Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

'n Verkleurmannetjie, 'n apie en Lianie May: Kyk hoe lyk ons nou


Leon-Ben Lamprecht - 2009-05-06

Ek onthou dit soos gister. Wel, seker nie hééltemal soos gister nie, maar steeds. Dit was 2005. Ek was besig met 'n internskap by die nou ontslape Insig toe iemand vir my Chris Chameleon se album van Ingrid Jonker-gedigte Ek herhaal jou speel.

Dit het my totaal onkant betrap en ek het letterlik maande lank daarna geluister. Ek luister steeds daarna, om die waarheid te sê. Dit was vir my net nog 'n faset aan 'n merkwaardige man, wie se vroeëre inkarnasie as fopdosser in Boo! musiek opgelewer het wat nogals 'n tree vorentoe vir oorspronklikheid was.

Met sy Engelse album Shine in 2006 was ek weer beïndruk. Weer eens is die CD vir 'n verlengde tydperk in my kar geluister. 7de Hemel, wat in dieselfde jaar vrygestel is, het my ook beïndruk, hoewel die liedjies vir my baie dieselfde geklink het. En hoewel ek aanvanklik baie van Ek vir jou gehou het, het dit vinnig vir my oud geword.

So toe land sy jongste, Kyk hoe lyk ons nou, op my lessenaar. My denkstroom was bietjie hier en daar: Dalk is dít die album waar hy gaan terugkom na die heel boonste? Is dit enigsins regverdig om als wat hy uitreik met Ek herhaal jou te vergelyk? OjirrehysingsaammetLianieMay! Maar dis darem 'n pragtige CD-omslag. En Theo Crous het vervaardig. Dan nou maar die oomblik van waarheid: Hoe klink die musiek?

Wel ...

Dit herinner sterk aan sy vorige Afrikaanse werke. Chameleon se soepel stem, soms sy vokale gimnastiek (vernaam op "Apie" en die vreemde - op 'n goeie manier - spooksnit) en voortbou op sy vorige musikale styl: jy gaan nou nie Willim Welsyn-kitaarsolo's hoor nie.

Dit skop af met die effens soetsappige "Taal van die liefde": "en as ek droom/ dan droom ek in my taal/ en as ek saans voor ek gaan slaap met my god praat/ dan praat ek in my taal/ hy verstaan". Dit kan seker ten beste beskryf word as Chameleon se versugting dat die mens skynbaar die taal van die liefde aan bande lê "oor die skande van haar sprekers". Dis ook redelik radiovriendelik.

Van hier gaan maak ons 'n draai by die vreemde "Apie". Chameleon se vokale spronge, wat die gegiggel van, wel, 'n apie, insluit, is egter te veel vir my. Dit klink of die sanger 'n stelling wil maak oor die mens se donker kant in dié vrolike liedjie, maar helaas, die apie se giggel werk nie vir my nie.

Snit vyf, "Ek kan nie wag nie", is in paarrymstyl geskryf: "my vriende sê ek hoort te weet/ jy't lank gelede reeds van my vergeet/ kastele bou ek in die lug/ as ek dink jy kom ooit weer terug". Tog hou ek, vreemd genoeg, daarvan. Die melodie is nogals catchy.

Nouja, kort voor lank is ons by die lied saam met Lianie May: "Grootste geskenk". Ek hou nie van haar stem nie. Of haar musiek nie. Daar. Ek het dit gesê. Dis 'n vreemde crossover, en dit klink meer in May se styl as Chameleon s'n. Kyk, dis nie my smaak nie, maar dis ook nou nie soos om vir 'n uur lank na Julius Malema te luister nie. Maar dan het ek reeds vroeër op die album besef dis moontlik nie op my gemik nie.

En kort voor lank is die album verby.

Die oorwegende opinie? Na my mening nie Chameleon se beste werk nie. Nie naastenby nie. Daar sal mense wees wat baie hiervan hou, maar mens kan sekerlik ook nie elke keer die 100 meter in onder 10 sekondes hardloop nie. Nietemin hoop ek dat hy dit met die volgende een wel sal doen.