Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Holocaust-dagboeke, met spesiale verwysing na Die Agterhuis van Anne Frank


Hennie Aucamp - 2009-04-01

Lina Spies se vertaling van Het Achterhuis, die dagboek van Anne Frank, is ’n formele beklinking van haar dekade lange gemoeidheid met die Holocaust by wyse van artikels en verse.

Een van die vroegste literêre manifestasies van hierdie belangstelling was die gedig “Vir Anne Frank van Het Achterhuis”, wat in Spies se debuutbundel Digby Vergenoeg (1971) opgeneem is. Vir die rekord moet genoem word dat die Frank-gesin reeds in 1960 hul intrede in die Afrikaanse letterkunde gedoen het, en wel deur Barend Toerien, met sy gedig “Aan mnr Otto Frank van Het Achterhuis”, opgeneem in sy bundel Gedigte.

Saam met Spies se belangstelling in die Holocaust, onvervreembaar deel daarvan, is haar belangstelling in egodokumentasie. Spies het haar kennis wetenskaplik gaan verdiep in Nederland, en dis dan ook sy wat die Nederlandse term ego-documenten vir ons in perspektief geplaas het. Dié term is te herlei na die Nederlandse historikus dr J Presser.

Prof Spies het die volgende inligting rakende Presser aan my verskaf in ’n brief gedateer 1 Julie 2008:

Hy was bekend as Jacques Presser en professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Amsterdam. Hy was self ’n Jood en het ondergeduik en is nooit gevang nie. Sy vrou is wel op straat gearresteer … Sy is in die kampe dood en hy het ’n leeftyd gebuk gegaan onder die skuldelas van die oorlewende. Hy sal in Nederland altyd bekend staan as die skrywer oor die lot van die Nederlandse Jode in die Tweede Wêreldoorlog in sy monumentale tweedelige werk Ondergang waaraan hy 15 jaar gewerk het.

Dit is ’n wonder dat soveel Holocaust-dokumente behoue gebly het. Prof Spies meld in haar brief dat Etty Hillesum ’n poskaart aan haar vriendin Christine van Nooten op pad na Auschwitz uit die trein gegooi het, en dat dié kaart sy bestemming bereik het. Anne Frank se dagboek is nie deur die Duitsers vernietig nie, en het in die saak van haar vader bly lê waar dit deur Miep Gies gevind en ongelees vir Otto Frank bewaar is. Het die geskiedenis dalk sy eie ingeboude bewaringsmeganismes?

Anne Frank se dagboeke is nie die enigste getuienis van Nederlands-Joodse Holocaust-slagoffers nie. Etty Hillesum (1914-1943) en Abel J Herzberg (1893-1989) het ook dagboeke bygehou – Herzberg in Bergen-Belsen. Etty Hillesum het Auschwitz op 10 September 1943 bereik, presies op die dag dat haar ouers ’n gaskamerdood gesterf het. Haar eie dood op 30 November 1943 is deur die Rooikruis gerapporteer.

Maar die netwerk dagboeke uit die Holocaust sluit ook lande soos Pole, Roemenië en natuurlik Duitsland self in. Net twee dagboeke gaan hier uitgesonder word: dié van Victor Klemperer (1881-1960) en Mihael Sebastian (1907-1945).

Klemperer was professor van Romaanse tale aan die Dresdense Tegniese Kollege. Hy het aan die konsentrasiekampe van die Nazi’s ontkom, waarskynlik omdat sy vrou “Aries” was, maar hy was die laaste maande van die oorlog voortdurend op vlug en aan die wegkruip. Mihael Sebastian (’n skuilnaam) is ironies genoeg in ’n straatongeluk dood in 1945 toe hy oorhaastig op pad was om ’n lesing te gaan gee. Ook hy was in die laaste fase van die oorlog voortvlugtend.

Al die dagboekbyhouers wat in hierdie resensie genoem is, was besonder woordvaardig. Die Joods-Amerikaanse skryfster Cynthia Ozick sê byvoorbeeld van Anne Frank: “ She was born to be a writer. At thirteen, she felt her power; at fifteen, she was in command of it .” Anne Frank en Etty Hillesum sou waarskynlik skryfsters geword het as hulle die konsentrasiekampe oorleef het. Abel Herzberg en sy hele gesin hét Bergen-Belsen oorleef, en dis waar Herzberg sý dagboek bygehou het. Mihael Sebastian wás reeds ’n bekende skrywer, veral dramaturg, toe hy ’n fratsdood gesterf het.

Al die skrywers onder bespreking, op Anne Frank na, was gedugte intellektuele. Waarom dan, vra ’n mens jou af, het die dagboek van Anne Frank die toetssteen geword vir Holocaust-dagboeke?

Op die omslag van Journal, 1935-1944 van Mihael Sebastian, eers in 2001 in Engels gepubliseer, sê die Joods-Amerikaanse skrywer Philip Roth: “ Deserves to be on the same shelf as Anne Frank’s Diary and to find as huge a readership.” Die beroemde dagboekdeskundiges, die Skotse egpaar Irene en Alan Taylor, noem hul tweede bloemlesing dagboekinskrywings, gewy aan oorlogsdagboeke oor baie eeue, The Secret Annexe, wat natuurlik na Het Achterhuis verwys.

Weer moet gevra word: Wat ís dit dan omtrent die Anne Frank-dagboek wat steeds ’n beroep op die wêreldgewete en -verbeelding maak? Hierdie resensent wil, aan die hand van Lina Spies se voortreflike vertaling, met enkele suggesties kom.

Het Achterhuis vertel ’n dramatiese storie van mense wat twee jaar lank vasgekeer gelewe het – agt mense in ’n beperkte ruimte: Anne Frank en haar ouers, Otto en Edith, en haar ouer suster, Margot; en verder, die egpaar Van Daan en hul seun Peter, en Albert Dussel (skuilname). Mense wat in vrees gelewe het. En tog het Anne in hierdie tyd heroïes deur haar adolessensie gewerk, en voortdurend aan haar skryftalent geslyp.

Maar die storie van Het Achterhuis, so herinner Cynthia Ozick ons meedoënloos, is ’n geamputeerde storie, met ’n donker subteks. Ozick wys ook daarop dat die flitse optimisme en idealisme in Het Achterhuis buite verband geruk word, en hiervoor hou sy ’n tweederangse toneelstuk wat op Het Achterhuis gebaseer is, verantwoordelik (The Diary of Anne Frank). Ozick sê: “ What continues in the public consciousness of Anne Frank is the unstoppable voice of the original play.” Ook die filosoof Hannah Arendt het haar skerp uitgespreek teen die oorspronklike toneelstuk: “cheap sentimentality at the expense of a great catastrophe”. Wat weggemoffel is in die toneelstuk, is “the banal face of evil”, ’n dikwels-aangehaalde reël van Arendt, na aanleiding van die Eichmann-verhore.

Gedugte kritici soos Ozick en Arendt is ongetwyfeld reg oor die vals beeld wat die oorspronklike toneelbewerking van Die Agterhuis by die publiek geskep het. Waarmee Ozick en Arendt nie genoegsaam rekening gehou het nie, is die verleiding wat van ’n deurlopende storie uitgaan, en dan nog oor mense in ’n vasgekeerde situasie, soos in ’n klassieke speurverhaal.

Dis juis die storie-element wat die oordrag van Die Agterhuis na eers die verhoog, toe die filmmedium, vergemaklik het. Daar was ook latere films, een waarin Otto Frank sentraal staan, en een waarin die dapper Miep Gies, die Franks se beskermengel in hul periode in die Agterhuis, die volle aandag kry. (Lees gerus Miep Gies: Herinneringen aan Anne Frank.)

’n Dagboek eindig gewoonlik “oop”, maar die geskiedenis het Anne Frank se dagboek van ’n hartverskeurende slot voorsien. Die publiek weet nou, via Otto Frank, Miep Gies en ander getuies en tydgenote, wat met Anne Frank gebeur het, eers in die deurgangskamp Westerbork, en uiteindelik in Bergen-Belsen, waar sy drie maande voor haar sestiende verjaardag aan tifus oorlede is. Maar ons kennis is nie presies nie; daar sal altyd “leë plekke” in die Anne Frank-verhaal bly, van die dag dat die SS en die Grüne Polizei die “onderduikers” in die Agterhuis weggeneem het.

Wat die publiek nie kan weet nie, is hoe Anne Frank se lewe sou verloop het. Sou sy ’n gelukkige huwelik gesluit het? Sou sy ’n goeie skryfster geword het? Stellig, ja, haar waarnemingsvermoë en sin vir ironie wys in die rigting. Maar weet sal ons nooit weet nie.

Onvoltooidheid, of dit van ’n menselewe of van ’n kunswerk is, bly ’n frustrasie, maar ook ’n inspirasie, en dit, glo ek, is waarom Anne Frank die wêreldverbeelding beetgeneem het. Skrywers, komponiste, digters en ook vertalers “kompenseer” vir hierdie afgebroke lewe. Hulle wil aan Anne Frank iets van haar ongeleefde lewe gee, of hulle wil doodgewoon sê: “Opdat ons nie sal vergeet nie.”

Een moedswillige vraag bly hom aan hierdie leser opdring: Sou Die Agterhuis wêreldroem gehaal het as dit gelukkig geëindig het? Lê die krag van Die Agterhuis nie juis in sy tragiese dimensie nie?

Hierdie skrywer voorsien ’n druk akademiese program vir prof Spies, met lesings en seminare oor haar vertaling van Het Achterhuis, hier te lande, en straks ook in Die Lae Lande.

Die rede vir my voorspelling lê voor die hand. Ons leef in “beroerelijke tijden”, om Vondel aan te haal, met “oorloë en gerugte van oorloë”. Enige nuwe vertaling van Het Achterhuis – en dan nog so kundig en toegewyd soos dié van Lina Spies – is tydig. O, ja, Cynthia Ozick oordeel baie juis oor die dagboek van Anne Frank: “ an explosive document aimed directly at the future ”.