Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

'n Triomfantelike titelsnit, bloed, blinkers en Coenie: aKING se Against All Odds


Annie Klopper - 2009-05-28

Ek kry daardie lekker gevoel op my maag met die ontvang van voorste plaaslike poprockgroep aKING se jongste vrystelling, Against All Odds. So reikhalsend het ek uitgesien na die vrystelling van hierdie viertal se tweede vollengte-album dat ek skoon voel soos in my tienerdae, toe die vashou van ’n nuwe CD my nog heimlik opgewonde gemaak het.

Die klassieke rock- en country-ondertone van die kitaar op die eerste snit, “Set Ourselves Up”, neem my selfs verder terug as adolessensie en laat my vir ’n oomblik dink ek ontdek weer as kind my ouers se langspeelplaatversameling. Des te meer toe ek besef die koorgedeelte se melodie herinner aan Coenie de Villiers se treffer “Ruik jy katbos en kambroo”. Ja, jy het reg gelees. Die wysie van die koortjie wat lui: “we set ourselves up / set ourselves up to collide” stem inderdaad op ’n manier vreemd ooreen met die gedeelte waar Coenie sing “my Hantamwind, my optelkind vanaaaaand”. Blote toeval, sou ek raai. Nietemin odd.

Nostalgie ter syde. Ek is met die eerste luister genoop om grootliks saam te stem met my musiekliefhebbende vriendin Riana, wat kort na die uitreik van Against All Odds vroeër hierdie maand ’n e-pos gestuur het. Die boodskap was eenvoudig: “Het jy al die nuwe aKING gehoor? Ek kan absoluut NIKS daarmee verkeerd vind nie!”

Ek het gedink “niks” is ’n sterk woord, maar, Riana, jou entoesiasme leun na die regte rigting.

Reeds met die intrapslag bekoor Laudo Liebenberg se stem jou soos ’n sjarmante old-school cowboy. Dis nou as jy nie al verlief geraak het op hom met die aanhoor van aKING se eerste treffer “The Dance” vanaf hulle debuutalbum Dutch Courage nie. Daar waar die aangesprokene se “naked body” en die spreker se “back bone” die seks terug in rock ’n roll gesit het.

Dis duidelik dat Dutch Courage nie hier bloot nageaap is nie, maar aKING probeer ook nie onnodig anders wees nie. Dis ’n gesonde mengsel van herkenbaarheid en verrassings. Sexy melodieë is terug en gly glad en gemaklik saam met die vuil countryblues wat soos in “Face-brick Constellations” gerieflik inglip langs die fris poprock. Met “The Heart of a Fool” (die eerste kortspeler vanaf die album) word bruusk rock versoen met romantiese eerlikheid terwyl my gunsteling, “You and I”, epies is en jou trots maak op iets, alhoewel jy nie weet presies wat nie. Ek praat van daardie gevoel wat jy kry as jy sien hoe iemand ’n goue medalje by die Olimpiese Spele kry – veral as hulle ontberinge moes ondergaan (en begin huil as hul land se volkslied speel). En dan volg die triomfantelike titelsnit met toevallig die naam wat laasgenoemde gevoel verwoord: “Against All Odds”. Hierdie ene begin weer eens met ’n kitaarklank wat gemoedelik herinner aan my ouers se ou musiekversameling, en daarteenoor besit die gesonge wysie iets ... is dit Oosters? En weer daardie grootsheid wat ’n gevoel van triomfantelike geborgenheid opwek – ooreenstemmend met die titel.

Kort daarna begin Laudo sommer hier in jou oor fluister met die inval van “Blood or Glitter”, maar die ander ouens (Hennie van Halen, Hunter Kennedy en Jaco “Snakehead” Venter) is kort op sy hakke en begin hom jaag met ’n vriendelike en uiters aansteeklike melodie wat op ironiese wyse die siniese toon van die boodskap laat uitpop:

you never should have listened to me
at least we’ve built ourselves a nice cage to live in
it’s a jungle out there but it’s like a fuckin’ wake in here
you're welcome to let me down
[...]
at least we’ve misspent most of our youth together.

Ook in baie ander gevalle bring die siniese en hoogdrawende aard van die lirieke – in kontras met die verteerbare poprockritme – tragedie soos in ’n satire na vore. Maar die tragiese held is pynlik selfbewus, soos in “Set Ourselves Up” duidelik is:

In a moment of lucidity I gave up
I wasn’t ever cut out for this stuff
[...]
I embrace the opportunity to drown out
a widespread lunacy
my voice of reason is only misleading me.

En dan is hy ook ’n woordsmid, soos in “Fork in the Road”:

in sleep-deprived plans
we burn bushes at this
fork in the road
and I, I have a knife
in my pocket.

Wanneer ’n gat in sy kop gebrand word, neem hy aan hy is seker maar net oopkop, maar hy weet ’n gesonde verstand is ’n skaarste (ook “Fork in the Road”). En juis omdat ’n gesonde verstand so skaars is, sal ek nie té hard probeer om die liriekskrywers (Laudo en Hunter) se boodskappe te dissekteer nie. Dit sal die mannetjies in jou brein onnodig op hol jaag. Jy kan nog steeds die musiek geniet sonder om te veel na te dink oor presies wat hulle in “New Clear Season” bedoel met:

throw your typewriter out of the window
our pageantry is diluted by the forces that be
our god-like shortcomings nurtured with grandeur
it’s poisoning our children
steer clear of te fountain
and celebrate a brand new, clear season
it seemed as if drowning would be an unlikely remedy.

Dieselfde kinders wat in “Holy Train” (Dutch Courage) geveg het om asem, word nou klaarblyklik vergiftig. Dis hierdie tipe uitryg van derms wat aKING se lirieke uniek maak. Lang stringe derms bloei (in groot woorde) rou en soms poëties oor bladsye vol eksistensiële krisisse. En dan is daar weer die eenvoudige raakvat-waarhede, soos in “Know Your Bones” waar die sanger sê: “glory is fleeting/ but obscurity is eternal” en “anything too dumb to be spoken should be sung”.

In laasgenoemde liedjie is die metaliriese aard van die lirieke duidelik – die liriekskrywer kontempleer sy eie ambag. Maar, soos ek gesê het, hy laat sy kontemplasies en passasies nie ons redenasies word nie. As ’n mens te lank tussen die derms langs die pad sit en krap, sal jy die trein mis wat jou op net nog ’n lekker musikale reis neem – selfs al is die derms so bloody interessant.

Resonerende hantamwysies al dan nie, hierdie album vat jou op reise veel verder as Coenie se Klein Karoo. Dis rock, pop, country en blues wat soos growwe, warm sand by beide metropool en spookdorp in- en uitdwarrel. Onder die bekwame hand van producer Theo Crous sit die ouens van aKING nie ’n musikale voet verkeerd nie. Net soos met hulle sterk debuut van verlede jaar (wat hoekom nie ’n SAMA gewen het nie?) sit aKING vir die res ore aan. En wie ore het moet hierdie hoor.

Foto: Renée Frouws

Lees ook wat het Henry Cloete en Leon-Ben Lamprecht te sê oor Against All Odds.