Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Poësie | Poetry

Jan


Anna-Marie de Vos - 2006-11-28


Vir Jan

 
Ek en my stokou hond
my blinde hond
my dowe hond
 
my hond (Ma se hond, liewe hond),
loop vir oulaas langs die see.
 
Sy maer ou lyf draf skuins, ribbekas eerste
ál teen die wind die branders
kom hy eers agter ná die tyd.
 
Sy oë vaaldof
verdwaas
gekatarak
vang nou en dan ‘n vlietende flits
miskien selfs net die verbeelding
van ‘n seemeeu wat swiepend
laag
duik.
 
Selfs nou nog tog die begeerte
sy agterlyf kom laaste agterna as hy dié
najaag.
 
Vir oulaas
loop ons hier langs die see.