Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Matt Damon, Jericho en moenie dat ek julle vang by Hond se Dinges nie


Albert Maritz - 2009-04-07

A celebrity is a person who works hard all his life to become well known, and then wears dark glasses to avoid being recognised – Fred Allen


Die Oude Libertas-teater het weer ’n goeie seisoen beleef en sluit dit af met hul eie produksie, Jericho. Die produksie is pragtig vir die omgewing, maar dan is min produksies in hierdie teater nie mooi vir die omgewing nie! En openingsaand was tot oorlopens toe vol. 

Die verhoog word gevul met die Stellenbosch Libertas-koor, akteurs, sangers, ’n stel en projeksies.

As mens die teater binnegaan, ervaar mens reeds die regisseur se benadering met die prewelende koorlede by ’n lang muur in die foyerplein. Die koor kom dan ook die ouditorium van alle windrigtings binne. Anna-Mart se verskyning bo-op die agtermuur is ook skouspelagtig. 

Maar verskeie elemente – soos die projeksies, word ’n aanhangsel waarsonder mens sou kon klaarkom.

Die akteurs skep slegs ’n raamwerk waarbinne die ander elemente werk. Na ’n swaar begin – vir Anna-Mart met mikrofoon-onderbrekings, vir Gys met ’n te swaar plasing van sy stem aanvanklik, en vir Oscar Petersen kort-kort die lomp reis met die edel voertuig, ’n koningskoets, deur slawe gedra – vind die produksie later ’n ritme, en ’n gemaklike vermaak-toon wat mens met ’n ligte gevoel laat. 

Die aantreklikste elemente van die aand was egter die onderbenutte aktrise/sangeres Nqobile Sipamla, individuele optredes van Libertas-koorlede, en die uitgelese orkes onder die verhoog.

*

Soos die oortollige elemente hier bo wat die algemene indruk en die gang vertraag, het die Bulle hulself onlangs amper gesink onder ’n Stormers-span wat ieder geval beter as hulle was, en nie hul aandag so laat aflei het met tierlantyntjies nie (soos die LUKE WATSON JOU MOER-banier op Loftus). Ek wou hê Luke moet die portuurgedrukte vleueltjie afransel soos wat hy toe juis het. Die vleueltjie het met ’n duikslag op Luke byna met hom in die pawiljoen ingehardloop. Die outjie moet - soos baie jongelinge – net maniere leer. “Respek”, seuna, is die woord, al is dit net vir die ouderdom.

Luke is, soos Jeanne de Villiers, ’n man wat sy eie woorde kies – nie soos baie ander spelers en kapteins gedurig praat van rugbyspelers wat “hand opsteek” soos skoolseuns nie. En julle weet tog wat hy bedoel het in sy opspraakwekkende praatjie! Gaan kyk na die geheelprentjie op Mark Keohane se webwerf, mense, en word wys. Maar die banierswaaiers voel seker skuldig! Gelukkig het Luke sy praatwerk op die veld gedoen. 

*

Wat minder common is as ’n vloek op ’n banier, is die gemene sukses van Matt Damon-flieks, soos The Bourne Identity, Syriana en Clint Eastwood se The flags of our fathers. Ai, as ons hier in ons landjie maar so baie speelkans kan kry. Maar in die hande van wie owerspel pleeg (dis mos die werk van die owerstes … is dit?), is die kanse skraal. Seker nie omdat die owerstes nie wil nie, maar omdat hulle nie weet hoe nie. Gee die verantwoordelikheid vir dié wat weet hoe.

*

En so kaap Jacob toe sommer God vir die ANC. Soos ’n kind met ’n nuwe speelding. Moenie vergeet wat Breyten Breytenbach gesê het toe hy die vorige regime pak gegee het nie: Julle maak van God ’n Casspir wat julle in die strate rondstoot, het hy gesê. En smaak my Jacob speel cowboys en crooks met ’n masjiengeweer… 

*

Matt Damon en sy broer het so ses en ’n half uur gevat om die Argus klaar te maak. Hul moes in een rat ry tot in Simonstad, en daar het hul ’n nuwe ketting probeer soek, maar als was uitverkoop, en so moes hulle maar aankarring – soms stop om ratte te verander voor ’n bult … Amper ’n nagmerrie soos my Argus laas jaar. 

Ek dink toe na die tyd: ek het ’n show in Dorpstraat-teater gedoen, als moes oppak en tuis weer afpak, om plek te hê om die fiets te laai netnou – want toe is dit al halftwee en opstaantyd was seker halfses …

Nodeloos om te sê: toe ek so daar terugdraai van die kus af, binneland toe – net voor Chappies, dink ek – kon ek nie meer sit, trap of staan nie? Ai, ek was op. Nie sommer weer nie.

Nog iets wat ek nie sommer weer nie, is Hond se Dinges kyk. Dis ’n fliek deur Johan Heyns. My ma sê: Dis sowaar soos die titel sê. En ek het goeie resensies geskryf oor Poena, oor Bakgat, en talle ander plaaslike flieks. Maar as ek enige van julle Hond se Dinges vang kyk! En die hartseer is, die kameraskote kan in ’n fliek pas, die klankversorging van dialoog is goed – maar dis al. Klein foutjies in elke ander aspek van die fliek maak dat mens in die begin al twyfel, en aan die einde wonder hoekom jy daar was.

Dit sal goed wees om te gesels oor of daar ooreenkomste is tussen die fliek en Gran Torino …

I like men to behave like men – strong and childish – Francoise Sagan