Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Wanneer die olifante in die sitkamer ritmies pootstamp: aKING se Against All Odds


Henry Cloete - 2009-05-28

Biegtyd.

Toe ek verlede week die Against All Odds-album van aKING aangeskaf het (en byna ‘n boom ontwortel en ‘n motoroppasser ontman het in my haas om die CD in my motor te gaan luister), was ek met die eerste luister teleurgesteld. Én met die tweede luister.

Die melodieë het vir my effe ingeperk opgeval. Die hoofsanger se aritmiese lettergreepklem het my bietjie verwar. En die “hooks” van koortjies, brûe en inleidings wat so ontsettend sterk op die groep se eerste vrystelling, Dutch Courage, gefigureer het, was vir my afwesig.

Ek was gebroke. En broke. (R140 is ‘n goeie sewe pakkies sigarette. En dis baie. Soos in Kersfees-baie.)

Toe ek die volgende dag oor Boyes Drive ry met “The Heart of a Fool” (terloops, myns insiens die hoogtepunt van die album) wat bulder, het ek egter besef wat my pla omtrent die CD.

Dit was nie ‘n gebrek aan enigiets spesifieks behalwe die verrassingselement nie. En dis my skuld. Sorrie ouens. Dutch Courage was so ‘n uit-die-bloute-meesterstuk dat mens half verwag het om op dieselfde manier weggeblaas te word.

Against All Odds is egter meer ‘n vervolwassening as ‘n geboorte.

Waar Dutch Courage tussendeur meesleurende ballades geraak-raak het aan aanslae op konsepte van kultuur, die verlies daaraan en die voortspruitende gevoel van isolasie en verwarring, is dit (soos ek dit ervaar, in elk geval) deurlopend tematies op Against All Odds.

Doekies word nie hierdie keer omgedraai nie. “Culture isn’t cheap/ if you bite the hands that bleed/ you’ll end up with blood stained teeth,” sing hulle op die waarskynlike voorloper in die stryd om die eerste kortspeler te wees, “You and I”.

Gepraat van hierdie liedjie. Dit som vir my in ‘n mate die res van die CD op – bloot oor die gevoel daarvan. Die klawerspel in die inleiding is wel ongewoon, maar dit bou en bou soos ‘n huis (of ‘n facebrick constellation, soos een van die ander liedere heet) met nuwe kamers wat onthul word. Die vinnige tromwerk en ritmiese kitaarspel skep ook ‘n gevoel van … aanhou, ek skat. Amper soos met Bob Dylan se “series of dreams”. En dis waar dit vir my tekenend is van die res van die album – terwyl die isolasie en marginalisering van rou menswees ondersoek (en wel soms in die romantiek van versteurdheid opgehef) word, is daar ‘n vorm van … ag, ‘’hoop’’ is so ‘n kak woord. Maar dit is wat dit is. “I find delight in empty days/ I take my council with wine,” sing hulle – steeds op “You and I”.

Die kontraste en hunkerings na vrede vind in medegevangenes (“Two dullards finding their colour/ against all odds/ caught between a curve and a softspot/ against all odds/ unravelled in each other’s arms”) is egter in die teks en subteks vasgevang. Wat die samewerking daarvan met die musiek betref, dink ek dit werk ongelooflik goed.

aKING het die country-agtige invloede wat op Dutch Courage vorendag gekom het, verder ontgin – in so ‘n mate dat jy soms wag vir die banjo en krapbord om in te kom. Maar moet dit nie as ‘n negatiewe opmerking sien nie – dis heerlik. Die musiek is meestal upbeat en in lekker kontras met die soms morbiede lirieke (“It’s quite hard to let parts of yourself go/ it’s quite easy spilling your guts all over the bathroom stall”), terwyl groot geeste van die 90’s, soos Bush en Pearl Jam, soms deur die akkoordstrukture fluister. Dit is veral die reeds genoemde vinnige, raakvatter-tromwerk, afgewissel met sweepslae op die tomtromme en reëlmatige bastromgebruik wat imponeer, asook verruklike kitaarwerk op elke lied wat die weer en weer luister onafwendbaar maak.

Nou iets negatiefs. Daar is ‘n skool wat glo die gebruik van ooh-ooh’s in sang (buiten ten doel van harmonie of agtergrond) is lui liriekspel. Ek moet sê, ek val in by hierdie skool. aKING se liedskrywers het niks om voor skaam te wees wat hul taalvernuf betref nie. Die voorliefde vir alliterasie en assonansie kom sterk deur en dit werk goed. Waar die ooh-ooh’s soms inglip, is dit byna jammer.

Tog doen dit nie afbreuk aan die hoë gehalte van hierdie CD nie. ‘n Groep word dikwels beoordeel op die gehalte van ‘n tweede langspeler (terloops, ek het aspris die In The Twilight-kortspeler buite berekening gelaat, juis oor die langspeler myns insiens meer van ‘n toets is – soos met krieket, seker), veral ná die dawerende sukses van ‘n eerste vrystelling.

Ek dink aKING slaag die toets geheel en al. Hoewel daar nog baie kan gebeur (mens voel soms of hulle ‘n bietjie terughou en nie té veel kanse wil waag met eksperimentele instrumente en liedstrukture nie), voel die album vir my soos ‘n viering van wanaanpassing, ‘n vol glas gelig op die angst wat rondhang in die donkerder gange van ‘n jong en onsekere samelewing.

Against All Odds is die huis van die antiheld, waar die olifante in die sitkamer ook ritmies saam voetstamp.

Foto: Renée Frouws

Lees ook wat het Annie Klopper en Leon-Ben Lamprecht te sê oor Against All Odds.