Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Ope brief aan Russel Botman


Johann Rossouw - 2009-06-08

30 Mei 2009

Beste Russel

Dis 'n wintersaand in Melbourne. Oor 'n paar uur skop die Blou Bulle in Pretoria teen die Chiefs af vir die finaal van die Super14. Gister het die Chief met sy blou trui die Bulle sterkte gaan toewens. Hier vanuit die suide slaan 'n mens die dinge meewarig en melancholies gade.

Afrikaanse gemeenplasighede gewissel, kan ek seker nou met die deur in die huis val. Vanuit die suide – Stellenbosch om presies te wees – verneem ek hier in die suide – Melbourne om presies te wees – dat dit van erg na erger met Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch gaan.

Anders gestel: die bostelegraaf wil dit hê dat waar die vorige rektor en kie die T-opsie van jaar een af wou instel, die huidige rektor en kie die T-opsie eers van jaar twee wil instel. Die idee is blykbaar dat eerstejaars in jaar een nog kan kies tussen Afrikaans en Engels in twee klasse, daarna in een klas.

Russel, dis verwarrend. Soos dit by my uitgekom het, soos ek dit vir jou skryf. Hier in die verre suide waar ek my bevind, kan ek nie die kloutjie by die oor bring nie.

Nou, kom ek probeer; kom ek probeer deursny; kom ek probeer die karma van die verlede afsny: jy is bewus daarvan dat 'n ou garde – sommige sal sê die voorhoede (ek sê ook so), ander sal sê die agterhoede – op jou universiteitsraad die afgelope jare 'n geveg voer om die universiteit Afrikaans te hou. Om bymekaar te bring wat bymekaar hoort. Ons en julle: wit en bruin: Afrikaner en bruin/kleurling (aaklige laaste term, begeerlike eerste term: kan ons nie maar almal bruin wees nie?). Die hemel weet, die woorde kom in die pad. Maar ek glo jy sal verstaan.

Nou Russel, dit kom my ter ore dat jy en die rektoraat, op hierdie kritieke historiese punt, gaan swig. Kom ons praat padlangs. T-opsie hier, parallelopsie daar: wit, ryk Engelse wen.

Kyk, ek en jy het hoegenaamd niks teen wit, ryk, Engelse uit die Kaapse suidelike voorstede nie. Maar Russel, wat van die Vlakte? Wat van die Noord-Kaap? Wat van ons mense?

In die Uniegebou sit nou 'n kleinboer uit die platteland. Hy’t die verkiesing gewen vir 'n gedateerde, sklerotiese party danksy die sentiment van die vlaktes, die vlakkes en die verwesenes: hulle wat net een taal se toegang tot die kosmos het.

En nou wil die onbetroubare bostelegraaf dit hê dat die T-opsie, die P-opsie, transformasie, die Rewolusie, Historiese Skuld en dié wat nog die bakermat, die mense – ons hart – hierdie toegang gaan kos.

Russel, die kere wat ons voor en na jou verkiesing as rektor gesels het, is dit nie wat ek verstaan het nie. Kyk, ek verstaan jy het 'n sware karma: aan die een kant “bruin leier” (of jy nou wil of nie, so word jy gesien), aan die ander kant een van die oudhoofseuns van nierassigheid (soos jy jouself graag wil sien?). Maar Russel, jy kan nie God en Mammon dien nie. Hierdie gaan oor Afrika, Suid-Afrika, Afrikaans – as teoloog sal jy die gemene deler in dié drie wortelwoorde kan eien.

Russel, in gewone Afrikaans: die Geskiedenis het jou die mantel toegedeel. Ek is wit, jy is bruin, ons is Afrikaans: die gemene deler, die gemeenskaplike deernis wat ons van kleur bevry.

Ek doen hiermee 'n beroep op jou: stuur die pous, die moderator, die Chief in sy peetjie. Staan vas, skop vas: vir Afrikaans, vir die onder ons wat deur die Geskiedenis gesensureer is, wat nou wil word wat ons kan wees.

Elke geslag het sy hoofseuns en sy helde, sy moderators en sy profete. (Onthou jy hoe mooi jy toentertyd oor profete in Vrye Weekblad geprofeteer het?)

Russel, die uur is hier. Melbourne is koud, kosmopolities en Engels: die suide wat te ver is.

Dus, vat vas, staan vas. Laat vaar die formules, die opsies. Hier waar ek nou my nagraadse studie voortsit, gee niemand my opsies nie. Dis Engels, alles Engels.

Jy’s bruin, ek’s wit. Die Kosmos weet, dis mos een te veel: Kan ons nie maar een in ons veelheid wees nie? Kan ons nie maar bloot Afrikaans wees nie?

So nie, Russel, soos ons Boere-ondergrond daar in die destydse Verwoerdburg gesê het, is jy maar net 'n hoofseun. As jy die magte van die here Staat, die heer Mark, ten koste van ons, ten spyte van ons – ek en jy – ter wille wil wees, sal dit 'n nekslag wees.

In so 'n geval sal jy dan, soos dit 'n inskiklike hoofseun betaam, in bekoorlike Afrikaans agtergelaat word – saam met die self-colonisation of a special type bekend as “transformasie”.

Vergeet transformasie en kies vir die Groot Andersmaak: die tyd is hier.

Groete

Johann Rossouw