Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

’n Ope brief aan oom Abraham “Ronnie” Phillips


Jason Lloyd - 2009-06-02

Ek hoop my redakteur, Etienne van Heerden, gaan my toelaat om dié rubriek in die vorm van ’n ope brief aan die skrywer Abraham Phillips te rig. Terloops, ek het dié stuk alreeds in April verlede jaar (2008) in die vorm van ’n forum-artikel aan Die Burger gestuur, maar dit is nooit geplaas nie; geen redes is daarvoor verskaf nie. Ironies genoeg was dit die heer Heindrich Wyngaard, toe nog meningsredakteur van Die Burger, wat dié sensuur toegepas het.

In ’n toespraak oor meertaligheid by vanjaar se KKNK in Oudtshoorn het Wyngaard in ’n ander konteks redes verskaf vir sy (wil ek byvoeg) “onetiese” optrede. Hy het gesê: “Dit word ook gesê dat sekere dinge makliker bevraagteken word in die Engelse media, terwyl dit in die Afrikaanse wêreld nog as heilige grond beskou word waarop nie geloop mag word nie.”

*

’n Ope brief aan oom Abraham “Ronnie” Phillips

Beste oom Ronnie

Eerstens, veels geluk, oom Ronnie, met die verskyning van u jongste boek, Die Evangelis van Kaggelsberg. Oom was nog altyd ’n waardige deelnemer aan die openbare gesprek in en oor Afrikaans. Dit ten spyte van die feit dat Oom eers gehuiwer het of Ronnie (die karakter in Verdwaalde Land) se standpunt dié is van baie swart Afrikaanse storievertellers wat nie seker is of hulle die regte "pas" het om die land van die (Afrikaanse) letterkunde te betree nie. Dié boek het die nodige skop gehad.

Dis nodig om te noem dat Oom as “gewone” bruin man baie vermag het – soos AHM Scholtz, Patrick Petersen, Adam Small, EKM Dido en andere – om voorheen verswygdes deel van die (Afrikaanse) literêre gesprek te maak.
 
Die verskyning van Verdwaalde Land in 1992 het die wit-gedomineerde Afrikaner literêre wêreld tot in sy fondamente geskud. Skielik was Afrikaner-kritici gekonfronteer met die werklikheid van die ware (arm en minder bevoorregte) landskap van die bruin en swart Afrikaanseleefwêreld:

  • gedeeltelik uit skuldgevoel en skaamte vir die sondes van die verlede met André P Brink (se voorwoord in Verdwaalde Land) voor in die koor;
  • maar ook omdat Oom se (outobiografiese) vertelling die ware (vrot) karakter van apartheid Suid-Afrika ontbloot het en dit eerlik en opreg binne-in die toe nog (oorwegend) wit-gedomineerde Afrikaanse letterkunde geplaas het.

Oom het dus suksesvol (belangrik: vir ’n wyle) die hekwagters by die literêre hemel van die Afrikaanse kanon gedwing om ook die hek vir u oop te maak. Met die verskyning van Oom se tweede boek, Erfenis van die Noodlot, het sommige Afrikaner literatore egter die hek in u se gesig toegeklap en u soos baie ander swart Afrikaanse skrywers gereduseer tot ’n randfiguur.

Baie water het sedert die verskyning van Verdwaalde Land in die see geloop en intussen het Oom die openbare diskoers betree. Oom se deurlopende tema is altyd die stand van Afrikaans en al skryf u oor ’n ander onderwerp, sal u ook die Afrikaanse debat daarin klits.

Soos toe Oom ’n mooi stuk, “Transformeer die hart en verstand” (Die Burger, 18 Maart 2008), geskryf het. Maar toe vertroebel Oom die “mooi stuk” deur soos ’n Stellenbosse taalbul te kere te gaan.

Oom het geskryf: “Uit die perspektief van die wit en bruin mense word die ontneming van die Afrikaanse taal en hul kultuur, teenoor hulle ervaar.” Gedurende ’n vorige geleentheid het Oom geskryf: “die voortbestaan van Afrikaans is nie onderhandelbaar nie. Dit moet bly.”

Van Oom word insig verwag in die velerlei skakeringe van die Afrikaanse leefwêreld. Nie Oom se oneerlikheid of oningeligtheid oor die begrip Afrikaanses nie. Dié begrip suggereer ’n valse eenheid wat nog nie bestaan nie. Ek wil skreeu elke keer as Oom die Afrikaner se saak oor Afrikaans ook bruines s’n probeer maak. Die debat oor die behoud van Afrikaans is (oorwegend) ’n wit debat en ’n luuksheid wat bruines nie kan bekostig nie. Dit wil vir my voorkom Oom se lewenshouding oor Afrikaans is ’n wêreldbeskouing wat nie teoreties deurdink is nie, nie helder in die daglig gestel is nie, wat eerder op emosie gebaseer is, en nie op deeglike denke nie.

Vir my speel Oom in ’n poel water waarin u ’n pion is, naamlik die leefwêreld van die Stellenbosse Afrikaner-taalbulle, wie se agenda niks met bruin en swart Afrikaanse maatskaplike probleme te make het nie, maar eerder met die behoud van Stellenbosch as ’n apartheid-enklawe wat nog vele elemente van die Broederbond bevat. Hier val Oom dan weer in dieselfde sloot, soos in die laaste hoofstuk van Verdwaalde Land. Marion Hattingh het dit in Die reis na Paternoster so gestel: “… hy so beïnvloed is deur die dominante ideologie dat sy uiteindelike standpunt, naamlik dat FW de Klerk ‘die voordeel van die twyfel’ moet kry, juis weer sy magteloosheid teenoor dié (Afrikaner) ideologie bevestig”.

Oom se standpunte oor Afrikaans is ’n bewys dat u miskien nog (of miskien onbewus) met dié toe nog dominante ideologie hand om die blaas loop (of wil loop).

Al sou Oom argumenteer dat dit u goeie reg is om ’n standpunt oor Afrikaans te huldig, kan u beswaarlik die hand van verstarde konserwatiewe Afrikaner-denke in u meningstukke verdoesel. Omdat Oom ’n produk is van ’n landskap waar ’n hoë-literêre oefenloop nie in gewone omgang is nie, verbaas u dan met u amper-akademiese skryfpogings.
 
Dis om hierdie rede dat ek die betrokkenheid van ’n tweede hand vermoed. Wyle digter-dominee (Patrick) Petersen sou in dié geval miskien gesê het: om ’n “buikspreker” van die Afrikaner te wees.

Ek kan verkeerd wees, maar dan moet Oom my verkeerd bewys. Net so ook vir Robert Pearce, skrywer van Eersterust, wat tot op hede vermoed dat Brink aan die oorspronklike manuskrip van Verdwaalde Land gepeuter het (Die Reis na Paternoster, p 149).

Oom se oudmodiese standpunte – dat die voortbestaan van Afrikaans nie onderhandelbaar is nie – is ’n bewys dat u ’n ander “vreemde” standpunt huldig as die meerderheid in die “swart” Afrikaanse literêre wêreld. Anders as Oom huldig die meerderheid “swart” Afrikaanse skrywers ’n gerugsteunde nuwe perspektief oor die resente polities-ekonomiese geskiedenis van Afrikaans. Dit verg immers, moet ek byvoeg, besonderse beheer oor die uitgebreide bestaande Afrikaanse akademiese literatuur.

Belangriker egter moet Oom behoue bly sodat u meer boeke kan skryf oor die stand van (gewone) Afrikaanse mense. Oom het immers die natuurlike talent van Bo gekry. Intussen wag ons op Oom se volgende boek …

Bron

  • Willemse, H et al. 1997. Die reis na Paternoster. Bellville: Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Wes-Kaapland.

Nog werke deur Abraham Phillips:

  • Erfenis van die noodlot. Kaapstad: Queillerie, 1993.
  • Die Messiasbende. Kaapstad: Queillerie, 1997.
  • Die Evangelis van Kaggelsberg. Pretoria: LAPA, 2009.