Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

aKING se Against All Odds nie underwhelming, maar ook nie overwhelming


Leon-Ben Lamprecht - 2009-05-28

“Safe as houses/tuck me in/daylight wait’s for no man/you’re still young and breathing’s easy/suck it in” – “Safe as Houses”, Dutch Courage, aKING

Met die aankondiging dat Fokofpolisiekar ’n breek sou vat, het my hart, ek sweer, vir ’n rukkie gaan staan. Waar, dan, sou my fix vandaan kom? Well, sometimes a change is as good as a holiday. Daai breek het onder meer vir ons Die Heuwels Fantasties, Van Coke Kartel se Waaksaam en Wakker en aKING se Dutch Courage gebring (en natuurlik die Karre met hernieude ywer laat werk toe hulle die kans kry om Antibiotika op ons los te laat).

Dutch Courage se poppy rock melodieë en slim lirieke uit die pen van Laudo Liebenberg en Hunter Kennedy het my nogals beïndruk. Ek het, om die waarheid te sê, baie daarvan gehou. En ek was nogals teleurgesteld toe hulle nie vir ’n SAMA genomineer is nie (hoewel dit my net weer oortuig het van die sinneloosheid van die SAMA’s).

Opgewondenheid was dus aan die orde van die dag toe die nuwe een, Against All Odds, sy weg tot my vind. Hulle interim EP, In the Twilight, was ’n heerlike eksperiment en ek had gehoop hulle gaan hierop voortbou. Plus, die design van die album wat ek toe uit sy bubble wrap grawe, lyk al te pragtig.

Die kort en die lank is egter dat ek underwhelmed was na ek dit die eerste keer geluister het. Toe luister ek dit maar weer en weer en weer. En nou? Wel, nou is ek geensins underwhelmed nie, maar ook nie overwhelmed nie.

Daar is snitte wat uitstaan. Die openingsnommertjie “Set ourselves up”. “Face-brick Constellations”, weer, het so ’n heerlike twangy kitaar wat die song inlei. “The Heart of a Fool” … ek meen, wie’t nog nie só gevoel nie: “It’s quite hard letting parts of yourself go/it’s quite easy spilling your guts over the bathroomstall”.

Die eenvoudig epiese “You and I” (dié outjie het vir my die sterkste lirieke en is ’n voortsetting van tema’s op Dutch Courage: “I am by no means a visionary/but I can see/that culture isn’t cheap/if you bite the hands that bleed you’ll end up with blood stained teeth”) slaan nou nog my voete onder my uit. En die laaste snit “Know your bones” wat die idioom van skeletons in your closet so oulik op sy kop draai met “I know your bones/are begging to step out of the wardrobe”.

Maar op die end los die album my met hierdie gevoel dat dit beter kon gewees het. Die lirieke voel nie so sterk soos vroeër nie en die album skree nie vir my dat ek dit vir weke aaneen nét daarna moet luister nie.

Dalk is dit omdat ek in dieselfde week na die nuwe Green Day begin luister het wat my bloot weggeblaas het. Dalk stel ek ’n onregverdige hoë standaard aan hulle.

Kyk, dis steeds ’n goeie album. Maar dis nie een wat ek oor vyf jaar met heimweë gaan afstof en reken dis ’n meesterstuk nie (wat seker beteken dat dit vir ’n SAMA genomineer gaan word).

Op die end, egter, eindig ek soos ek begin het, want dis maar die begin van die pad vir dié groep wat hopelik nog die grense van rock binne en buite die land gaan verskuif:

“you’re still young and breathing’s easy/suck it in.”

Foto: Renée Frouws

Lees ook wat het Annie Klopper en Henry Cloete te sê oor Against All Odds.