Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Tuisteater


Willem de Vries - 2009-04-23

Die dwerg is al moeg vlamme geblaas. Voor 'n stokstil olifant met 'n wydgesperde bek en lang slagtande van polistireen staan hy en wag vir die volgende sein van die fotograaf. Op die voorgrond in die bedompige tent daal 'n halfnaak sweefstokartieste na die grond.

Twee modelle maak klaar met hul werk. Die een het 'n handdoek om haar skouers. Die ander is toegewen in 'n laken en het 'n bofbalkeps op. Sy staar na 'n monitor en haal deur haar mond asem. Opeenvolgende beelde van haar beligte liggaam flits op die skerm.

Dan praat hulle die een na die ander. Die een wat in die sirkustent afgeneem is, besing die lof van die fotograaf; die een met die keps se oë wil-wil omdop wanneer sy dit het oor wat sy alles in haar beroep kan uitleef. Die derde verklaar ook haar liefde vir die sorgvrye lewe, verwys na die herehuis waar hulle al drie woon en hoe lekker dit vir haar was om haar twee vriendinne se insette te kon kry op die naakskote. Dan is al drie in bikini's en het sonbrille op. Hulle swaai hoog en skree gelyk en uitbundig.

Ek skakel dit af en gaan staan voor die groot skuifraamdeur van die sitkamer en kyk uit op die huise waar van die rame reeds swart is. Dit voel of die kamer aan die binnekant van 'n televisie is en dat ek per ongeluk op 'n stel beland het, tussen tonele. Dalk is ek al die hoeveelste dag al op die stel, maar kom dit nou eers agter. Dit raak al hoe moeiliker om te sê wat kwalifiseer vir kykers, of eerder wat nié.

Ek syg neer op die leerbank. Dalk is iets hier afgehandel in die tyd toe ons weg was. Dalk was dit nie vir Lucy vandag nodig om te gekom het nie. Ek sien haar nooit nie. Haar lys take is altyd afgehandel en sy is vort teen die tyd wat ek tuis kom.

Ek en Anja is pas terug van sakereise. Sy was vir twee weke by 'n konferensie in São Paulo en ek het ook vanaand teruggekeer. Ellelange vergaderings in Bloemfontein het my moeg gemaak. Anja slaap seker al ure lank, want die lig was al af toe ek ná halftien die voordeur toetrek.

Van die dinge wat ons een aand oor die televisie bestel het, is nog waar dit gewoonlik staan, maar dis baie netjies geberg. Hoekom sou Lucy die opblaasmatras ónder die linne bêre? Sy het nog nooit die FloorwizzPro se borsel so skoon gewas nie en dis die eerste keer teruggesit op die plek waar ek haar al male sonder tal versoek het om dit te sit. Die lang glase staan ewe ver van mekaar in die kas bo die wasbak.

Wat het hier gebeur in die paar dae wat ons tyd weg oorvleuel het? skiet die vraag my te binne. Eers ná 'n glas wyn versny met televisie begin die vloer, tafelblaaie en afdrukke minder klinies daar uitsien. Ek hou die nodige ligte aan. In die kunsmatige skemer voel ek meer tuis.

Dalk is 'n skoonmaakspan hier deur. Dit sou die stempel van 'n guerrilla-televisiespan wees. Al tekens wat hulle agterlaat, is 'n afwesigheid - te skoon oppervlakke en 'n sjirurgiese netheid aan die huis wat net die huismense as verdag kan opval.

Die pakkamer en die studeerkamer was seker gastekamers. Die span het seker hul eie toerusting gebring. Wanneer is die gloeilampe vervang?

Wie almal het hier geslaap?

Kamerligte wat stil beier wanneer paartjies dit raakstamp op pad na die uitvoubank en die bed. Bewegende lig dirigeer die skaduwees. Houtvloere kraak soos op 'n skip. Stoeiende skaduwees teen ongewone hoeke teen die mure en vloer. Dan nog net potloodstrepe. Als kaal en stil. Dan doof dit ook weg. Ná handelsflitse breek die volgende dag aan.

Die stemmingskote verloop vlot en die opstel van die storie begin soos dit beplan is. Ek is terug, maar veel vroeër as verwag. Ek word summier vir die draaiboekskrywer aangesien. Ek wil kapsie maak en verontwaardiging veins oor die toestroming en volop aktiwiteite in die huis. Dan sien ek 'n baie bekende aktrise. Sy raak met my aan die gesels. Sy "is mal is oor my goeters". En dat ek "met twee episodes die reeks gereinig het van clichés" en dat, ag, dit net so lekker is om my te kan ontmoet. Ek vertel 'n flou grappie. Sy verstar en begin dan geluidloos skree tot 'n hees snorklag ontsnap en deur die huis trek. "Sna-ha-haaks. Jy moet my alles vertel. Tot in die fynste besonderhede. Waar is die regisseur? Hy sou ons ordentlik aan mekaar voorgestel het al, jy weet. Ek moet net gou my gesig gaan afhaal, dan kan ek ontspan."

Iemand roep en die filmspan verdaag na 'n eetplek daar naby. Ek en die aktrise hou aan met gesels buite op die grasperk. Later gaan sit ons op 'n tuinbankie. Die aand bring 'n koel luggie oor.

Al pratende versit ek my nader aan haar. Ek voel lam soos iemand met 'n nypende verhoogvrees. Die nag maak my wys ons is weer op 'n stel, maar nou voor 'n ateljeegehoor. Die kameras is aan. Ek lê-sit en gesels met haar, skielik uitermate bewus van alles wat ek sê. Sit daar aan daardie donker trans 'n skitterende gehoor? Ja, kyk: die takke van bome leun oor ons soos klanktoerusting. Die vensters is stil lense. Die ateljeegehoor bestaan uit vroue met skitterende snoere om en hul tabberds flonker. Iemand gee seker iets aan, want 'n mansjetknoop blink skielik in die verte. Van hier, ver weg, lyk dit kompleet soos sterre bo ons.

Ek vind die nodige gesag vir my vertolking van êrens en sê: "By gebrek aan spelleiding voel ek 'n mens ontwikkel 'n soort intuïsie vir waar jy pas in dié groot verhale. En dan, soos vanaand, is mens bewus van daardie veraf skare."

Sy kry haar reëls van 'n souffleur en sê: "Ek wil nie meer praat nie, my woorde is aan die verskiet." Van een sin op die volgende het die tuin 'n voorgestelde plek geword.

Plotseling raak ek daarvan oortuig sy lees heeltyd gans ander bedoelings in my reëls. Dat sy besig is om 'n dubbele rol te vertolk. Hoewel dié bewuswording my op 'n nuwe rol nog voorberei, kan ek reeds die vertolking nie keer nie. Toespelings volg tot aan die rand van 'n versinde erkentenis - dat ek die televisiereeks vir haar geskryf het.

Ek het al sagter begin praat toe ek hoor sy haal diep en rustig asem. Die nag maak die lagie sekerheid oor my vertolking koud en ek raak ongemaklik. Ek is vaagweg daarvan bewus dat my hoeveelste glas wyn op die tafel nog onaangeraak is. Ek sug nadat dit vir my voel of die teks geëindig het. Die wind waai nou effens. In die groot bome ruis groot, klapperende blare. Ek knik, knik en buig weer my hoof. Ek raak aan die slaap.

Vroegoggend vra Anja: "Het jy ook so koud geslaap? Vandat jy kom lê het, trek so 'n koel wind deur die kamer. Ek was te moeg om die vensters na te gaan. Tot hoe laat was jy besig?"

Iets van die vorige aand se euforie talm nog. "Wanneer het jy aan die slaap geraak?" vra ek opgewek en draai na haar. Haar groot groen oë is oop soos iemand wat al 'n hele tyd lank wakker is. Sy sê: "Net nadat jy sagter begin praat het, Lief."

Haar pupille is die donker punte van 'n onvoltooide beletselteken. Ek staan op en gaan maak die kamerdeur toe. Sy vra verbaas hoekom ek dit doen. Ek grinnik en sê: "Ek verskraal 'n kameraspan se kanse." Hier, met die dak en mure tussen ons en die ateljee, raak ons aan die soen, want ons het mekaar gemis.