Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Pret is om ons


Fanus Rautenbach - 2006-11-28


Vandag is ek vir my halfjaarlikse gesondheidsondersoek na ‘n baie bekende hospitaal toe. Ek is na tien minute se ondersoek teen ‘n koste van R278,54 liggaamsgesond en by my volle positiewe verklaar.

 
Ek het huppel-huppel uitgestap, en toe die vriendelike dametjie my oplaai om my terug te neem na my OUEHOF toe (is ouehof nie ‘n baie mooier en jonger woord as ouetehuis nie?), lag sy met wit tande en wys na ‘n DDM (DUUR DUITSE MOTOR) met die nommerplaat GYNAE 1 WP. In die Kaap in mag ‘n mens vir jou motor ‘n naam koop. Maar dit mag nie meer as vyf letters hê nie, en dan moet WP daarby staan. Ek het dadelik gedink dat FANUS WP mooi sal pas, maar in die eerste plek wil hulle dit nie op my fiets aanbring nie en in die tweede en belangrikste plek is dit ‘n aaklige verklikker. As jou voertuig met jou naam voor ‘n geskeide wewenaarsvrou (soos Sam van der Westhuysen altyd gesê het) geparkeer staan, dan is jou doppie geklink. (Volgens WAT: “om iemand se doppie te klink”: “as jou doppie klink, het jy klaar geskiet, is dit verby met jou. Klaargelag".
 
Maar terug na die GYNAE, afkorting van gynaecologist, of dan op Afrikaans ginekoloog, en as die ginekoloog van daardie hospitaal reken hy (of sy) is nommer een, dan mag hy (sy) maar. Maar die Afrikaans vir die vrouearts is koekeloer … sodat op die nommerplaat sou staan: KOEKI 1 WP.
 
Kom ons maak nog ‘n paar: 
Uroloog: W-PIEPIE
Ernie Els: SPYKER (na aanleding van ELS )
Jake White: (WIT)FLOORS 
Ek was die naweek in die Paarl. Jan van Wyk, die argitek en ontwerper van die Taalmonument, staan bekend as Jan Paal. Nou het ek nie na sy nommerplaat gekyk nie, maar ek is seker dis J PAAL WP.
 
*
 
Die hele naweek is gebruik om eer aan die trekdier te bring.
 
Saterdagaand nooi twee Taalbulle my om in Franschhoek te gaan eet. Oral verwelkom flikkerende kerse ons op die baie restaurante se stoepe.
 
Ons besluit om by Taki, die Griek, se restaurant te gaan eet. Die stoep is vol en ons skuur by ‘n groot grootman verby. “Verskoon tog, Meneer,” sê die hooftaalbul, en sê-vra dan: "U is seker ‘n polisieman?”
 
“Nee," antwoord die Boerseun. "Ek het net vandag my hare laat skeer!”
 
Ons lag ‘n versie en die polisieman wat nie ‘n polisieman is nie, maar ‘n skilder, stel ons aan Taki die Griek voor.
 
“Jy beter met hulle Afrikaans praat,” versoek die groot Boerseun wat nie ’n polisieman is nie.
 
Taki wend hom eerste tot my en vra in die mooiste Afrikaans: "Waar is jy gebore?”
 
“Lichtenburg!” antwoord ek trots.
 
“Uitstekende AWB-wêreld!” lag Taki. “Ek het 57 jaar gelede in Standerton begin. Daarna al wat plattelandse dorp is besoek totdat ek my uiteindelik hier kom vestig het.”
 
"U moet in die Pêrel kom woon !” nooi die Ondertaalbul.
 
“O, nee, dis vir my te snobisties daar!”
 
Die twee Taalbulle bestel rooiwyn vir hulle en veselperskesap vir my.
 
“En bring sommer iets om aan te peusel,” bestel die een.
 
“Ja, asseblief, bring vir ons ‘n bord tjips!” sê die Hooftaalbul.
 
Taki steek vas … glimlag mooi: "Jy bedoel seker skyfies!”
 
Berge val op my en hemele bedek my.
 
Daarna gesels ons oor die verskillende name wat op die nommerplate pryk. Die Boerseun wat nie ‘n polisieman is nie, maar ‘n skilder, groet en vertrek.
 
Eers die volgende dag sien ek die Taalbul se nuwe nommerplaat: TJIPS FRANSCHOEK.