Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Oupa gaan hemel toe


Pienkes du Plessis - 2009-04-09

Oupa gaan reguit hemel toe, g'n kwessie nie. So praat ʼn pa en ʼn ma en nog ʼn ma en ʼn ouma en nog ʼn ouma. 'n Paar ander in die familie sê as Oupa by die Poorte kom, stap hy regdeur tot by die troontrappe heel binnekant sonder dat ʼn hand op hom gelê word. En alles net oor die ding met die seunskinders in die Moordenaarskaroo wat hy gedoen het.

Ek is Oupa. Dis van my wat hulle praat. En dis ek wat die ding van die Moordenaarskaroo met die seunskinders gedoen het en waarvoor ek nou moet hemel toe.

As ek daar by die Poorte aankom, gee Petrus my net so een kyk en sê hoor hier, is jy nie die oupa wat daai een vakansie sy kleinseuns vir 'n week na 'n jagkamp toe gevat het nie? Jy het hulle ma's van hulle verlos toe hulle so vrek stout by die huis was? Moordenaarskaroo toe gevat die tyd?

Dis hy, erken ek, ek is daai oupa.

Petrus kyk my so oor sy bril aan: Hulle 5 dae lank opgepas, geleer skiet, kosmaak, vuurmaak, houtkap, bed opmaak, skottelgoed was en bok afslag?

Ek knik.

En sterre kyk en leer met 'n sweep klap, bakkie in die veld dryf en messe slyp?

Einste hy. En ek knik weer.

Wou ook al sê. Stap jy sommer reguit deur.

Toe druk Petrus op so 'n paar knoppe op die rekenaar voor hom, beloer die skerm en sê so oor sy skouer vir die outjie met sulke mooi boogvlerke wat hom help, lyk my: Vat hom penthouse toe, op die 766ste vlak, wys hom alles. Mooi uitsigte daarvan af: Kaappunt links, Capri regs en aan die anderkant die Himalajas. Die rooi duine by Soussosvlei lê net 'n bietjie verder terug. Baie rugby tapes in die TV-kas, soek maar net op die Indeks. Hans Brewis se drie op Ellispark, en Frik s'n teen die Leeus op Loftus, Joggie Jansen se tekkel op Cotterell en ook nog van Francois en Madiba met die Wêreldbeker in '95, plus baie Super14's. Schalk Burger en Victor Matfield-hulle. Die skietbaan is net links by jou voordeur verby, dag en nag oop, enige kaliber handgebou in Bloemfontein en in die Paarl, en die ammunisie alles handgelaai, alles verniet.

My kleinseuns se ma's en oumas sê dis soos dit vir my gaan wees. En ek gaan net sulke mooi boogvlerke hê soos die outjie wat vir Petrus help, dan hoef ek nie vir die penthouse se hysbak te wag nie en kan ek kom en gaan soos ek wil. Alles net oor ek een Julievakansie hierdie mannetjies onder hulle ma's se voete uitgekry het en in 'n Vier-by-Vier gepak het na 'n jagkamp toe. 'n Merkwaardige vyf dae, hemels lekker maar hels onstuimig. As jy nie bereid is om jou hare in boste uit te trek nie, nie bereid is om dieselfde ding vyf keer te sê nie, nie op jou tande byt as een of ander knaap sy tjops vir die tweede keer op die grond laat val na 'n oor-en-weer-stampery nie, nie bereid is om elke dag nog gryser te word nie, bly dan weg uit 'n jagkamp in die Moordenaarskaroo met drie wilde knape uit die stad. Veral nie as dit naby Sutherland is en die kwik snags hier by minus vyf rond boer nie.

Ons noem onsself die Temmers van die Moordenaarskaroo, vier van ons, elkeen met 'n Temmer-skuilnaam en 'n bynaam. Met die hulp van pa's en ma's en oumas en woordeboeke besluit hulle ten einde laaste watse soort Temmers hulle sal wees en met watse name. Uiteindelik is daar konsensus en kry die Temmers se name beslag.

Eerstens Benito die Verskriklike, 7 jaar oud, ook bekend as die Vreeslose. Dan Misha die Moorddadige, 9 jaar, ook genoem die Bloeddorstige. Voorlaastens Jean-Pierre die Triomfantlike, 11 jaar, alias die Geweldenaar. Daarna die uwe, Oupa Pienkes die Dorstige, ook genoem Oupa Smulpaap of dan die Hooftemmer. Al hierdie name en beskrywings word die voorafgaande weke sorgvuldig in nuutaangeleerde briewe op pa's en ma's se faksmasjiene oor en weer aan mekaar gestuur en in plakboeke oorgeplak. Dis Africana wat vir die nageslag bewaar moet word. Uiteindelik sou daar 12 amptelike Nuusbriewe vasgelê word uit die verskeie fakse, e-posse, handgeskrewe notas en instruksies Van Mekaar en Aan Mekaar. Die ma's en die oumas is die sekretaresses wat lees en verduidelik en help terugskryf. 'n Stuk magnum admin van formidabele omvang.

So word dit dan 10 Julie 2001 as die sneeu wit op die Cederberge lê. ʼn Dinsdag, nog voordag was dit, toe ons die pad uit die Kaap vat. 'n Volle agt jaar gelede.

Moeders en oumas en pa's groet en wuif, 'n ma van een van die verskriklikes pink 'n traan weg en 'n pa stoot sy bors uit as sy bloedjie in sy nuwe jagbaadjie nonchalant anderpad kyk. Hulle gaan kamp en skiet en jag, meerkaaie en dassies en ander wilde goed. Allenig, sonder ma's, net met hulle oupa. Hulle is die Temmers van die Moordenaarskaroo.

Saam met die vier ketties en die windbukse en die koeëlgewere is daar 19 skietgoete in die geweerkaste, 50 skywe, staanders, verkykers, spotting scopes, vleis en kos vir 'n weermag, slaapsakke en warmwatersakke. Nuwe flitse en knipmesse, want dit gaan 'n wrede week word.

Sien jy daardie wit bakkie daar deur die Heksrivierpas? Die dubbelkajuit wat so hoog volgepak is? Dis ons.

Die amptelike Nuusbriewe is uiters volledig en verskaf aan die nageslag uitvoerige besonderhede van wat die Temmers te wagte kan wees, wat hulle gaan doen, wat hulle gaan eet; wat hulle gaan leer om te doen en leer om te eet; strawwe en belonings vir nagekome reëls en nienagekome reëls.

Na die afpakkery en regpakkery in die sinkskuur met sy muisbosskerm langsaan, en veral na die nege plaashekke op die laaste stuk plaaspad kamp toe, het al die Temmers reeds stywe strawwe op die lyf geloop. Voorbeelde is twee keer bad op dieselfde dag vir ry-staan op 'n plaashek, nie op Dag Twee 'n beurt kry om die bakkie in die veld te dryf nie oor hy 'n ander Temmer met 'n stok van agter af tussen sy bene kielie sodat dié ʼn kossak in die sand laat val. Vir min goed afpak en wegdra na die slaapskuur toe kry een van die Temmers sommer 'n ekstra beurt vir skottelgoedwas, ensovoorts ensovoorts.

Dag Een raak 'n gebeurtenisryke dag. So ook Dag Twee. Nou moet ek darem bysê Dag Drie was 'n grote, hoor. Maar dis eintlik Dag Vier wat in 'n klas van sy eie staan. Behalwe natuurlik nou Dag Vyf.

En aan die einde van Dag Ses toe is dit verby.

Mens hoef slegs na 'n opsomming van die Temmers se aktiwiteite te kyk om naastenby 'n idee te kry hoekom die Hooftemmer die penthouse by Petrus gekry het:

Terwyl 'n Temmer leer om die byl vas te hou waarmee hy moet leer om hout te kap, loop 'n ander Temmer óf voor hom in óf agter hom verby om 'n nuwe boomtak aan te dra.

Terwyl 'n Temmer in die rivierloop met 'n skopgraaf 'n sak sand probeer vol maak om 'n lêplek by die skietbaan in te rig, gooi 'n ander Temmer sy sand hoog in die lug op om te sien hoe dit lyk as dit afkom. Daar volg dan luidkeelse protes en aanmoediging as al drie die Temmers na 'n halfuur hulle drie sakke sand vir môre se skietwal gereed het. Mens herken hulle slegs aan hulle groottes en kleredrag, want die Temmers se gesigte is almal agter 'n rooi sandlaag verberg.

Die eerste aand se vuur vir die lapa in die muisbosskerm vrek drie keer, want die Temmers gebruik graag die takke met die gloeiende punte uit die vuur om sirkels in die donker van die Karoo-nag te maak, mekaar te jaag of met die gloeiende takke swaardgevegte aan te knoop. Een van die Temmers raak honger en moeg van die wag vir die braaivleis en ontdek brood en heuning en Marmite in die slaapskuur se kombuisplekkie, waar hy smeer en mors en eet, terwyl die Hooftemmer aan die oorblywende Temmers die geheimenisse tussen tjopsbraai, worsbraai en skilpaadjiebraai uiteensit. Dit neem die honger Temmer slegs oomblikke om die oorblywende Temmers daarvan te oortuig dat braaivleis met heuning bedrup die eintlike koningskos is. En hy het die bottel heuning hier by hom, hulle kan ook kry.

Skottelgoedwas by die kraan van die sementdam langs die skuur bied aan die Temmers ook nuwe uitdagings om messe en vurke en dies meer só onder die lopende kraan te posisioneer dat Medetemmers ook bespuit word. Medetemmers reageer altyd sonder huiwering, maar altyd ook met nog meer innoverende maniere om messe en vurke en dies meer onder die kraan te posisioneer. Die Hooftemmer, wat nog besig is om oor 'n glasie Cabernet in die vuur te tuur, slaag egter tog daarin om die skottelgoedgeveg by die kraan stop te sit en drie papnat Temmers en hulle halfgewaste eetgerei vol sand en heuning terug in die sinkskuur te kry. Maar dit vat aan hom. Dié dat hy sommer nog 'n glas Cabernet skink.

Die volgende aand, besluit die Hooftemmer, is dit tyd vir sterre soek met die verkykers. Die Aandster, die Suiderkruis, die Kaapse Wolkies, die Melkweg, die Drie Konings, die Jagter se Hond, die Skerpioen, die Sewe Susters en nog 'n halfdosyn ander is almal op sy lys wat die Temmers moet ken voordat hy hulle weer by hulle ma's in die stad gaan aflaai. Hy het egter nie rekening gehou met swaardgevegte met gloeiende takpunte en verkykers wat in die donker verstrengel raak, of omdat hulle mekaar omstamp by die teleskoop op die driepoot sodat die Sewe Susters naderhand te prate sit met die Drie Konings en die Jagter se Hond agter die Kaapse Wolkies wegkruip. Min of meer so iets, volgens die een Temmer, en sterk ondersteun deur 'n ander Temmer, die Verskriklike.

Maar die eintlike rede hoekom die Hooftemmer met soveel eerbetoon deur Petrus en sy helper met die boogvlerke ontvang word, lê in sy hantering van die Temmers se opleiding op die selfgemaakte skietbaan. Die skywe begin by 10 meter vir die Daisies, 25 meter vir die windbukse, dan 50 vir die punt-twee-twee's, 75 en tot by 100 meter vir die groter koeëlgewere, maar dié kom eers later, miskien op Dag Vier. Daar is 'n rooi vlag en 'n groen vlag, en die Hooftemmer met 'n fluitjie, en daar is 'n Temmer met die spotting scope. Hy roep die tellings uit. Op die skiettafel merkpenne, maskeerband, patches vir die skywe, skywe wat wag om nog geteken te word, 12 banksakkies met riviersand. Ook nog skietrame en dwarsbalkies, 'n dooierus-driepoot.

Die Hooftemmer het alles en nog wat saamgebring, maar hy is bitter spyt oor sy eie oupa se kort sambokkie wat by die huis agtergebly het en nou só nodig, só nodig geraak het hier op die klipvlaktes van die Moordenaarskaroo. As hy die een Temmer leer asemhaal, vinger op die sneller, dan sal die ander Temmer net gou sy geweerslot oopmaak om te kyk hoeveel rondes gelaai is. Of vir die aardigheid na 'n voël mik wat doer bo verbyvlieg. Die Hooftemmer kom ook reeds op Dag Een agter dat terwyl hy met Temmer Een besig is, hy vinnig en gereeld agter hom moet kyk na watse aktiwiteite Temmers Twee en Drie intussen aan die gang gekry het. By navraag kon die Hooftemmer later sonder aarseling konstateer dat 'n tweede stel oë in sy agterkop die grootste gemis was op die week se kamp. Dit en sy eie oupa se kort sambokkie.

As die gewere in die laatmiddag voor die aand se bedrywighede in hulle geweerkaste weggepak word, en die Hooftemmer die drie manne oor en oor getel het net om honderd persent seker te maak dat almal nog daar is, en heel is, spoel daar 'n groot vreugde en welbehae oor hom. Hy is natgesweet, flenters en gedaan vermaan. Dis hoekom hy nou vir hom ʼn dubbel Glenfiddich skink en voor die nuwe vuur gaan sit wat die Temmers teen hierdie tyd al self kan pak en aan die gang kry. Dit gaan 'n lang aand word, want die Temmers gaan vanaand self braai, en dan sal ons sien hoeveel hulle onthou het van wat hulle geleer het die afgelope dae.

Sien jy daardie Oupa met die huppel in sy stap? Die een wat die Temmers vir hulle ma's gaan teruggee het en nou Temmer-loos op pad na sy bakkie toe is? Sien jy hom?

Dis ek.