Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Van Bruce tot allerhande ander juice


Theunis Engelbrecht - 2009-04-16

Luisterpaneel: Naas Vermaas, Yvette de Wet, Fritz Brits
Sameroeper en notuleerder: Theunis Engelbrecht

Klik op die CD-omslae om dit nou van kalahari.net te bestel!

CD VAN DIE MAAND

Bruce Springsteen
Working on a Dream
 

 

Met die intrapslag al verkrummel Springsteen enige moontlike weerstand met die epiese liedjie “Outlaw Pete” (al laat die versgedeeltes ’n mens dink aan die wysie van Kiss se 1978-treffer “I Was Made For Loving You”). “Outlaw Pete” is genoeg om haar in hoendervleis te laat uitslaan, sê Yvette de Wet, en dat ’n mens selfs so ver kan gaan as om die woord “hartverskeurend” daarvoor te gebruik. Fritz Brits stem saam. Naas Vermaas, weer, hou niks van Bruce nie. Hy sê dis te hipermanlik en testosteroongedrewe en dat Springsteen heimlik maar patriargale waardes koester. Yvette en Fritz dink Naas is vol kak en as mens Springsteen se musiek deur ’n geslagspolitieke bril wil bekyk, jy wragtig niks beter het om met jou tyd te doen nie.

Working on a Dream skop soos tien muile en dis lekker om tussendeur al die introspektiewe gewroeg en histrioniese geteem van ander kunstenaars musiek te hoor wat ’n mens ’n adrenalienskop gee. ’n Mens voel of jy outomaties meer energie kry as jy luister na liedjies soos “Lucky Day” en “Surprise Surprise”. Dat Springsteen ’n gebore liedjieskrywer is, klink klokhelder uit elke liedjie op. Verdere hoogtepunte is “This Life”, “What Love Can Do”.

Daar is ook genoeg variasie – nie al die liedjies klink soos musiek wat stadionskares sal opsweep tot euforie nie. “Good Eye” is tradisionele blues, maar Springsteen slaag daarin om ’n eiesoortige klank daaruit op te tower met ’n baie vindingryke verwerking en die manier waarop die ingenieur sy stem gemeng het. (Dit laat haar bloed krul, sug Yvette verruk.) Die stadionrock word ook afgewissel met ’n sagter klank, soos op “Tomorrow Never Knows”, waarvan die ongekunstelde eenvoud ’n mens se hart steel (sug Yvette weer eens verruk; en almal behalwe Naas stem saam – hy sê dis ’n soetsappige ou nommertjie met simpel, sentimentele woorde).

Oor “Queen of the Supermarket” en “Kingdom of Days” was daar die minste geesdrif onder ons paneel. Daar was eenstemmigheid dat die storie van die man wat verlief raak op die meisie in die supermark, maar baie yl is. (Aan die ander kant moet mens erken dat nie elke rockliriek ’n stukkie voortreflike woordkuns kan wees nie.)

Daarteenoor is “The Last Carnival” weer ’n meesterstuk, ’n grootste liedjie, vintage-Springsteen wat die toets van die tyd sal deurstaan en waarvoor ’n mens nie maklik moeg sal word nie. Die bonussnit, “The Wrestler”, is ook ’n onsterflike juweel (sug Yvette verruk en almal, selfs Naas, stem saam).

In ’n musiekwêreld waar die meeste albums vervlietende waarde het, is Bruce Springsteen se Working on a Dream ’n album wat tot in lengte van dae ’n moerse plesier sal wees om na te luister en wat bevestig dat hy een van die grootste rockkunstenaars van ons tyd is.

 

Beck
Modern Guilt

 


’n Nuwe album van Beck is altyd groot nuus en hy het reeds briljante, belangrike albums soos Mellow Gold, Odelay, Mutations, Midnite Vultures, Sea Change, The Information en Guero op sy kerfstok.

Beck word allerweë gereken as ’n musikale genie en die slim manier waarop hy uiteenlopende invloede en style – van funk, hiphop, R&B en country-rock tot lo-fi, soul, rock, blues, elektronika en psigedelika - omroer tot ’n smeltkroes van iets heeltemal nuuts en eiesoortigs wat ’n mens nie maklik kan etiketteer nie, is ’n bewys van sy fenomenale kreatiwiteit. Oor sy lirieke sal ’n mens boonop ’n verhandeling kan skryf, meen Fritz, en die idee klink glad nie vergesog nie.

Omdat Modern Guilt net ’n skamele 33 minute lank is, voel ’n mens aanvanklik dis net ’n quickie en dat Beck jou meer waarde vir jou geld kan gee. Liedjies soos “Chemtrails” en “Replica” is onluisterbaar, en wat die klank en aanslag oor die algemeen aanbetref, kry ’n mens ook ’n gevoel van déjà-vu.

Die snitte wat bo die ander uittroon, maak dit egter die moeite werd – soos “Gamma Ray”, die titelsnit, “Youthless”, die uitstekende “Soul of Man” en die broeiende “Volcano”. Dit is vyf liedjies uit tien, wat ’n mens laat vermoed jy sou jou geld baie wyser bestee as jy bloot die MP3’s op die internet sou koop waarvan jy werklik hou as om die hele album aan te skaf. As versameling kom “Modern Guilt” nie naasteby naby aan die hoë standaard wat Beck op sy vorige albums gestel het nie.

 

U2
No Line on the Horizon

 


Al dink almal op die paneel U2 is goed en meestal selfs briljant en een van die grootste rockgroepe van ons tyd, is daar ’n gevoel dat Bono met die jare irriterend geraak het met al sy missies en messiaanse pogings om die mensdom van verderf en ondergang te red. En ’n mens raak boonop gou moeg vir kunstenaars wat overexpose word in die media.

Toe hul nuwe CD uitgekom het, was daar ’n mate van voorbehoud onder ons paneel. Met die eerste liedjie – die titelsnit – het Bono en U2 egter reeds weer die harte van ons paneellede (behalwe Naas Vermaas) gesteel. Ons vermoed Edge se kitaarspel het baie daarmee te doen, asook die feit dat Bono oudergewoonte sing asof sy lewe daarvan afhang en dit uit sy hart kom. Met die tweede snit, “Magnificent”, het die paneel se geesdrif weer aansienlik afgeplat – vir hulle is liedjie bra gemiddeld en oninspirerend.

Aan die begin dink ’n mens U2 speel pingpong met die luisteraar met dié CD, want die derde snit, “Moment of Surrender”, het ons weer byna weggeblaas so het ons daarvan gehou. Woorde soos “fabulous”, “fantasties”, “roerend” en “onvergeetlik” het opgeduik toe die paneel daaroor gepraat het. Goeie nuus is dat die hoë peil voortduur – al ander liedjie wat geen indruk gemaak het nie, is “If I don’t go crazy tonight”. Maar die res maak baie op daarvoor – veral “Stand Up Comedy”, die elegiese “White as Snow” en “Cedars of Lebanon”.

Die legendariese produksieleiers en komponiste Brian Eno en Daniel Lanois het baie van die liedjies saam met U2 geskryf en was ook verantwoordelik vir die produksiewerk. ’n Mens vermoed as U2 hierdie CD sonder hulle hulp gemaak het, dit nie so ’n sterk indruk sou gemaak het soos wat dit doen nie. Dit is egter duidelik dat U2 nog lank nie op die afdraande-pad is nie.


Jason Mraz
We Sing. We Dance. We Steal Things.

 


Dit is Mraz – ’n Amerikaner met Tsjeggiese voorouers – se derde CD, maar die eerste een wat ook buite Amerika die aandag trek. Dit het begin met die treffer “I’m Yours”, wat deesdae gehoor word op al wat radio- en TV-stasie is. Die res van die album bewys dat Mraz se sukses met dié treffer nie ’n one-hit-wonder is nie – die ander liedjies maak dit duidelik dat ons hier te doen het met ’n baie intelligente en veelsydige kunstenaar. (Dis nie om dowe neute dat dit vir twee Grammys benoem is nie.)

Moenie ’n gedawer, ’n gedonder, ’n gedruis en ’n lawaai verwag nie – Mraz se musiek is ingetoë, sensitief en sielvol. Hy is ook ’n uitstekende liedjieskrywer – iets wat die wêreld se verskil kan maak in vandag se oorversadigde musiekbedryf en wat ’n kunstenaar bo die vaal, gemiddelde res uitlig.

Liedjies soos “Love for a child”, “Details in the fabric”, die uitstaande “Coyotes”, “Only Human”, “The Dynamo of Volition”, “If it kills me” en “A beautiful mess” is tien maal beter as 95 persent van wat ’n mens deesdae op MTV, VH1, MK en 5FM hoor. Die album het vir Yvette, Fritz en Naas so beïndruk dat hulle nou ook Mraz se vorige twee albums – Waiting for my rocket to come en Mr A–Z – wil gaan koop. We Sing. We Dance. We Steal Things. is een van daardie aangename verrassings wat nou en dan opduik. Pretensielose, eerlike musiek staan altyd uit bo die res.

 

Robert Plant & Alison Krauss
Raising Sand

 


Op die oog af is Plant en Krauss ’n ongewone kombinasie – hy is ’n rocksanger en het vir Led Zeppelin gesing, en sy is ’n country-bluegrass-sangeres en vioolspeler. Die produksieleier was die legendariese T-Bone Burnett (’n man wat ook die wonderlikste kitaarklanke en soniese landskappe kan optower), en die resultaat is ’n album wat nie om dowe neute nie vanjaar met vyf Grammys bekroon is (onder meer vir album van die jaar en beste kontemporêre folk/Americana-album).

Raising Sand is al in Oktober 2007 uitgereik en slegs duur, ingevoerde eksemplare was tot dusver beskikbaar. Na die album se Grammy-sukses het Universal Music begin om dit ook in Suid-Afrika te druk en teen ’n laer prys beskikbaar te stel.

Raising Sand staan viervoet in die Americana-tradisie – die soeke na roots, onder meer die herontdekking van meer aardse, akoestiese klanke. As ’n mens op die internet gaan kyk na wat die reaksie op die album was toe dit destyds uitgereik is, sien jy die album het selfs sy eie Wikipedia-blad. Daar lees jy dit word geloof vir die donker, broeiende, kragtig evokatiewe klank daarvan en word veral Burnett geprys vir die musikale teksture wat hy geskep het. Hul harmonieë word as “delicious” beskryf, en Krauss se sang as "spellbinding", "honey-sweet", "weepy", "saccharine" en "haunting". Plant se sang word beskryf as “orgasmic” en “slithering”.

Ons paneel stem met dit alles saam. Roerende ballades soos “Sister Rosette Goes Before Us”, “Through The Morning, Through The Night”, “Trampled Rose” en “Nothin’” (laasgenoemde tweede inderdaad baie haunting!), word afgewissel met vinniger, meer energieke liedjies soos “Gone Gone Gone”, “Fortune Teller” en “Your Long Journey”.

Ons paneel is dit eens dat hierdie een van daardie rare albums is wat 10 uit 10 kry.

 

Ray La Montagne
Gossip in the Grain

 


La Montagne word vergelyk met kunstenaars soos The Band, Van Morrison, Nick Drake en Tim Buckley. Al gee vergelykings soos dié vir ’n mens ’n goeie idee van watter klank en aanslag jy kan verwag, is La Montagne nie ’n blote na-aper van dié mense nie.

La Montagne het ’n interessante verhaal. Hy het tot in die 1990’s tot 65 uur ’n week in ’n skoenfabriek gewerk. Een oggend halfvier het hy voor ’n vroeë skof Stephen Still se liedjie “Treetop Flyer” oor die radio gehoor, daarna vir hom Still se album Stills Alone gaan koop, en besluit om ’n sanger en liedjieskrywer te word. Hy het by die skoenfabriek bedank, en Gossip in the Grain is al sy derde album (die voriges was Trouble en Till the Sun Turns Back).

Die skoenbedryf se verlies was inderdaad die musiekwêreld se wins. La Montagne is een van daardie kunstenaars vir wie dit nie daaroor gaan om ’n stinkryk ster te word en soveel publisiteit as moontlik te kry nie. (Hy staan byvoorbeeld nie onderhoude toe nie.) Hier gaan dit oor die liefde vir musiek, oor kreatiwiteit; en hy sing en skryf uit die hart uit en nie berekend nie. Sy sagte rasperstem val ook besonder aangenaam op die oor, sug Yvette verruk. Hy werk grotendeels in die folk- en folkrock-styl en hierdie album hoort ook beslis in die Americana-kategorie. Sy musiek loop oor van skoonheid – luister maar na “Sarah”, die titelsnit en “Winter Birds” – en hy kan ook gatskop as hy wil sonder om ’n mens se ore van jou kop af te skree (soos op “Meg White” en “Henri Nearly Killed Me (It’s a Shame)”.

Gossip in the Grain is een van daardie albums wat meer op jou groei elke keer as jy daarna luister en jou elke keer dieper in sy web intrek. Albums soos dié is altyd die lekkerste om na te luister en bied veel meer waarde vir geld as al die vervlietende pop en rock wat net vir die kasregisters gemaak word.

 

The Cure
4:13 Dream

 

Goeie genugtig, dis moeilik om te glo dat hierdie Britse groep – wat beskou word as die eerste alternatiewe Britse groep wat kommersiële hoofstroomsukses behaal het - al 35 jaar lank musiek maak (al het hul debuutalbum eers in 1979 verskyn). 4.13 Dream is hul dertiende album, al het die groep benewens sanger Robert Smith nie meer dieselfde lede as destyds nie. Daar is mense (soos Naas Vermaas) wat volhou dat die groep sy piek bereik het met die albums Kiss Me Kiss Me Kiss Me (1987) en Disintegration (1989) en dit nie sedertdien geëwenaar het nie. Dan is daar ander (soos Fritz Brits) wat verskil en sê dis net as ’n mens The Cure aan kommersiële hoofstroom-maatstawwe meet dat jy sal sê hulle is al oor die muur.

Trouens, The Cure het voortgegaan om boeiende, donker, broeiende musiek te maak sonder om hulle te steur aan kommersiële doelwitte. Hul later albums was dalk nie so onmiddellik toeganklik soos genoemde twee nie, maar aanhangers wat volhard het en die musiek geduldig lagie vir lagie ontgin het, is uiteindelik ryklik beloon met wat ’n mens totale satisfaksie kan noem. 4:13 Dream is egter maklik die beste album wat The Cure in die laaste tien jaar uitgereik het en die soort rock wat hulle maak, is baie interessanter en waagmoediger as dié van maklik 90 persent van ander rockgroepe. Op so baie CD’s kry ’n mens deesdae net so een tot vyf liedjies wat werklik die moeite werd is en die res is middelmatige tot ondergemiddelde vullers. Dis iets wat ’n mens nie van 4:13 Dream kan sê nie. Dit trek ’n mens van begin tot einde in en as jy dit in een sitting deurluister, is jy skoon uitasem na die tyd. En van hoeveel CD’s kan ’n mens dit sê?

 

Die Heuwels Fantasties
Die Heuwels Fantasties

 


Die luisterpaneel wat vir hierdie aflewering van Sound Bites ingespan is, luister nie graag na Afrikaanse musiek nie. Trouens, hulle haat dit – en om in te gaan op die redes daarvoor kan straks vir ’n interessante aflewering van sy eie sorg, maar gelukkig het die notuleerder en sameroeper genoeg gesonde verstand om nie te gaan staan en boek hou van al hul irritasies oor Afrikaanse musiek nie.

Hulle wil dit nietemin op rekord stel dat daar ’n nuwe Afrikaanse liedjie is waarvan hulle baie hou, en dit is “Die Vraagstuk” deur ’n groep met die naam Die Heuwels Fantasties en ’n sanger met die naam Jack Parow wat die woord voer. (Interessant genoeg is “Die Vraagstuk” deur die jeugkoerant Jip aangewys as die swakste liedjie op die gelyknamige album van Die Heuwels Fantasties.) Vandeesmaand se luisterpaneel hou trouens so baie daarvan dat hulle daarop aangedring het dat die sameroeper en notuleerder die woorde van die liedjie moet gaan soek en hier saam met hul kommentaar publiseer. So gesê, so gedaan – maar o wee, die woorde in die CD-boekie is in wit letters op ’n bruin agtergrond en onleesbaar. ’n Internet-soektog het egter die volgende opgelewer:

ek soek kafeïen
ek soek nikotien
ek soek my steak gaar
ek soek ’n meisie wat wag as ek dronk uitstap by die bar <
ek soek ’n enkel
ek soek ’n dubbel
ek soek ’n triple sonder vrae
ek soek ’n wensmasjien

so as ek vra is alles kla' daar
ek soek meisies sonder high heels
ek soek meisies sonder base
ek soek ’n meisie wat saam my staan en vir almal dit wys
ek soek regte vriende, vriende wat deur alles staan by my
ek soek vriende wat heeltyd by dieselfde styl bly
ek soek my jeans los
ek soek my hare een kleur
ek soek ’n lewe sonder dwelms sodat ek weet wat gebeur
ek soek dronk inhibisie
ek soek uitkyk en ’n visie
ek soek minder wannabees en meer mense met ’n missie
ek soek minder MTV
ek soek mense wat in hulle psige delf
ek soek net fokken mense wat fokken dink vir hulle self
ek soek goeie waves
ek soek paarties op die strand
ek soek ’n yskoue bier en ’n joint in my hand

die mens is ’n tropdier
dis saamwerk wat klop hier
ons het nie meer die energie
om hierdie fakkel agterna te jaag nie
geen vrae op hierdie antwoord nie
ons het nie meer die energie nie

ek soek kruise
ek soek labels
ek soek engele
ek soek duiwels
ek soek mense met messe
ek soek mense met bybels
ek soek mense wat hou van trip-hop
ek soek mens wat hou van trance
ek soek mense wat hou van hip-hop en wat langarm dans
ek soek poppies
ek soek gangsters
ek soek jocks
ek soek boere
ek soek mense wat drink, kots en kruip oor die vloere
ek soek paarties by evol
ek soek paarties by shack
ek soek paarties by danskraal
ek soek paarties by my flat
ek soek castle
ek soek hunters
ek soek port
ek soek wyn
ek soek die cane-trein
ek soek bottels brandewyn
ek soek water
ek is dors
ek soek tjops

ek soek wors
ek soek mense wat nie kwaad raak nie as ek mors
ek soek liefde
ek soek haat
ek’s bly
dan is ek kwaad
ek soek mense wat by my kuier tot dit laat raak
ek soek drinking games waar niemand ooit wen nie
ek soek 'n bar waar ek kan drink waar niemand my ken nie

so wie gaan by my staan in die koue oggendryp
wie gaan by my staan as die donker suutjies inkruip
wie gaan lê in my arms as die tortelduiwe roep
as die son opstaan op soek na vars bloed
want vriende bly vriende maar jy staan eintlik alleen
as die donderweer slaan staan jy alleen in die reën
as die vloede kom soek jy alleen vir ’n brug
ek stap in donker strate op soek na ’n straatlig
die enigste ligte in die nag is die vure van hel
die enigste vriende wat jy het, het al lankal geval
in die donker ure skink net duiwels nog 'n dop
satan sit saam sy kinders en kyk hoe kom die son op

as ek op die dood is wie gaan langs my bed sit en vir my bid
wie gaan in die grys mis blomme op my graf sit

ag fokkit
kla’ geworry
ek's kla’

as jy my soek ek's die ou met die snor by die bar.

Die paneel hou so baie daarvan dat dit hulle nie eers irriteer dat die sanger alle aa-klanke as ô-klanke uitspreek nie. (Soos "wôter" in plaas van "water", "lôter" in plaas van "later", ens. Die aksent laat Yvette vermoed dat die sanger, Jack Parow, Engelssprekend is.)

Die paneel het so baie na “Die Vraagstuk” geluister dat hulle nie baie tyd oor gehad het om veel na die res van die album te luister nie. Hulle sê egter wat hulle hoor, is vir ’n verandering – en vir die eerste keer sedert ná Foto Na Dans - weer ’n lekker vars, oorspronklike, eiesoortige klank. Die ander liedjie naas “Die Vraagstuk” wat die paneel die meeste op hol gehad het van lekkerkry, is “Hyg Duiwel”, waarop Laudo Liebenberg van aKing sing. Die melodieë op die hele album is sterk en meesleurend (en die gevoel intens op “Hyg Duiwel”), sug Yvette verruk, en Fritz meen Die Heuwels Fantasties verskuif die grense van die (tot dusver relatief min) elektroniese musiek in Afrikaans. (Net Naas Vermaas meen Die Heuwels Fantasties “is maar net Fokofpolisiekar met ’n synthesiser en ’n drumbox, maar die res van die paneel het hom amper gemoer toe hy dit gesê het.)

Benewens reeds genoemde twee liedjies is daar ook baie ander liedjies op die album wat die paneel met die ter perse gaan ter elfder ure nog op die nippertjie groot plesierigheid en opwinding laat ervaar sonder dat hulle gesuip of gerook of horny is (soos “Nare kaskenades”, “Leja”, “Vinger alleen”, “Oorlewing 101”, “Klein Tambotieboom”, “Sonrotse”, “Pille vir Kersfees” en “Pêrels en lewensredders”). Baie mense dink verkeerdelik dat elektroniese musiek eentonig kan raak en dat dit sielloos is omdat dit deur masjiene en rekenaars gemaak word – en in die verkeerde hande kán dit. Maar Die Heuwels Fantasties ken hulle storie; hulle is nie bang om avontuurlik en eksperimenteel te wees nie. Volgens ons paneel is Die Heuwels Fantasties en Foto Na Dans die beste en oorspronklikste Afrikaanse groepe van die oomblik, en hulle wil dit graag pertinent op die rekord stel. Dit word aldusdanig genotuleer.

 

The Fray
The Fray  

 

Yvette is verbysterd. Sy het nog nie van The Fray gehoor nie, en toe sy op Wikipedia gaan kyk wat hulle oor die groep te sê het, begin haar Wikipedia skielik Afrikaans praat met haar! En hulle sê: “The Fray word gereeld vergelyk met Coldplay, maar hulle sê self dat hulle die meeste beïnvloed is deur musiekgroepe soos U2, Better Than Ezra en Counting Crows. Alhoewel hulle dikwels lirieke sing wat na die Christelike kant klink, ag hulle nie hulself as 'n Christelike groep nie.”

Nou kyk, as ’n mens beïnvloed word deur groepe soos U2 en Counting Crows, moet jy jou storie ken as jy nie soos ’n blote navolger of nabootser wil klink nie. In The Fray se geval is dit darem nie so nie – hulle slaag daarin om genoeg van ’n eie identiteit te hê (al is veral Counting Crows se invloed wel op plekke te bespeur). The Fray is egter nie baie avontuurlike liedjieskrywers nie en daar is niks wat hierdie album bo die middelmatige uitlig nie, al is die produksiegehalte hoogstaande, die musikante baie vaardig en kan sanger Isaac Slade sing. Daar is heelwat aansteeklike liedjies, maar ’n mens voel nie dis ’n album wat ’n blywende indruk gaan laat nie.

 

Chris Cornell
Scream

 

Ons paneel was nogal geskok oor hierdie album. Hulle hou almal van Chris Cornell – as sanger van Soundgarden en Audioslave het hy gewys dat hy een van die rocksangers is wat berge kan laat verkrummel met sy musiek. Maar wat gaan nou hier aan? Die foto’s in die CD-boekie wys hoe hy elektriese kitare stukkend slaan. Sies! Die stukkendslaan van kitare is al so holrug gery as ’n foefie en gebaar van aggressie, en boonop kos daai instrumente duisende rande en kon Cornell dit eerder vir mense gegee het wat dit nodig het; of as hy dan klaar is met rock, sy kitare opgeveil en die geld vir liefdadigheid gegee het.

Boonop het Cornell vir die produksieleier Timbaland nadergeklap om met sy nuwe album te help. Beteken die foto’s in die CD-boekie dan inderdaad dat Cornell ’n fokjou-middelvinger vir rockmusiek wys?

As ’n mens na die CD luister, is jy bevrees die antwoord is ja. As sodanig is ’n mens uit die staanspoor bevooroordeeld. As jy hou van Timbaland, sal jy die CD dik stukke smaak. Timbaland self beskou dit as sy beste werk tot dusver. Die vraag is: Mag ’n mens dan nie ’n kunstenaar toelaat om ’n heeltemal nuwe rigting in te slaan nie? Trouens, dalk moet ’n mens dit juis van hulle verwag, mits hulle dan gehaltewerk lewer. Scream val tussen twee stoele deur. As jy ’n Soundgarden- en Audioslave-liefhebber is (soos Fritz Brits en Naas Vermaas), sal die album vir jou ’n marteling wees. Maar as jy onbevange luister en nie Cornell se vorige werk ken nie (soos Yvette de Wet), kan jy dit geniet – ten minste is Cornell nie bang om te eksperimenteer nie en sy onmiskenbare stem is steeds deeglik daar, al is dit nie noodwendig in sy volle glorie nie. Timbaland is darem nou ook nie dom of onervare nie, en snitte soos “Sweet Revenge”, “Never Far Away”, “Enemy” en “Other Side of Town” is nie te vrot nie. Hierdie is dus een van daardie albums waarvan jy hou of wat jy haat – en net jy self kan besluit, ons kan dit nie vir jou doen nie. Maar dalk, net dalk, kan dit op jou groei as jy daarin slaag om van jou vooroordele ontslae te raak.

 

30H!3
Want

 

Hier het jy basies elektronika gemeng met gangster rap en hip-hop. Gangster rap asook gewone rap is nie ’n genre waarin Sound Bites se huidige paneel goed onderlê is nie, omdat dit volgens hulle te monotoon meganies kan raak. Teen alle aanvanklike weersin en vooroordele in het hierdie CD toe egter daarin geslaag om die (teen hierdie tyd reeds vuisvoos) lede van ons paneel te prikkel. Hulle rapporteer dat dit niks verstandsverbysterend is nie, maar lekker is om na te luister as jy lus is vir ’n bietjie energie, adrenalien, genadelose ritme en aggressie. En tussendeur al hierdie gedawer en gedonder verras 30H!3 met ’n verleidelike liefdesliedjie soos “Still Around”. Die paneel het die sameroeper en notuleerder opdrag gegee om op die internet navorsing te gaan doen oor wie hierdie groep 30H!3 nou eintlik is, maar hy het besluit fok hulle, hy is nie hulle slaaf nie, hulle kan dit self gaan doen – volgens hom hoef mens niks oor die groep te weet nie, dit is nie onontbeerlik vir jou algemene kennis nie. Dis genoeg om net die musiek te geniet.

 

The Red Jumpsuit Apparatus
Lonely Road

 

Daar is so baie generiese rock dat die paneel die meeste van daardie CD’s na net die eerste drie liedjies gillend in die asblik gooi. Tog het hierdie groep vir hulle om een of ander rede uitgestaan – ’n mens neem aan oorspronklikheid is wat hulle van die res onderskei – en die paneel wil dit pertinent stel dat mense wat hou van die bruisende energie van jong rock wat gemaak word deur jong jagse mannetjies gerus ondersoek kan instel na The Red Jumpsuit Apparatus. Die liedjies – veral “No Spell”, “Pen & Paper”, “Pull Me Back”, “Step Right Up”, “Believe” en “Godspeed” – bewys dat hierdie groep uitstaan bo die middelmatige smeltkroes waarmee die res ons probeer louter.

 

The All-American Rejects
When The World Comes Down

 


Nog ’n rockalbum wat ’n klein bietjie kop en skouers uitstaan bo die generiese res, is dié een van The All-American Rejects, ’n groep van Oklahoma. Veral die liedjies “Gives You Hell”, “The Wind Blows”, “Real World”, “Mona Lisa” en “Another Heart Calls” staan bo die res uit, en dis ’n goeie vraag of ’n mens bereid is om ’n hele album aan te skaf net ter wille van vyf liedjies. Die demo-weergawes van ses van die liedjies word darem ook as bonussnitte aangebied, en dis interessant dat van hulle – veral die meer akoestiese weergawes - interessanter is as die finale produkte, soos in die geval van “Damn Girl”. Volgens die paneel is “Gives You Hell” en “Real World” genoeg om enige zombie uit ’n limbo te blaas, en daarom kry hierdie album die groen lig van hulle (al is party van hulle se breine al teen hierdie tyd mirror balls.)

 

Madeleine Peyroux
Bare Bones  

 

Volgens redelik betroubare bronne tot ons beskikking kom Peyroux uit ’n familie met ’n akademiese agtergrond en is/was haar ouers hippies. Sy het in haar tienerjare begin sing nadat sy betower is deur die straatmusikante in die Latin Quarter in Parys, Frankryk. Bare Bones is haar vyfde solo-album. Dit volg op Dreamland (1996), Careless Love (2004) en Half the Perfect World (2006) – albums waarmee sy ’n stewige indruk gemaak het, in so ’n mate dat sy al selfs met Billie Holiday vergelyk is. In 2007 is sy ook deur die BBC as die beste internasionale jazzkunstenaar vereer.

Peyroux se stem en ligte jazz is heel verleidelik. Dat sy ’n uitstekende kunstenaar is, ly geen twyfel nie. Sy slaag daarin om musiek vol atmosfeer en ruimtes te skep. Dit is waarskynlik kragtiger as die kragtigste kalmeerpil op die mark en as jy nie oppas nie, kan dit jou selfs aan die slaap laat raak, maan Naas Vermaas en Fritz Brits. Yvette de Wet dring egter daarop aan om die laaste woord(e) in te kry deur te sê dié album spreek van diepte, skoonheid en rypheid.

 

Renee Olstead
Skylark  

 

Olstead se debuutalbum het verskyn toe sy ’n skrale 15 was. Sy word vanjaar 20, en dis steeds so duidelik soos daglig hoekom sy ’n natuurlike wonderkind is – ’n mens kan skaars glo dat so ’n jonge dame sulke jazzmusiek kan sing wat dit laat klink of sy alreeds alle moontlike ervaring in die wêreld opgedoen het. Sy is geïnspireer deur Ella Fitzgerald en Sarah Vaughan, en as jy hou van die soort Big Band-jazz wat deur Groot Dames soos dié gesing is, sal jy beslis aanklank vind by Olstead se Skylark.

Vir Naas Vermaas raak dit alles darem op die lange duur net ’n bietjie te smooth en soetlik (hoe kan dit anders met ’n produksieleier soos David Foster en sy voorliefde vir strelende strykerye, al moet ’n mens hom ’n grote pluimpie gee vir sy verwerking van “My Baby Just Cares For Me”). Fritz Brits sê dit is entertaining, maar niks uitsonderliks of unieks nie. Yvette de Wet sê as sy op ’n Saterdagaand na hierdie CD luister, is sy in so ’n romantiese stemming dat sy sommer haar fyn swart onderkleertjies aantrek.