Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Albert Maritz oor Clint Eastwood en Houtkruis


Albert Maritz - 2009-03-18

Do what you can, with what you have, where you are.
– Theodore Roosevelt

Ek sweer Clint Eastwood is in die Kaap. Ek het hom vandag maklik sewe keer gesien. Langs ’n straat in gugs; later in ’n groen bus, en op ’n sportveld in Gugs en iewers wagtende op vervoer – het dit my gelyk.

Ek self het saam met ’n klomp ouens touchies gespeel in Gugs en hulle glo my nie een as ek hulle sê nie.

Ek droom selfs ek het nou die dag met Clint gepraat.

*

Die ouens saam met wie ek rugby gespeel het, moes ’n sportkliniek doen met kinders daar. Vir afwisseling het ons touchies gespeel, en dit was my vreugde om te beleef dat die aangestapte lyf steeds kompeterend is.

Een slag laat ’n verdediger Japie Mulder deur; wie ek toe op die skuins agternasit. Ek sou hom by kon kom as ek deur die lug wou duik. Dis juis wat ek sou gedoen het toe ek jonger was. Maar ouderdom bring wysheid. Dalk het dit gehelp dat ek juis toe Clint Eastwood gewaar het. En net daar bedink ek my, en laat hom sy drie behaal. Dis ook selfvertroue bou vir Japie – so tussen die kinders!

Maar wat ’n sukses was die kliniek nie! Die entoesiasme van die ouens was onstuitbaar, nadat hulle die entoesiasme van die kinders beleef het. En ’n paar van daai laaities was sigbaar sterre in wording. As mens die klinieke net kon herhaal. Eintlik is dit “baie eenvoudig dear Jacob”.

Toe ons vertrek, staan die volwassenes van die buurt en klap gretig hande en dis amper ’n riot – so opgewonde is hulle. En nie omdat hulle betaal word nie. Dit was suiwer spontaan. As Amerikaners so iets sou sien terwyl hulle ’n fliek skiet, sou hul sowaar die skotelys verander en dit ook insluit.

Die oumense was, net soos ek, oortuig dat hulle en hul kinders nie die kruis so alleen hoef te dra  nie. Om die waarheid te sê; hul hóéf glad nie ’n kruis te dra nie. Dit behoort in die ywerige tred van die politici weg te val.

*

’n Kruis op jou kalender behoort Houtkruis te wees, wat in die Kunstekaap-teater speel. Daar is weliswaar foute, maar die goeie gevoel wat mens beleef terwyl jy die stuk kyk, is die moeite werd. Ek haat mos ’n follow-spot as hy die aandag aftrek. En hier is so ’n soekende follow-spot – mens begin hom later geniet, want hy word later ’n karakter in die produksie. En wat Kunstekaap betref – ek was baie geamuseerd hoekom die klank distort wanneer Franna Benadé sing.

Die stel is een van die ongelooflikste, vindingrykste stelle wat ek nog gesien het. Die kaartjieprys is die werking van die stel werd. In my ervaring van teater moet mens heeltyd meet en pas, en vir baie baie min geld soms ondernemende stelle skep, maar hierdie een oortref meet en pas. Gaan vat ’n loer.

Die teks is soms te simplisties … met vinnige oplossings en aaklige taalversorging (soos om iemand “onder arres” te plaas). Maar ek kan selfs agtergebly het toe daai taalreël iewers in die 30 jaar sedert die 70’s terug verander het, of anders steur min mense hulle in ieder geval aan sulke goed, so makie sakie.

Die musiek sluit van my gunstelinge in: Koos Doep en Coenie de Villiers se bestes tel onder hulle. Ook hier is klein glipsies - soos wanneer die onskuldige meisie die deel in die Koos Doep sing: “... elke afdraaipaadjie ken ek …” Sy is die onskuld self en kom nooit uit die huis uit nie. Maar weer eens is dit kritiek waaraan die publiek hul nie juis hoef te steur nie.

Die sang is nie in almal se greep so treffend nie, maar dit het nie Pierce Brosnan of enige van die Abba-fliek-besetenes afgesit nie.

Ek hoop iemand soos Radio Tygerberg kan met Kunstekaap beding om vir so R40/kaartjie blokbesprekings te aanvaar vir Radio Tygerberg-luisteraars. Baie van hulle is diep godsdienstig en die mense is nie altyd vermoënd nie, maar was nog altyd "daar" vir die radiostasie in tye van nood. In plaas van die moontlikheid van leë stoele, wat van so 150 goedkoop kaartjies per aand via Radio Tygerberg vir hul behoeftige luisteraars?

Interessant van die produksie is dat dit mens laat dink oor die hedendaags onpopulêre figuur, Luther, se siening van die siel.

Wat spel betref, kan mens maklik Anrich Herbst uitsonder. Sy sang is ’n verrassing, en sou selfs beter kon wees met hier en daar treffender verwerking. Maar hy is ’n openbaring, en ver van Orkney snork nie se jongklong …

People are always ready to admit man’s ability after he gets there.
– Bob Edwards