Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Infiniteit


Willie van Aardt - 2009-05-13

“Tristan! Tristan, dit is jou beurt om die verhoog te betree.”

Die ouditorium sit volgepak met mense wat na Tristan se toespraak kom luister het.

“Alles wat is, was reeds gewees. Ek het nog altyd gewonder of die teenswoordige tyd parallel beweeg met gebeure wat reeds plaasgevind het in die toekoms waarna ons verwys as die verlede.”

Dit voel vandag vir Tristan anders as elke keer wanneer hy oor die gehoor uitkyk en hy bloot die een of ander aantreklike man gewaar, want vandag ervaar hy hierdie snaakse gevoel dat hy die man in die gehoor, links agter, al jare ken. Dit is geen geheim dat Tristan gay is nie; inteendeel, hy beskou homself as een van die voorlopers in die plaaslike stryd tot die erkenning van gayregte. In die proses is hy al uitmekaargeskeur, onder meer deur die pers en die media, wat geen respek vir ʼn persoon se privaatheid het nie, soos die dag toe ʼn steelfotograaf ʼn foto van hom en ʼn ander man in ʼn omhelsing op die strand geneem het. Dit is die volgende dag op die voorblad van ʼn poniekoerant geplaas onder die opskrif: "Prominente figuur betrap in liefdesomhelsing met ʼn man”. Die swak publisiteit het egter nie lank geduur of Tristan se reputasie enige skade aangedoen nie, aangesien die aanhangertal by sy toesprake steeds toegeneem het.

 

Op die betrokke middag, onthou Tristan, het hy afgestap strand toe met ʼn bottel rooiwyn om te gaan ontspan met die seesand op sy kaal voete en die geruis van die branders in sy ore.

Hy het ingedagte op die strand gesit en luister na die branders, toe hy die stem van ʼn man langs hom hoor.

“Jy ontspan te min. Jou pa is sowat drie jaar gelede oorlede en hy was ʼn boer. Jy was onlangs by die dokter en het ʼn probleem met jou gehoor.”

“Ekskuus?” is al wat Tristan op daardie stadium kon uitkry. “Eddie,” kom dit uit.

“Tristan.”

“Aangename kennis.”

“Is jy heldersiende, of wat?”

“Ek is eintlik ʼn medium, maar het nog nooit ʼn probleem daarmee gehad om mense te ‘lees’ nie. In daardie opsig kan jy seker na my verwys as heldersiende.”

Eddie was in sy vroeë dertigs met ʼn goedversorgde liggaam en ʼn netjiese voorkoms. Hy het goudbruin hare gehad en onder sy kuif het die mooiste blougroen oë gepryk. Hy was skraal gebou en ongeveer 1,86 meter lank en het so naastenby tussen 81 en 84 kilogram geweeg. Sy glimlag en persoonlikheid het hom nog aantrekliker gemaak.

Tristan was onmiddellik aangetrokke tot Eddie. In die afgelope paar maande was hy so besig met toesprake hou dat hy nie eintlik baie vrye tyd gehad het nie, wat nog te sê die geselskap van ʼn aantreklike man.

Dit het ook nie lank geduur nadat hulle begin gesels het nie, of hulle het in mekaar se arms beland. In die hitte van die oomblik het Tristan onwillekeurig begin om Eddie te soen. In dieselfde asem het hy sy hande oor Eddie se borskas laat gly terwyl hulle hul pad na Eddie se naeltjie gevolg het, reguit af na wat onder Eddie se swembroek versteek was.

“Ek het dit nog nooit voorheen op die strand gedoen nie,” fluister Tristan in Eddie se oor.

“Jy het nog nooit wát voorheen gedoen nie?” wil Eddie weet.

 “Nog nooit voorheen saam met ʼn man op die strand gemasturbeer nie,” antwoord Tristan.

Op die strand lê vloeistof vermeng met korreltjies sand. Die kamera se flitslig blits terwyl hulle mekaar in omhelsing groet.

 

Onder luide applous van die gehoor ervaar Tristan weer hierdie snaakse gevoel dat hy die man in die gehoor, links agter, al jare ken.

Die mediakonferensie volg, soos gewoonlik, na afloop van die toespraak.

Een van die verslaggewers vra ʼn vraag: “U beweer dat die moontlikheid bestaan dat ons al vantevore deel was van gebeure, of ʼn gebeurtenis in ons lewe wat reeds plaasgevind het in die toekoms, waarvan ons nou eers in die teenswoordige bewus raak en dan daarna verwys as die verlede?”

“Korrek,” antwoord Tristan.

“Ek neem aan jy behoort my dan te ken?” kom ʼn vraag van ʼn man uit die geledere van die verslaggewers.

Daar is skielik stilte. Almal se fokus is gerig op die man in hul midde wat die vraag gestel het.

“Ek is nie heeltemal seker of ons mekaar al ooit ontmoet het nie,” reageer Tristan.

“Ek verseker jou, ons het,” sê die man.

Tristan se raadgewers stel voor dat die gesprek elders hervat word. Almal word bedank vir hulle teenwoordigheid en die einde van die mediakonferensie word aangekondig.

Tristan herken skielik die man. Dit is die man wat in die gehoor, links agter, gesit het.

In die eksklusiewe sitkamer van die hotel waar Tristan tuisgaan, sit die man regoor Tristan met ʼn glas whisky in sy hand en vertel hom van gebeure in Tristan se lewe.

“Onthou jy die dag waarop jou ma die foto van jou en ʼn ander seuntjie in die grasvlaktes op die Hoëveld geneem het? Dit was toe julle met vakansie by Chrissiesmeer was. Dit was ʼn koue wintersdag en jy het die nuwe wit trui aangehad wat jou ma vir jou gebrei het. Om die een of ander rede het jy en jou nuutgevonde maatjie hand-aan-hand die grasvlaktes ingevaar. Jou ma het die foto geneem toe sy op julle afgekom het waar jy jou maatjie teen jou vasdruk en op die wang soen. Jy was toe ses jaar oud.”

Tristan onthou dit goed. Hy onthou hoe hy daarna gehunker het om hierdie seuntjie teen hom vas te druk en te soen.

“En wat van die aand in die skoolkoshuis?” gaan die man voort. “Jou eerste seksuele ervaring met ʼn man. Dit was kort voor die aanvang van die matriekeindeksamen. Jy het die week vantevore agtien geword en was na ligte-uit in die studiesaal besig om die finale afrondings aan jou Latyn-opsommings te maak, toe die skool se top blondekop atleet, Elardus, die vertrek binnegestap het. Jy het geen geheim daarvan gemaak dat jy gay is toe hy hom met sy kaal bolyf langs jou studietafel tuisgemaak het en sy hande voor by sy slaapbroek ingedruk het nie. Hy het sy slaapbroek so effe laat sak en jou blootgestel aan die prag wat onder daardie blonde boskasie van hom geskuil het. Julle het in die seunsbadkamer geëindig waar jy en Elardus seks gehad het. Die ekstase wat jy daardie aand beleef het toe jy jou witwarm vloeistof oor hom geskiet het, het die weg gebaan tot jou oortuiging daarin dat seks tussen twee mans moontlik is.”

Tristan se gesigsuitdrukking verklap alles. Al die jare se ervaring met die hou van toesprake het hom hoegenaamd nie voorberei op wat besig was om te gebeur nie.

“Waarom lyk jy so verbaas?” wil die man weet.

“Gits, ek ken nie eers jou naam nie,” sê Tristan bekommerd.

“My naam is nie belangrik nie. Dit is gebeure wat belangrik is,” antwoord die man.

“Ek verstaan glad nie,” mompel Tristan.

“Ek is altyd daar, betrokke by elke gebeurtenis in jou lewe,” begin die man verduidelik.

“Maar jy is heelwat ouer as ek,” val Tristan hom in die rede.

“Ek is net so oud soos wat jy my graag wil laat wees. Ek is Tyd. Ek geniet al ons ontmoetings. Elke keer as ons saam is, is dit vir my aangenaam. Ek sien uit na die volgende ontmoeting wanneer jy vir my wink om nader te staan.”

“So, jy is …”

“Presies.”

Dit is Tristan se beurt om die verhoog te betree. Snaaks, dit voel asof hy al voorheen hier was.