Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Skrywers voed die siel


Jason Lloyd - 2009-05-19

My Kaapse vriendin, dr Scarlett Cornelissen – senior lektor in politieke studies by Maties en tans besoekende dosent in die buiteland – stuur die ander aand ʼn SMS uit Skotland: Skrywers voed die siel”, skryf sy. Sy het ʼn skrywersvoorlesing bygewoon en wou dit graag met my deel.

Vroeër vandeesmaand het Eben Venter, die skrywer van die roman Horrelpoot, ʼn paar interessante opmerkings gemaak tydens sy boekvoorlesing-sessie by Rhodes-universiteit.

Maar eers: toe ek in Grahamstad aangery kom vir die lesing, het ek twee boeke gekoop (by die skrywer Pieter Wagener se seun, Justus, se koffiewinkel, Red Café). Soos Scarlett is ek ook deur dié boeke “gevoed”. Die Engelse skrywer DH Lawrence se Selected Letters, saamgestel deur Aldous Huxley, is ʼn klassieke stuk wat elke skrywer en boekemens behoort te besit. Dit is nie wat Huxley in die voorwoord geskryf het nie, dit is die gedeelte wat Lawrence se vrou, Frieda, na sy dood in 1930 oor hom geskryf het, wat saak maak:

What he had seen and felt and known he gave in his writing to his fellow men, the splendor of living, the hope of more life … a heroic and immeasurable gift.

In haar roman Maru bewys Bessie Head dat sy onder die grootste skrywers tel wat ʼn passie vir beskrywing het. In die eerste hoofstuk skryf sy:

The rains were so late that year. But throughout that hot, dry summer those black storm clouds clung in thick folds of brooding darkness along the low horizon. There seemed to be a secret in their activity, because each evening they broke the long, sullen silence of the day, and sent soft rumbles of thunder and flickering slicks of lighting across the empty sky.

Miskien spreek bogenoemde aanhalings tot die stelling “all that matters is the laughter and tears” van Samuel Beckett toe hy gevra is waaroor sy werk handel. Venter het daarby aangesluit deur te sê as jy as skrywer tot die “laughter and tears” bygedra het, dan het jy “gevoed”. Venter het gesê ʼn skrywer moet skerp kyk, goed luister en die vermoë hê om te ruik en om uit die derms te kan skryf. Anders kan die skrywer nie “voed” nie. Dit sluit aan by die skrywer Nadine Gordimer se stelling dat skrywers “groot ore moet hê om heeltyd mense te kan afluister”.

Maar skrywers moet ook verskeie kwaliteite en vaardighede het om te kan skryf om te “voed”. Die skrywer John Banville van die bekroonde roman The Sea sê hy maak nooit staat op navorsing nie. Hy maak gebruik van sy verbeelding. Die uwe het reeds lank gelede geleer as ʼn mens nie verbeelding het nie, kan jy nie skryf of “voed” nie.
 
Skrywers moet ook, soos sportsterre, "fiks" wees om te kan “voed”. Die skrywer van die gewilde riller-romans, Stephen King, “oefen” gereeld deur minstens 4 000 woorde per dag te skryf. Hy rus byvoorbeeld net op Kersdag. So, die skrywer se “voedingstaak” is glad nie vir sussies nie.