Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Nie heeltemal so ‘Lost in Translation' ...


Isabella Hough - 2009-04-30

LitNet het ʼn paar studente aan die Universiteit van Stellenbosch genader vir hul indrukke oor produksies wat tydens Woordfees 2009 aangebied is. Isabella Hough lewer verslag oor Lost in Translation, ʼn gesprek oor vertaling waaraan skrywers en uitgewers op 14 Maart deelgeneem het.

Hoekom vertaal ons Afrikaanse en Engelse skrywers se werk? Is daar ooit ʼn mark vir vertaalde boeke in Suid-Afrika? Daar is by die onlangse Woordfees (2009) na ʼn paar van hierdie kwessies gekyk. Die Engelse Pamela Jooste en die Afrikaanse Ingrid Winterbach, albei bekroonde Suid-Afrikaanse skrywers, het met uitgewers Alida Potgieter en Frederik de Jager oor die kwessie gesels. Die gesprekvoering het Saterdag 14 Maart by die Sasol Kunsmuseum plaasgevind en het ongeveer 60 minute geduur.

Die gesprekvoering het afgeskop met vrae soos hoekom ons Engelse en Afrikaanse skrywers se boeke vertaal, en lees Afrikaanse lesers vertaalde Engelse boeke en Engelse lesers vertaalde Afrikaanse boeke? Op hierdie vraag was daar uiteenlopende opinies. Winterbach was van mening dat daar nie regtig ʼn doel is nie, aangesien haar bekendheid in Engelse kringe nie verbreed nie en daar relatief min verkope is, terwyl ander, soos Jooste, van mening was dat daar ʼn noodsaaklike sirkulasie van nuwe idees in ʼn taal plaasvind indien dit vertaalde tekste ondersteun.

Ook die rol van die skrywer in die vertaalproses is bespreek en dit het duidelik geword dat dit van skrywer tot skrywer afhang. Ingrid Winterbach is aktief betrokke by die vertaling van haar boeke, terwyl Pamela Jooste weer nie belang stel in die proses nie en eerder meer betrokke is by die lesers self: haar vertalings verskaf vir haar heelwat nuwe vriende en lesers met wie sy aktief in kontak bly. Dis selde dat ʼn Engelse teks in Afrikaans vertaal word, soos in die geval van Jooste se boek Dans met ʼn armmansdogter. Volgens die skrywer was dit noodsaaklik vir die boek gewees: die boek het ʼn eg Suid-Afrikaanse konteks en die vertaling na Afrikaans het die essensie van die teks en die karakters na vore gebring.

Wat die betekenis van ʼn vertaling vir die skrywer se profiel beteken, verskil ook van skrywer tot skrywer. Vir Jooste se profiel in Afrikaans het dit geweldig baie beteken, maar volgens Winterbach is daar te min blootstelling in die vorm van resensies en pryse vir haar Engelse werk. Volgens Jooste het sy niks verloor met die vertaling van haar boeke nie en word die teks trouens ryker; haar boeke soek vertaling. Die skrywer van Die boek van toeval en toeverlaat het egter aanvanklik gedink dat haar teks onvertaalbaar is, en het in die vertaalproses verander soos sy wou aan die boek. Met vertaling na Engels toe moet die skrywer baie meer presies wees, volgens Winterbach.

Wat ook in ag geneem moet word, is dat daar ʼn verskil is tussen die Engelse en Afrikaanse mark. Ingevoerde boeke verskyn meestal in Engels en dit is dus makliker om as ʼn Afrikaanse skrywer sigbaar te wees in Suid-Afrika as om sigbaar te wees as ʼn plaaslike Engelse skrywer.

Interessant genoeg kry vertalers deesdae al hoe meer erkenning vir hulle werk en Michiel Heyns, die vertaler van Marlene van Niekerk se boek Agaat, het die prys met haar gedeel. Die verkope van vertalings oor die algemeen loop ook redelik gelyk met die verkope van die oorspronklike teks.

Aangaande die bemarking van vertaalde boeke, dit verskil nie veel van die bemarking van die oorspronklike teks nie en volg presies dieselfde prosedure. ʼn Vertaling is egter nie ʼn nuwe boek nie en verkope van vertalings is nie noodwendig vreeslik goed nie.

Die vraag of daar ruimte is vir die vertaling van oorsese boeke in Afrikaans was ook ʼn kwessie van persoonlike opinie. Volgens Alida Potgieter is vertalings van byvoorbeeld Nederlands na Afrikaans nie bevredigend nie, en as daar tyd en geld spandeer moet word aan die vertaling van tekste, moet dit aan plaaslike tekste gespandeer word.

Die bespreking was regtig insiggewend en vars: daar is openlik kritiek gelewer en baie van die aspekte van die vertalingsproses is aangeraak. Uiteenlopende opinies en interessante persoonlikhede wat nie skroom om te sê hoe hulle voel nie, het die aangeleentheid plesierig en interessant gemaak. Die belangrikheid daarvan om tekste te vertaal is na vore gebring en diegene wat die bespreking bygewoon het, is weer eens verseker dat daar wel individue is met ʼn passie vir Suid-Afrikaanse literatuur en die toeganklikheid daarvan in tale soos Engels en Afrikaans.