Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

Om vir 'n Maart lank musiek te jaag: Foto's


Annie Klopper - 2009-04-02

Verlede maand tydens Ramfest staan ek op ’n stadium backstage en gesels met Johan Falck – ’n jong akteur wat as een van die MC’s by die fees opgetree het. Tydens ons gesprek maak die lede van Die Antwoord hul opwagting agter die verhoog, waar daar reeds ’n hele klomp lede van groepe soos onder andere Fokofpolisiekar, Dirty Skirts, New Holland, Mr Cat & The Jackal en Lark aan ’t uitspan is. Johan (wat blykbaar vergeet het dat hy op daardie stadium geklee was in ’n noupassende bunny suit geheel met ore en ’n wollerige stertjie) maak nonchalant die terloopse opmerking: “Nou’s hier darem ’n fokken weird klomp mense hier.”

En daarmee miskien die raakste opsomming van die huidige stand van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Of altans, hoe verskeie mense in verskillende kontekste dit sien.

Dit is glad nie ’n slegte ding nie. Ons musikale landskap vertoon al hoe meer gevarieerd oor die afgelope aantal jare. Net soos in die natuursisteem, is variasie die sleutel tot ’n gesonde voortbestaan versus stagnasie of gebreke vanweë inteling.

Kort na daardie backstage-gesprek het Maart aangebreek. Vandag maak ek my My Pictures-folder op my rekenaar oop. Dis waar my Maart gaan lê. ’n Maart wat (soos talle maande voor hom) getuig van die beskikbaarheid van verskeie variante van plaaslike musiek.

So lyk ’n uittreksel uit my Maart-foto-album: