Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

ET en die silwerhaar


Reney Warrington - 2009-05-18

In ʼn poging om ons winterpense van twee winters terug af te skud voor ons dié winter ʼn derde winterpens optel, stap ek en Vrou om die grootste groenigheid in Jo'burg, Zoo Lake. As die flou wintersonnetjie so deur die bome trek en die grasperke sag belig, is die plek mooi en vergeet ʼn mens van die stank en eend-crap wat die hele plek vol lê.

Vanmiddag doen ons die rondte om die dam, terwyl ons die resessie en die werkdroogte wat voor ons uitstrek, bespreek. My ma spot en sê gisteraand oor die foon sy gaan maar op die straathoek staan, maar sy dink nie haar voete sal dit nie hou nie!

Om die tweede draai kom ons af op ʼn paartjie wat oor die dieptes van die dam uitstaar. Hulle skouers hang, hulle praat nie ʼn woord nie. Hulle is platgeslaan, sien ek van ʼn afstand af, al sit hulle bo die wind van die stank af. Die ou se hare is netjies, sy tekkies wit. Sy kouse is te hoog opgetrek, maar sy Drimac splinternuut. Die vrou se hare is effens teruggevat en haar truitjie bietjie te oud vir haar ouderdom.

Ons stap verby en ek sien die rede vir hulle skok. Die pasgebore babatjie wat die vrou met ʼn bottel voed, ʼn nuwe lewe. “Geez, ek hoop nie ons lyk die dag so verskrik as ons kinders het nie,” sê ek vir Vrou.

Om die vierde draai kom ons op ʼn groep vrouens af wat Tai Chi of iets soortgelyk op die grasperk doen. Heel agter sit ʼn silwerhaar, op haar silwer rolstoel/motorfiets/gedoente. Ek skat haar so 103. Langs haar staan haar nurse in blou. Die vrouens strek boontoe en staan op hulle tone. Dan ontspan hulle en begin weer. Die silwerhaar kan nie meer opstaan nie en sy beweeg in slow motion, maar sy punt haar tone, ontspan haar voete en punt hulle weer saam met die groep. Alles so in die sit.

Ons stap verby en ek loer terug. Die vrouens moet nou wydsbeen staan vir die volgende beweging. Die nurse help om die antie se bene van die bruggie van die fiets af te tel vir die wydsbeen posisie. Dit vat bietjie tyd, maar die groep wag geduldig. Hulle het respek vir die ou lewe.

“Jou ma moet dit sien,” sê Vrou. Sy verwys nou na my ma se nuwe speelding, die oefenfiets.

Om die impak van die oefenfiets te skets, moet ek noem dat my ma vandat ek haar ken, nog nie oefening gedoen het nie. Voor my geboorte het my pa haar een keer saam pluimbal toe gevat, maar toe vee sy die pluimbalbaan se vloer met hom en hy vra haar nie weer nie.
My ma kan nie swem nie, want sy’t amper verdrink en sit nie eers haar kop onder die stort nie. Sy kan ook nie gym nie, want sy’s te skaam. Sy kan ook nie stap nie, want haar knieë is shot.

Aangesien ek die ou vrou vir so lank as moontlik by my wil hê, kom ek en Vrou met die idee vorendag van ʼn stilstaande oefenfiets. Ma stem in.

Goed, ons blaas die aftog Alberton toe, skroef die ding aanmekaar en los my ma met die nodige info. Moet dit nie oordoen nie. Monitor ma se hartklop. Drink water. Probeer eers vyf minute. Skaal op van daar af.

Die oproepe uit Alberton uit begin eers stadig.

"Hoe lank het Ma vandag getrap?"

"Ek is op die fiets, man. Terwyl ek met jou praat. Ek het die selfoon, die landlyn en die TV se remote op ʼn tafeltjie hier by my."

"Hoe gaan dit, Ma?"

"Ek het nog net vyf minute getrap vandag!"

"Hoe gaan dit, Ma?"

"Kan julle my picture? As ek eers my rugstut aan het, my twee knee guards vas het, het ek net ʼn helmet nodig! Dan lyk ek soos die silhoeëtte in ET wat voor die maan verby vlieg!"

"Ek hoor dit reën by julle, ma?"

"Dis oukei, ek trap anderkant toe!"

I rest my case.