Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Man on wire – een van die verstommendste films ooit


Suzette Kotzé-Myburgh - 2009-06-03

Man on wire (2008)
Spelers: Philippe Petit, Jean-Louis Blondeau, Jean-François Heckel, Annie Allix, Alan Welner, Mark Lewis
Regisseur: James Marsh

’n Mens kan nie anders as om jou af te vra nie: Wat op aarde motiveer iemand om vir 45 minute lank heen en weer te loop op ’n kabel van ’n paar sentimeter dik, gespan tussen die hoogste geboue in die wêreld? Die antwoord blyk iets te wees soos sir Edmund Hillary se reaksie oor hoekom hy Everest uitgeklim het: “Want dis daar!”

Die Franse koordloper Philippe Petit vertel dat hy van kleins af graag op goed rondgeklim het, en as 17-jarige het sy droom ontstaan om die World Trade Center (wat toe nog gebou moes word) te oorwin. Daardie twee torings is spesiaal vir hom gebou, was sy gevoel toe hy in ’n koerant daarvan lees!

Soos met enige groot onderneming het Petit dit natuurlik nie alleen kon doen nie, en dis fassinerend om sy vriende Jean-Louis Blondeau en Jean-François Heckel, en sy meisie, Annie Allix, saam met hom te leer ken in hierdie dokumentêr. Met handpalms wat letterlik sweet, het ek my ingeleef in die rekonstruksie van die “artistic crime of the (twentieth) century”.

Artistic? Ja, poëties selfs. Petit vind die vraag hoekom hy dit gedoen het, oorbodig, maar hy praat telkens van die skoonheid van sy daad – hy wou skoonheid daarmee skep. Dit doen hy gewis, en veel meer wanneer hy op die naat van sy rug op daardie kabel meer as 400 meter bokant die grond gaan lê. Vir die gewone mens het Petit ’n simbool geword daarvan dat dit moontlik is om die onmoontlike te bereik.

Soveel ander betekenisse, gedagtes en beelde word ook by die kyker geaktiveer. Jy dink aan sterflikheid, aan die gekheid wat werklike kreatiwiteit kenmerk, aan toeval, voorsienigheid en lotsbestemming, aan vriendskap, lojaliteit en toewyding, aan verraad ... En onvermydelik dink jy aan daardie ander, donker beeld van die World Trade Center: die man wat na sy dood val op 11 September 2001. Hoe het die wêreld nie verander in die bestek van 27 jaar nie.

Nie net is die onderwerp van Man on wire uitsonderlik nie, ook die manier waarop die verhaal vertel word, is uitmuntend. Deur middel van onderhoude met Petit en die ander wat betrokke was, kry die kyker ’n direkte indruk van hulle as mense, terwyl ’n lewensgetroue rekonstruksie van die gebeure op 6 en 7 Augustus 1974 jou laat voel asof jy dáár was. Dis dus geen verrassing dat die film reeds 27 pryse en nog verskeie nominasies ontvang het nie, insluitend vanjaar se Oscar vir beste dokumentêr, ’n Bafta vir Outstanding British Film en twee bekronings by die Sundance Filmfees. Ook die musiek verdien vermelding – dit komplementeer regisseur James Marsh se werk perfek.

Hierdie is eenvoudig een van die verstommendste films wat ek al ooit gesien het. Ek kan dit nie genoeg aanbeveel nie!

 

Suzette Kotzé-Myburgh
Vryskut-skrywer, vertaler en uitgewer
suzette35@gmail.com