Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Hartkloppe en heildronke weerklink in Die Heuwels Fantasties


Annie Klopper - 2009-05-26

Vroeër vanjaar skryf Leon-Ben Lamprecht op LitNet oor Die Heuwels Fantasties:

Hiér is iets aan die gebeur. Goeie dinge. Eksperimentele dinge. Kom ons hou asem op vir die vollengte-album wat vir later vanjaar beplan word. Al die tekens van 'n meesterstuk is daar.

En ek hét asem opgehou. Ek en duisende ander. Maande het ons gewag. Ons fix gekry met Pille vir Kersfees wat met vier snitte net ons musikale maagwande gekielie het vir nog.

En nou vir die uiteindelike oordosis plesier.

Want as jou naam Hunter Kennedy (ook van Fokofpolisiekar en aKING) of Pierre Greeff (ook van Lukraaketaar) is, beskik jy oor ’n unieke vermoë. Dis die vermoë om dinge soos sonsondergange, terugbeskouings, subjektiewe uitlatings, terloopse herinneringe en tussentydse willekeurige asook onwillekeurige asemteue in ’n voorstad in woorde vas te vang en langs ’n swembad of dam of onder ’n boom te gaan sit en met ’n kitaar ’n wysie daarby te speel. Dan laat jy dit aan die deksels talentvolle Johnny de Ridder oor om agter ’n klankbord jou wysie en waarnemings tot swierige elektropop te versoet. En daarna gaan roep jy ’n klomp van jou ewe talentvolle vriende (soos Francois van Coke, Laudo Liebenberg, Frieda van den Heever, Adriaan Brand, Arno Krüger en Jack Parow) en sê: sing, speel, vloek.

En siedaar Die Heuwels Fantasties se selfgetitelde debuutalbum. ’n Meesterstuk inderdaad.

Dis hardnekkige (dog vloeibare) musikale komposisies van klokhelder waarnemings en klink soos niks wat jy al in Afrikaans gehoor het nie. Trouens, as jy al die liedjies op hierdie album moes saamgooi, sou die gemiddelde liedjie min of meer klink soos hartkloppe en heildronke op die maat van ’n 80’s beatbox, jou suster se music box en die waai van die wind met onder meer ’n rotsstorting, ’n orrel en ’n engel in die agtergrond. O, en dan is daar natuurlik die raspertong-rapper, die banjo en die trekklavier – vir ekstra gees.

Oor die lirieke kan ’n mens nie anders as opgewonde raak nie, selfs al is dit bloot oor die groot woorde of die groot gebruik van klein woorde. Daar is slim poëtika wat resoneer, soos in “Nare Kaskenades” waar beelde opgeroep word van “verveelde ure onder die Afrika-son”, verspeel in “oranje parke afgeëts in heuwel” met “die snelweg wat blom”. Dis juis hierdie tematiek wat sprekend is van die situasie waarin Die Heuwels Fantasties oorspronklik in die lewe geroep is toe Hunter en Pierre se onderskeie bands ’n breek vat en hulle weer begin saam kuier het in Bellville. Dis daarom dat Die Heuwels Fantasties eerder voel na ’n plek as na ’n band se naam.

En dis onmoontlik om nie dadelik oorweldig te wees deur Jack Parow, die rapper, se gasverskyning nie. Terwyl die gasverskynings van byvoorbeeld Laudo Liebenberg (aKING) en Francois van Coke (Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel) op die album aangename toevoegsels tot Die Heuwels se resep is, is dit Parow wat die tonge laat klap en die mense aan die praat het.

Jack Parow se kletsrym op “Die Vraagstuk” is sprekend van die krisis van identiteit in ’n postmoderne samelewing waar identiteit voortdurend meer gefragmenteerd raak (met die gevolglike futlose, siniese lewensuitkyk weens die besef van die mens se skaapmentaliteit). Dis slim geweef uit oënskynlik eenvoudige stof, maar die resultaat is legendaries.

Gepraat van die tematiese materiaal, daar word nie doekies omgedraai nie. Sonder skroom word met “Vinger Alleen” ’n blatante beskrywing van dikwels onbesproke seksuele ontwakings gegee. Terselfdertyd word daar aan “Leja” gebieg hoe dit voel as drome en onskuld verdamp en verhoudings verbrokkel.

Van die brose “Leja” tot die robuuste “Hyg Duiwel” is dit maklik om na die album as ’n geheel te luister en ’n mens wil nie ’n enkele liedjie verbydraf nie. Selfs die anderse “Klein Tambotieboom” wat met die klanke van ’n banjo soos ’n cover van iets uit vervloë dae klink, groei op jou – waarskynlik omdat dit so maklik is om mee saam te sing. En saamsing sal jy saamsing. Dit was al Valentynsdag en Paasfees, maar ek sing nog steeds ek soek “Pille vir Kersfees”.

Met hierdie kragtige debuut het Die Heuwels hulle soos ’n wafferse popkultuur-Pierneef in Afrikaanse musiek ingeëts.