Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Kennisgewings | Notices

Shapes of Me vier die potensiaal van Suid-Afrikaanse jeug


2009-06-05

Nuwe produksie deel van Kunstekaap se jeugprogram

Shapes of Me is 'n opwindende nuwe Suid-Afrikaanse produksie wat geskep is deur van die land se bekendste musieklegendes in samewerking met jong talentvolle Suid-Afrikaners.

Shapes of Me is deel van Kunstekaap se breër program om Jeugdag te vier en die talent van Suid-Afrikaanse jeug ten toon te stel. Dit word aangebied deur Kunstekaap se afdeling vir gehoorontwikkeling en onderwys, in samewerking met ComArt, 'n gemeenskapskunste-organisasie in Elsiesrivier.

"Soos ons op 16 Junie 1976 gesien het, kan die jeug die verloop van die geskiedenis verander," sê Marlene le Roux, direkteur van gehoorontwikkeling en onderwys.

"Ter erkenning van die belangrike bydrae wat die jeug kan lewer om ons demokratiese toekoms te vorm, span Kunstekaap elke jaar saam met 'n gemeenskapsorganisasie met 'n bewese prestasierekord om 'n produksie te ontwikkel waar die klem op die ontwikkeling van jeugvaardighede val.

"Vanjaar werk ons saam met ComArt. Hulle bied sedert hul ontstaan in 1998 toegang tot kunste-, kultuur- en erfenishulpbronne as 'n middel tot gemeenskapsontwikkeling en nasiebou. Die produksie word ook gesteun deur die Oostenrykse konsulaat in Kaapstad," sê Le Roux.

Shapes of Me is 'n reis deur die hede en die verlede, soos gesien deur die oë van die jeug. Dit verken hoe die verhale van die verlede vorm gee aan ons hedendaagse en toekomstige ervarings, en eer die bydraes van ikone soos Nelson Mandela, Miriam Makeba, Steve Biko en Mamphela Ramphele tot die skepping van 'n eie Suid-Afrikaanse erfenis.

Die puik artistieke span sluit in Errol Dyers, met sy oorspronklike liedjies en lirieke, en artistieke regie deur Virginia Davids. Teks, gedigte en regie is deur opkomende ster Warda Jabbar en die kunstenaars kom uit die ComArt jeugstem-ensemble.

Shapes of Me vier deur sang en dans ons ryke diversiteit wat kultuur en identiteit betref, en loof die ontsaglike potensiaal van ons jeug," sê John Davids, uitvoerende direkteur van ComArt.

"Ons jeug, wat elke dag met soveel maatskaplike probleme en uitdagings te doen het, kan geïnspireer word deur die jeug van gister, wat so hard gestry het om teenspoed en beperking te bowe te kom.

"Ons is diep geraak deur die reaksie van ons jong deelnemers tydens repetisies. Hulle identifiseer ten volle met die verhale wat in die toneelstuk uitgebeeld word - dalk die dood van 'n vriend, die lewe van 'n ‘taxi queen' - en kry insig in die probleme wat met armoede gepaard gaan. Werksessies het hulle ook toegerus om die relevansie van die liedjies met betrekking tot die verhoogstuk te begryp. Hulle is dit eens dat hulle die geskiedenis nou beter verstaan, en dat hulle nou ook meer empatie met hulle ouers se ervarings het," sê Davids.

Shapes of Me word in die Artscape-arena van 24 tot 27 Junie om 20:30 opgevoer. Daar is 'n middagvertoning op Saterdag 27 Junie om 14:30.

Kaartjies kos R50, en skole kan konsessiekaartjies teen R10 vir die middagvertoning koop. Bespreek deur Computicket by 083 915 8000 of www.computicket.com of die Kunstekaap-kaartjieskantoor by 021 421 7695.

Ander produksies by Kunstekaap ter viering van Jeugdag is:

6 Junie: Youth Jazz Festival, deel van 'n jeugontwikkelingsprogram om jong jazz-talent te mentor en bekend te stel
7 Junie: Stars of Comedy and Magic, 'n opwindende verskeidenheidskonsert saam met die College of Magic, wat in die opleiding van jeugdiges spesialiseer
25 tot 27 Junie: Mâ Ravan, 'n musiek-, dans- en teateropvoering wat geïnspireer is deur die ronde trom, die ravanne
28 Junie: Vadhini Cultural Kaleidoscope, 'n kleurvolle aanbieding deur studente van die Vadhini Indian Dance Academy
2 tot 4 Julie: The Stadium, waarin die talent van die jong dansers in die klassieke en kontemporêre dansgenre te sien is
10 tot11 Julie: Hip Hop Connected, 'n opwindende opvoering met polsende ritmes, dinamiese danse en skouspelagtige ligte
22 Augustus: die 38ste jaarlikse Kunstekaap / Kaapse Filharmoniese Wes-Kaapse Musiekfees, waartydens talentvolle jong klassieke musici optree