Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Optredes | Gigs

Volume Rockfest: 15 Mei


2009-05-06

Volume Rock Fest is gebore uit 'n liefde vir musiek. Meer spesifiek: Suid-Afrikaanse musiek. Dis egter 'n snobiestiese liefde, want Volume raak nie hard vir backtracks en meisies in min klere en vals gilstemme nie. By Volume is daar net plek vir hard on rock & roll.

Hierdie is in der waarheid 'n breër definisie as wat 'n mens sou dink. Rock & roll handel in wese oor meer as net kitare en skinny jeans, soos wat vanjaar se Volume Rock Fest bewys. Dit bevat ook die perfekte harmonisering en lieflike elektroniese gebiep-biep van Die Heuwels Fantasties. Dit het 'n geurtjie van liefde en Jah in die vorm van Tidal Waves. Dis egter nie al waarop 'n mens kan lekker-lekker dans nie, want Zinkplaat verg 'n bietjie kaalvoetskoffel en arm-om-die-lyf wieg. Dan kan jy jou lyf sestiger-hippie hou en smagtend swaai saam met Pretty Blue Guns. Of jy kan natuurlik van al jou opgekropte angst ontslae raak en jou nek uit lid uit mosh saam met Van Coke Kartel. Vir puriste is daar New Holland - die reïnkarnasie van rock & roll soos ons ouers dit geken het.

Volume se liefde is egter nie diskriminerend ten opsigte van ouderdom nie. Oupas en oumas, asook hul kleinkinders is meer as welkom - maar laasgenoemde sal moet hoog word op gees, want geen drank word verkoop aan minderjariges nie.

Al hierdie klanke het dit duidelik eens - rock & roll het 'n plek vir elkeen wat gees en liefde het en Volume Rockfest is hul tuiste.

Nicol van den Berg, van De Plate Kompanjie, organiseerder van die fest werk vir die tweede jaar in 'n ry sy vingers nerfaf om vir Potchefstromers 'n smakie van die room in die plaaslike industrie te bring. Dit gaan gepaard met innoverende bemarkingstrategieë, lippe-aflek posters en spotgoedkoop kaartjiepryse. Dit word moontlik gemaak met die vriendelike hulp van MK, Beyerskloof, Kampus Beeld, PUKfm, Red Bull en DPK. Seerowers en hul papegaaie is welkom. (Los net jul muskets en swaarde by die huis asseblief ouens.)

Soos verlede jaar word die makietie by die Trimpark-gronde gehou op 15 Mei. Die spasie gaan egter beter benut word, met vure om almal warm te hou en ligte oraloor sodat mense veilig kan kuier.

Drank word by die venue verkoop, maar rock & rollers is meer as welkom om komberse, en hubbly's saam te bring. Die pretpark se hekke maak 17:00 oop en die poppe gaan teen 18:00 begin dans. Kaartjies kos R35 en is beskikbaar by Nicol of die hek.

Vir navrae kontak asb. vir Nicol van den Berg by 084 683 4413 of by nicol@dpk.co.za.

Foto's: Annie Klopper