, en dan die heerlike padkos te geniet. Let wel, ’n nat “jammerlappie” was byderhand  vir hande en mond afvee. Die padkos was gewoonlik koue vleis en brood, en soms kom ’n gebakte patat ook by, en laastens ’n bietjie warm koffie uit die fles. Dit was vir klein Louie ’n koninklike dis. Die twee karperde was seker net so bly vir die ruskansie.

Toe Louie ouer was, en haar twee jonger broers ook skool toe moes gaan, is hulle al drie na die Hoër Volkskool, Graaff-Reinet. Karel en Deon het as sub A daar begin, terwyl hulle suster hulle al ’n paar jaar vooruit was.

Op hoërskool was Karel saam met my jonger suster in die klas, terwyl Louie se jongste boetie, Deon, weer later saam met my broer Danie in die klas was.

Danie woon nog steeds op Graaff-Reinet, en Deon in Gauteng. Deon kom elke jaar by Danie aan as hy deur Graaff-Reinet reis, en so word hul vriendskap van meer as sestig jaar in stand gehou.

 

<< Terug na Vintage@LitNet <<