Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

False Bay Chenin Blanc skitter by internasionale Sommelier Wyntoekennings


2009-05-11

Die False Bay Chenin Blanc, wat sy oorsprong in ’n nederige bosstok-wingerd in die Swartland vind, het internasionale roem gewerf as die algehele wenner in sy kategorie by die 2009 Sommelier Wyntoekennings – Brittanje se enigste wynkompetisie wat hom alleenlik toespits op die restaurantbedryf en breër binneverbruik-mark.

Die 2008 oesjaar, versadig met elegante geure, het geskitter in die Huis Witwyn (onder £5) kategorie met ‘Goue Lys’ status en ’n ‘Per Glas (By the Glass)’ toekenning – die enigste Suid-Afrikaanse wyn wat vanjaar spog met hierdie gesogte titel.

Die False Bay Chenin Blanc 2008 maak ook naam in Kanada waar dit onlangs gekies is as die Beste Witdruif (in die ‘ander witdruif’ kategorie), vanuit 12 verskillende lande, om aan die 2009 Port of Wine Festival in October vanjaar deel te neem.

Die Sommelier Wyntoekennings, tans in sy derde jaar, word beskou as ’n invloedryke wynkompetisie wat heelhartig die belange van die binneverbruik-mark dra, en vereer jaarliks ’n uiteenlopende versameling wyne wat in die Vereenigde Koninkryk, slegs by restaurante, hotelle en kroeë beskikbaar is.

Die 2009 kompetisie het 1000 internasionale inskrywings verwelkom waaruit ’n kortlys van 30 wyne saamgestel is, wat toe weer geproe is om uiteindelik die Goue Lys van 100 wyne te bepaal. Daarna is al die goue medaljewenners saam met kos geproe waarna slegs 11 wyne gekies is as ’n ‘Per Glas’ wenner.

Die beoordelaarspaneel het bestaan uit prominente sommeliers en binneverbruik-mark kopers wat elke wyn vir sy kos-vriendelikheid, veelsydigheid, karakter en waarde vir geld beoordeel het.

Die False Bay Chenin Blanc – ’n wyn wat straal van individualisme teen ’n sakpasprys – is gemaak deur wynmaker Werner Engelbrecht, die skepper van ’n klassieke reeks wyne wat volgens tydsame, tradisionele wynmaaktegnieke tot hul eie reg kom by die nuwe Waterkloof Kelder in die Helderberg wynlandstreek.

Die landgoed produseer vier Europese-styl wynversamelings: die vlagskip Waterkloof reeks; die ietwat meer uitdrukkingsvolle Circumstance reeks, die Peacock Ridge reeks vernoem na die trop wilde poue op die plaas en die False Bay reeks vir alledaagse wyngenot.

Terwyl Werner ’n jong wingerdkundige gehelp het met die klassifikasie van wingerde vir ’n koöperasiekelder, het hy tot sy geluk afgekom op ’n ietwat afgematte en verlate bosstok-wingerd aan die voet van die Paardeberg – geleë tussen die Paarl en Malmesbury.

“Die voorkoms van die wingerd is beslis nie iets waaroor jy sal huistoe skryf nie. Tog wat hierdie lappie grond so spesiaal maak is die feit dat ’n grasieuse karakter, verfynd in struktuur met mineraalagtige finesse, afkomstig van die granietsamestelling van die gebergtes, teenwoordig is, in plaas van uiters-ryp en ‘voorbarige’ druiwe,” verduidelik Werner.

In sy poging om ’n eiesoortige Chenin Blanc te skep, het Werner berus by ’n natuurlike gistingsproses wat 12 weke geduur het. Die wyn het ook ’n verdere twee maande op die sekondere afsaksels deurgebring voordat dit gebottel is.

“Die False Bay Chenin Blanc 2008 is ’n sublieme simfonie van ’n vars en vrugtige asook ’n meer ernstige en ryker styl Chenin blanc,” vertel Werner.

Die wyn gloei met ’n strooi-geel gelaat met aromas van appelkoos, rosyntjie en Fynbos te bespeur op die neus. Die palet word begroet met ’n volronde soen van peer en heuning wat talm tot ’n elegante, skoon nasmaak. Dit is ’n veelsydige wyn wat veral vorentoe smaak saam met kreef, seekos, risotto en geroosterde hoender.

Op eie bodem is die False Bay Chenin Blanc 2008 – ’n goue medaljewenner by die 2008 Veritas Toekennings – beskikbaar vanaf R47 per bottel, by die Waterkloof kelder, uitgesoekte wynhandelaars en glans restaurante.

Vir meer inligting en bestellings skakel Waterkloof by Tel: 083 2316936 of besoek www.waterkloofwines.co.za