Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Crossdress


Anna-Marie de Vos - 2006-11-29


Ons stap, effe beneuk, saam met ons jong dogter na die gayklub se deur, waar ons almal soos wafferse tieners getjap word. Dit is al half laataand en twee ou vrouens soos ons se gaanlêtyd. Binne maal ‘n bont spul rond. Wat ons hier soek, dit nogal saam met ‘n tiener, weet g’n mens nie. Almal is aangetrek volgens die voorskriftelike tema “Crossdress”. Ons ook opgetooi in aandpak en sarong, weliswaar moeilik om te sê wie die ander van ons twee is.

 
Die vermaak bestaan uit die een minderwaardige improvisasie na die ander. Nie een van die drag queens kan sing, dans, óf act nie.
 
Ek drink een bier na die ander en hou so halwe oog oor die spul. Die rook begin my pla en verveling dreig.
 
Die verhoog word opgestel vir die volgende kunstenaar: ‘n tafeltjie met ‘n glas wiskey en sigaret en eenkant ‘n paspop. Ek sidder om te dink waaraan ons nou weer onderwerp gaan word. Seker een of ander gefrustreerde lesbiese Edith.
 
'n Figuur stap op die verhoog begelei deur vaagweg bekende tjellomusiek. Die rumoerige gehoor raak effe stiller. Dit is 'n jongerige vrou, fyn gebou, aangetrek in ‘n manspak – onderbaadjie, das en hoed kompleet. Sy dra die klere asof sy gewoond is daaraan. Op ‘n tipies manlike manier neem sy ‘n trek aan haar sigaret en neem ‘n teug van die whiskey. Dan val haar oog op die paspop. Sy stap stadig, skynbaar ingedagte, nader. Haar hande begin die pop liggies streel, al met die pop se vroulike kontoere langs. Haar blik op die pop is strak. Sy trek langsamerhand haar eie baadjie uit. Laat val dit op die grond. Terwyl sy die pop strelend liefkoos, trek sy haar onderbaadjie uit. Sy haal haar hoed af. Haar hare is styf teen haar kop vasgebind. Sy maak haar das los en haal dit ook af. Sy streel met haar hande oor haar hemp en trek dié dan ook uit. Haar sierlike bolyf is toegedraai met ‘n lap wat sy amper ongeërg begin losdraai. Nou en dan vat sy weer aan die pop, trek die lyne van die borste met haar vinger, herhaal dit dan met haar eie lyf. 
 
Toe die lap op die grond val, neem sy versigtig, een vir een, die uitgetrekte kledingstukke en klee die paspop. Sy staan met haar rug na die gehoor terwyl sy die pop aantrek. Dan, met 'n lui beweging, haal sy die rekkie uit haar hare en skud dit los. ‘n Bos goudbruin digte krulle val verleidelik oor haar kaal skouers. Dan draai sy met haar hande op haar heupe, ongeërg, tog uitdagend, na die gehoor. Die ligte verdof en sy en die paspop, met tjellomusiek en al, verdwyn.
 
Mense klap tentatief hande in die gedempte atmosfeer. Ek kyk rond en sien liefie en dogter by vriende in gesprek. Dis nie lank nie of die vrolikheid van vroeër ruis weer om ons. Die tafeltjies word weggeskuif en almal word belowe dat die DJ nou gaan begin om ons te vergas. Heupe swaai al klaar in afwagting van die dans. Ek vat my bier en stap na buite – die lyne van haar rug nog duidelik voor my.