Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Water


M Labuschagne - 2009-04-16

Die eerste druppel glip-glip deur die kraak in die teer en gaan lê in die son. Dit was ʼn loeiende warm dag en die druppeltjie se grootste vrees was dat hy dalk vinnig gaan verdamp. Uit die kraak, naby ʼn straathoek, het nog ʼn paar druppels gesypel - stil-stil en geheimsinnig, maar dit was deel van ʼn plan wat naby ʼn brandkraan in ʼn verlate deel van Pretoria begin het. Dit sou eers ʼn druppel wees, dan ʼn plassie, want laasgenoemde is sterker as eersgenoemde. Dan sou dit ʼn poel so groot soos 'n trekkerwiel word. Dit het gegroei soos 'n slegte gewete. Groter en groter totdat dit uiteindelik ʼn opmerklike dammetjie was.

Die eerste persoon wat van die water agtergekom het, was ʼn man met ʼn vuil, ongeskeerde gesig. Hy het per abuis met sy linkervoet in die water getrap, vies geswets en toe weer aangeloop. Teen sonsondergang was die water so groot soos ʼn swembad. Dit het die breedte van die straat vol gelê. So erg dat ʼn motor met moeite daardeur sou ploeg.

***

Iewers, in ʼn woonstel, sit hy.

Die lig rondom is dowwerig, want die son mik-mik om agter die berge te gaan slaap en die laaste strale gooi gebroke skaduwees teen sy muur. Hy kyk geamuseerd daarna, terwyl hy met ʼn magtelose gevoel in sy lyf op die bed lê. Daar waar hy lê, meters en meters van die plas in die straat af, kan hy die water voel borrel en bruis en dit maak hom opgewonde. Vir die eerste keer in hoeveel jare is daar iets wat hom spontaan laat glimlag. Hy wil opspring en op die hoogste gebou gaan gil en skree van blydskap, maar hy weet dit is nie nou die tyd nie. Soos Prediker sê: daar is ʼn tyd vir alles en nou is die tyd om hom skuil te hou.

Hy kyk na sy hande. Die tyd is naby, die tyd is op pad, dink hy weer en sluimer in.

***

Vroeg die volgende oggend toe die koerante op die hoeke van die strate afgegooi is, was die water al die hele straat vol. Plek-plek het dit gedreig om vanaf die straat oor te klim op die sypaadjie.

Die koerantverkopertjie het die nat koerante opgetel en die water gesien. Sy mond kon hy nie toe hou nie. Dit is voor hom soos ʼn dam. ʼn Dam soos op die plaas waar hy grootgeword het en lankal van weggehardloop het. Hy het gehuiwer, gehuiwer om te voel. Moet hy lag? Moet hy in die water plas soos wat hy doen met ʼn somerreën? Moet hy weghardloop? Gaan almal sê dit is sy skuld?

Die water het gekom.

ʼn Uur later was ʼn fotograaf en ʼn verslaggewer op die toneel. Hulle het foto's geneem. Notas geneem. En sommer net notisie geneem. ʼn Bende omstanders het begin vorm. Bespiegelinge het begin uitstroom. Miskien kom die water van ʼn gebarste pyp? Of miskien was daar ʼn ondergrondse waterbron aan die borrel?

"Dalk is dit nie eens gewone water nie."

Die skare het geïnteresseerd gekyk na die man wat dit gesê het. Hy het ʼn punt beet. "Wel, hoe sal ons weet watter soort water dit is?" wou almal weet.

ʼn Korterige man het vorentoe gestap, sy gordel met manlike bravade verstel en aangekondig dat daar net een manier is om uit te vind. En hy sal dit doen.

Wat sou die man tog bedoel? Hulle het soos een gelid agter hom aangeloop, terwyl hy na die water gemarsjeer het. By die plas water, wat nou al oor die straat se rand tot op die sypaadjie gekruip het, het hy gaan staan en om hom gekyk. Na die wolke, na die helder blou lug. Na die berge en sommer na iets in die lug wat niemand kon sien nie.

Genade! Wat het die man tog voor oë om te doen?!

Met een verbasend ratse beweging buk die vetterige mannetjie af, gryp ʼn skepsel water en slurp dit met een geslrrg! weg. Party mense gryp na hulle monde, ander trek hulle gesigte asof hulle kasterolie sluk. Een vrou val selfs flou. Nog ander verlaat sommer summier die plek.

"Dit kon rioolwater gewees het!" skree een man benoud.

"Wel," sê die korterige man en glimlag dat jy net ʼn goue tand sien, "dit is nie."

"Dan moet dit ʼn onderwaterrivier wees!" sê ʼn vrou met ʼn rooi handsak en ʼn oudmodiese haardos. Almal kyk eers vir haar snaakse haardos voordat die korterige man sê: "Nee, nee, dit is nie soet varswater nie. Dis iets anders."

"Wát dan?" sing die skare soos ʼn koor.

Die man kyk weer na die wolke, na die blou lug, na die berge en na iets wat niemand kan sien nie (die mense raak sommer baie ongemaklik hieroor), en sê dan: "Dit proe so sout soos traanwater!" Daarna draai hy om en loop huis toe. Niemand sien die man weer nie, want by die huis aangekom pak hy onmiddellik sy tasse, laai hulle in sy beskeie motortjie en ry die stad uit.

Soutwater?!

Almal kyk na mekaar vir advies. En omdat almal dit met mekaar doen en niemand dit nie doen nie, gee niemand advies nie. So trippel almal adviesloos rond, terwyl die water soos in HG Wells se War of the Worlds die strate stadig binneval. Elke druppel is soos ʼn klein ruimteskippie beman met sout.

Die munisipaliteit is volgende op die toneel. Groot bakkies in onsierlike oranje met groot kappe waarop die letters CCP/SVP geverf is, flits deur die strate. Die werkers klim uit. Almal is in oranje geklee, soos lede van ʼn militêre regiment. Hulle is op die toneel om die stad van ondergang te red.

ʼn Langerige man met ʼn veiligheidshelm klim uit, druk sy hande in sy sye, kyk af na die dammetjie water en skud net sy kop. Hy brul ʼn paar bevele. Werkers se swaar werkstewels klap op die grond. Hier word gedra, daar word afgelaai. By die naaste mangat klim ʼn paar werkers in, terwyl ander konsentreer om apparaat aan te gee.

Die skare beloer die hele seremonie in stilte. Niemand sê ʼn woord nie. ʼn Middelmatige man met ʼn welige, militêre snor wat tussen die skare staan, kan nie help om te voel soos op ʼn keer toe hy in Egipte gewag en kyk het hoe ʼn katakombe van Farao sus-en-so-van-so-en-so-se-kerkbasaar oopgemaak is nie. Niemand kon ʼn woord sê nie. Hy besluit egter om liewers hierdie opmerking vir homself te hou.

ʼn Werker se gesig verskyn in die mangat. Die oë is groot.

Die lang werker, klaarblyklik die voorman, stap fronsend nader. Hy hurk by die werker en luister geïrriteerd na die gefluister in sy oor. Ná die gefluister is sy oë nog groter as die werker s'n.

Die skare begin nou ongemaklik raak en die simptoom van hierdie ongemaklikheid is kriewelrige voete. Almal skuifel ongemaklik rond soos honde wat nie hulle lê kan kry nie.

***


Hy kry dit reg om te glimlag waar hy ver weg lê van die drama rondom die onverklaarbare waterplas. Sy kamer in die armsalige woonstel is donkerder as wat dit was, want dit het begin skemer word. Hy draai weg van die venster en streel oor die skaduwees teen die muur. Ja, hy het sy hele lewe lank al soos ʼn skaduwee geleef. Maar daar was baie voor hom ook gewees. Baie ander wat ook soos skaduwees geleef het. Hy is gelukkig. Daarom glimlag hy, want hy leef in die tyd toe die water begin verskyn het.

Oe! Hy kan die passievolle serenade van die borrelende water hoor. Dit is soos ʼn paringsroep na elke sel in sy liggaam. Dis sy erfenis, sy geboortereg wat smeek dat hy dit moet kom opeis. Hy bekyk weer sy hande.

En lag.

***

"Dit kan nie wees nie!" hoor die skare die voorman sê. Hy skud sy kop in lang, stadige bewegings van links na regs. Die bende toehoorders skuifel ernstiger rond. ʼn Antwoord, hulle vereis ʼn antwoord! Die voorman het na die skare om hom gekyk. Dit was ʼn drukkende bondel mense, almal met burgerlik-ernstige gesigte. Hierdie tipe mense skrik hom nie af nie, hy is al gewoond aan hulle. Orals waar hy sy werk doen, bondel hulle saam. Dit laat sy werk belangrik voel.

"Daar is nie ʼn gebarste pyp nie," beaam die voorman met ʼn spierlose gesig soos ʼn regter wat ʼn vonnis uitspreek. ʼn Fluisterende geruis soos ʼn skelm gebabbel in kerk trek deur die toeskouer-bende. Sonder om enige aandag aan hulle te gee stap die voorman na sy bakkie en pluk die tweerigtingradio nader. As die pyplynmense faal, dan is daar net een genade: die geoloog.

Die geoloog lyk soos ʼn Engelse kolonialis. Hy het ʼn kort bokbaardjie wat meer soos die duiwel se baard lyk as nou eintlik ʼn bok se baard. Op sy neus rus ʼn fyn konstruksie van draadagtige metaal en lense wat ʼn mens ʼn bril noem. Hy dra ʼn outydse breërandhoed. En om alles af te rond klem hy sy kierie stewig in sy een hand terwyl hy met ʼn ge-aha! en ge-mmm! in die ander hand die pyp vasklem. Blou wolke borrel by die pyp uit soos die idees in sy kop rondborrel. ʼn Vrou vang ʼn wolk van die rook en gee ʼn asma-agtige hoesie.

Die geoloog se kyk na haar sê sommer alles voordat sy iets kan sê: ʼn geoloog rook ʼn pyp en daarsonder kan ʼn geoloog nie sy belangrike werk verrig nie! En as julle nie my lewensnoodsaaklike hulp waardeer nie - dan loop ek sommer nou!

Die vrou sê niks nie. Nie eens dat sy 'n kandidaat-Nobelpryswenner is vir haar werk p die gebied van geologie, onderafdeling volkanologie, ia nie. Ook nie eens dat sy al klaar agtergekom het dat wat op dié dag aan't broei was, seismografies, geologies of selfs net moronies was nie. Nee, daar is dinge van metafisiese konsekwensies aan't gebeur. Al daai goed sê sy toe liewers nie en stap maar huis toe, pak haar goed en vat die eerste bus na haar ma-hulle in die Kaap.

***


Ha! Julle sal almal nog loop! Daar is nie ʼn verbitterdheid in sy stem nie. Hy dink daaroor. Vreemd. Ongewoon. Selfs ʼn voorbode. Sy hande is koud en klam. Hy vee met sy hande oor sy gesig. Na soveel eeue, na soveel gebreekte rûe, gebreekte gemoedere. Hoop is nou soos ʼn skerp lig op die horison. Soos die dominee sou sê: die lig wat alles bevry van die duisternis. Binnekort sal hy ook wegkom van die duisternis in die lig in, maar hierdie keer sal dit ʼn ander lig wees. Die lig wat hy kan verdra en verstaan. En al die jare wat sy mense verdruk en onderdruk was, gaan tot ʼn einde kom.

Hy sal vry wees.

***

Die geoloog loop heen en weer in die straat af. Dit lyk, nadat hy so paar keer dieselfde treë gegee het, asof hy eerder marsjeer. Die bende hou hom in hulle gesigsveld vasgeknoop sodat hy nie kan los spring en weghardloop nie. Hy moet hulle dilemma oplos. Oplos is hier die belangrike woord. Dit moet soos sout wees wat jy in ʼn glas water gooi. Dis ʼn wit, onooglike knop wat op die bodem lê. Dan moet jy roer en gou-gou verdwyn die probleem. Waarheen, weet niemand nie, solank hulle dit net nie meer sien nie. Dis wat die geoloog nou is: die lepel; hy moet nou nog net roer.

Die geoloog loop weer ʼn paar treë op en af. Die water lê nou so diep dat ʼn hele straat versink is. En dit loer-loer, kruip-kruip na die omringende strate. Sonder dat die omstanderbende dit agtergekom het, het hulle al ʼn hele paar meter geretireer. Party mense begin hierdie toedrag van sake nou waarneem. Van hulle gaan huis toe, pak hulle tasse en verlaat Pretoria vir ʼn ander plek. Wat meer opmerklik is, is dat niemand meer die bodem van die straat kan sien nie. Is die water nog vuil ook? Of is daar iets onheilspellends besig om onder die oppervlakte te broei? En nog steeds suig die geoloog net aan sy pyp en marsjeer die wonderlikste geometriese passies in die straat af.

Help ons! Doen iets! Die kyke van die mense is desperaat. Dit is vir hierdie oomblikke waarvoor hy leef. Die oomblikke wanneer sy kennis in goud verander. Hy draai om en loop met ʼn glimlag na die mangat. Op pad trap hy in ʼn plas water. Oeg! Vervies skud hy sy sopnat broekspyp.

In die mangat klim hy af soos ʼn ruimtevaarder wat in ʼn ruimteskip klim: in groot afwagting vir die groot gebeurtenis. Die skare toeskouers haal moeilik asem. Wat sal hulle held net nie daar onder teenkom nie? ʼn Medusa van ʼn ondergrondse rivier? ʼn Minotaurus van ʼn onderaardse dam? Dalk, o dalk ʼn Gorgoon van ʼn vulkaan?

Hulle sien eerste die rook soos ʼn stoomlokomotief se skoorsteen uit die mangat borrel. Dan verskyn die geoloog se gesig. Hy is bleek. So bleek soos die gebou rondom hom. Hy loop na die motor. Sy bril is skoon skeef op sy neus.

Die skare wil weet. Hulle gluur hom aan. "Wat is dit? Wat gaan aan?"

Hy draai om na hulle. Sy onderlip kry klein skokke van die oorweldigende toneel wat hy gesien het. Daar is geen ondergrondse rivier nie. Ook geen ondergrondse dam nie. Dit is asof die water uit die niks uit verskyn. Asof dit uit die aarde self uitsypel.

Die geoloog gryp sy burgerband. Vir ʼn oomblik bly hy stil staan. Hy roer nie en sê nie ʼn woord nie. Hy haal net asem.

Dit is tyd dat die groot magte ingeroep word. Dat die waghonde van die gemeenskap moet kom knor by hierdie ontstellende en misterieuse situasie.

Dit is tyd dat die regering iets moet doen.

Die geoloog verdwyn tussen die gedrom van motors en mense deur, om nooit weer gesien te word nie.

Die Premier arriveer ʼn driekwartuur laat. Die bende toeskouers het dit nie eens agtergekom nie. ʼn Fanfare van gejuig en getoi-toi breek uit toe die man op die podium verskyn. Hy kyk links en regs na die skare. ʼn Stilte suis deur die see van koppe voor hom. Hy loer oor sy skouer na die water agter hom en klou die podium se rande vas.

Dan haal hy ʼn papier wat soos ʼn inkopielys lyk, uit sy pak se sak en vou dit oop. Hy kyk daarna, maar dit lyk nie asof hy dit kan verstaan nie, want sy voorkop trek saam in ʼn kontorsie van riwwe. ʼn Insig tref hom en hy druk sy hand soos Moses in eie boesem. Sy bril!

Hy lek sy lippe af voordat hy begin lees. Hierdie deel is sy gunsteling-deel - op skool het hy altyd eerste in sy klas gestaan as dit by voorlees en spoedlees kom. (Partykeer kan hy die twee nie van mekaar onderskei nie.)

"Comrades, today, many years ago, we celebrated our freedom."

***

Hy grinnik. Vandag vier ons die einde van my onderdrukking. Sy hande, o sy hande! Dit is goed dat dit eerste met die hande begin. Die hande is die mens se werktuig. Die eintlike ding wat ʼn mens van die diere onderskei. Hande vir liefkoos, vir moue oprol en hard werk; hande om te dra, om ʼn babatjie vas te hou.

Om ʼn vuis mee te maak.

Hy kyk na die foto's teen die muur. Daar is baie van hulle. Party in groot rame, ander in petieterige reghoekies en sirkels - hang net af watter littekens die armoede gelaat het. Daar is een van ʼn man met ʼn baard so groot soos die bossies op sy plaas. Oupagrootjie se pa. Arm, gebroke en deel van die Ongekendes.

Die Ongekendes - ʼn see vol van hulle in die land.

ʼn Kleurfoto, wit raampie om. Volborstige vrou in ʼn somersrok iewers by die see. Met haar een hand druk sy haar hoed teen haar kop vas sodat die gulsige wind dit nie opvreet nie. ʼn Voormoeder in die oog van ʼn begerende voorvader. Arm, verstote. Onbekend.

Teen die muur draai en kolk die kwilt van beelde, van herinneringe vergete deur almal behalwe die Plan en ʼn bleek jongman in ʼn woonstel wat besig is om homself te verteer. Hy het al baie gewonder of daar ʼn soort patroon is aan al die beelde wat teen die muur is. Dalk vorm dit ʼn pad met ʼn begin en ʼn einde - ʼn soort mandala soos dié wat ʼn mens in ou Katolieke kerke sien. Jy loop langs die paadjie en by seker stoppunte bid jy. Vir wie ook al dié deel van die reis beskerm. Is dit dalk wat al die foto's is: ongekende, onbekende heiliges?

***

Die Premier loer weer na die water. Dit lê daar soos ʼn massiewe amebe. Dit wag roerloos en geruisloos. ʼn Bom wat enige oomblik kan ontplof, maar niemand kan hierdie bom ontlont nie. En as iemand durf weghardloop, gaan almal vir die een lag. Wie is nou bang vir ʼn poel water?

Wie is nou?

Dit moet ʼn sameswering wees.

Hy sit die leeslysie neer en kyk weer na die skare. Sy oë is soos klein, agterdogtige teleskope. Iewers sal die skarminkels te voorskyn kom. Soos helder korale onderwater uitstaan. Die vyand is altyd duidelik. Altyd. Selfs al ontken hy dit. Dan is dit ʼn ware komplot. Ha! Hulle dink hulle kan hom flous, maar hy het ʼn neus vir hierdie tipe goed. Hy ruik hulle sommer op ʼn myl uit.

"Comrades, there are counter-revolutionary forces at work here. Forces that want to undermine the transition from a one-party state to a democracy. It is an act of sabotage by the minority who still cling to the privileges of the past. This pool of water is a legacy of Apartheid. We shall do our utmost to ensure that all South Africans, and I mean all South Africans, are free. Liberation before education."

Die mense bars uit in ʼn diskoteek van getoi-toi. Hande en voete klap in ʼn sinkronie van opgewondenheid. Die Premier waai ʼn paar keer voordat hy by die fotograwe gaan poseer. Hier skud hy iemand se hand, daar stort hy ʼn traan en nog verder glimlag hy. Die Premier. Die onderkoning van die provinsie. Die man wat met sus-en-so-se-bicycle-die-dorp-in-gery-het.

Hy klim in sy limousine, waai vir oulaas vir almal en ry weg. Die mense toi-toi nog steeds. Hulle is almal sommer in hulle noppies.

By sy herehuis aangekom, laat die Premier sy wit bediende sy tas pak, skud die hand met al sy personeel en klim in sy wagtende helikopter. Hy vlieg reguit af na die naaste lughawe om ʼn vliegtuig te kan haal, sodat hy by die Wildekus kan gaan tob oor die probleme van die regering.

***

Regering? Goewerment? O ja, baie owerhede het sy liggaam al gebied en beveel, net soos sy voorgeslagte, net soos die mense wat voor hom gekom het. Maar niemand kon sy gene vasvang, sy essensie administreer nie. Die vrye wil van die Plan het uit hom geborrel.

In daardie opsig was hy nog altyd ʼn vrye man gewees. Alhoewel hy meer as die helfte van sy lewe in die verdoemende woonstel in hierdie veroordelende deel van die stad gebly het.

Hy met sy bleek vel.

Sy hande: perfek! Hoe kon hulle sulke skoonheid altyd moes wegsteek. Soveel van sy voorouers - hy kyk na hulle gesigte teen die muur. Hulle oë, hulle lywe, hulle hartseer agtergronde.

Hulle geheim. Soos ʼn tydbom, tikkend elke hartslag, elke keer wat die trein oor die spore suis. Tikkend. Metend. Tot nou dat die regte tyd aanbreek. Alles gaan ontplof, met geweld na vore kom. En daar sal geen geheime meer wees nie.

***

O vaderland!

Die skare drom om die gillende, jillende vrou soos ʼn swerm bye. Wat's fout? Wat gaan aan? Hulle kyk na die plas water waarna sy kyk. Die water het al vyftien strate verswelg soos ʼn honger ou ʼn hap uit ʼn appel vat.

Dan sien hulle dit, asof almal op daardie moment met een oog sien: die water styg nie net nie, die grond sak ook dieper.

Die burgerbende staan na die plas en kyk.

Wragtig! Die bodem sak soos ʼn hysbak die dieptes in. Dalk was dit net ʼn optiese illusie geskep deur die stygende water. Maar niemand gee ʼn oomblik om te besin oor hierdie moontlikheid nie.

Toe almal omtrent op dieselfde tyd die erns en skoonheid van die heel onestetiese situasie waardeer, hardloop hulle soos ʼn trop beeste weg. Almal in verskillende rigtings soos die mense destyds by die Toring van Babel gemaak het.

Elke ou vir homself.

Binne enkele oomblikke is Pretoria niks anders as ʼn groot blerts leë geboue nie. Die winkels staan oop, kos staan nog stomend op sommige mense se tafels. ʼn Advertensiebordjie swaai neurieënd in die wind. Selfs die bordeel het leeggeloop - stukke onderklere lê nog rond soos bierbottels by ʼn braaiplek.

Die laaste beweging is die duiwe op Kerkplein wat in een swerm opvlieg. En saam in een koor swets. Dan verdwyn hulle ook oor die horison.

***

Hy wil lag, hy wil gil van vreugde, hy wil iets sing. Maar niks kom uit hom uit nie, behalwe die soutdruppels van sy oë. Dit rol soos die riviere van tyd oor sy gesig en sy nek en langs sy arm af en drup-drup in die poel water wat sy bed se pote verswelg het. Nog steeds wil hy nie roer nie. Hy is bang. Bang dat alles net ʼn droom is, dat hy dalk ʼn koors gekry het en wat dinge laat sien wat nie daar is nie.

Hy sal lê totdat hy water in sy mond kan proe. Dan sal hy alles inneem. Soos ʼn pasgeborene diep teue van die water inneem. Die water van onafhanklikheid, afgesny van sy moeder se naelstring.

Vir oulaas kyk hy na sy hande. Hulle is al volkome vlieserig. Hulle lyk nie eens na die soogdierkloue waaraan hy vir soveel jare al gewoond was nie. Hy lig sy kop effens en kyk na die water om hom. Dit is al amper by sy bed se rand. Van die foto's is van die muur afgespoel en tol rond op die oppervlak van die water. Die siele van sy voorouers wat rus vind in hulle tuiste. Hulle ware paradys waarvan hulle soveel eeue al verban is, vervloek is.

Soutwater! Die water stroom in sy mond soos ʼn bad waarvan die prop uitgetrek is. Hy sluk liters daarvan, in sy maag, in sy longe in. Toe die water oor sy neus is, haal hy al gemaklik asem. Die water gaan by sy mond in en stoot by die kiewe langs sy nek uit. Hy maak sy oë oop en outomaties stoot die derde, vleserige ooglid oor sy oë. Hy kan sien, duideliker as wat hy ooit met sy bril, met ʼn verkyker of met ʼn mikroskoop kon sien.

Die kleure! Daar is iets anders daaraan. Dit gloei amper soos ʼn fluoressensielig, asof die onderwaters sy eie sonne het. Gevolglik dink hy aan ʼn boek wat hy oor die Bermuda-driehoek gelees het: duikers en vissermanne berig dat hulle by die diepste dele in die Sargassosee ligte kon sien.

Die watervlak stoot teen die plafon van sy kamer. Hy draai om en begin homself deur die water projekteer. Dit voel gemaklik, eenvoudig en rustig. Loop kon hom nooit so laat voel nie. Nooit nie. Dit was frustrerend tweedimensioneel. Maar nou is alle bewegings in driedimensionaliteit.

Vryheid! Wat het die idiote op land ooit geweet van wat vryheid is? Hulle het sieklike, bloedige oorloë daarvoor geveg. Mense se bloed het gevloei. En vir wat? Die reg om in eenslaapkamer-woonstelle eensaam weg te kwyn? Om verlore in raveklubs te versuip in ʼn poel van ecstasy? Of om te verdwaal in die labirint van agterstraatstegies? Hierdie is ware vryheid. Die ruimte om te beweeg, om te wees. Om net te kan asemhaal. Net te kan leef in soos wat dit jou natuur is. Water, soutwater, heilige water is sy roeping.

Sy ledemate is onseker. Hy voel-voel en soek-soek nog harde oppervlakke onder sy voete. Die sekuriteit van grond waaraan hy soveel jare lank al gewoond is. Maar soos ʼn skoenlapper wat uit sy kokon klim wie se vlerke aanvanklik nat en talentloos is, word sy natuurlike vlerke in die water al hoe harder, sekerder totdat hy met gemak kan vlieg.

Hy sweef oor geboue, oor standbeelde, oor winkels, selfs ʼn paar verlate motors. Oom Paul staan nog vas en getrou op Kerkplein. Die duiwe is al weg. Maar in hulle plek sweef die visse opwaarts soos duisende blikkers wat na die middelwaters dryf. Visse uit visdamme, uit die Apiesrivier, uit die Moreletta. Hy sal ook ʼn nuwe dieet hê. Vandag sal hulle die eerste land begin bewerk. Hopelik teen die volgende week sal hulle ook die eerste saadjies van Grenleid kan plant. Grenleid, die seewier wat sy voorouers geteel het soos die Aardmense gras geteel het om koring te word. O Hemel! Hy het al die jare gedink dit is sommer maar net ʼn legende. Maar dan: hy het gedink alles oor hom is ook maar net ʼn legende. ʼn Wensdenkende verdraaiing van die ware feite.

In een straat (is dit dalk Proesstraat?) seil hy verby ʼn onderwaterfontein. Water borrel boontoe in ʼn emosionele uitbarsting van nuwe water. Dit stoot ʼn glimlag na sy mond, want die water sal altyd vol wees. Dit sal nie mettertyd soos ʼn poeletjie ná ʼn somerreën in die niks verdwyn nie.

Met hierdie gevoel van ewigheid swem hy verder. Hy wil so ver gaan as wat hy kan; hy wil sy grense sien.

Orals om hom kom hulle uit. Uit hulle woonstelle, uit hulle huise, hulle karre, motors. Een kom selfs uit ʼn mangat uit. Met glimlagte erken hulle mekaar. Ons, ons almal van dieselfde spesie, dieselfde soort wat met die uurslag van eeue in die Geheimenis, die Onbekendheid gedruk is. Ons voorouers, die groot seevaarders van die wêreld - die Wikings, die Iere, die Germane - wat uit die waters gekom het om op te land te bly. Nou is ons tyd hier. Ons tyd om te wees wat ons nog altyd was: watermense.

Hulle seil verby die groengras-voorstede. Waterkloof, Murrayfield, Menlopark. Op plekke pryk daar swembaddens in die erwe. Klein poele vertroosting vir die seevaarders se kinders.

Orals swem die lywe in hulle natuurlike ritme. Onderlywe beweeg sywaarts. Links na regs soos visse. Hy lag by homself: toe hy op skool was, het hulle hom leer swem. Vryslag en borsslag, die manier waarop ʼn primaat dit doen. Onbeholpe geplas deur die water. Dit het toe nie vir hom reg gevoel nie.

Die stad begin hulle herbou. Insignia, straatname, borsbeelde, baniere word verwyder en versigtig na die oppervlak gedra om op die oewers uitgesleep te word. (Dit is ook hierdie skouspel wat dae later afgevaardigdes en lede van die polisie eerste te siene sou kry: groot hope vol politieke afval.)

Binne dae is die geboue en strate en parke herversier. Vakmanne kerf bekwaam patrone van seewiere wat krul en rol op die voorkante van geboue. Die gewebde driehoeke van vinne word hier en daar ingepas om alles af te rond. Beelde van holrug perde, leeus en arende word vervang met dolfyne.

Dolfyne! Dis wat sy ouma vir hom eenkeer gesê het toe hy haar gevra het hoe lyk die engele dan. Almal in sy klas het op een, fatale wintersoggend gelag vir sy antwoord oor hoe engele lyk. Almal weet tog engele het vlerke en bly tussen die wolke en nie in die water nie!

Partykeer swem hy saam met ander verkenners na die oppervlak om te kyk hoe die aardwêreld teenoor hulle reageer. Vir ʼn hele paar dae sien hulle niks nie. Net af en toe sien hulle swerms voëls wat om die dam sirkel in verwardheid - hulle nesmaakplekke het skielik verdwyn.

Die eerste Aardmens wat hulle sien, is ʼn man in ʼn oorpak. Hy is deel van een of ander span deskundiges wat die plek kom bespied het. Toe hy die gekieude mens sien wat vir hom uit die vlakwater loer, steek hy net daar in sy stewels vas en staar na die mensding. Eers is daar verwondering, want die oorpakman frons en glimlag half. Dan tap al die kleur uit sy gesig en hy strompel weg.

Die eerste van vele - besef hulle.

Later is daar spanne mense met skerp ligte. Allerlei apparate word met kabels in die water af laat sak. Kameras, mikrofone, radar, selfs ʼn robot of twee. Die Seemense lag hieroor. Dit word ʼn speletjie om so naby as moontlik daaraan te swem. Nog later sien hulle bote. Skroewe dreun in versterkte klanke bo hulle. Hieroor lag hulle nie en bly liewers ver onder, weg van die Aardmense.

Hy het geweet daar gaan nog meer wees. Hulle kom in die vorm van duikers. Helder blou en rooi pakke. Hy glimlag oor hulle, hulle is koddig. Met hulle duikbrille en groot voete lyk hulle soos eenoog-monsters. "Aardmense is so uit plek in die waters," merk hy in hoëfrekwensie-klanke van hulle taal - die taal van die Plan - op.

Die duikers kom om deur die strate te swem. Daar is so tien of twaalf van hulle. In die begin kom net twee of drie van die Seemense uit om na die Aardmense te kom kyk. Eers is daar net ʼn geaanstaardery op ʼn afstand voordat die een party vorentoe beweeg. Die Seemense retireer halfhartig. Die Aardmense het gekom om te kyk, nie hulle nie. Hulle wil net wees.

Nog Seemense begin uit die gebou te verskyn. Hulle getalle groei van toeskouers tot ʼn hele nasie. Vier word veertien, word vier en veertig, word vier honderd en word baie meer. Die Aardmense begin verward om hulle rondkyk. Daar is ʼn sweempie van paniek. Meerderhede is altyd skrikwekkend vir minderhede. Een gryp selfs ʼn mes, maar ʼn ander bedwing sy arm en beduie dat hy dit moet wegsit. Dit is klaarblyklik die leier van die Aardmense-groep.

Hy het die Aardmense op ʼn afstand dopgehou. Toe die ander Seemense nader beweeg het, het hy agter die agterste linie gewag. Hulle was geen bedreiging nie, het hy al besef toe hy hulle lomp bewegings in die water sien.

Hy swem nader. Die ander Seemense voel hom en maak ʼn baan oop. Die leier van die Aardmense se aandag word getrek deur die skielike seremonie. Eers is hy onseker, paniekerig - geen opleiding kon hom voorberei het vir kontak met intelligente wesens wat soos waterdiere lyk nie.

Hy kom voor die Aardmens tot stilstand. Vir ʼn oomblik trap albei net water, sonder om enige noemenswaardige gebaar te maak. Die Aardmens beduie iets aan een van sy makkers. ʼn Wit voorwerp word te voorskyn gebring. ʼn Skryfbord. Die Aardman krabbel met ʼn pen daarop. Dan oorhandig hy dit versigtig aan hom.

Hy wil daaroor lag - ons is nie wilde diere nie, ons ken skrif en tegnologie. Hy lees dit. "Wie is julle? Waar kom julle vandaan?"

Hy beduie aan die Aardman iets. Wat sou hy nou wil hê? Dan begryp hulle: ʼn pen. ʼn Pen word aangegee en hy skryf en oorhandig dit aan die Aardmens. "Wie is julle? En waar kom julle vandaan?" Om sy lippe krul ʼn glimlag oor die ironie van sy antwoord.

Die Aardman begryp dit duidelik nie, want hy begin onmiddellik aan ʼn antwoord krabbel.

Hy lees dit. En voel teerheid vir die Aardmense se onskuld. "Ek is Johan Pieterse, leier van die reddingspan. Ons het nog nooit iets soos julle gesien nie."

Hy krabbel terug: "Ek was voorheen Anton Gouws gewees, maar nou noem ek myself Marinus1 . Ons was nog altyd tussen julle gewees. Op ʼn manier.

Johan antwoord: "Hoekom het julle julle nooit voorheen laat sien nie?"

Marinus glimlag en skryf: "Ons is altyd nog deur julle verjaag en verdruk. Dié van julle wat ons geken het. Buitendien, ons is ʼn minderheid binne ʼn minderheid - watse sin sou dit gehad het? Ons het ʼn ander uitweg gekies."

Johan vat die bord en lees. Hy trap net water, terwyl hy die pen mikkend, maar sonder om te skryf, in sy hand vashou. Hy dink diep en lank. Dan reageer hy: "Wat wil julle hê?"

Marinus antwoord sonder enige aarseling: "Vrede. Dit is nou ons tuiste hierdie. Ons klein Eden. Die soutwater is permanent. Niemand sal iets daaromtrent kan doen nie. Dit het geen ekonomiese waarde nie; daar is geen rede hoekom die staat dit by ons sal wil afvat nie."

Johan lees die boodskap. Marinus verbeel hom amper dat daar ʼn uitdrukking van empatie agter sy duikmasker is. Hy skryf: "Ek is maar net ʼn duiker, maar dit klink vir my eenvoudig genoeg." Johan beduie vir die ander duikers en hulle swem weer boontoe. Marinus hou hulle vir ʼn lang tyd dop. Deels om seker te maak dat hulle werklik almal boontoe gaan en deels uit oorweldiging van die gesprek.

Daarna kom daar nie meer duikers nie. Niemand word meer gesien nie.

Die lewe in Vrywater begin soos ʼn lokomotief stadigaan momentum kry. Die energie word langsamerhand opgebou, die kole van inspirasie begin gloei. Allerlei waterplante word geplant. ʼn Skool word opgerig - hulle eie skool, waar die skoliere hulle eie geskiedenis leer. Die geskiedenis van hulle obskuriteit. Hulle eie helde. Die verhale van hoe hulle mense hulself versteek het, gekamoefleer vir die Aardmense. En dat daar altyd net geheime kontak mog gewees het. Party van hulle het nie eens geweet dat hulle deel is van die spesie nie. Hulle het maar net aanvaar dat hulle ʼn sieklike, witterige soort was. Maar hulle gene het geweet. Dit was altyd in hulle - daardie stukkies informasie van die Plan wat in elke sel geënkodeer was. Sluimerend, afwagtend, broeiend. Totdat die regte sleutelwoord, kodewoord, geheime woord sy opwagting maak. Dan maak die boek van almal se herinnering oop.

Marinus het oor sy ware self van sy oupa geleer. Sy oupa was al sieklik en die hande van die Dood was al op albei sy skouers gewees. Eendag het hy vir Marinus na sy bed geroep. Marinus was toe net nege gewees. Sy oupa het in sy oor gefluister: "Jy sal eendag weer ʼn watermens word!" Vir jare daarna het dit in sy kop vasgesteek soos ʼn skoen wat ʼn rou hakskeen skaaf. Wat sou dit beteken? Toe alles te veel vir hom geword het, het hy baie mense gaan raadpleeg: sielkundiges, psigiaters, astroloë, tarotkaartlesers, mense met psigiese kragte en selfs ʼn mariene bioloog. Almal het by die kruispad in sy lewe verskillende afdraaipaaie en ompaaie gewys. Nie een het werklik sin gemaak nie. Tot eendag, in sy vroeë twintigs, toe hy begin drome kry het. Drome oor water, drome oor vinne, skubbe en kiewe. Drome oor mense wat hy nie geken het nie. Toe het hy geweet. Die gene se informasie het deurgeslaan soos vloeistof deur ʼn lap deurslaan.

Die stadsaal is soos ʼn long vol vars lug. Sommige aande dra digters hulle werk voor. Ja, hulle dig selfs oor hulleself - oor hulle jare lange Onbekendheid, Ongekendheid. Dit is soos ʼn blom wat weke lank gewag het vir die regte oomblik. Daardie oomblik was Volmaan. Volmaan het uiteindelik hulle slapende siel kom haal.

Selfs ʼn kerk en ʼn stadion word uit die murasies van die Aardmense gevorm. Soos wat graffito bestaande geboue herversier. Nuwe vorme wat oor ou vorme afgedruk word. Binne maande het die lewe in Vrywater begin uitrank. Vanaf ʼn paar geboue het die res van die stad begin versprei. Verder en meer en meer. Daar is selfs die eerste paar kinders gebore. Die nuwe geslag wat nie van die ou wêreld met sy ontkenning en agterstraat geheime sou weet nie.

Marinus het tog nog na die oppervlak gestaar. Hy het soms nog onrustig gevoel. Wat sou die Aardmense van die plek dink? Beplan hulle iets of wil hulle liefs van die soutwaterstad vergeet? Hulle lewe was soos die lewe in die Koue Oorlog: alles het voortgegaan, maar die tande van die missiele was gereed om enigiemand te verskeur. Die gevaar is altyd daar en sal altyd daar wees dat die Aardmense in hulle hordes in die soutwater-Eden sal afduik. Marinus weet dit kan gebeur. Enige dag, enige uur. Enige oomblik.

Maar vir eers is daar die Nou.

En vir die vryheid van die Nou, leef hy.

1. Marinus, Latynse naam, beteken "van die see".