Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Hy worstel met demone en sing oor 'n engel: Jan Blohm is terug met 7 Jaar


Leon-Ben Lamprecht - 2009-05-26

Jan Blohm is terug. Na sy (baie publieke) worstelinge met sy eie demone het hy dit goed gedink om ’n nuwe album op die publiek los te laat. Daai album is 7 Jaar. Tien snitte (eintlik 11 – daar is ’n spooksnit) lank.

Nou kyk, hier moet ek ruiterlik erken: ek is ’n fan. Die man is ’n profeet van rock ’n roll en ek is skaamteloos sy dissipel. Na drie fantastiese albums (en ’n Sama-wenner-DVD) en moontlik bedenklike verskyning in die kykNET-reeks Dit wat stom is, was die (Afrikaanse) wêreld skynbaar aan sy voete.

En toe die innerlike stryd wat die koerante gehaal het. En die stilte wat daarop volg. Sonder om ligsinnig te wees: dalk ’n Stille Runaway? Maar donkerte en die kreatiewe is tog soms vreemde bedmaats wat op ’n hartseer-beautiful manier saam skep.

Is dit wat met 7 Jaar gebeur het? Ek dink so.

Kyk, eerste indrukke: die boekie is nie die fraaiste nie. In ’n era waar Suid-Afrikaanse groepe soos aKING en Fokofpolisiekar die estetiese grense ietwat verskuif, lyk dit verouderd. Maar dan was onse Jan nooit een vir frille en fraaie nie. Hy doen net sy ding en hy doen dit goed. En besides, dit gaan mos oor die musiek.

So op daai punt: uit die de facto 11 snitte is net een nie uit sy pen nie – "Lyfie" is ’n song deur die Durbanville-rocker Ryno Velvet. (Jan se vorige baskitaarspeler, Noddy, speel terloops af en toe vir die Ryno Velvet-band.) Hoewel daar moeite gedoen word om die song sy eie te maak, verkies ek die oorspronklike. Maar dis maar die algemene gevoel by my oor covers (en dié is werklik ’n goeie cover). Wat dit wel beloof om te doen, is om ’n begaafde kunstenaar se musiek by ’n breër gehoor uit te kry, en dit kan mos nie ’n slegte ding wees nie.

En dan die oorspronklike materiaal. Onse Jan bou voort op die platform wat met Groen Trui gelê is. Hier is ballades, ja, maar niemand hoef te twyfel dat rock ’n roll hier die sweep klap nie.

Dadelik is daar uitskieters. Die titelsnit is rou, onopgesmuk en (daai oulike musiek-cliché) “eerlik” (maar dis regtig gepas hier, en vir die hele album):

7 jaar en die wêreld is koud
7 bring ’n nuwe oud
proe my liggaam steeds na sout
7 jaar bring ’n nuwe mens
7 baar ’n nuwe mens …
My siel wil avondmaal hier voel
Wat sal jy sê van my nuwe gevoel
Wat het jy met "bely" bedoel?

“Chardonay” (sic) toon dat die ballades op dié album nie skrik vir hulle rock ’n roll bouncer-broers nie, en pluk jou dadelik nader:

Chardonay waar’s die pyn
wat my met jou laat omsingel
in bundels vol bloed
gekerwe met ’n ballpoint pen
of ’n lem.

Oor dié lied het hy onlangs in Die Burger gesê: “Ek het byvoorbeeld die lied ‘Chardonay’ (sic) as ’n ode aan drank geskryf. Ironies genoeg is dit een soort drank wat ek in my hele lewe nog nooit kon drink nie, maar ek dink die boodskap kom oor.”

Die lied “Sê my weer” begin met rifs wat klink of dit tuis sal wees op ’n White Stripes-album. Maar dis nie ’n geval van leë blikke nie:

Ons almal is maar lost causes
in ’n one way Babilon
Queen Latifah op die ander lyn
terwyl jy biddend my gees terug veg.

En dan, net om jou te herinner dat hy in 2005 by die GMT’s liedjie van die jaar met ’n ballade (“Breyten se brief”) gewen het, eindig hy die album (amptelik) heel gepas met die betowerende “O my engel”.

Maar benewens die uitskieters is die album meer soos koolstofmonoksied as chloroform: dit oorrompel jou stadig.

Die kort en die lank van dit als? Jy kan dié outjie maar met trots langs die ander albums van onse Jan uitstal. Dis ’n waardige toevoeging tot sy repertoire.