Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Apfelstrudel


Francois Loots - 2009-04-16

“Apfelstrudel,” runnik Adolf. Adolf runnik altyd "Apfelstrudel". Al bedoel hy slaaikoppe of lusern, dat die seeluggie vandag lekker koel waai, of dat die Duitse eienaar van die kleinhoewe terug uit Suidwes is.

Soms korrigeer Hendrik hom, want hy hoor die Duitser en die Engelse vrou wat die kleinhoewe se huis met hom deel, altyd van Namibië praat. Adolf hou nie daarvan om korrigeer te word nie en stamp dan sy voorpoot hard teen die grond en runnik: “Apfelstrudel!"

Gewoonlik laat Hendrik hom egter met rus. Adolf is immers langer as Hendrik hier en wanneer hy in die bui is, maak hy Hendrik so ver as moontlik touwys. Nie dat Adolf veel meer weet as wat 'n perd met die blote oog kan sien nie: die lang reghoekige perdekamp. Aan die huis se kant 'n hoë draadheining, 'n ewe hoë klipmuur aan die kant wat teen die berg se hang af kyk, oor 'n grondpad teen die hang af, 'n kusdorpie, 'n plakkerskamp, die groot oop see.

“Waar is ons eintlik?” vra Hendrik vir Adolf tydens een van Adolf se goeie buie.

“'n Kusdorpie,” antwoord hy egter kortaf .

“En die tyd?”

“Kan jy nie sien hoe hoog die son al staan nie?”

“Ek bedoel die jaar.”

“Apfelstrudel.”

 

 

Miskien is hierdie die hel, besluit Hendrik, want die kos is nie goed genoeg vir 'n hemel nie. Die Engelse vrou bring een keer per week vir hulle 'n swart, papperige brousel. Sy bring dit met 'n kruiwa na die perdekamp toe, die brousel bo-op in 'n drom. Soms maak sy eers hulle voerbak skoon voordat sy die brousel daarin leegmaak. Teen die tweede dag maak die vlieë daarop nes en teen die derde het 'n kors reeds daarop gevorm.

“Apfelstrudel en Mandelkuchen,” mor Adolf altyd wanneer hy soggens met sy poot aan die kors staan en kap, want buiten vir 'n lappie gras en bitter fynbos, is hier nie iets anders om te eet nie. Wanneer die Duitser op die kleinhoewe is, kom gooi hy af en toe vir hulle 'n baal droë lusern. Maar wanneer hy weg is – Adolf sê natuurlik Suidwes toe – is daar net die brousel, die lappie gras en die bitter fynbos.

Soms bring die Engelse vrou vir hulle groente: 'n bossie wortels, 'n paar slaaikoppe, of sommer net skille. Dit gebeur deesdae al hoe minder, want sy en die Duitser stry elke keer daaroor wanneer hy weer tuis is. By tye dra die windjie hulle stemme vanuit die huis perdekamp toe en dan hoor Hendrik hoe sy hom toesnou dat hy haar nooit betaal nie.

“Verdomde Yorkshire-poeding,” krap Adolf dan met sy voorpoot op die grond.

Selfs wanneer sy vir hulle niks bring nie, bly hulle aan die stry en soms sien Hendrik hulle twee saans deur 'n venster. Sy gaan sit sommer bo-op hom, skree ewe wild op hom, met haar borste wat onder die begeleiding van haar stem wild heen en weer swaai. As hulle só stry, mis hy Betsie baie.

Eintlik mis hy haar altyd, of hulle stry of nie. Of die Duitser weer weg en of hy weer tuis is, hy mis haar. Adolf raak op sulke aande aangedaan, want hy kom staan dan skuins agter Hendrik en vee sy agterstewe teen Hendrik s’n. Hendrik hou nie van die gevrywery nie, proes dan ontevrede en gaan staan aan die kamp se bokant sodat hy oor die klipmuur teen die hang af kan staar. Die nabygeleë plakkerskamp, die verder geleë kusdorpie, terwyl hy altyd wonder of sy ook hier iewers is.

Tydens een van Adolf se beter dae vra Hendrik hom of hy dalk weet waar Betsie is.

“Apfelstrudel,” antwoord Adolf hom en voeg by dat Eva 'n aktrise is. “Maar ons vriendskap is platonies,” runnik hy met 'n krap van die voorpoot.

Hendrik swyg; vir hom hoort 'n vrou nie op die verhoog nie. 'n Vrou tooi haar nie oordrewe op nie en stel haar nog minder ten toon. Só 'n gedoente moet 'n staatspresident wel van tyd tot tyd verduur, veral van die opposisie. Maar wanneer hy daarna tuis kom, is daar gelukkig altyd die een of die ander gebak om aan te smul. “Koeksisters,” runnik hy. “En melktert ook.”

“Ek mis Josef nogal,” runnik Adolf preuts hierop en kom vryf met sy agterstewe teen Hendrik. “Ten spyte van wat mense sê, is ons goeie kamerade. Ons sluit selfs verdrae.”

Hendrik proes ontevrede, want hy hou nie van verdrae nie. Wanneer hy sy naam teken, word 'n tuisland gestig en moet derduisende mense verhuis. Daarvoor is geen verdrag nodig nie.

En hierdie gevrywery! 'n Vrou kom eerste. Al moet 'n perd dan van Sondag se oorskiet trifle eet.

“Josef trou nie weer nie,” smeer Adolf vrywend sout in Hendrik se ongemak. “Nie ná sy vroutjie se verraad nie.”

“Verdomde Apfelstrudel,” runnik Hendrik binnensmonds en gee 'n drafstappie van Adolf af weg.

 

 

Hy wat Hendrik is, is nie Josef nie. Nog minder Ivan of Ernst, Cecil of wie ook al, en hulle runnik vir lank nie met mekaar nie. Die Duitser is weer weg en die dae windstil. Die son skroei die laaste bietjie groen uit die kamp se grassies en daar is geen Yorkshire-poeding in sig nie. Selfs die fynbos wat oor die klipmuur peul, lyk droog en hulle watergat is teen die middaguur ontsaglik warm.

Hertzogkoekies dan, sug Hendrik eendag teen laat oggend waar hy peinsend teen die hang af staan en kyk. Lekker soet ystervarkies, brandewyntert en room, of wat van malvapoeding en vla?

Maar dis 'n stil dorpie. Soggens die vissersbote wat uitvaar. Af en toe 'n motor, of jy gewaar iemand te voet van die plakkerskamp af op pad werk toe. Betsie is egter 'n trotse vrou. Sy’s handig en doen feitlik alles self. Of kry net bruin hulp in.

Hy kyk in die lug op. Ver weg vlieg 'n bergarend. Soggens is daar heelwat duiwe en hy hoor dikwels vinke van duskant die huis. Wanneer die vissersbote inkom, waai die wind soms die geskreeu van seemeeue teen die hang op en hy wonder of Betsie 'n voël is.

Iets krap in sy neusgat. Hy proes, klap sy ore en skud sy kop. 'n Swermpie vlieë skater die lug op. Of 'n vlieg dan. 'n By, 'n muggie, 'n tor, selfs 'n luis. Enigiets!

Nee, skud hy proesend sy kop ontkennend. Dis nie sy Betsie nie. Dan eerder 'n mier, voortdurend aan die werskaf, altyd aan die nesmaak. Waarskynlik die edele koningin. Hy moet die miere vra.

“Koeksisters,” sug hy onwillekeurig.

“Apfelstrudel,” beaam Adolf.

Hendrik gee 'n knorrige runnik, skud sy kop en swaai sy stert. Hy’t nie bedoel om vrede te maak nie. Hy sluit nie verdrae nie.

“Die Duitser ontwikkel die kleinhoewe,” laat Adolf van hom hoor. “'n Toeristeplek. Mense bring hulle kinders om na ons te kom kyk.”

“Apfelstrudel!” runnik Hendrik hardop. Hy drafstap opeens onrustig op en af, skraap teen die draadheining en gaan kap met sy voorpoot teen die klipmuur. Hierdie moet hel wees; hel is mos ander perde. Terug aan die bokant draai hy om en peil die muur se hoogte. Hy is energiek. By die Uniegebou gebruik hy nooit die hysbak nie, maar klim altyd die trappe op na sy kantoor toe. Tog vermoed hy dat hy nie sterk genoeg is om oor die klipmuur te kan spring nie. Daarvoor is die kos te min en hy voel te swak.

“Die kinders staan en wys na jou toe,” runnik Adolf aspris. “Met taai spookasemvingers.”

Hendrik runnik weer, lig sy kop, sy voorpote, sommer sy voorlyf ook, maar sy agterbene is swak en gee mee. Hy val, sywaarts, en wanneer hy lê, kyk hy oor die droë gras deur die draadheining. Hy sien geen kinders nie en wonder hoekom hy en Adolf na alles as in die hede verwys.

 

 

“Apfelstrudel!” runnik Adolf keer op keer hardop. Hy bly met 'n voorpoot op die grond kap, terwyl hy teen die hang af gluur. 'n Swart rookwolk hang bo die plakkerskamp en 'n windjie waai dié rook na die kleinhoewe toe. Adolf kap en krap, krap en grou, die lug verdonker vinnig en Hendrik raak meteens aan die hardloop. Op en af, op en af – en hy’s bly oor die opwinding. Die rook beperk sy sig, maar dis nietemin iets om die perdekamp se verveeldheid te onderbreek! Sy oë brand egter en die reuk wat hang-op waai, laat hom onrustig voel.

Droë bos wat brand.

Diervel.

Skilpaddop ook.

En 'n gewemel van stemme word hang-op gewaai. Hulle klink erger as die opposisie se gekerm in die Parlement en nou weerklink daar 'n sirene. Hy wens hy kon sien, maar sy oë brand en die lug is skielik swart. Gitswart, en hy ruik hare wat skroei. Adolf runnik telkens hardop, woorde wat nooit uit Hendrik se perdebek sal kom nie.

En die stank!

Die stank!

Hendrik besef dat dié reuk van sy eie lyf af kom. Perdehaar wat skroei, ruik erger as rubber wat brand, maar Hendrik voel verlig. Dis die einde!

Die einde is hier en miskien verenig dié groot gebeurtenis hom met Betsie. Nogtans hardloop hy steeds op en af, op en af, want die hitte is onverdraagbaar. Hy gaan steek blindelings sy kop in die watergat. Dit help. Hy doen dit weer en wanneer hy sy kop oplig, krul vlamme oor die klipmuur. Opeens kan hy helder dink en op die ingewing van hierdie oënskynlik nugter oomblik besluit hy om reguit in die vlamme in te hardloop.

Bring die einde nader!

Neem hom na Betsie toe!

Hy gee 'n paar verbete hale vorentoe, maar sy agterbene gee mee. As ons net ordentlike kos kan kry, dink hy wanneer hy steier. Hy probeer tevergeefs om regop te kom, want opeens word alles swart.

 

 

Hy hoor stemme. Hy maak sy oë oop. Hulle brand, voel vol as en sand, en hy kyk teen 'n vrou op. Sy dra kakie klere. Op haar hemp se sak is 'n groen embleem wat effens heen en weer beweeg, want sy is opgewonde en praat hardop terwyl sy na hom en Adolf toe beduie.

“Hoe kan jy jou diere ...”

“Maar ek is dikwels ...” Dis die Duitser.

“Maar dis 'n lewe, jy behoort ...”

“Sý versorg ...”

“Maar jy betaal ...” Dis die Engelse vrou en hulle bly mekaar doodpraat.

“Hoe de hel het jy in elk geval ...?”

“Dis nie ek wat die hek ...”

“En jy met jou groot bek ...”

“Luister na my. Dis 'n lewe!”

Hulle stemme maak sy ore seer; buitendien hou hy nie van vrouens op die verhoog nie. Hy wil runnik om ook iets te sê te hê, maar sy keel is seer, sy bek is droog en hy voel beneweld. Bedruk maak hy sy oë toe en laat sy kop sak. Hy sug en dink aan Betsie, aan melktert en aan koeksisters. Dit voel asof hy haar faal, sy volk ook, en met nog 'n sug raak dit weer donker.

Hy sit in sy kantoor. Die gordyne is toegetrek en hy eet koeksisters. Sy sekretaris dra nog 'n bordvol aan. “My vroutjie se gebak,” sê hy spoggerig, glimlag breed en wys sy groot perdetande.

Meteens bars die deur oop en John hardloop die kantoor binne. Astrante klein Nasionalis, maar sulke perde het ons nodig. “Wat 'n klomp stront!” skree John. “Hulle betoog oor pasboeke, maar die polisie skiet hulle vrek!” Boem-boem, beduie John met 'n poot wat soos 'n kamma-rewolwer gedraai is. Hendrik spring op en haas hom na die venster toe. Hy pluk die gordyn oop en 'n brander vuiste, omhoog in die lug, stuur op hom af. Sy koeksisters! dink hy bevange, runnik – en skrik wakker.

Hy ruik vars lusern. Vir 'n lang ruk lê en verlustig hy hom aan dié reuk. Hy droom seker nog, maar wanneer hy sy oë oopmaak, lê daar inderdaad groen lusern reg voor sy neus. Hy draai egter daarvan weg en maak weer sy oë toe. Hy wil nie eet of drink nie. Hy wil liewer in die vuur in spring. Hy wil by Betsie wees.

“Apfelstrudel,” hoor hy Adolf saggies runnik en wanneer hy weer sy oë oopmaak, sien hy hoe Adolf van die lusern met een poot na hom toe skuiwe.

“Afval en kaiings,” prewel hy egter, want sy mond voel taai en droog en die donkerte oorweldig hom weer.

Betsie verskyn. Sy’s inderdaad die koningin van die miere, want sy is goud van kleur, groter as lewensgroot, met twee goue vlerkies wat op haar rug wapper. “Betsie my liefling,” runnik hy verbaas. “Van wanneer af is jy so groot?” Hy is bly om haar te sien en hap-hap met 'n perdebek na haar toe.

Sy’t egter 'n angel, 'n lang dun angeltjie waarmee sy hom sekuur in die nek bykom. “A nee a,” sê sy. “'n Perd hap nie sommer aan 'n koningin nie.”

Hy hyg van seerkry. “Maar Betsie my skat,” kry hy wel geuiter. “Van wanneer af tooi jy jou so op? Met rooi lippe, die melkweg glimmerend oor jou wange en selfs jou oë ...” Hy hyg egter weer, want sy kom hom weer eens met haar angel by. Hy runnik hardop en wanneer hy sy oë oopmaak, kyk hy teen die vrou met die kakie klere en die groen embleem vas. Sy is besig om hom in te spuit en hy skrik. Sy is swart!

“Jy mag dalk dink dat dit net 'n dier is,” sê sy vir die Duitser wat langs haar staan. “Maar dis 'n lewe.”

 

 

Wanneer hy wakker word, ruik die perdekamp anders. Verbrande hout, ja, dit ruik hy nog. En dit voel asof daar steeds as in sy oë, sy bek, sy ore lê. Daar is die draadheining ook nog, hierdie kant die klipmuur, en hy besef dat 'n fyn motreëntjie val. Dit verklaar die reuk van klam aarde en alhoewel stadig, staan hy op.

“Apfelstrudel,” runnik Adolf.

Hy ignoreer Adolf en loop na die watergat toe. Hy drink, alhoewel hy nie weet hoekom nie. Sy oog val op wortels en slaaikoppe, sy nek strek hom vanself daarnatoe uit en hy eet daarvan.

Adolf rumoer opgewonde, maar waar Hendrik se lyf gehoor gee aan honger en dors, voel sy gees afwesig. Smyt my liewers in die vuur, dink hy. Verkoop my aan 'n sirkus waar kinders met taai spookasemvingers na my staan en wys, stel my eerder tereg. Betsie wil my nie meer hê nie; hierdie is beslis die hel.

 

 

Hy staan peinsend oor die klipmuur en kyk. Die berghang is swart en grys, die lug ruik steeds na verkoolde hout en nêrens is 'n voël in sig nie.

Adolf runnik saggies en Hendrik voel hoe hy met sy agterstewe, breër weens al die voer van die afgelope rukkie, teen syne staan en vryf.

Hy draai van Adolf af weg. Ivan of Ernst hou miskien daarvan, maar hy wat Hendrik is, is niemand se speelperd nie. Cecil is genoeg van 'n klad op die Unie se naam!

Dae gaan verby.

Sonsopkoms en sonsondergang.

Soggens vars lusern wat Adolf laat runnik. Bedags skroei die son oor die grys berghang en saans stry die Duitser en die Engelse vrou dat die borste so swaai. En Betsie!

Maar daar is nêrens 'n voël in sig nie. Skaars miere. Net die brandreuk. Miskien is Betsie in 'n nartjie. Of in kaneel. Dalk selfs in strooisuiker, maar hier word net fyn as in jou oë gewaai, selfs wanneer jy hulle toehou.

“Apfelstrudel,” runnik Adolf elke nou en dan, wikkel sy agterstewe en krap met sy voorpoot in Hendrik se rigting. Hy voel seker alleen, maar Hendrik draai keer op keer van hom af weg. So 'n perd is hy mos nie.

 

 

“Apfelstrudel!” bly runnik Adolf en hardloop opgewonde op en af. Elke keer wanneer hy omdraai, beduie hy met sy kop na die grondpad teen die hang op na die kleinhoewe toe. 'n Vragmotor dreun teen dié paadjie op. Adolf hoop seker dat dit sy kameraad Joseph is. Hendrik wens dat dit iemand is wat 'n geskiedenis met hóm deel; iemand soos John. Maar selfs Cecil of Ivan is voldoende. Dan gun Adolf hom ten minste rus en vrede, want so 'n perd is hy darem regtig nie.

Die vragmotor word by die kamp se hek stilgehou, met die agterkant na die hek toe. Die hek word oopgemaak, die vragmotor se klap volg en 'n groot swart perd gee 'n ewe groot sprong by die kamp in. Sy vel glans in die son en met 'n trotse houding ontwyk hy Adolf en Hendrik.

Adolf runnik opgewonde, terwyl Hendrik 'n verbaasde paar treë agteruit gee. Opeens sien hy homself: ook hy het so teen die heining op en af gehardloop. Ook hy het hardop gerunnik dat hy nie hier hoort nie.

Die nuwe aankomeling runnik dat hy nie pap vreet nie. Ook nie tsatsa nie, en hy gebied om te weet waar sy tweede vrou is. “Sy laat my nie soos die ander in die steek nie!” runnik hy.

En hy wat Hendrik is, hy’s verstom. Hy’t op koeksisters en melktert aangedring en gepleit om Betsie te sien. Hy gee opeens 'n breë perdebekglimlag. Ja, so was hy ook. En 'n verlede! As hy opeens in staat is om 'n verlede te eien, sal daar dan 'n toekoms wees?

Hy draai na die hoë klipmuur toe. Ná die afgelope tyd se voer voel hy sterker. En 'n toekoms! Vir moed gee hy 'n denkbeeldige treetjie agteruit en dan begin hy hardloop. 'n Stadige treetjie, 'n groter ene, 'n paar langes ook, voordat hy sy voorbene lig en die krag in sy agterbene speur.