Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Slumdog Millionaire: Toeganklik sonder om diepte in te boet


Suzette Kotzé-Myburgh - 2009-03-19

Slumdog Millionaire
Gegrond op die boek Q & A deur Vikas Swarup
Spelers: Dev Patel, Anil Kapoor, Freida Pinto, Irfaan Khan, Madhur Mittal
Regisseur: Danny Boyle

Die lewe boots die kuns na, lui die gesegde, en in dié geval gebeur dit weer. Daar is nou al veel gewag gemaak van hierdie arm-wat-ryk-word-verhaal, maar dit ís verstommend dat die filmproduksie dieselfde pad as die inhoud geloop het. Met ’n klein begroting is ’n film geskep wat vanjaar die Oscar vir die beste rolprent verower het (asook sewe ander Oscars), sodat loket- en dus finansiële sukses gewaarborg is.

Laat ek dit heel eerste sê: hierdie is regtig ’n fliek vir almal. Die debat oor hogere en lae kuns woed al hoe lank, onder meer omdat dit uiters moeilik is om ’n kunswerk te skep wat werklik die grootste moontlike groep mense sal bevredig – kom ons sê maar van die sepiekyker tot die kunsfilmresensent. In die Afrikaanse boekwêreld kon Dalene Matthee dit regkry met byvoorbeeld haar bosromans, maar wie nog?

Dis ’n fyn, fyn kuns om ’n produk te skep wat toeganklik is vir die gemiddelde mens én terselfdertyd nie inboet aan diepte en daardie “iets meer” wat die gesofistikeerde verbruiker soek nie. Met Slumdog Millionaire kry regisseur Danny Boyle dié toertjie wonderbaarlik reg.

Wat verder uitstaan, is dat die kyker reg van die begin af die uiteinde weet (die titel sê dit immers reeds), en tog kyk jy die hele tyd geboei, selfs gespanne! Die tipiese formaat van ’n vasvraprogram verskaf ’n vertroude struktuur, maar dit word genoeg afgewissel (in die terugflitstonele sowel as in die ateljeetonele) om verveling te voorkom.

Dan is daar Indië, wat in asembenemende kinematografie (ook Oscar-bekroon) die kleurryke agtergrond vir die verhaal vorm. Gesoute reisigers het al gesê dat dit die één land is wat jou winduit slaan: die chaos, die armoede, die godsdienstige onderbou, die oorbevolking, die rou stryd om oorlewing, die sintuiglike oordaad van reuke, smake en kleure. Ek het al ’n hele paar flieks gesien wat in Indië afspeel, en A Suitable Boy, Vikram Seth se magnum opus, is een van my gunstelingboeke, maar hierdie film wys Indië op ’n nuwe manier – grinterig en volkome ongeromantiseer.

Onder die akteurs staan Dev Patel as Jamal Malik en Anil Kapoor as die glibberige programaanbieder uit. In hierdie twee karakters word goed en kwaad omtrent op epiese wyse teenoor mekaar gestel; dis die klassieke stryd tussen die held en die hakskeengryper. Kapoor is die perfekte keuse vir sy rol, en as een van die groot akteurs in die Indiese rolprentbedryf dra hy aansienlik daartoe by om die fokus skerp te hou. Die jong Patel staan behoorlik sy man, en dis pragtig om te sien hoe sy karakter deur die loop van die film ontdooi en selfvertroue kry.

Die spel in van die kleiner rolle is plek-plek ’n bietjie houterig, maar ten minste het die film in sy geheel ’n outentieke gevoel. Dit word versterk deur die kundige gebruik van onderskrifte, sodat die dialoog nie alles in (onoortuigende) Engels is nie – ’n onding wat ’n mens so dikwels teëkom in films vir die internasionale mark wat in die nie-Engelse wêreld afspeel.

Vanjaar se Oscar vir beste regisseur vir Danny Boyle was werklik welverdiend, en ek het spesifiek sy klein huldeblyk ten slotte aan Bollywood, die grootste rolprentbedryf in die wêreld, geniet.

Dus: as jy net ’n slag lekker wil gaan fliek saam met welp of wyf, kies hierdie een!

 

Suzette Kotzé-Myburgh
Vryskut-skrywer, vertaler en uitgewer
suzette35@gmail.com