Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Fleur die Caps en onsigbare verf


Albert Maritz - 2009-04-23

I dislike arguments of any kind. They are always vulgar and often convincing. – Oscar Wilde

So is die Fleur du Caps iets van die verlede. En die wenners op ’n hoë standaard. In byna elke kategorie is die room van die teatergemeenskap bekroon. Maar ’n egte kunstenaar werk nie vir toekennings nie.

Spelers verf op ’n onsigbare doek. Hy of sy kan nie self hul werk sien nie. Soms is daar swak werk wat vol sale trek. Soms goeie werk wat amperse leë sale net-net oorleef. Soms die ideaal – goeie werk vir vol sale.

In die ideale scenario het jy dan weer mededingers wat nie sukses kan verduur nie. Die swakplekke word geïdentifiseer – al is dit van-die-verhoog-af-swakplekke.  Baie keer is die kritiek geanker in die veiligheid van ’n salaris in ’n onverwante veld. Maar diesulkes maak ook die lewe interessant, en hou hul vingers op die pols van die lewe. Hulle is die gehoor …

Maar die ouens wat die kuns skep, doen dit meestal omdat hul die werk liefhet. Soms speel hul desperate finansiële situasie ook ’n rol in hul ywer. Soms ook in hul frustrasie. En hul werk hul alies af. En hul leer om met goeie geloof aan te hou werk.

Soms is die geloof te min vir Frank Dankert, Manie van Rensburg, Nico Liebenberg, Frantsz Dobrowki, en ander waagmoedige kollegas.

*

Ek keer myself om nie name te noem van mense wat jare al verering vir hul werk kortkom nie. Want die beloning lê in hul trots en hul liefde vir die werk. Die lys van sulke kunstenaars is lank. En terwyl mens nie wil twyfel aan die vermoë van die beoordelaars  en resensente nie, vra mens tog – is dié mense in berekening gebring?

Na my eie opvoerings word die hele Fleur du Cap-paneel genooi, weke vooraf. Onlangs bevestig twee hul kom. Ek het ’n warm gevoel in my hart oor die kundige betragting vir die andersins onsigbare. Heimlik hoop mens een skryf ook ’n resensie.

Dis ’n unieke optrede by die Klein Libertas-teater. Een van ons top-aktrises lewer een van haar veelsydige kragtoere daar. Twee stukke in een ouditorium. Die een voor pouse op die verhoog; sommige stoele van die gehoor in die stel van die stuk wat na pouse speel op die ouditorium se vloer. Verwyder die stoele in pouse. Na pouse is die ouditoriumstoele nou dwars gedraai om na die stuk reg langs die gehoor op die ouditoriumvloer te kyk. Dis ’n goeie aand vir almal.

’n Gehoorlid skryf aan LitNet en Die Burger om uit te druk hoe ongelooflik die aand se belewenis vir haar was.

Danie Botha kapittel die briefskrywer oor sy aan twee publikasies geskryf het.

Die middag van die opvoering laat weet die twee paneellede/resensente hulle kom nie.

*

Hennie van Greunen is loshande een van ons heel beste regisseurs. Dis verblydend dat hy nou met Die Naaimasjien se sukses seker in berekening sal kom vir ’n toekenning.

*

Die toekenning vir beste regie aan SMAG laat baie vrae ontstaan. Hoe word regie beoordeel? Wat is die kriteria? 

Met laasjaar se Kannas wen die SMAG-kostuums-kêrel die prys vir beste garderobe. Sê op die verhoog hoe hy sommer op pad KKNK toe gou by ’n dorp gestop het en ’n paar goedjies bymekaar geskraap het vir die kostuums. Ek sê mos altyd die lewe is nie fair nie. Die ou wat die hardste leer, kry nie noodwendig die beste punte nie.

Die garderobe-pryswenner is glo eintlik in die filmindustrie. Snaaks – daar sal jy nie vir die makers van ’n duur advertensie sê hoe vinnig jy hul goedjies opgetel het nie. Die teenoorgestelde is waar. Die base daar wil juis weet hulle hope geld is wyslik spandeer.

SMAG is pas bekroon vir Beste Regie. Dis sonder twyfel Jaco se werk wat  vir die verhoog die minste werd is. Mens sien soortgelyke produksies wanneer Johan Rademan ’n radiohoorspel by die KKNK voor ’n gehoor laat lees. 

*

’n Taxi ry op my gat en ek dink dis ondeurdag - soos die mense wat by lughawes die voerbande toestaan. Ek wys hom – hang terug! Maar hy steur hom nie. Ek vat-vat aan my remme. Hy steek net daar verby, in aankomende verkeer in. ’n Wonderwerk red ons. Ek sleep links, hy slat brieke aan, die mense aan die ander kant was besig om ook dom op mekaar se gatte te sit en amper-amper verby te steek. Hulle doen iets en talle lewens word gered. As my agtervolger uiteindelik verby my ry, probeer hy my van die pad af druk. Nes in my vorige ervaring met ’n taxi.

Dié keer sit ek hom agterna en dink as hy my skiet, is ek die werk in die Clint-movie kwyt. So ek bel sommer die polisie en sê vir hulle – ons is op pad.

Daar gekom, in my tuisdorp se taxi rank, pis hy in die bedding en stap na sy tjommie toe. Ek bly by hom en bel weer die SAPD, en ek vertel sommer sy tjommie hy het mense probeer vermoor en hy is nie eens haastig nie. En wat as hy haastig was? Vermoor jy mense as jy haastig is? Hulle begin sê: Sorry Meneer.

My opgewonde verduideliking loop uit op ’n RSG-aanhaling van die week: Ons gehoorsaam reëls omdat ons trots het vir ooooonsself. En Sorry! Is nie genoeg nie, sê ek. Hulle moet belowe om nooooit weer so iets aan te vang nie. Sorry Meneer – hulle sal nie weer nie. Toe daag die Melkbos SAPD ook nog op en die konstabel met ’n Xhosa-naam is so nice en praat so mooi met die manne. Ek hou van hoe alles hier afgeloop het, sê hy.

Ek bemoei my met dinge, en is soms jammer; soms nie.

 

The only thing necessary for the triumph of evil is for good men to do nothing. – Edmund Burke