Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Mavis Vermaak met sensoriese klanke en poëtiese trefkrag


Annie Klopper - 2009-05-25

Toe ek 'n kind was, het die woorde van Koos Kombuis se "Lisa se klavier" Kaapstad as magiese ruimte aan my bekend gestel. Toe kom Fokofpolisiekar se Kaapstad vol halfgeboude brûe, neonligte en onheil. En dit was ook goed.

Nou draai Kaapstad weer in my CD-speler, soos gesien deur die oë van Mavis Vermaak op haar selfgetitelde debuutkortspeler. In die treffende "kaapstadslaapstad" vang Mavis op poëtiese wyse die Moederstad vas as 'n voortslepende "louwarm metropool":

duskant hyskraangeel verby groenpunt dryf 'n buitelyn om ons heiland se eiland uitgewas soos 'n gedagte in die koue waterfront steel meeue toeristetjips betaal iemand met mastercard tip iemand iemand R2 'n stad skakel aan 'n baken verskyn 'n lig slaan rooi in langstraat 'n kind raak weg in kraaifontein.

Met 'n sensoriese klank wat herinner aan VVV's in ou films, hartseer langspeelplate, triphop en VH1 in die agtergrond, sleur Mavis jou hipnotiserend mee deur herinneringe en waarnemings wat soos sonverbleikte sepiafoto's bekoor. Sy maak selfs van die terloopse verwysing na 'n Sondag iets beeldskoon:

laas sondag het ek drie plate gekoop kosgemaak gedrink gerook en onthou jy hoe jy my kon onthou op 'n aand soos vanaand laat my gaan na dae deurdrenk met bome en berge dae wat kon uitswel dae wat wou bars.

Onder die vlerk van musikant en klankregisseur Juan Penguin is Mavis se musiek ongeforseerd. Die luisteraar kry die gevoel dat Mavis met 'n groot koppie koffie by haar kombuistafel sit en haar dagboek toevallig neerpen teen 'n onopgesmukte soundtrack wat herinner aan die styl van The Buckfever Underground. Maar die poëtiese trefkrag van haar musiek en lirieke word duidelik gevoed uit verskeie ander musikale sowel as literêre invloede. Daarvan getuig die knik in Valiant Swart se rigting met die woorde "die donker kom jou haal" ("kaapstadslaapstad") en sterk verbande met Gert Vlok Nel.

Grafiese kunstenaar Arno Krüger (ook bekend vir sy onlangse ontwerp van Die Heuwels Fantasties se debuut) se album-ontwerp sorg boonop vir 'n ongekunstelde, gesinkroniseerde vlerkdans met die musiek.

Mavis Vermaak se betowerende klank is pure planete, seepbelle, rooi grond en teerpad. Waar NP Van Wyk Louw se laatmiddag room geword het (en Gert Vlok Nel s'n chroom), maak hierdie dame jou laatmiddag loom. Lekker, dromerig loom.

Ek hoop Mavis vermaak ons binnekort met 'n vollengte-album.