Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

’n Belydenis van ’n geskryfde: Joan Hambidge


Joan Hambidge - 2009-03-25

I

Om na ’n wit plafon te staar het ek vir FinemusicRadio soos volg geresenseer:

Hierdie roman word tipeer as ’n reguit roman. Reguit? Dis bepaald wat dit is. Op die man af. Sonder draaie of swaaie. Dis ’n satire van Naspers en die media. Dit vat regstellende aksie en die lot van die wit man aan in die huidige onseker Suid-Afrika. In hierdie opsig is die plafon van ’n dubbelsinnige titel. Dit dui op iemand wat net staar na die plafon, maar ook die plafon van sy loopbaan bereik het. Hy kan nie hierdeur breek nie.

Die basiese storielyn handel oor Lourens se poging om ’n roman te skryf: polities-inkorrek en in die oë van talle aanstootlik en onaanvaarbaar. Hy is die skrywer van die motorbylaag (nes die werklike skrywer op sy dag was!) en wil eintlik aan almal rondom hom bewys dat hy ’n ernstige skrywer is …

Die eerste gedeelte beland per ongeluk op die ombudsman se lessenaar wat egter in staat is om die skryfsel te sien vir wat dit is: satire. Haai, is dit dalk George Claassen?

Die roman wentel tussen herkenbare en onherkenbare figure. Die leser kan dikwels mense herken en name is net effens aangepas of verwring.

Is dit nodig? Ek bedoel waarom het hy nodig om die grense so aan te lê? Dit is juis die punt van die roman, om hierdie spel met Roland Barthes se vraisemblance vol te hou.

Die uwe word sommer by die naam genoem.
 
Ek haal graag aan:

“Ja, man, kak soos intertekstualiteit en so aan. Ek het mos paar jaar gelede ’n kursus in skeppende skryfkuns op varsity gedoen. Jy maak heeltyd sulke side-ways verwysings na goed in ander boeke. Die resensente is mal daaroor en dit laat hulle slim voel as hulle dit raaksien. Veral Joan Hambidge is goed daarmee en miskien gooi sy ’n bietjie van Umberto Eco en die semiotiek in. En as jy gelukkig is, dan fok sy jou nie op met ’n verwoestende resensie nie!” (p 64).

Aan die woord hier is MJ (Emile Joubert?) die bekende wynskrywer en kortverhaalskrywer wat die uwe eweneens in ’n verhaal opgestuur het.

Umberto Eco se Travels in hyperreality kom hier handig te pas, net soos sy spel tussen die oop/geslote teks vir die leser relevant sal word.

Party sal meen hy gaan te ver; ander sal glimlag en hard lag oor die opstuurdery.

Die punt is ons maak die roman-in-wording mee en is uitgelewer aan Kirsten se galgehumor.

Die boek, Transformasie-medikasie, word weergegee en al die clichés en bekgevegte rondom boeke en bemarking word aan die kaak gestel. Ook hier is herkenbare figure wat die spit afbyt.

Maar van lekkerlag, kom lekkerhuil. Soos dit dikwels gesteld is met goeie satire, draai hierdie boek teen homself en haal die werklikheid van regstellende aksie mense in.

Daar is selfmoord en moord.

Meer durf ek nie verklap nie.

Op bladsy 149 wonder die skrywer of ek hom uitmekaar gaan ruk? My besluit:

Hy kan skryf. En vertel. En dis die hele punt.

 

II

Toe ek die resensie voorlees vir FMR, lag die tegniese man alte lekker. Hy gaan beslis nie die kragwoorde uithaal nie. “Dis mos hoe dit is!”

In my kort resensie – tyd is min oor die draadloos – het ek nie tyd gehad om ’n ander belangrike aspek van hierdie roman uitvoerig te bespreek nie. Kirsten se hoofkarakter, ene Lourens Erasmus, skryf ’n roman wat die boekeredakteur raaksien as ’n “nuwe stem”. Die roman is egter nie wat sy in gedagte gehad het nie.

So gelees, wil die roman ook satiriese kommentaar lewer op die voortdurende soeke na nuwe stemme.

Die magshebbers in die resepsieproses van ’n roman word eweneens aan die kaak gestel.

’n Resensie vir Die Kapenaar word gesink, omdat dit kan aanstoot gee. Hoe ’n ouer literator mag voel dat hy as hierdie resensent geëien word, sou ’n warm raaiskoot afgee.

Lourens het ’n alter ego in die gay Laurens (ahem, dis ’n reguit-roman, mos) wat nie kritiek wil of kan lewer nie, wys Izak de Vries uit in sy resensie op LitNet. Hy skryf tereg:

Op talle vlakke speel Kirsten se roman dus die spel tussen werklikheid en fiksie, spieëlbeeld en drogbeeld. Lara Koch, Lourens se uitgewer by Orca-Uitgewers, wil byvoorbeeld ’n albino (dus wit) swart man saam met ’n kunsmatig verdonkerde (dus swart) wit man op die voorblad van Transformasie-Medikasie plaas.

Dis een van daardie boeke waarin mense bepaald hulself gaan herken. En Jaco Kirsten, wat sy weermagdae geniet het, sal waarskynlik maar ’n valskerm moet saamneem werk toe. Al sit hy deesdae by Weg.

En Orca-uitgewers?

Orca en Rut! (Ha!)

Wie sluk vir wie hier in?

 

III

Die roman beslaan 244 bladsye, is uitgegee deur Tafelberg en gaan alle gefrustreerde joernaliste wat nog altyd ’n roman oor Naspers wou skryf, brommergroen van jaloesie maak.

Dit kos R150.

Op die voorblad lê Jaco Kirsten uitgestrek. Ek het hom nog nooit ontmoet nie.
 

Om na ’n wit plafon te staar, ’n (reguit) roman
Jaco Kirsten
Tafelberg-Uitgewers
2009
978 0 624 04711 7

Klik hier en koop Om na ’n wit plafon te staar, ’n (reguit) roman nou by Kalahari.net

Bronne

Barthes, Roland. 1981/1985. The Grain of the Voice. Interviews 1962-1980. New York: Hill & Wang.
De Vries, Izak, 2009. Dié boek gaan ’n paar plafonne tref. LitNet. http://www.litnet.co.za/article.php?cmd=cause_dir_news_item
&cause_id=1270&news_id=62407&cat_id=722

Malan, Marlene, 2009. Boek takel Afrikaanse media. Rapport. http://jv.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/
0,,752-2460_2489491,00.html

Umberto, Eco. 1986. Travels in Hyperreality. Essays. New York: Harvest Books. 1986.

* Joan Hambidge is ’n karakter in Om na ’n wit plafon te staar en verbonde aan die UK, waar sy Kreatiewe Skryfwerk en Afrikaanse letterkunde doseer.