Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Die tale van die Queen en die Groot K ...


Eagan A - 2006-11-29


“Ek is bang,” sê ek.

 
“Waarvoor?” vra my erg flambojante, grootste vertroueling-pel (of eerder “suster”). “Of is dit nou weer een van daai Paula-7de Laan-dramatiese-aanvalle van jou?”
 
Dié gesprek gebeur onlangs in my halwe huis in ‘n voorstad van Pretoria, etlike ure voor ek by die Pretoriase Urologie-hospitaal opgeneem moet word vir ‘n “onder-narkose-ondersoek”, wat dit ook al mag beteken.
 
“Bang vir die groot K,” antwoord ek. “Ek het gehoor dit bekruip ‘n mens vinniger as daai diewe wat snags die Boere-Toskaanse villas in Pretoria-Oos so terroriseer.”
 
“Man, nou is jy sommer verspot. Jy’s nou eers 25 jaar oud; vir wat sal jy nou aan Kanker staan en dink?”
 
“Nou hoekom moet daar dan ‘n … daai opsierige ding gedoen word, hmm? En kyk bietjie vir die fietsry-kampioen Lance Armstrong. Hy was jonk en toe waai een van sy crown jewels,” sê ek beterweterig.
 
“Jy bedoel seker ‘n biopsie, en ek is seker dit is net ‘n roetine check-up. Hou nou op stres en gaan hou jouself lady of leisure tussen die ou ballies … Jy het die rus nodig!”
 
Daai stres waaroor Mater my so vinnig oor die vingers getik het, het reeds die vorige middag tydens ‘n erg persoonlike ondersoek in my gemoed gaan lê. En glo my, hy lê swaarder as die buitelandse vervoerskepe wanneer hulle in Durban se hawe kaai. Daardie een ondersoek waaroor enige gesoute en selferkende kugel queen nie ‘n woord by die girls sal rep nie, uit vrees dat dit eendag op jou grafsteen aangebring word. (Stel jou voor: "Hier Rus Sy, al gevinger sonder plesier!") Veral nie as jou uiters bekwame en betroubare uroloog so oud soos jou geliefde oupsie lyk nie.
 
***
 
My fantastiese gay huisdokter het die vorige week reeds so ‘n “o-fok!”-trek op sy gesig gekry toe mêrrim met ‘n snaakse knop of twee en ‘n pynlike swelsel by hom opdaag.
 
“Dra jy stywe broekies?” vra hy eers.
 
“Natuurlik, dok, dis my signature look en dié van elke fab fag wat sy sout werd is!” gil ek. Maar net daar plant hy die eerste saadjie van kommer …
 
“Ek stuur jou dadelik na ‘n uroloog; hy’s van die beste in die land. Die besigheid tussen jou bene lyk vir my maar snaakserig,” vertel hy, sigbaar bekommerd. “Dra jy dalk ‘n cockring? Of het jy onlangs aan ‘n orgie deelgeneem waar jy aan die knaters van ‘n balk gehang het?” vra hy so ewe. Bid jou aan!
 
Verontwaardig is ek gereed om hand op die Bybel te slaan. Ek is darem immers ‘n "vrou" van inbors en het maande laas enige van dié aard gehad. (Hy hoef nie te weet van die vorige Donderdag se eskapades by daai einste flambojante mater se huis nie.)
 
***
 
Tydens die erg persoonlike en indringende ondersoek by dokter-oupsie-uroloog peper hy my met allerhande vrae.
 
“Hoeveel sigarette rook jy ‘n dag?”
 
“Net vyf, dokter.” (Dis nie my skuld dat my werk so stresvol is en ek gewoonlik twintig in ‘n dag en ‘n half verslind nie.)
 
“En marijuana?” vra hy met ‘n reguit blik. “Soms gebeur dit dat dwelms lei tot ‘n verlengde ereksie wat kan bydra tot so ‘n probleem.”
 
“Nee dokter, ek het laas met die grassies geëksperimenteer as uitruilstudent in Holland. Die smaak het my nie aangestaan nie,” lieg ek weer eens, sonder om te blik of bloos.
 
“Gaan lê op die bed, trek af jou broek en wag. Ek is nou terug,” sê hy en skarrel by die kamer uit, so asof hy my privaatheid wil gee vir ‘n uiters onprivate ondersoek. Met die gedagte dat ek nou gaan doen wat die meeste van my girlfriends nie sonder die ligte af sal doen nie, raak die ondersoekkamer skielik baie benoud en intiem klein. Ek lê soos ‘n varsgeslagte hoender, gereed om met kruie gestop te word.
 
Met sy terugkoms verloop die ondersoek verbasend glad. Ek het nie eers een oomblik gebloos toe daai koue KY-jellievinger inglip om ‘n moffie se grootste bate te ondersoek nie.
 
“Kom ons loer gou met die sonar na jou binnekant,” sê hy later, en die lag borrel onverwags oor my droë lippe. Dit laat my dadelik dink aan die ander glitter suster (die kwaai een met die skerp tong) wat gereken het die dokters moet eerder toets vir daai nege-maande-virus wat regte vroue gewoonlik tref.
 
“Drink jy?” vra die dokter onverwags. Hier weet ek die waarheid moet uit, want hoe kompeteer jou liegstorie met wat tegnologie reg voor jou te sê het?
 
“Ja dok, amper elke aand by ‘n partytjie … maar dis alles vir die tipe werk wat ek doen en ek drink maksimum drie glasies wyn of ( … en) vier biere.”
 
“Nee, want jou lewer en niere lyk pragtig (bid jou aan … PRAGTIG!) en mooi skoon. Niks daar om oor bekommerd te wees nie.”
 
My ore kan dit nie glo nie. Ek wat gewoonlik verantwoordelik is dat die laaste koue Castle sneuwel.
 
Dis toe dat hy met sy gebiopsie en pielogram (ek sweer, dis wat hulle dit noem) vorendag kom. En mêrrim skrik haarself totaal in ‘n ander bloedgroep in!
 
***
 
Mater help met die hospitaal toe vat die middag twaalfuur, en swets nog steeds oor ek durf praat van "die groot K". Want wat weet ‘n oningeligte queen soos ek oor so ‘n ernstige onderwerp? Ek wat my tyd verwyl met die doen en late van oorsese bekendes en oor hoeveel keer Whitney “Crack is Whack” Houston se dwelmrehabilitasies misluk het.
 
Die hospitaal se salmpienkmure buite lyk vreemd anders. Tog het ek vir bykans twee jaar lank elke dag daar verbygestap wanneer die minibus-taxi my in Kerkstraat aflaai.
 
My keel trek skielik toe met die intrapslag en ek vee ongemerk my nat hande aan my broek af. Hoewel Mater spot dat dit eintlik ‘n vyfsterhotel is, hardloop verskeie groot K’s deur my kop. As dit is, wat sal dit wees?
 
Prostaat?
 
Testikulêr?
 
Die hospitaal lyk vars, sonder die kenmerkende steriele reuk wat normaalweg maak dat jou neusholtes skreeu vir genade. My hart sak tot in my skoene, want selfs spuitnaalde is een te veel vir iemand wat vreesloos lê dat ‘n onbekende somatoloog jou wenkbroue genadeloos uitpluk.
 
Maar die vriendelike verwelkoming van Beauty* en Palesa*, twee jong saalsusters, is verblydend en vinnig neem die “prinsesse” van Pretoria Saal C oor. Daar word gespot oor die onvleiende nagjurkies wat aangetrek moet word. “Vriendin, ons moet jou designer satin gown by die huis gaan haal. G’n vrou van jou kaliber moet ooit in die openbaar so gesien word nie,” gil my flambojante mater. Selfs die hospitaal se verbeeldinglose armbandjies kom onder skoot, tot groot vermaak van die ander pasiënte. “Daar is nie eens bietjie diamanté om dit op te kikker nie. Aarde!”
 
Die narkotiseur kom maak kennis en gesels oor ditjies en datjies, en ek weet ons beweeg nader aan die onvermydelike waarheid – wat dit ook al mag wees. Met elke sekonde wat verbytik dink ek aan die aande van vergrype en dekadente oorgawes. Nie dat ek verskoning maak daarvoor nie. Dit was immers van die lekkerste aande in die geskiedenis van dié lady!
 
Hy vertel van sy seun met joernalistieke aspirasies en ek luister met 'n halwe oor, want hoe ontspan iemand wat binnekort deur 'n lot mense betas gaan word (en dit sonder dat hy daarvan bewus is)? Net om daarna te hoor: Sorry, ons sal 'n stukkie van jou menswees moet wegsny en hoop vir die beste!
 
Die erg onvleiende nagjurkie kruip tussen my kaal boude op. Hier kom pêre, dink ek effe benoud.
 
Mater lag heerlik en maak grappies asof dit uit die mode gaan, maar ek sien (of het ek dalk gehoop?) dat selfs hy nie die storie oor hoe narkose toegedien word, so lekker kan hanteer nie. Snaaks hoe sekere woorde in mens se kop kan vassteek.
 
PIELOGRAM, maal dit deur my kop. Pielogram.
 
***
 
Ek kom by, na wat soos dertig sekondes gevoel het, maar Mater beloof ek was vir amper veertig minute vuisvoos by die slagpale. Erg bedonnerd, maar sigbaar moedig!
 
So moes een van die teatersusters glo net koes, of ek tref haar met 'n kugel-vuis vol in die gesig toe sy my wakker maak. Die ander susters beloof (natuurlik toe ek vreeslik om verskoning pleit) dat dit nie so erg was nie. “Ander pasiënte kry dit actually reg om die susters raak te slaat. Dis maar deel van die job. Ons weet nooit hoe pasiënte reageer wanneer hulle bykom nie; sommige gaan aan met hul laaste sinne voor narkose, ander - soos jy - raak aggressief!”
 
Mater het intussen vir Moeder (my liefste mammie aan die ander kant van Suid-Afrika) deurgaans op hoogte gehou van die verwikkelinge. Dié twee het ook sommer die geleentheid gebruik om my goed te bespreek, en natuurlik het Mater nuwe skietgoed vir ons volgende dronkpartytjie.
 
Ek proe soos kots en ruik soos 'n gesteriliseerde spuitnaald. Natuurlik is my eerste reaksie: Is alles nog waar dit moet wees? En ek voel versigtig onder die lelike nagjurkie of Lord Charles darem nog daar is.
 
Mater gesels asof die hospitaal aan hom behoort. Hy het intussen die verpleegpersoneel om sy pinkie gedraai. Ek wonder steeds wat hulle met my gedoen het, maar is te bang om enige vrae te vra.
 
Dokter-oupsie kom maak later 'n draai en vertel ek sal moet oorbly vir 'n paar dae. Net daar bestel ek by voorbaat solank klaar 'n drup vol bier by die Dros. “Hoe verwag die man moet ek hier lê, en die drank is 'n klipgooi oorkant die straat?” protesteer ek hewiglik.
 
“Lê!” gil Mater en put duidelik plesier uit die feit dat ek vir een aand sonder 'n yskoue enetjie moet klaarkom.
 
***
 
Drie dae later is ek uit die salmpienk monster en lag my onkapabel oor my eie simpelgeit. Al waaroor die hartseer soos 'n klip in my binneste lê, is daai roomys wat met elke maaltyd (klokslag) bedien word.
 
“Haai, maar kyk net hoe dik het jy geword van al die hospitaalkos!” bulder Mater.
 
“Nee man, dis nie dik nie! Dis swangerskapvetjies,” lag ander Mater (die skerp een).
“En toe moes ek amper my strooihoed met sy groot dahlia stywe om jou funeral by te woon.
 
“Vriendin, verstaan jy nie hoe duur het begrafnis-outfits deesdae geword nie?” vra glitter suster nommer drie.
 
Ek kyk die simpel goed so aan en sê diep in my hart dankie dat “K” se kloue my nie raakgegryp het nie. Want hoe kan enige kugel queen nou sonder daai yskoue enetjie, die gillende susters en nagte van dekadensie klaarkom, en intussen nog moet dink aan chemo?
 
Die simptome was eenvoudig: “Iewers het jy jou lelik misgis met jou eie vermoëns in die kooi en veroorsaak dat die bloed in sekere are nie wou terugvloei brein toe nie. Versigtiger volgende keer,” vermaan oupsie-uroloog. En net daar haal my sondes my in oor ek so skaamteloos gelieg het oor daai dekadente Donderdagaand by Mater se huis.
 
 
*Skuilname, omdat hulle name eintlik te moeilik is vir ‘n queen om uit te spreek of te onthou …