Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Artikels | Features

Adrio König skop ou stof op in Die evangelie is op die spel


Guillaume Smit - 2009-05-21

Titel: Die evangelie is op die spel
Outeur: Adrio König
Uitgewer: Lux Verbi BM
ISBN: 9780796308573
Datum uitgegee: Maart 2009
Bladsye: 288

Klik hier en bestel Die evangelie is op die spel nou van kalahari.net!

 

 

 

Adrio König se kontroversiële nuwe boek, Die evangelie is op die spel, is pas gepubliseer. Selfs voor uitreiking het die boek begin golwe maak deurdat van die persone wat in sy boek vermeld word, in die openbaar op sy menings gereageer en ’n voortgesette openbare debat oor die aantygings aan die gang gesit het. Hierdie briewewisseling en moddergooiery het my dus aanvanklik skepties gehad oor die boek. Ons huidige teologiese debat (in Suid-Afrika) het uiters gepolariseer geraak. Mense aan beide kante van die spektrum raak meer en meer persoonlik en impliseer hulle opponente se integriteit al meer direk. As sodanig het die voorpublikasie-gefladder van briewe die indruk gelaat dat die boek wel in die kategorie van verdere polarisering val.

 

Die evangelie in kort saamgevat

König begin sy boek met ’n voorwoord wat dit duidelik stel dat hier ’n alternatief gebied gaan word vir liberalisme sowel as fundamentalisme. Hy bespreek Suid-Afrika se politieke, sosiale en kerklike situasie beide positief en negatief en noem dan dat ons vasgevang is in ’n teologiese storm wat die boot hewiglik skud (p 13), spesifiek met betrekking tot die hart van die evangelie. Hy verskaf dan ’n lys teologiese kwessies wat in hierdie hart sit en deesdae bevraagteken word:

  • Die gesag van die Bybel
  • Die leer oor die Drie-eenheid van God
  • Die maagdelike geboorte van Christus
  • Die leer oor die twee nature van Christus
  • Die wonderwerke van Jesus
  • Die bestaan van bose magte
  • Jesus se fisiese opstanding uit die dood en die leë graf
  • Die wêreldwye verkondiging van die evangelie.

In hoofstuk een van sy boek bespreek König die betroubaarheid van die Bybel. Hy maak die stelling dat mense wat die Bybel gebruik om gesag te gee aan hulle menings, besig is met ’n magspel en dat hulle hiermee die deur toemaak om hulle sienings te bespreek. Daarom loop ’n hoë siening van die Bybel uit op fundamentalisme – waar die Skrif volledig foutloos en betroubaar is. Maar König het dit ook teen ’n lae siening van die Bybel wat die bonatuurlike oorsprong van die Bybel ontken. Vir hom is daar ’n alternatief op beide en dit word vervolgens bespreek.

In hoofstuk twee probeer König die vraag wie Jesus was, beantwoord, en hy gebruik as invalshoek die groter momente van Jesus se lewe. Hy fokus op Jesus se geboorte, doop, versoeking, sy boodskap van die koms van die Koninkryk, sy gelykenisse, en sy houding teenoor mense in nood.

In hoofstuk drie bespreek König die verskille tussen die historiese Jesus en die verkondigde Jesus. In hierdie hoofstuk verwerp hy pertinent die radikaal-kritiese benadering en die eksponente daarvan, spesifiek Andries van Aarde se boek Fatherless in Galilee, ’n artikel deur Pieter Craffert oor die sjamanisme wat kan help om Jesus beter te begryp, en John Dominic Crossan se standpunte oor Jesus.

In hoofstuk vier bespreek König die betekenis van die kruis en opstanding in die Nuwe Testament. Hy kies ’n vroeë datering van die Nuwe Testamentiese tekste en ondersoek daarna die aanvanklike betekenisse van die kruisiging en opstanding wat, volgens hom, van ’n neutraal tot amper negatiewe interpretasie deur Bybelskrywers na ’n positiewe verstaan van die betekenis van die kruis en opstanding ontwikkel het.

In hoofstuk vyf bespreek König die ryk betekenisse van die kruis, en hy fokus op die versoening wat die kruis bewerk het tussen God en mens. Hy fokus ook op God se reaksie op sonde, pertinent hoe kwaad dit God maak. Derdens bespreek hy die kruis as verlossing en vryspraak.

In hoofstuk ses bespreek König die betekenisse van die opstanding. Dit bied vir hom die basis tot ’n nuwe lewe en bevryding van bose magte. In hierdie hoofstuk verwys hy dan spesifiek na ’n verslag wat voor die Algemene Sinode van die NG Kerk gedien het tydens die 2007-sitting, wat gehandel het oor die bestaan van die bose. Hy bevraagteken die verslag se Skrifhantering, wat volgens hom uiters vreemd is. Hoewel die verslag afgewys en teruggestuur is vir verdere studie, mik König ’n bedekte hou na diegene wat by die opstel van die verslag betrokke was wanneer hy sê hulle het almal saamgestem dat die verslag voor die Sinode dien, al het hulle nie saamgestem met die inhoud van die verslag nie. Dit stem König ongemaklik (180).

König bespreek in hierdie hoofstuk ook Ben du Toit se boek God? Geloof in ‘n postmoderne tyd. Die skrywer van hierdie boek is vir hom ’n voorbeeld van iemand wat die postmoderne wêreldbeeld met sy klem op wetenskap as ’n filter gebruik om Christene se geloofsisteem te verstaan. Vir hom word wetenskap die konstruk wat Du Toit geskep het om sy verwerping van kerngedeeltes van die evangelieboodskap te verwerp (185). Hy bied dan sy antwoord aan op Du Toit se verwerping en beskuldig Du Toit dat hy spesifieke kernelemente van die NG Kerk se belydenis verwerp.

In hoofstuk sewe bespreek König die vraag na ’n kruisteologie of ’n opstandingsteologie. Die groot probleem in die Ou Testament is volgens hom sonde en dood. Die hoofstuk word verder gewy aan die bespreking oor Bybelse teologie met betrekking tot sonde en dood en die implikasies vir gelowiges.

In hoofstuk agt bespreek König die Bybel. Hy keer terug na die vraag oor liberalisme en fundamentalisme en wys op die verskraling van die Bybel wat plaasvind as mens volgens die liberaliste se manier na die Bybel kyk. Hy val ook ’n artikel aan wat Alphonso Groenewald, dosent in Ou Testament by die Universiteit van Pretoria, oor fundamentalisme geskryf het en gee sy eie interpretasie van fundamentalisme. Hierna bespreek hy die twee maniere waarop mens die Bybel kan lees: ’n "ver-lees" en ’n "naby-lees".

Die naby-lees van die Bybel gaan gepaard met ’n fundamentalistiese Skrifsiening en groot persoonlike vroomheid. Volgens König het hierdie manier van lees etlike gevare. Eweneens het die ver-lees van die Bybel ook etlike gevare. Ver-lees van die Bybel poog immers om na die groter kontekste van Bybelgedeeltes, die oorsprong van die tekste, samehang en breuke in tekste, letterkundige ontwikkeling, ens te kyk. Hierdie tegniek stel ’n persoon in staat om persoonlike afstand te neem van die Bybel af en help jou om herhalende temas, historiese konteks en dies meer te eien.

In die laaste gedeelte van hierdie hoofstuk keer König terug na Ben du Toit se boek en bespreek hy spesifiek die manier waarop Du Toit die Bybel lees. Vir König is dit ’n vreemde argumentasiewyse (231), omdat Du Toit hierdeur die oorhoofse gesag van die Bybel reduseer.

In hoofstuk nege tree König in gesprek oor die leë graf en hy hanteer Suid-Afrikaanse teoloë wat volgens hom verwarring geskep het met hulle sienings oor die opstanding van Jesus. Die eerste teoloog is Julian Muller wat ’n boek getiteld Opstanding geskryf het. Sy groot krisis is die feit dat Muller aanvanklik geweier het om te bely dat Jesus se opstanding ’n fisiese, historiese werklikheid is (251). Vervolgens bespreek hy ’n artikel wat Dirk Human oor Jona se “opstanding” geskryf het, en die gebruik hiervan as ’n sleutel om die Nuwe Testamentiese opstandingsverhale te verstaan. Dan bespreek hy nogeens Ben du Toit se siening dat die opstanding nie so ’n groot ding is nie omdat energie nie vermenigvuldig of verminder kan word nie en wat die gevolgtrekking maak dat die geestelike in elke mens ewige waarde het (257). Hierna bespreek König Danie Veldsman se artikel oor die opstanding. Vir hom lei Veldsman se eksperimentele benadering tot ’n verklaring dat die dissipels leuens verkondig het en staan dit wat Veldsman sê, lynreg teenoor wat werklik in die Bybel staan. König sluit die hoofstuk af met ’n verdediging van die werklikheid van die leë graf en Jesus se opstanding uit die dood.

In hoofstuk tien fokus König op wêreldbeskouings. Hy bespreek Julian Muller se aanbiedings oor panenteïsme en sy afstandneming van die dualistiese wêreldbeeld van die Bybel. Volgens hom is Muller se argumente baie vaag en onduidelik. König eindig die hoofstuk deur panenteïsme as Bybelse wêreldbeeld op te rig en dan pertinent weer af te skiet. Vir hom bevat die evangelies perspektiewe en menings wat nie gedeel word met die res van die samelewing nie, en samelewings en wêreldbeelde moet selfs vandag by die evangelies aanpas (292).

In hoofstuk elf, die slothoofstuk, vra König die vraag oor die pad vorentoe. Sy gevolgtrekking is dat die radikaal-kritiese metode van Bybellees ons met minder en minder van die evangelie laat (295). Hy oordeel dat leidende NG Kerk-teoloë – Julian Muller, Dirk Human en Ben du Toit – geen teologiese diepte het nie (296-7). Hy bespreek die pad vorentoe vir gemeentes en huldig die mening dat die boodskap van verlossing deur Jesus, met behoud van die gesag van die Bybel deur die beoefening van verantwoordelike kritiese teologie, sal voortgaan om mense te bereik (310).

 

Persoonlike indrukke

Etlike indrukke kom na die lees van die boek na vore. Die eerste is dat hierdie goeie navorsing is. König is ’n briljante denker. James Kirkpatrick noem die boek nie om dowe neute “vintage König” nie (Die Kerkbode, 15 Mei 2009). Tog is dit duidelik dat König steeds uit ’n tradisionele teologiese paradigma dink. Hy is intiem bekend met die groter teologiese oomblikke in die verlede; hy skryf met die stellige sekerheid dat sy standpunte dié van die breër kerklike gemeenskap van oudsher af deel. Die sekerheid waarmee hy sy sienings oordra, noop mens telkemale om die vraag te vra: “Het hierdie mense (oor wie hy skryf) dit regtig gesê?!” Dit laat mens voel iets is besig om fout te gaan in die teologiese gesprek in Suid-Afrika.

Die tweede ding wat my pertinent opgeval het, is König se baie skerp pen. Nie alleen noem hy mense met wie hy verskil by die naam nie, hy raak soms selfs persoonlik en aanmatigend, soos dat Dirk Human gereeld sukkel om duidelik te formuleer. Hierdie styl het my ongemaklik laat voel. König val sy individuele opponente se standpunte op so ’n manier aan dat dit die leser skoon antagonisties laat voel teenoor hierdie mense. Dis amper asof König oortuig is dat die skrywers en hulle standpunte ’n onafskeidbare eenheid vorm, wat die skrywers so sleg maak soos hulle teologiese argumente. Gegee die feit dat geeneen van König se opponente geleentheid gegun is om op sy vrae of opmerkings te reageer nie, is hierdie soort polemiek eensydig, onregverdig en selfs oneties: Van wanneer af is teologiese debatte veronderstel om gevoer te word asof dit tot die dood toe moet wees? Mens moet immers in ag neem dat die klagtes wat König teen Muller, Human en ander inbring, reeds amptelik ondersoek en afgewys is. As ek my nie misgis nie, is daar selfs appèl aangeteken teen die kerklike kommissies se bevindinge – en hierdie appèl is ook afgewys.

Met dit gesê, sou ek tog ook wou sien dat die vrae en teenargumente wat deur König geopper word, op een of ander manier deur sy opponente beantwoord word. König het hulle opnuut in die beskuldigdebank geplaas, en indien dit onbeantwoord gelaat word, gaan hulle vir altyd aangekla bly staan as vernietigers van die ware evangelie – soos König dit probeer oordra het.

’n Derde ding val egter ook op. König doen besondere moeite om die foute in die denke van skrywers aan die liberalistiese kant van sy spektrum uit te lig en aan te spreek. Hy doen dit egter nie na die ander, fundamentalistiese, kant toe nie. Hy het immers met die aanvang van sy boek duidelik gemaak dat hy ’n alternatief probeer bied op albei sye van die spektrum (11). Hoewel hy baie aandag skenk aan die gevare van ’n fundamentalistiese Skrifbeskouing, versuim hy om ’n enkele skrywer of spreker aan hierdie kant aan dieselfde ondersoek te onderwerp as hulle meer vrysinnige vennote. Het König dan nie self geskryf dat ’n eenvlak-benadering tot die Bybel (waar alle tekste eenders hanteer word, ongeag of dit poësie, geskiedskrywing of ’n brief is) die Bybel net so ’n groot onreg aandoen nie? Dit is dan mos moontlik om die Bybel konteksloos aan te haal op ’n oorvereenvoudigde manier ten einde ’n punt te staaf – die Engelse tegniese term hiervoor is “proof-texting”. Waarom word dan geen aandag geskenk aan bekende-naam fundamentalistiese skrywers soos Rick Warren, Joel Osteen, Joyce Meyer en selfs Sarel van der Merwe – die skepper van die DVD wat die teologiese opleiding aan die Universiteit van Pretoria verdag probeer maak het – nie?

In werklikheid gee König self hierop die antwoord. Hy sê dat fundamentalisme onskuldiger is as liberalisme, want fundamentaliste hou by die kerk se belydenis en die groter geestelike waarhede van die kerk (301-2). Volgens hom is gemeentes van die NG Kerk fundamentalisties (304). Hy kom selfs tot die verdediging van Sarel van der Merwe (252-3). Uit die boek is dit dus duidelik dat König ’n profundamentalistiese vooroordeel vertoon, al probeer hy hoe hard om te sê hy verteenwoordig ’n derde alternatief.

Heelwat van König se standpunte het by my geresoneer. Die sentraliteit van Jesus se opstanding en die historiese aard daarvan is byvoorbeeld iets waarmee ek volmondig saamstem. Dit is immers een van die boublokke van die Christelike teologie, waarsonder die evangelieboodskap tot morele kodes gereduseer word. Van König se dogmatiese argumente moet egter herondersoek word. Sy opmerkings oor die groeiende ontwikkeling van die Nuwe Testament se geloof in die opstanding is byvoorbeeld verdag. Sy eensydige klem op straf as enigste gevolg van die sonde (wat nou van byvoorbeeld vervreemding?) veroorsaak ’n behoefte aan dieper Skrifstudie en nadenke.

Sou ek die boek aanbeveel? Miskien. Ek sou egter ook die boeke van die persone wat hy in die beskuldigdebank geplaas het, aanbeveel. Hulle praat hier immers net deur König se pen en interpretasies. Hulle verdien die geleentheid om onafhanklik aangehoor te word. Omdat ek König op persoonlike vlak ken en respekteer, weet ek ook ’n mens moenie sy boek net weggooi as ’n fundamentalistiese aanslag op die kerk nie. Hy is immers korrek as hy van ’n groep verantwoordelik-kritiese teoloë praat wat argumente weeg voor hulle menings waag, wat na winspunte soek en ook na denkfoute, en wat nie opgaan in die meer radikale uiterstes van die Bybelwetenskap nie. Hy wil graag geken wees as iemand in hierdie groep. Daarom moet mens sy mening ernstig opneem, maar ywerig saampraat aan die openbare debat.