Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Jingle Hells, Jingle Hells ...


Jana-Mariana Human - 2006-12-04

So met die fyndraai van verbruikerswaansin voor Kersfees is daar weer megastores en megastores en megastores vol nuwe CD’s. Een van die gevaarlikste dinge op aarde om te doen, is om met jou kredietkaart na so ‘n megastore te gaan. Jy stap daar in en word oorweldig deur soveel massas en massas en massas CD’s en DVD’s dat jy eintlik wil naar word omdat die totale oordaad van als so obseen is.

Almal is gatvol, die jaar was lank, jy is moeg, jy voel afgeleef soos ‘n hoer in ‘n Henry Miller-roman, die rottemarathon van die korporatiewe oorlewingsformule laat jou soos ‘n zombie voel. Jy is lus om te suip en vrolik te wees en paartie te hou en vrot te raak. Of as jy nie al gebreinspoel is deur die tropmentaliteit nie, wil jy twee maande lank net opgekrul lê en slaap met die lakens oor jou kop getrek.

Wel, vrolik of olik, vir iedereen is daar talle nuwe CD’s om as soundtrack te dien vir jou besondere eksistensiële belewenis van die feestyd, olik of vrolik.


Skielik is daar weer ‘n magdom jong rammetjies

Theunis het onlangs geskryf oor al die fabelagtige vroulike verskynsels wat almal nuwe CD’s uit het. Nou is daar skielik weer ‘n klomp nuwe CD’s van rammetjies wat hul blêre wil blêr op die musiektoneel.

Justin Timberlake irriteer die kak uit elke regdenkende persoon met sy liedjie "Sexyback", waaroor oorsese popskrywers jubel en juig. Wys jou net hoe verrot is hul arme breine al weens te veel blootstelling aan die Huis van Pop en die Huis van Rock en al hul Aanverwante Hoerhuise. Theunis verskil van my en hy sê Justin se nuwe CD het baie verdienstelike aspekte. Gelukkig skryf ek hierdie rubriek weer hierdie week en moet Theunis liewer sy bek hou.

Klik en koopRobbie Williams wys op Rudebox dat hy nie net ‘n ou simpel kapokhaantjie is nie. Wanneer dit kom by al die jong ramkatte wat nuwe CD’s uit het, vat Williams wat my betref, die koek. (Beck het ook ‘n nuwe CD uit, The Information, maar dis baie duur en wanneer ek dit uiteindelik kry, is dit vanselfsprekend dat hy die koek by Robbie sal oorvat. Selfs wanneer Robbie die koek vat, slaag hy ongelukkig nie om baie lank daaraan vas te hou nie – sy bekoorlikheid is meer plotseling en vervlietend as dié van iemand soos Beck.)

Williams laat onder meer Human League se mooi en hartseer ou liedjie "Louise" herleef; hy probeer op sy eie manier sin maak van die 1980’s en 1990’s in liedjies wat by name daaroor handel; en die slim mense onder ons wat by universiteite werk, sal seker sê hy raak intertekstueel met ‘n liedjie soos “We’re the Pet Shop Boys”. Ek het Rudebox ‘n genotvolle ervaring gevind. Dis goed dat Williams ‘n kapokhaantjie is – ek het sy biografie, Feel, gelees en dis nou so duidelik soos daglig dat Williams ‘n interessante persoon is met heelwat sjarmerende kwaliteite. Ek sal enige tyd graag saam met hom die motorfiets van die liefde wil laat snorrr. Hy kan sing, hy is ‘n goeie entertainer, hy is nie bang om te eksperimenteer met nuwe klanke en style nie, en die beste van als is dat weinig daarvan aangeplak of kunsmatig is. Robbie Williams is enige tyd ‘n beter keuse as Robbie Wessels, Kurt Darren of André Schwartz.

Klik en koopDavid Ford se I sincerely apologise for all the trouble I’ve caused is oorsee baie goed ontvang – nie dat dit beteken dat “oorsee” ‘n maatstaf is nie. Die Britse tydskrif Q noem dit “bewitching” en gee dit vier sterre. Ook Mojo gee dit vier sterre. Ford is ‘n ernstige en introspektiewe knaap en sy lirieke bestaan hoofsaaklik uit siniese sosiale waarnemings en wanhoop oor die liefde. Hy is ‘n goeie sanger, en liedjies soos "State of the Union" en "Cheer Up (You Miserable Fuck)" wys dat hy nie te veel beskadigde breinselle het nie. Die musiek klink delikaat, maar die donker lirieke gee dit ‘n interessante twist. Op die duur raak die gewroeg en dermuitrygery egter te veel, sodat ‘n mens nie te baie daarna wil luister nie. Sommige liedjies huiwer op die rand van algehele verveling en mistroostigheid.


Josh Groban – Awake

Klik en koopDaar is ‘n paar liedjies hierop wat regtig net dikvellige hartelose beenkoppe sal koud laat, soos "Un Giorno Per Noi" (Romeo E Giulietta) en al die ander liedjies in vreemde tale waarop hy baie mooi sing en regtig nogal tot ‘n mens se afgestompte gevoel kan spreek. Hy neuk egter die Suid-Afrikaanse groep Bright Blue se "Weeping" vreeslik op, en dis onvergeeflik, en maak mens so kwaad dat jy die CD liewer maar wil skenk aan een of ander sosiale klub bestaande uit middeljarige dames.

Klik en koopAnder jong mannetjies wat verdienstelike CD’s uit het, is John Mayer met Continuum, Amos Lee met Supply and Demand en James Morrison met Undiscovered. Theunis sê hulle is al drie sensitiewe siele; hulle is glad nie soos die laventelhane van boy bands en die Top 40-popfodder-worsmasjien nie. Hulle maak mooi musiek, hul klanke is subtiel en dit klink nie of hulle hoenderhokke met voorhamers bykom nie. Aangename oomblikkies, maar uiteindelik is daar nie veel wat dit bo die gemiddelde uitlig nie, ondanks die drie artieste se onbetwiste talent. Hulle is wel myle beter as verskynsels soos Ronan Keating en sy dampkring, en mens kan hulle nie afskiet nie, maar daar is niks op hulle CD’s wat soos ‘n skop in die ballas voel nie. Aldus Theunis. Wat my betref, is al hulle al drie baie pragtig met hulle opvreetbare gevreetjies, engelagtige gelaatstrekke, stout glimlaggies en ander manifestasies van welskapenheid. Daarom hou ek van hulle, finish en klaar.


En steeds wikkel die outoppies ook sielig voort …

‘n Hele paar outoppie-bokke het ook ‘n klomp nuwe CD’s uit waarop hulle ons kuttels probeer rittel. Nadat ander, soos Neil Diamond, Bob Dylan, T Bone Burnett en Johnny Cash se nuwe CD’s vroeër vanjaar onmisbaar vir jou CD-versameling geword het, is die jongste sarsie nie juis iets waarna jy meer as een keer sal wil luister nie.

Klik en koopOp Coming Home klink Lionel Richie nog meer sielig en soetlik as ooit vantevore. Al het hy in vroeër jare ‘n oulike poging of twee, drie aangewend wat heel memorabel was, klink dit of die lekker lewe wat hy weens sy rykdom geniet, sy kreatiwiteit afgewater het tot op die vlak van babamelkies. Ek het buitendien nog nooit van hom gehou nie – ek het nog altyd naar geword as ek na sy en Diana Ross se "Endless Love" geluister het. So, ek kan nie objektief oor hom oordeel nie. Daardie duet was net te afgryslik. Mens herstel nooit van so iets nie, en dus moet arme ou Lionel nou maar die prys daarvoor betaal.

Ag, en ou Rod Stewart, arme man. Hy is ook die spoor totaal byster. Nadat hy ‘n reeks van omtrent vier American Songbook-CD’s gemaak het waarop hy nostalgiese ou liedjies weer opdis soos ou kool in ‘n skoolkoshuis, sing hy weer ‘n klomp ou liedjies op sy nuwe CD, Still the Same … Great Rock Classics of our Time. Hoeveel keer kan ‘n mens nog "Have you ever seen the rain", "I’ll stand by you", "It’s a heartache", "Father & son", "Love Hurts" en "Everything I own" opsaal sonder om totaal belaglik te klink? Die ergste van als is dat oupa Rod ‘n baie lekker stem het, maar dit is hoog tyd dat hy nou met nuwe materiaal vorendag kom. Cover versions van ou liedjies is darem regtig ‘n baie vervelige en onoorspronklike ding om te doen. Rod is op baie, baie dun ys, en as hy nie weer vorendag kom met iets oorspronkliks nie, is hy ongetwyfeld ‘n geriatriese geval. Hierdie CD sal ideaal werk as agtergrondmusiek by ‘n vleisbraai-geselligheid van die PW Botha Vroueleërkollege op George.

Klik en koopElton John is darem nog nie gereed vir opname in die ouetehuis of die malhuis nie. Op sy nuwe CD, The Captain & The Kid, wys hy dat hy nog vol hups en skop is. Die omslag lyk soos iets uit ‘n sepie-weergawe van Brokeback Mountain: oom Elton by ‘n klavier en ‘n cowboy op ‘n perd neffens hom. Absurd. Oom Elton looi nog daai klavier dat nie net die biesies nie, maar ook die onderrokke van oujongkêrels van albei geslagte bewe. Maar tog is die album niks uitsonderlik of buitengewoon nie. Daar is ‘n aangrypende lied of twee, maar as mens na Dylan, Neil Young en Diamond se 2006-CD’s geluister het, kan oom Elton maar gaan doppies blaas (of dit blaas wat hom ook al tevrede sal stel). Ek meen, watter pierewaaier sal nou ooit kan kers vashou by outoppies soos Dylan en Young? Aaron Neville is ‘n wonderlike sanger, maar genade tog, wat gaan aan met al die ouer sangers om nou die heeltyd ou liedjies op te dis? Op Bring It On Home … The Soul Classics sing hy liedjies soos "Rainy Night in Georgia", "Ain’t no Sunshine", "(Sittin’ on the) Dock of the Bay", "Stand by me", "Respect Yourself", "When a man loves a woman" en "Let’s Stay Together" (met Chaka Khan). En so aan. Waarom? Wáárom? Wie is nog nie gatvol vir hierdie liedjies nie? Wie? Neville se weergawes van "Ain’t no sunshine", "Stand by me" en veral "(Sittin’ on the) Dock of the Bay" is al waarna ‘n mens twee keer kan luister voor dit begin verveel. Die res laat jou voel soos ‘n benewelde brommer wat vassit in ‘n blik gouestroop. En Klik en koopdit hou nie op nie. Ook op Julio Iglesias se nuwe CD, Romantic Classics, sing hy ou liedjies soos "Everybody’s Talking", "Careless Whisper", "Always on my mind", "Waiting for a girl like you", "Drive", "I want to know what love is" en "Right here waiting". Ek was onthuts toe ek met die luister hiervan besef het Iglesias het tog ‘n eiesoortige sjarme wat hierdie CD heel luisterbaar maak (maar nie meer as twee keer nie). Sy weergawe van "Always on my mind" is regtig mooi, maar hoekom nou daarna luister as jy na Elvis s’n kan luister? Die album het wel ‘n vreemde bekoorlikheid en kan met vrug aangewend word tydens ‘n kersligete as deel van ‘n strategie om iemand te verlei tot fladderinge van die stortgordyn. Die titelsnit van Trace Adkins se Honky Tonk Badonkadonk skyn gewild te wees. Daar is vier weergawes daarvan op die CD: ‘n eurofunk-een, ‘n country club mix, Radio Version en 70’s Groove Mix. As "Achy Breaky Heart" jou soort van kick is, sal jy dit moontlik geniet. Ek dink dit behoort goed af te gaan by die jaareind-vleisbraaie van rolbal- en hengelklubs.

Klik en koopDie kersie op die koek wat die ou bokke betref (die meeste van hulle hou mos van jong gras), isTony Bennett met sy CD Duets: An American Classic. Die CD is uitgereik om sy tagtigste verjaardag te vier en daarop sing hy ook stokou liedjies saam met gaste soos Dixie Chicks, Barbra Streisand, James Taylor, Paul McCartney, Elton John, Tim McGraw, Deline Dion, Billy Joel, Diana Krall, Stevie Wonder, Elvis Costello, k.d. lang, Sting, Bono en George Michael. Oupa Tony is nou nie naasteby in die klas van ‘n kêrel soos Johnny Cash nie. Hy kom meer uit die pierewaaier-tradisie van Broadway; met ander woorde, hy sing vir en oor die meerbevoorregtes en dit sal my nie verbaas as hy al in wit pakke opgetree het nie. Die musiek is strelend en sjarmant en omdat dit die siele van Huis Skemervreugde, die malhuis naby die Vrystaatse dorpie Lusthof, baie goed sal doen om hierna te luister, skenk ek dit graag aan hulle. Met so ‘n CD in jou versameling het niemand kalmeer-, en veral slaappille, nodig nie. Vir jazzliefhebbers is daar Bob James se Urban Flamingo en Miles Davis se Cool & Collected. Eersgenoemde is maar baie smooth en nie juis prikkelend nie, en kan deug as agtergrondmusiek by die jaareind-gesellighede van Girl Friday-maatskappye. Koop eerder Davis se CD – ‘n kompilasie met van sy beste werk. Hy is avontuurlik, meesterlik met improvisasie en laai ou liedjies soos "Summertime" en "Bye Bye Blackbird" met nuwe energie en lewe. Die dertien liedjies is ‘n goeie oorsig oor die loopbaan van ‘n reus op sy gebied. Dis lekker om te hê en na te luister, en is ook heerlike musiek om by akrobatiese erotiese avontuurtjies uit te voer.


Die grootste nagmerrie op aarde …

Klik en koop… is om by ‘n Musica Megastore in te stap en al die nuwe musiek-DVD’s te sien. Ongelukkig is ek nie ‘n jappie of ‘n ekonomies-bevoordeelde nie, daarom kan ek net specials bekostig. As jy jou oë oophou, kry jy specials: ek het Talking Heads se Stop Making Sense en Annie Lennox se Diva by die einste megawinkel vir R99 elk gekry.

‘n Man wat agter my lyf aan is, het egter vir my vyf nuwe DVD’s gegee en uitgedaag om iets daaroor te skryf op Sound Bites terwyl ou Theuniskeriekstiekspenis nog onderstebo is. Dis deel van sy verleidingstegniek … Moenie my vra hoekom nie; mans kan tog sulke simpel goed doen. Ek dink dis deel van ‘n intellektuele speletjie wat hy met my probeer speel.

Op Depeche Mode se Touring the Angel: Live in Milan sing hulle die liedjies van hul jongste CD, asook hul ou treffers. Dis ‘n skouspel en spektakel met heelwat waaraan mens jou kan vergaap. Maar raai wat? Ek het nou uiteindelik moeg geraak vir Depeche Mode. Genoeg is genoeg. Dave Gahan se stem begin ook op my tietspiere werk, om een of ander rede, want ek het hom nog altyd baie naaibaar gevind. (En ek is nog ver van my menopouse af …) Net vir bewonderaars.

Klik en koopDaar word steeds ywerig ingecash op die Johnny Cash-kultus. Onlangs is op DVD beskikbaar gestel Johnny Cash: Man in Black: Live in Denmark, 1971. Visueel is dit heel staties en formeel, opgeneem voor ‘n middelmatige gehoor, so moenie spesiale effekte verwag soos by ‘n Pink Floyd-konsert nie. Nietemin is dit ‘n wonderlike ervaring om hierdie konsert mee te maak: jy voel baie teruggegooi in die Time Warp as jy sien hoe die mense destyds aangetrek en hulle gedra het. Al sy grootste ou treffers is hierop, en ‘n treffende oomblik is wanneer hulde gebring word aan die stokou moeder van Cash se vrou, June Carter – matriarg van die bekende Carter Family in die Amerikaanse musiekgeskiedenis. Alles baie stemmig en statig. Ek moet sê, ek sou eerder na een van Cash se tronkkonserte wou kyk as na hierdie stigtelike middelklas-affêre.

Stereophonics se nuwe DVD heet Language. Sex. Violence. Other? Dit bevat ‘n interessante dokumentêr oor hoe hulle hul gelyknamige CD geskryf en opgeneem het, die toer wat daarop gevolg het, en vier musiekvideo’s van die treffers "Dakota", "Supermark", "Devil" en "Rewind". En dan is daar ook ‘n uur lange konsert waar die outjies regtig lekker speel dat die stof so staan en die vonke so spat. As jy ‘n Stereophonics-fan is, gryp dit. Indien nie, sal jou lewe nie armer wees indien jy nie hieraan blootgestel word nie.

Klik en koopR.E.M. se When the Light is Mine: The Best of the IRS Years 1982–1987. Video Collection is vir hardebaard-aanhangers van die groep. Dit bevat musiekvideo’s en TV-optredes in die jare kort voor R.E.M. wêreldbekend geword het. Dis kwaai om die rouer, meer ongepoleerde R.E.M. te hoor op liedjies soos "Radio Free Europe", "Talk About the Passion", "Fall on Me", "Swan Swan H" en vele ander. Die platemaatskappy was baie slim, want hulle het ook ‘n CD uitgereik wat hiermee saamgaan: And I Feel Fine: The Best of the IRS Years. 1982–1987. Hierop is ‘n hele paar liedjies wat nie op die DVD is nie, en op die DVD is liedjies wat nie op die CD is nie. So, as jy ‘n R.E.M.-fanatikus is (soos ou Theuniskeriekstiekspenis) is dit nou tickets vir jou feestyd-begroting. Gelukkig hou ek meer van die latere R.E.M., al is dit gaaf om op hierdie DVD te sien hoe ‘n mooi mannetjie Michael Stipe was toe hy nog baie hare gehad het.

Klik en koop‘n Besonderse DVD is Freddie Mercury: Lover of Life, Singer of Songs. Dis ‘n dubbel-DVD: die eerste een, Lover of Life: The Untold Story, bevat ‘n boeiende dokumentêre program oor Mercury se lewe vanaf sy kinderjare in Zanzibar tot die laaste onderhoud met hom voor sy dood in Londen. Die DVD bevestig dat ‘n mens se persepsie van ‘n persoon op grond van sy openbare persona misleidend is en in wese op ‘n illusie berus. Want as ek dink hoe ek aan Mercury gedink het voor ek hierdie DVD gesien het, en hoe ek nou oor hom dink, is dit ‘n wêreld se verskil. (Dit was soos toe ek vir Steve Hofmeyr ontmoet het.)

‘n Uitsonderlike lewensverhaal op skyf 1, soos gesê, en skyf 2 bevat die musiekvideo’s van Mercury se bekendste solotreffers sonder Queen. Sy Barcelona-duet met Montserrat Caballé laat nog steeds broeke en die materiaal van alle kleding- en onderkledingstukke bewe en vibreer. En Mercury was self hoeka nie lig in die broek nie. ‘n Mens mag hom nooit vergeet nie. Hy was ‘n fenomenale sanger. Hy was ‘n man uit een stuk.