Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Toneel

ET TU GODOT


Harry Kalmer - 2006-11-28

ET TU GODOT

(101 gedagtes rondom die skryf van teatertekste)

Koop ’n tweedbaadjie.
Dra die tweedbaadjie.
Koop ’n pyp.
Rook die pyp.
Koop ’n cable-knit jersey
Dra die cable-knit jersey. (Veral in die somer.)
Groei ’n baard
As jy nie ’n baard kan groei nie, laat groei jou beenhare.
Moenie bang wees om kanse te vat nie.
Moenie bang wees om pretensieus te wees nie.
Maar wees altyd eerlik
Onthou! Teater is die plek van die houtswaard, die toutjiesbaard, die lapperd en onoortuigende identiteitsverwarring.
Kry  jou eie houtswaard, jou eie toutjiesbaard, jou eie lapperd en raak verward oor jou eie identiteit op ’n onoortuigende manier.
Lees jou Tsjechof, maar moenie Tsjechof probeer wees as jy nie bereid is om tering te kry nie.
Lees ook jou Ibsen, maar vergeet dit dadelik.
Onthou, die nuttigste woord in die hele Shakespeare is Alarum.
Onthou, jy sal nooit geld uit teater maak nie.
As jy geld begin maak, maak jy heel moontlik nie teater nie.
Moenie worry as jy besef dat dit wat jy maak, nie noodwendig teater is nie. Daar’s plek vir al’s onder die son.
Wees ’n snob.
Fok die plebs.
Onthou! Teen die einde kom die vermoorde keiser terug vir die curtain call.
Onthou! Godot daag nie op in die play wat sy naam dra nie.
Vermy slegte teater soos die pes.
Veral die slegte soort teater wat almal gaande het.
Hou op skryf as jy nie talent het nie.
’n Resensie is net ’n opinie.
Tree altyd op met integriteit.
Behandel akteurs soos goud.
Dra hulle op jou hande.
Aanbid hulle indien nodig.
Maar moet hulle nie noodwendig te ernstig opvat nie.
Vertrou regisseurs.
Gee hulle al die vryheid wat hulle wil hê.
Al integriteit wat saak maak, is die integriteit van die werk.
Moet nooit aan regisseurs slaan nie. (Veral nie as hulle groter as jy is nie; ook nie as dit ’n vrou is nie.)
Onthou, niemand anders as jy kan die play wat jy wil skryf, skryf nie.
Maar dit beteken nie dit gaan noodwendig ’n goeie play wees nie.
Of dat iemand behalwe jou ma dit wil sien of daarin sal wil speel nie.
Opregtheid beteken nie noodwendig gehalte nie.
Onthou (of vind uit) wat Hunter S Thompson oor die musiekindustrie gesê het.
Vervang die woord musiek met teater, tik dit uit en plak dit bo jou komper.
Onthou! Outydse woorde verleen ’n sweem van gewigtigheid aan die grootste bluf.
Bluf is nie noodwendig ’n slegte ding nie.
Lees Rumi sonder ironie.
Verkoop jou slimheid. (Rumi.)
Weet jy’s net die riet vir die wind van God se asem om daarop fluit te speel. (Rumi het aan God geglo.)
Tem jou ego.
Teater is ’n roeping eerder as ’n professie.
Teater sal altyd uit die mode wees.
Wees bly daaroor.
Wees skaamteloos.
Onthou die Japannese spreekwoord: “Val sewe maal, maar staan agt maal op.”
Gaan kyk Kabuki Teater.
Vind meer uit oor Noh Teater.
Molière? Racine? Nou praat jy!!!
Gaan kyk weer na Artaud.
Gaan kyk weer na die foto’s van Artaud in die gestig in Rodez.
Wat verkies jy? Sy glimlag of sy haarstyl?
Vra jouself die vraag: “What would Bart Simpson do?”
Fok die snobs.
Wees ’n pleb.
Oomblikke van geslaagde teater – hoe banaal ook al – word selde deur ander behalwe as die makers daarvan ervaar.
Borges is altyd ’n goeie idee.
Onthou: drome is ook teater.
Wees altyd ambivalent. Veral oor jouself.
Party teater beteken iets, ander (die meeste) beteken niks.
Niks beteken natuurlik ook iets.
Onthou: Wysheid word maklik met waansin verwar. (En andersom)
Whimsy bied altyd ’n agterdeur vir sagmoediges.
Daar is nie ’n goeie vertaling vir whimsy in Afrikaans nie.
Elke taal het sy tekortkominge.
Teater se woordeskat is baie kleiner as dié van die meeste ander tale.
Maar dis juis waarin sy krag lê.
Raad van die tanka-skilders in Tibet. “As jy God wil skilder, moet jy God word.”
Die man in die stoel langs jou is heel moontlik verveeld deur dit wat op die verhoog aangaan.
Die sagmoediges sal nie die teater beërwe nie.
Lees Sheridan se A School for Scandal.
Die vrou wat sê dat sy van jou werk hou, weet heel moontlik glad nie wat jy doen nie. Sy wil net by jou slaap. Omdat sy gehoor het dat dramaturge (en skrywers in die algemeen) goeie lovers is.
Moet haar nie teleurstel nie.
Hulle wat jou werk kritiseer, is gewoonlik bedreigd.
Hulle wat jou werk prys, is gewoonlik bedrieg.
Hulle kan egter ook net verveeld wees.
Teater is ’n sindroom.
’n Sindroom bevat noodwendig etlike elemente. Wysheid is nie noodwendigheid een van
hulle nie.
Wees simbolies selfs al is jy opreg.
Dooie slange en voëls kan ook help. (Met simboliek.)
As jy die kuns moet afvra, sal jy dalk nooit weet nie.
Onthou: It’s just like a cigarette, it’s something that I do/ Once in a while but between me and you/ It’s just like a cigarette Nobody’s really fooled/ I don’t want the truth, I just wanna feel fucking cool. – Fort Minor
Weet dat die beste toneelstuk in die wêreld reeds geskryf is. Dalk is dit Synge se Playboy of the Western World.
Party akteurs is “empty vessels”.
Dit maak hulle nie noodwendig slegte akteurs nie. Inteendeel!
Inteendeel met ’n uitroepteken aan die einde van ’n sin is teater.
Onthou! Selfs Becket het op die ou end by die partisane aangesluit.
Becket het selfs getrou, maar het verkies om nie onderhoude toe te staan, oor sy werk te skryf of toesprake daaroor te hou nie.
Onthou, die etimologie van teater is “Aanskou.” Dis al.
Onthou, as jy skryf, gaan mense altyd dink jy’s slimmer as wat jy is.
Onthou, as jy skryf, gaan jy self dink jy’s slimmer as wat jy is.
Onthou, vandag se Tom Stoppard is more se Noel Coward.
Aan die begin was die woord. Maar teater het lank voor die wóórd teater bestaan.
Onthou, die ligte gaan af, die gehoor skuif reg, die gordyn gaan oop. Die verhoogligte kom op. Iemand sê die woorde wat jy geskryf het. Jou taak is volbring.

 

<< Terug na die Sanlam|LitNet Aanlyntoneelskool <<