Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Van ou perde tot tergterte


Theunis Engelbrecht - 2009-05-19

Luisterpaneel: Alice Ellis, Beyers Eybers, Yvette (Liewe Let) de Wet en Naas Vermaas
Sameroeper en notuleerder: Theunis Engelbrecht

Klik op die CD-omslae om dit nou van kalahari.net te bestel!

Bob Dylan
Together Through Life

 


Daar was ’n hewige getwis onder ons paneellede oor wat die hoogtepunt van die afgelope paar weke op die rock-’n-pop-rollercoaster-&-hip-hop-toaster was en dus die titel “CD en/of DVD van die maand” verdien. Twee van die paneellede voel dit moet Leonard Cohen se Live in London wees en die ander twee is van mening dit moet Bob Dylan se Together Through Life wees.

Die notuleerder sal u, geëerde leser, nie verveel met die nadere besonderhede van hul gekywery en dergelike viswywerye nie. Hy het bloot hul gemoedere laat bedaar deur te bepaal dat hul evaluering van die CD’s en DVD’s nie noodwendig soos ’n Top 20 benader moet word nie, want ’n Top 20-mentaliteit is in ons prestasiesiek tyd ’n uiters ongewenste toestand.

Beyers Eybers en Yvette de Wet is die grootste Dylan-voorbokke op ons paneel. (By the way, Yvette het ons amper hof toe gesleep omdat ons in ’n vorige aflewering na haar verwys het onder haar bynaam, Ysterslet. ’n Skikking is bereik en sy is nog met ons – jammer, Yvette, ons sal nie weer nie, jou liewe ou stukkie pret.)

Beyers was aanvanklik teleurgesteld, want hy het verwag die nuwe Dylan gaan min of meer soos sy vorige twee meesterstukke, Love and Theft en Modern Times, wees. Toe is dit nie. Hy weet egter nie of dit was omdat hy te veel rooiwyn drink nie, maar hy kon nie onmiddellik sy vinger daarop plaas oor juis hoe die nuwe Dylan van die vorige twee verskil nie.

“Maak dit saak?” vra Stukkie Pret de Wet en sug. “Kan jy nie net die bleddie musiek enjoy nie, ou Blou Eiers?” Mej De Wet het nie tyd vir Beyers Eybers se neiging tot haarklowery nie. “Die musiek het siel, jy hoor die warm hart wat daarin klop, en dis die belangrikste,” sê sy.

“En die man se woorde bly altyd something else,” sê Alice. “Hy is ’n poet. En Yvette is reg oor die hart en die siel. En wat betref dit wat rym met siel, is dit interessant om te hoor hoe Bob sy probleme met vroumense hanteer. Dit maak sy liedjies ook interessanter as 99,9 persent van ander oor dieselfde onderwerp. En dit is ’n onderwerp wat darem al baie, baie holruggery is – die geslagspolitiek tussen man en vrou. Maar Bob gee ’n nice, ander touch daaraan – ’n meer deurleefde, byna siniese een.”

Naas Vermaas is van mening dat Bob ’n groter digter is as 99,9 persent van die digters in Groot Verseboek. “Wie het ons in Afrikaans om met hom te vergelyk? Niemand nie. Ek luister eerder na sy CD’s as om Groot Verseboek te lees. Dis vir my ’n nog meer grootse poëtiese ervaring.”

Almal op die paneel is dit eens dat die musiek van ouer kunstenaars – dié wat as’t ware al met een voet in die graf staan – altyd boeiend is om na te luister. Dylan word oor ’n paar dae 68 (24 Mei). En ons leef in ’n tyd dat dit belangrik is dat die woorde van ou mense soos Dylan en Leonard Cohen steeds gehoor word.

Toe hulle eers oor die inhoud begin praat het, was daar geen einde aan die paneel nie. Naas is oortuig daarvan hy kan ’n proefskrif oor onder meer die aanwending van ironie op Together Through Life skryf. Wat sê Dylan oor die huidige stand van die wêreld, oor die postmoderne werklikheid? wil Alice weet. Is daar enige tekens van totale wanhoop by hom te bespeur?

In dié verband wil Stukkie Pret de Wet ’n punt daarvan maak om te beklemtoon dat sy die tweede liedjie, “Life is Hard”, gans te droefgeestig en hartverskeurend vind. Sy kan nie daarna luister nie; sy wil elke keer in trane uitbars. Alice sê sy moenie te veel met haar hart na die CD luister nie, maar meer met haar kop, maar Yvette sê sy kan dit nie regkry nie.

Veral die laaste twee liedjies op die CD – “I feel a change comin’ on” en “It’s all good” - bied volgens Beyers op dié album ryke stof tot verdere analise wat antwoorde sal oplewer vir Alice se indringende vrae. Dit maak hom altyd die moer in, sê hy, dat Bob Dylan nie sy lirieke in sy CD-boekies laat print nie, en dan moet ’n mens jou doodsukkel om die goed in die hande te kry. In hierdie liedjies, sê hy, skilder Dylan prentjies van die wêreld soos dit nou is. Sy sosiale kommentaar op “It’s all good” is verdoemend, volgens Beyers die toppunt van donker ironie op die album. Wat is die verandering wat hy aanvoel? Dit kan meer as een ding wees. “En dit is wat Bob Dylan altyd so befok maak,” deklameer Beyers. “Sy songs is soos ’n ui wat ’n mens kan afskil. Elke keer is daar iets meer – op literêre vlak sowel as musikaal.”

Hierop het ’n hele debat gevolg oor Dylan se literêre statuur, waarvan die notuleerder ongelukkig die bandopnames verloor het en dit nie hier kan transkribeer nie. Ek onthou wel Alice het vir Naas deeglik kapittel omdat hy durf vra het wie of wat ons in Afrikaans het wat met Dylan kan vergelyk. Die meerderheid van die paneel was dit egter eens dat daar nie ’n positiewe of bevredigende antwoord op Naas se tergende vraag kan wees nie en dit word dienooreenkomstig so genotuleer.

“Fokkit, julle ouens kan darem ’n klomp kak praat,” sê Beyers. “Kom’s knak ’n bier. Bob se nuwe CD is befok. Relax net en geniet die musiek.”

Vir die rekord: in ons tyd van idole en idole en nogmaals idole – idole net waar jy kyk en wat jy hoor – is Bob Dylan een van die min lewende mense oor wat ’n mens kan sê ikoniese sowel as kultusstatus geniet én dit verdien. As ’n mens lees wat tans in die buitelandse pers oor Dylan geskryf word, is dit ook duidelik dat sy lang, indrukwekkende, inspirerende loopbaan en sukses nie na sy kop toe gegaan het nie. Die wonderlikste is dat hy hom daaraan afvee. Gaan kyk maar op kalahari.net of amazon.com hoe baie boeke daar al oor Dylan geskryf is. Hy lees nie eers die goed nie, het Beyers gehoor, en hy is glad nie gespin oor wat ander mense van hom dink nie. ’n Mens kry die indruk dat dit vir hom alles ’n pot kak is (aldus Naas).

“Bob Dylan is ’n free spirit – en daar is min kunstenaars van wie dit vandag gesê kan word,” konkludeer mej De Wet. “Daarom is dit ’n riem onder die hart dat sy CD in hierdie dae en tye so goed verkoop – dit was nommer 1 op die hit parades in Amerika én Brittanje. Dit doen ’n mens se afgeleefde, vertrapte en siniese hart goed om te hoor dat daar iewers nog ’n bietjie poëtiese geregtigheid in hierdie droewe ondermaanse geskied.”

(Vir wat dit werd mag wees: die meeste buitelandse publikasies wat dink CD’s is hotelle en dit volgens sterre gradeer, het vier sterre aan Dylan se nuwe album toegeken. Ons paneel is egter so vrydenkend en ruim van hart, gees en verstand dat hulle besluit het hulle gee dit sommer vyf sterre.)

 

Leonard Cohen
Live in London

 

Die hele paneel sowel as notuleerder is baie geesdriftig oor Leonard Cohen se nuwe CD, wat ook op DVD beskikbaar is. En almal is groen om die kiewe van kwylende afguns jeens Alice, want daar is ’n mannetjie wat agter haar aan is en hy het vir haar die DVD present gegee. Sy was so gaaf en onbaatsugtig om die res van die paneel te nooi om een aand daarna te gaan kyk in haar spoggerige dubbelverdieping-strandhuis in Fresnaye.  

Cohen word vanjaar 75. In die eerste helfte van die huidige dekade het hy hom iets soos ses jaar lank in ’n Zen-klooster afgesonder. Toe hy daar uitkom, moes hy uitvind een van sy boekhouers of finansiële bestuurders het hom bedrieg en hy is sy hele aftreefonds van ’n paar miljoen dollar kwyt.

Tegnies gesproke is Cohen wat ’n mens ’n bejaarde kan noem, sê Beyers verwonderd. Maar kyk en luister ’n mens so na hom op die verhoog, blyk dit dat hy jonger van gees is as die meeste mense wat twee keer so jonk is soos hy.

Wat uit hom straal, is wysheid … die wysheid van die grysheid. Daar is niks soos ervaring wat enige kunstenaar se werk geur en kleur nie, beklemtoon Alice.

’n Mens moet eintlik bly wees daai vark van Babilon het Cohen uit sy aftreegeld geswendel, anders sou Cohen dalk nooit hierdie toer (waartydens die konsert op 17 Julie 2008 opgeneem is) onderneem het nie. Cohen kon die maklike uitweg gevolg het, maar hy het nie: hy het ’n fenomenale groep musikante byeengekry om saam met hom te speel, daar is baie moeite gedoen met die verwerkings, en in dié baadjie klink klink Cohen se musiek nog beter, lekkerder en sterker as op die oorspronklike ateljee-opnames. Volgens Beyers kan ’n mens maar sê hierdie is die ultimate weergawes van sy songs. En om die musikante in aksie te sien, is ’n trip van sy eie, sê mnr Vermaas.

Dis nie sommer ’n hierjy-konsertjie nie – dis so lank dat daar selfs ’n intermission is. Altesaam 26 liedjies word gehoor. Cohen gesels lekker met die gehoor tussen die liedjies. Die DVD en CD is van voor tot agter een glansende hoogtepunt. Cohen se nederigheid op die verhoog is aangrypend. Sy woorde is suiwer poetry, sê Alice. Sy sal eerder na sy CD’s luister as wat sy Afrikaanse digkuns lees. Yvette het haar gruwelik hieroor vererg, maar omdat ons in Alice se luukse woning neffens Clifton en Seepunt was, het sy haar dekorum bly handhaaf.

Ondanks onderlinge verskille (en klaarblyklike wrokke, as ’n mens na Yvette en Alice luister), is die Sound Bites-span dit ook roerend eens dat die wonderlike nuwe Cohen-konsertalbum onmisbaar is in enige versameling – en as jy dit op DVD in die hande kan kry, des te beter. Dis ’n konsert wat nie net gehoor moet word nie, maar ook gesien moet word. Live in London is ’n groot aanspraakmaker op die titel Musiek-DVD van die jaar.

 

JJ Cale
Roll On

 

My aarde, en hier val ou JJ Cale ook weer uit met ’n nuwe CD net toe ’n mens al amper van hom begin vergeet het, sê Beyers. Cale is ’n groot gees, maak geen fout nie – mense soos Neil Young, Mark Knopfler en Eric Clapton het al vertel watter heilsame invloed Cale as kitaarspeler op hulle gehad het. En hy het al ’n paar onsterflike songs geskryf, soos “After Midnight” en “Cocaine”.  

Cale was een van die skeppers van die sogenaamde “Sulsa”-klank, volgens Yvette (wat Cale gegoogle het) ’n “los genre” met invloede van blues, rockabilly, country en jazz. Sy musiek is ook al deur mense met meerdere kennis as ons geëtiketteer as “laid back”, wat dit inderdaad is. Dit dra ook die stempel van wat deesdae Americana genoem word. Grassroots-musiek. Gelukkig is almal op ons paneel liefhebbers van Americana-musiek, en daarom was daar geen wederstrewighede onder die lede oor hierdie album nie. Dis ideale Sondagmiddagmusiek, meen Naas.

Die CD is genotvol, maar uiteindelik voel almal hy doen hierop eintlik niks nuuts of op ’n ander manier as voorheen nie; hy bly maar by sy beproefde resep. Al sou ’n mens ’n bietjie meer avontuurlikheid waardeer het (iets waarvoor Bob Dylan byvoorbeeld nie bang is nie), is Roll On heel skaflik, ofskoon nie verstandsverbysterend nie.

 

Depeche Mode
Sounds of the Universe

 


Kan jy glo, Depeche Mode bestaan al 28 jaar lank. Hulle het al meer as 75 miljoen albums wêreldwyd verkoop. Deur die jare het hulle nog nooit ’n album gemaak wat ’n mens kan sê is werklik afskuwelik nie, al was sommige beter en interessanter as ander. Wat nie ontken kan word nie, is dat hulle reuse-groei getoon het sedert hul debuut in die 1980’s.

Sounds of the Universe is vintage Depeche Mode. Die meeste aanhangers sal nie teleurgesteld voel nie: dit is steeds donker elektronika en nerfdun emosies op ’n mespunt al die pad. Die eerste snit, “In chains”, het ’n helse debat op die paneel afgegee. “Hoekom is hy in kettings?” vra Alice. “Dit klink asof dit is omdat hy nie die vrou kan kry wat hy brandend begeer nie. En dis wragtag al waaroor hierdie liedjie gaan. Maar wat ’n aangrypende klaagsang maak hy nie daarvan nie, ondanks die gebrek aan sterk inhoud!”

Nouja. Die hunkering na bevryding in “In chains” oortuig, die balans tussen die lekker kitare en sintetiseerders is in die kol en die eerste liedjie maak mens reg vir ’n genoeglike trippie. Liedjies soos “Peace”, In Sympathy”, “Wrong” en “Hole to Feed” het veral goeie indrukke van ons paneel ontlok, ofskoon drie van hulle nie mal was oor die liedjie “Fragile Tension” nie, maar Alice wel daarvan gehou het.

En ontspan, Alice se interpretasie van die groep se gevoelsdiepte (soos sy dit noem, nie ek nie) is nie baie regverdig nie, want in ander liedjies beskryf en besing Depeche Mode darem ook talryke ander emosies en gebeure en ervarings. Wat in Depeche Mode se guns tel, is dat die werklikheid vir hulle baie meer meervlakkig is as vir die liedjieskrywers en musiekmakers wat net skryf oor erotiese hunkeringe. En wanneer hulle wel daaroor skryf, doen hulle dit op ’n manier waarop min ander kunstenaars dit doen – hulle gee dit meer kleur en geur, meer lig en skaduwee, meer lawaai en stilte, meer van ’n grys gebied. ’n Mens kan na al die jare darem nog na Depeche Mode luister – wat meer is as wat van byvoorbeeld Pet Shop Boys gesê kan word – en dit wil seker gedoen wees. Maar dis nou ook nie iets waarna ’n mens elke dag graag sal wil luister nie. Dit sal dalk ’n bietjie net te beklemmend raak.

 

Chris Isaak
Mr Lucky

 


Dis Chris Isaak se eerste album in sewe jaar. Wie sal ooit sy haunting treffer “Wicked Game” vergeet? Sy kry hoendervleis as hy sing, sê Alice Ellis, en vir haar kan min sangers dit regkry. Daar is iets in sy stem wat so vol hartseer en heimwee is, maar terselfdertyd ook iets anders waarop sy nie haar vinger kan plaas nie, sê Alice E. (Sy voeg by sy sal ook nie omgee om haar vingers op ander plekke van Isaak te plaas nie, ’n gevoel wat deur twee ander paneellede gedeel is.)

Beyers, Naas en Yvette stem saam oor die sogenaamde “pyn” en “weemoed” in Isaak se stem. “Maar hy kom terselfdertyd ook so sterk oor,” sê Yvette. “Hy klink soos ’n man wat nie toelaat dat sy pyn hom vernietig nie, hy is sterker as dit.”

Beyers meen die vroumense kyk te veel soapies.

Mr Lucky is Isaak se twaalfde album sedert sy debuut in 1985 en ’n mens kan nie ontken dat hy ’n goeie bydrae gelewer het nie, sê Naas Vermaas, maar volgens hom is die aard van Isaak se liefdesnood in sommige nommertjies nog te veel op ’n adolessente vlak en oordramatiseer Isaak in sommige gevalle die betrokke agtergeblewe emosie. (Huh? Wat het Naas gerook of gesnuif of gedrink voor hy kom luister het?)

“Ag Naas, jy is ’n pyn in die gat,” sê Beyers. “Chris Isaak maak lekker musiek, en klaar. Mense wat nie van hom hou nie, is snobs wat dink hulle het beter en meer verfynde smaak as die gepeupel. Fok hulle.”

Die breek van sewe jaar het Isaak goed gedoen. ’n Mens kan hoor daar is weer skop en ’n bietjie bôls in sy musiek, en op sommige liedjies meer as net ’n blote bietjie, soos “Big Wide Wonderful World”. En die hartseer word darem afgewissel met lekker vinnige gatskop-nommertjies wat ’n mens laat besef eenmaal ’n cowboy, altyd ’n cowboy.

Die feit dat Isaak grotendeels oor die wellus- en geslagspolitiek tussen mans en vroue sing, en in die proses nie altyd die clichés mistrap nie, bring egter mee dat ’n mens uiteindelik nie soveel blywende genot daaruit put as sê maar uit die meer duursame Dylan en Cohen nie. Tematies bly dit grotendeels te eenselwig. Daar is mos baie ander goed om oor te sing? ’n Mens kan net jou oë oopmaak en na die wêreld om jou kyk. Wie weet, dalk doen Isaak dit op sy volgende CD. Maar vir nou is hierdie een goed genoeg en aangenaam om na te luister. Op die vraag of hulle R150+ aan die CD sou bestee, was daar nie eenstemmigheid op ons paneel nie. Twee het gesê ja, en twee het gesê nee.

 

Franz Ferdinand
Tonight

 

Ons paneel onthou nog goed watter uitbundige, opperste vreugde dié Skotse rockgroep se vorige album, You Could Have It So Much Better, by hulle veroorsaak het. Dus was hulle baie opgewonde om te hoor Franz Ferdinand het ’n nuwe album uit. Daar was darem vuurwarm liedjies op die vorige album, soos “Do You Want To”, “Walk Away” en “The Fallen”.

Die teleurstelling waarmee Tonight ons paneellede egter gelaat het, was enorm. Die CD voldoen nie aan die verwagtinge wat die vorige een geskep het nie. Daar is meer elektroniese klanke by, meer van ’n disco beat, en nie soveel kitaar soos voorheen nie. Goed, ’n mens neem aan die groep wil eksperimenteer met nuwe dinge en aanbeweeg, maar die klank is nou baie dunner, al is Franz Ferdinand nog goed daarmee om catchy riffs en hooks te skep. “Maar is dit genoeg?” vra Alice. Nee, antwoord almal. Op die vorige CD was daar darem nog warm songs, kla Alice, maar op hierdie een is die meeste koud en ’n paar lou.  

So, wanneer jy weer in ’n komatose toestand voor jou TV lê en die video’s van “Ulysses”, “No You Girls” en “Lucid Dreams” wys, luister maar self of jy dink hierdie outjies het genoeg skop om ’n mens ’n hele album daarvan te laat deursit. Franz Ferdinand rus op hul louere. Intussen is daar baie ander groepe wat stof in hulle oë begin skop. Op ’n vraag of hulle in hul bedrywige lewens weer tyd sal maak om 45 minute lank in een sitting na hierdie album te luister, het al die paneellede negatief geantwoord.

 

Laura Izibor
Let The Truth Be Told

 


Let The Truth Be Told
is die debuut van die aanvallige 21-jarige Ierse R&B-sangeres Laura Izibor. As ons paneellede (behalwe Alice) die woord “R&B” hoor, trek hulle hul neuse op ’n plooi. Dan vererg Alice haar verskriklik, want dit grens vir haar aan iets soos rassisme as ’n mens nie van R&B hou nie.

Wel, die feit dat Izibor nie Amerikaans is nie, maak dalk al ’n verskil, want sy is veel meer luisterbaar as Whitney Houston of Mariah Carey en al hul duisende klone. Hel, dis deesdae ook so moeilik om R&B behoorlik te definieer, brom Beyers, want grense verskuif die heeltyd en style verander en genres meer inklusief.

’n Snit soos “If Tonight Is My Last” is volgens die paneel ’n belewenis. Moet hulle egter nie vra of elke liewe liedjie ’n belewenis is nie, want die antwoord sal nie ’n eenparige ja wees nie. Maar dat Izibor buitengewoon talentvol is, is nie te betwis nie. Daar wag ’n blink toekoms op haar.

 

Yeah Yeah Yeahs
It’s Blitz!

 

Hier is nou vir jou iets wat beskryf word as “alternative rock” uit die hart van New York. Hul debuut het al in 2003 verskyn en hierdie is hul derde CD. Dis deesdae verfrissend as “alternative rock”-groepe vroulike sangeresse het, soos in hierdie geval met die fraaie Karen O agter die mikrofoon wat klink soos ’n sexy jong Chrissie Hynde.

“Alternative rock” verskyn in die vorige paragraaf tussen aanhalingstekens – want hoe word dit deesdae gedefinieer? Wat maak dit alternatief? Dis ook nie duidelik waarvoor Yeah Yeah Yeahs ’n alternatief is. En van rock is hier maar bitter min sprake. Dit wys jou net hoe misleidend en onbetroubaar is etikette, brom Beyers. Die Yeah Yeah Yeahs maak meer pop as iets anders.

As hulle ’n alternatief is tot ’n klomp skreeuende stout seuns wat ’n lawaai maak, is Yeah Yeah Yeahs seker die benaming “alternatief “ werd. Hulle is ook nie bang om met klawerborde en sintetiseerders te eksperimenteer nie, en ’n mens word nie al die pad oordonder deur harde, intense kitare nie. It’s Blitz! bevat heel melodiese musiek en die eerste snit, “Zero”, maak dat die verwagtinge van die begin af hoog is.

Vir ons paneel val hulle toe plat met die tweede snit, “Heads Will Roll”, wat volgens Naas klink na ’n rip-off van Public Image Limited se “This Is Not a Love Song”. Die res van die album is oneweredig en wissel van vervelig tot interessant tot boeiend (“veral Runaway”). Ons paneel hou daarvan. In ’n wêreld waar so baie popmusiek te ernstig is, is die Yeah Yeah Yeahs se musiek vol speelsheid. Dit is nietemin waarskynlik nie almal se koppie tee nie.  

 

The Veronicas
Hook Me Up

 

Die groep bestaan uit twee susters van Australië, Lisa en Jessica Origliasso, en hul klank word beskryf as “electronic based poprock”. Die album begin heel dramaties met bykans simfoniese klanke, maar ’n paar sekondes later skop die disko-beat in. Dis sterk melodiegedrewe en is propvol catchy koorgedeeltes wat sommige mense lus sal maak om te dans.

The Veronicas lyk nes twee tergterte, sê Beyers. Hy is ’n chauvinistiese vark, kap Alice terug.

Die lirieke is oppervlakkig verby en dis skokkend om te sien hoe beperk die leefwêreld van vandag se jongmense is as jy The Veronicas se lewensuitkyk as ’n maatstaf in hierdie verband sou kon gebruik, meen Naas. Hulle sing ook weer uitsluitlik oor die dinamika van die geslagspolitiek tussen jongman en jongvrou, en dit bly maar na ’n verskriklike affêre klink.

Al vind hy die musiek breinloos, dink Beyers tog The Veronicas is sexy en om dié rede behoort hulle gereeld op TV en tydskrifvoorblaaie te verskyn en sal hulle goed geld maak met hul uiters eendimensionele mymeringe en elementêre emosies.

 

Pet Shop Boys
Yes

 


Nee, nee, nee, nee, sê ons paneel. Néé. Hulle hou almal op ’n manier, in mindere of meerdere mate, van Pet Shop Boys, maar dit klink of Neil Tennant en Chris Lowe nou rustig stowe in die roes van muwwe middeljarigheid. Die nuwe treffer “Love etc” is wel aansteeklik, maar hel, dit is darem als baie déjà-vu. Pet Shop Boys rus op hul louere en maak op hierdie album musiek wat selde inspireer, stem ons paneellede saam. Vergelyk dit maar met puik ou Pet Shop Boys-albums soos Nightlife en Bilingual. Dit kom nie eers NABY daaraan nie. Dis nie dat hulle slegte musikante of skrywers is nie – inteendeel. Die droë ironiese perspektief op die wêreld en sake van die hart is steeds daar, maar dis asof dit nie meer dieselfde oortuigingskrag het nie. Hierdie is maklik hul papste album ooit.

 

Röyksopp
Junior

 


Yvette die internetslet het baie opgewonde by die paneelsitting opgedaag nadat sy opdrag gekry het om navorsing te doen oor al die kunstenaars na wie ons sou luister. Sy vertel toe sy Röyksopp gegoogle het, praat haar rekenaar skielik Afrikaans met haar! Sy het dit uitgedruk en dring daarop aan dat dit woordeliks herhaal word hier, wat die notuleerder dan ook verbatim doen in die betrokke Wiki-Afrikaans:

Röyksopp, soms verkeerdelik as Røyksopp geskryf, is 'n elektroniese musiekuo vanuit Bergen (Noorweë) wat uit Torbjørn Brundtland en Svein Berge bestaan. Die groep het in 1998 tot stand gekom en het hul debuutalbum Melody A.M. onder die etiket van Wall of Sound in 2001 uitgegee. Die groep se naam is Noorweegs vir "rook" (röyk) en "sampioen" (sopp), dus letterlike "rooksampioen", en dit verwys na die sampioensoort. Röyksopp se styl word beskryf as van 'n hakige elektroniese aard met opgekerfde en verwronge baslyne en sintetiese onderlae, wat 'n klank meebring eenders aan dié van die Franse musiekduo Justice, maar wat sagter en rustiger is en hom dikwels aan die downtempo-genre leen. Snitte met vinnger tempo word egter nie uitgesluit nie, en word gewoonlik met 'n electro-house-styl vervaardig. Röyksopp is veral ook bekend vir hul samewerking met verskillende vroulike gaskunstenaresse. Treffers soos "Only This Moment" en "Circuit Breaker", met Kate Havnevik, en "What Else is There?" met Karin Dreijer-Andersson (van The Knife en Fever Ray), is voorbeelde van die sukses wat Röyksopp met hierdie styl bereik het. (sic)

Ondanks die gebruikmaking van “verskillende vroulike gaskunstenaresse” is ons bevrees om te sê dat die groep se nuwe album, Junior, nie uitermate opwindend is nie. Die eerste snit, “Happy Up Here”, is wel oulik en verleidelik en koketterig, maar andersins klink die musiek maar hoofsaaklik na iets soos Kylie Minogue op dagga of swak magic mushrooms.

Maar mens moet hulle nie sommer afskiet nie, sê Alice – sy en haar kêrel het onlangs in ’n jacuzzi gesit en allerhande goetertjies geniet en genuttig terwyl die CD speel, en sy sê dit was die wonderlikste trip van haar lewe. Dit het vir haar dimensies van die syn laat oopgaan wat sy nie geweet het bestaan nie. Ons het haar nie gevra op watter drugs sy en haar kêrel was nie, want geen mens by sy nugter verstand en volle positiewe sal tot so ’n gevolgtrekking kan kom oor hierdie groep se musiek nie.

 

Annie Lennox
The Annie Lennox Collection

 

Nodeloos om te sê: Annie Lennox is een van die groot geeste in die wêreld van pop en rock. Al is hierdie album ’n versameling van die grootste treffers op haar vorige albums, is dit die moeite werd om kennis te neem daarvan, omdat dit drie liedjies bevat wat nie op haar vorige uitreikings was nie, soos die wonderlike “Love Song for a Vampire” (wat wel op die klankbaan-CD van Bram Stoker’s Dracula is) en twee cover versions: een van Ash se “Shining Light” en “Pattern of My Life”, geskryf deur Tom Chaplin, sanger van die groep Keane. Omdat Lennox-aanhangers al haar CD’s behoort te hê, neem ’n mens aan hierdie versameling is gemik op nuwe bekeerlinge tot haar werk. Die reeds gesoute aanhangers kan met reg vies wees oor die drie ekstra liedjies, want mens kan tog nie ’n hele CD net daarvoor koop nie.

In sy geheel is dit ’n puik versameling, en in die nuwe konteks waarbinne die liedjies hier gehoor kan word, skep hulle almal opnuut steeds ’n vars indruk – Lennox se musiek dra die waarmerk van tydloosheid.

 

Kings of Leon
Only By The Night

 

Toe hierdie album die eerste keer by die paneel opgedaag het, was hulle nie vreeslik geesdriftig daaroor nie. Intussen is hulle egter al so goed gebreinspoel deur die groep se treffers “Sex On Fire” en “Use Somebody” wat dag en nag op radio en TV gespeel word, dat hulle besluit het om weer opnuut aandag daaraan te gee toe ’n spesiale uitgawe daarvan (met ’n DVD met ’n konsertoptrede van die groep in Londen – ’n skamele vyf liedjies) danksy Alice se voornemende kêrel in haar skoot beland het.

Die paneellede wat deel was van die betrokke paneel wat Only By The Night die eerste keer oninspirerend gevind het, wil nou hiermee hul woorde terugtrek. Die ander hou ook van die CD. Wys jou net wat oormatige blootstelling en publisiteit kan doen. Dat selfs mense soos ons deurwinterde en uitgelese paneellede gebreinspoel kan raak …

 

Cassette
Who Do You Trust?

 

Daar is tans weer ’n oplewing in die Suid-Afrikaanse rocktoneel met groepe soos aKing, Ashtray Electric en Zebra & Giraffe wat buite die voorspelbare grense beweeg. Cassette val ook in hierdie kategorie. Die musiek is meer eksperimenteel en avontuurlik en val nie vas in een voorspelbare patroon of kompartementjie nie.

Met die eerste luisterslag beïndruk hulle meer met baie sterk snitte soos “Fighter Planes” en “Argentinean Skies”, maar met die herluisterslag kruip meer liedjies onder ’n mens se vel in, soos “Save This City”, “Hungry Wolves”, “Drunk 'n’ honest” en “Break Me Heart” (’n duet met Vusi Mahlasela). Die CD is nie blatant kommersieel nie en dis ’n goeie teken dat die groep desondanks reeds baie gewild is. Dit is dus een van daardie CD’s wat jou dalk nie met die eerste luisterslag uitboul nie, maar ’n lekker stadige, geleidelike seduksie bied. (En sulke ervarings is altyd die moeite werd, beklemtoon ou Beyers Blou Eiers.)

 

Papa Roach
Metamorphosis

 

Hierdie is die Kaliforniese groep Papa Roach se sesde album en hulle sê die soort harde metaalrock wat hulle maak, raak nou nog swaarder en vinniger. Die album is ’n kookpot van begin tot einde, maar helaas nie een wat vir lank warm bly nie. Teen die vierde snit, “I Almost Told You That I Love You”, het selfs Alice neigings getoon dat sy ’n headbang-streep in haar het.

Die groep moet liefs maar deurgaans hard speel, want dis in hul stiller oomblikke (soos “Had Enough”) dat ’n mens agterkom hulle is nou nie juis die wêreld se opwindendste liedjieskrywers nie. As die adrenalien eers ingeskop het, neem die thrill egter gou af. Hier is niks van werklik blywende waarde nie, maar dis ’n album wat jou uit ’n komatose toestand kan skop as niks anders wil help nie.

 

Bullet For My Valentine
Scream Aim Fire

 


Dis wanneer ’n mens na Bullet for my Valentine se Scream Aim Fire luister dat jy besef hoe ’n ver pad Papa Roach nog moet stap. Bullet For My Valentine kom nie van Amerika nie, maar van Wallis, en dit verklaar seker hoekom daar iets “varser” aan hul swaar metaalrock is as Papa Roach s’n, al is die standaard-metaalkenmerke en onaardse gille daar. Maar Bullet for my Valentine speel met ’n vlymskerp intensiteit en presisie wat hulle bo hul tydgenote laat uitstaan. Die meeste liedjies is ook so verskriklik vinnig dat ’n mens net kan dink die mannetjies moet stokflou wees na elkeen.

Wat maak een metal band goor en ’n ander een lekker? Moeilik om te sê, want ’n mens is huiwerig om iemand navorsing daaroor te laat doen, want jy is bang hulle sal te veel breinskade in die proses opdoen. Beyers, Naas en die notuleerder voel egter almal wel dat Bullet For My Valentine om een of ander duister rede meer luisterbaar is as baie ander musiek in dieselfde styl en genre. Vir Beyers is hulle selfs nog lekkerder as Metallica, en dit wil gedoen wees. Naas meen op plekke neem Bullet For My Valentine se aggressie en angs selfs demoniese proporsies aan. Nie almal se koppie tee nie – veral nie Yvette en Alice s’n nie, wat hulle uit die voete gemaak het toe die CD opgesit word – maar nouja, metal is maar metal. En metaal praat sy eie taal. As jy daarvan hou om met daai paal te dans, is hierdie een tans jou beste keuse om te gryp. Maar moet tog asseblief net nie op daai paal gaan sit nie.