Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Die vyfde engel


Francois Loots - 2009-03-18

I
Die maan was gisteraand weer vol en vir hom voel dit asof die maan se ronde buik maand ná maand opswel, oorspoel en sy nagte ruïneer. Siklus ná siklus stry hy teen die stemme wat daarmee gepaard gaan. Voertsek! snou hy hulle toe. Wie ook al julle is!

Of: My God, gun my rus. Gaan beproef iemand anders.

Hy’s vanoggend moeg. Hy hou op skuur en staan ’n oomblik lank na nêrens en staar.

Volmaan; dán woed die stemme op hulle ergste. Diep, bas stemme wat hom uitlag. Ligter stemme wat hom vir meer as net ’n skrynwerker se handlanger aansien. Ander stemme, verhewe bo sy begrip, wat hom in die nag laat uitskree en natgesweet orent laat kom.

Gun my rus!

Hy’s moeg gepleit. Dis hierdie moegheid wat hom opeens laat besluit om weg te gaan. Na die stilte van die wye oop veld en die grysblou heuwels toe.

Eers maak hy die kis klaar. Ver het hy in elk geval nie om te gaan nie, nie met die kis nie. Dis net die boonste klap wat nog klaar geskuur en lig vernis moet word. Armes het nie geld om hulle, soos die middedorp se mense, oor ’n kleur, houtsoort of voering aan die binnekant te bekommer nie. Die dun lagie vernis waarmee sy pa die goedkoop hout laat bedek, is uit respek aan die dooies, eerder as op versoek.

En dan is dit ook klaar; nóg ’n kis in hierdie ongenaakbare tyd waartydens hy sy eweknieë soos skaap aan brandsiekte die een ná die ander sien kwyn het. Sy pa het goed gedoen en hy neem dit sy pa nie kwalik nie. Die een se dood is die ander se brood en daar moet kos op die tafel kom, sodat sy eie kinders nie ook hulle lywe vir ’n silwer muntstuk op straat hoef te gaan verkoop nie.

Buitendien was sy ma nooit van veel hulp nie.
         
Hy dink aan haar wanneer hy onopsigtelik by die werkswinkel uitstap. Hy loop werf uit, straat op, ’n verdere straat af en hy kry haar agter die bottelstoor, waar sy teen ’n afdak se houtpaal leun.

“Ek loop nou,” sê hy tersaaklik wanneer hy voor haar  te staan kom.
         
Sy kyk hom ’n oomblik lank verbaas aan, maar dan vlam die gewone vrees in haar oë op. Sy het hom altyd só aangekyk; nou gryp sy ook na sy arm.

Hy’t reeds omgedraai, met moegheid wat hom voortdryf en die stilte wat hom roep.
         
“Daar’s ’n ding wat jy moet weet,” hoor hy haar sê. “Ek het nooit gedrink voordat ek jou gedra het nie.”
         
Hy ignoreer haar. Daar’s immers ander wat roep; ligte en diep stemme, ’n menigte waartussen hy nie altyd kan onderskei nie.
         
“Jy weet nie hoe dit voel nie!” hoor hy haar op hom skree. “Nie as jou kind verdwyn en die mense jou later kom sê dat hy in duisman se blerrie kerk sit nie.”

Hy’t met vele sulke aantygings grootgeword. Maar loop hy, word ook haar las minder en hy ignoreer haar steeds.
         
“Jou pa is nie eers jou regtige pa nie,” snou sy hom nou toe.

Hy aarsel en kyk om.
         
“Ek weet,” sê hy. “Dis juis wie my roep.”

Hy’s nie hiervan oortuig nie, maar as dit nie dié God is wat hy siklus na siklus om rus pleit nie, wie dan anders?

Hy draai weer van haar af weg en wanneer hy wegloop, hoor hy haar nog op hom skree. ’n Kind wat nie rook of drink nie, wat nie eers ’n vrou leer ken het nie. Vir ’n paar oomblikke lank wil hy terugdraai en aan haar toegee dat sy reg het, vir haar vertel dat hy soos ’n lafaard voel omdat hy nooit self die lewe om die hals kon val nie. Maar hy’s moeg gestry en kort voor lank steek hy die skeiding tussen dorp en oop veld oor.

II

Hulle het haar ondersteun en na hom toe gebring.

“Sy lê al sedert twee weke.”

Hulle het nog iets gesê, iets oor kinders en kos, maar omdat hy veel meer as net dit kon sien, het hy gewys dat hulle haar moet laat sit en voor haar gaan buk.

Hy’t haar in die oë gekyk; ’n leemte wat nietemin besig was om haar te verswelg. Hy moes skielik aan sy pa se werkswinkel dink, aan die kiste wat week ná week weggedra is vir dié wat al hoe maerder geword het, soos met brandsiekte ’n uitslag ontwikkel het en kort voor lank nie meer kon sien nie.

Die engel wat nader getree het, was dié van genesing. Sedert hy ’n maan se siklus lank in die dorre grysblou heuwels deurgebring het, het hy tussen die stemme begin onderskei. Hulle buite hom leer plaas. Dié van genesing, dié van vergifnis, dié van geduld, en een van voorsiening.

Soos telkemale tevore het die engel van genesing ook nou sy hand vir hom opgelig, hom daarmee ’n handjie vol grond laat opskep voordat hy daarin gespoeg het. Terwyl hy dit gemeng het, die spoeg en die grond, het hy gesien dat sy iets wou sê en vooroor gebuig. “Ek wou kindergeld hê,” het sy gefluister. “Ná die eerste kind ...” maar haar stem het verbrokkel.

“Ek weet,” het hy gesê en vraend na die bolletjie modder in sy hand gekyk. Vir ’n oomblik lank was hy onseker van sy doen en late, maar die engel het hom die modder oor haar oë laat smeer.

Sy eie oë het toegeval, sy bewussyn meteens daarmee heen, terwyl die engel dít volbring het waartoe iemand wat in ’n menslike liggaam vasgevang is, nie in staat is nie. ’n Greinerige korrelrigheid het oor sy oë gedans en toe hy weer die modder van haar oë af gevee het, het hy hom verwonder oor hoe maklik grond genesing kan bring en ’n leemte met lig kan vul.

Sy’t geglimlag, alhoewel sku, en toe sy opstaan, het hy haar gevra om niemand te vertel wat met haar gebeur het nie.

Niemand soek immers sy vonnis voor sy tyd nie. ’n Vonnis: alhoewel dié woord ontoereikend was vir die beelde wat hom snags steeds orent laat kom het.
         
Van haar reaksie, of van dié van die mense om hom, van die verbasing, die geskree en die op-en-af-gespringery was hy nie bewus nie. Soos gewoonlik ná ’n genesing het hy swak gevoel en na Hannas toe opgekyk.

Onskuldige Hannas, met die oë van ’n skoolkind. “Daar staan ’n wit lorrie by die dorp se garage,” het hy vanuit ’n hernude swieping korrelrigheid gepraat met woorde wat ’n ander vir hom gevorm het. Dit was nie hy wat hom ontferm en genees nie, maar hy wat voorsorg tref wat Hannas met ’n bevel na die lorrie toe gestuur het.

III

Hy word bewus van die vragmotor se dreuning, ’n koel wind waai oor sy gesig en hy maak vlugtig sy oë oop: kliprante, die veld.

Kaktus en doringbos.

Kolle sandgrond.

Hy sluimer weer in en hy droom.

Sedert hy vanuit die heuwels ’n volle maansiklus oor die vlaktes sien beweeg het, droom hy. Voorheen was daar snags stemme, maar met hulle het hy geworstel soos iemand wat teen nagmerries baklei. Nou droom hy egter, met een droom wat hom herhaal. ’n Swaar traliehek word agter hom toegeslaan, ’n dik bos sleutels terg raserig wanneer die hek toegesluit word en hom in ’n donker sel agterlaat, maar elke keer word hy met ’n glimlag wakker.

Sagter rante.

Plek-plek klip.

Lang boesmangras.

Grashalms wat soos hare oor ’n bors lê. En hý sien die liggaam se sagte sandvel voor hom uitgestrek. Daardie klim bo die ribbekas op, die bors se gelykte onderbreek deur ’n stapeltjie klip, terwyl grashalms sy oog na ’n skouerbergie toe lei, met ’n arm wat op die rante uitgestrek lê.

Hy glimlag weer.

Sy oog val op ’n bondeltjie boarmspiere wat verleidelik by die oksel se klofie in vou en hy dink weer aan die kiste wat sy pa verkoop. Vir mense wat hier proe en daar proe, vir ’n silwer muntstuk koop en verkoop en altyd meer wil hê.

Keer op keer.

Die een ná die ander vaspen en eien.

Een grond ná die ander.

Die een plaas ná die ander.

Alleenreg op ’n beloofde land.

“Dié mense wat net bly inpalm!” sê hy afkeurend te midde van ’n korrelrigheid.
         
Terselfdertyd dink hy terug aan die afskeid van sy ma. ’n Kind wat nie eens ’n vrou geken het nie!

Moes hy omdraai en haar vertel het dat hy bang was om ook soos brandskaap te verteer? Of dat hy saans nooit laat uit was nie omdat hy bang was om in iemand se mes vas te loop? Dat hy hom ander se vryheid ontsê het omdat die liggaam se pad met onkruid, dissel en dorings belê is?

Waar hy tydens sy tyd in die grysblou heuwels juis soveel genot uit die veld leer put het: daar ’n klompie bome wat onder ’n skouer se oksel staan en klos, hier die bors se klipstapels en ’n gulde oop strek met rooi kalkoenbosse wat verby die naeltjie af vlam.

“Dis ’n land van heuning,” sê hy weer hardop, maar hierdie keer vraend. “Veldkos en heuning, maar as jy ’n opstal bou, moet jy tog self daarin kan bly? As jy ’n wingerd of vye plant, moet jy tog self daaraan kan proe?”
         
“So hoort dit te wees,” hoor hy Hannas sê.

Hy draai na Hannas toe en ’n watersak word na hom toe uitgehou. Hy vat hy dit aan, maar kyk verby Hannas na die gesigte wat hom aanstaar.

’n Handjie vol volgelinge. Van hulle ken hy reeds, ander is vreemdelinge. ’n Messelaar – dit sien hy aan die man se klere. So ook aan ’n vrou s’n; ’n huishulp wat nog haar voorskoot aan het. Ander is dagwerkers, plaaswerkers ook, asook dié wat nie werk of huis het nie. Maar of met of sonder werk, dis van die verwagting op hulle gesigte waarvan hy terugdeins wanneer hy weer na die veld toe draai.

Oop veld.

’n Lyndraad beweeg verby.

’n Afdraaipad met ’n naambord in versierde ysterraamwerk; en opeens korrel dit in hom. “Hierdie hoogmoediges word nog uitmekaar gejaag,” kom ’n stem in hom op. “Maghebbers word nog van hulle trone afgeruk en julle, julle geringstes, juis julle sal verhoog word.”
         
Hy deins egter van sy eie woorde terug en kyk vraend skuins langs hom. Hy skrik, want hy ken hom nie. Nie hierdie engel nie. Dis nie die engel van vergifnis of genesing, van voorsiening of geduld nie. Hy snak verbaas na asem wanneer hy besef dat ook hierdie engel woorde in sy mond lê.

Ek ken jou nie, wil hy vir hom sê.

Hy weerhou hom egter hiervan, want so was dit van die begin af gewees. Eers het hy die stemme ontken en hulle gevolglik nie verstaan nie. Maar tog, later, as jy eers ophou stry, dán kom begrip. Hoeveel hy nie elke dag byleer nie, met woorde en dade waartoe hy nooit besef het ’n liggaam in staat sou kon wees nie. En so sal dit ook met hierdie engel wees, terwyl hulle ’n dorp nader.
         
“Daar is ’n skougrond buite hierdie dorp,” tree die engel van versiening na vore. “Ons kan daar oornag.”

IV

Die skougrond is verwaarloos. Die gebou het nie deure of vensters nie. Die stalle ook nie, en waar eens skaapkrale was, is daar nou verbrokkelde mure en lappe onkruid.

Terwyl die ander aan die werk spring om ’n slaapplek in 'n hoek van die gebou gereed te maak, stap hy na die pawiljoen toe. Ook dít is vervalle, die dakplate deels weg, die breë sementtrappe gekraak en aan die verbrokkel, maar hy gaan nietemin op 'n onderste trap sit.

Hy kyk uit oor 'n lap onkruid; grond waarop boere tydens die ou bedeling nog bees of vee ten toon kom stel het. Die klank van perdehoewe styg vlugtig in die lug op, voordat ’n stilte weer die arena vul.

Duskant dit lê oop grond. Klipgrond. Wag-’n-bietjie en gannabosse.

En die dorpie.

Soos heelwat dorpies in hierdie streek, het ook hierdie een ’n feitlik vergete nedersetting geword. Die kinders word weggestuur skool toe en die jongmense gaan in die stad werk soek. Dié wat agterbly, kry pensioen of steek ’n hand uit vir kindergeld.

En verryk daardeur die skrynwerkers.

’n Vergete land, hierdie beloofde land, en hy voel self afgemat. Daar is te veel sulke dorpe, te veel om te genees, te veel om voor raad te gee en lig te bring, en hy sit ’n rukkie lank in die lug op en staar.

Wanneer die son water getrek het, bly dit nog 'n rukkie lig. Geel en goud oorvleuel die dag se blou. Daarna word ’n oranje glans daaroor gewas voordat die donkerte stadig vanaf die horison opbou; en opeens dink hy aan sy herhalende droom. Die traliedeur, die bos sleutels, en al is hy alleen in ’n donker sel, word hy elke keer met ’n glimlag wakker.

Tog het hy iets verontrustend in dié droom begin speur. Hy is alleen, maar dit kom hom voor asof ’n menigte van mense hom met afsku staan en aankyk.

Hy verstaan dit nie.

Die droom het wel daartoe gelei dat hy geneesdes vra om nie oor hom te praat nie, maar afsku?

Wanneer hy na die vroegaand se kleure sit en kyk en ’n koelte teen sy lyf voel optrek, vergeet hy vir ’n rukkie van dié afsku.

“Ek het vir jou water gebring,” hoor hy Hannas sê. Hy kyk om, na waar Hannas 'n tree van die pawiljoen af kom staan het.

“Ons het gelukkig by die krale ’n kraan gekry.”

Hannas en sy onskuld.
         
“Weet jy dan nie dat daar vir ons voorsien word nie?” vra hy en vat die bottel by hom aan.
         
“Ek sê maar net,” antwoord Hannas hom.

Daar is oomblikke wanneer hy meer sou wou hê; iemand om saam met hom na die stemme te luister of saam te droom. Of net iemand om hom die droombeelde se betekenis te kon help ontrafel. Terselfdertyd beny hy Hannas sy kommerlose houding en die eenvoud van sy vertroue.

Dan drink hy; die water onomwonde in sy gawe, en wanneer hy die bottel van sy lippe af wegneem, gooi hy ’n bietjie in ’n bakhand uit en vee dié koelte oor sy gesig.
         
“Laat ek,” sê Hannas en neem die bottel by hom aan. Sy twee hande, bak gehou, vang baie beter as net een op, maar dan kom sit Hannas op die trap agter hom en gooi ’n dun aaneenlopende straaltjie oor sy kop. Met een hand vee Hannas dié koelte oor sy kop, terwyl hy self oor sy gesig en nek vryf.
         
“Jy’s moeg,” sê Hannas die ooglopende, kom sit op die trap langs hom en lê ’n gerusstellende arm op sy skouers. “Maar dis seker soos jy sê, daar sal voorsien word.”
         
Hy glimlag en lê sy kop teen Hannas. Om onskuldig te volg! Om ná ’n dag se werk só teen iemand te leun en te ontspan, met Hannas se arm om hom en sy kop op Hannas se bors. Wat hy nie sou gee vir ’n rots waarop hy kon rus en waaronder hy kon skuil nie.

Vir die eenvoud hiervan.

Vir die ferm oopte van die bors en sy klipkoppies. Vir geel sand en kalkoenbos wat teen die maag af dons.

Meteens skrik hy.

Hy pluk hom vanuit dié beskutting weg, spring op en gee etlike verbysterde treë van Hannas af weg. Die nagkoepel het sy vlerke reeds wyd oopgevou, in die dorpie skyn ligte, en hy kyk die naghemel in.

Hy’t nie eers ’n vrou geken nie, het sy ma hom toegesnou. Maar eerder as die brandsiekte, besef hy nou, was hy hiérvoor bang:

Om soos ’n gevangene onder só ’n rots te skuil.

Om hom in ’n oksel bome te versteek.

Om by ’n klofie in te vou sodat die traliehek nie agter hom sal hoef toe te slaan nie.

V

Hulle het met die hoofpad langs geloop – ’n stil teerpad wat een van die groter dorpe met ’n ander verbind, ’n reguit pad wat skaars draai en hulle oor die een oop vlakte na die ander gelei het. Ten spyte van ’n plaasopstal plek-plek in die verte, skyn die oop veld lewensloos te wees.

Tog ook nie, want hulle groepie het geleidelik groter geword.

Sommige van die gesigte het hy ’n paar dae gelede op die vragmotor gesien: die huishulp wat gehoor het dat sy op ’n ander dorp werk sou kon kry, maar voor dooiemansdeur gestaan gekom het; die messelaar wat ná werk in ’n groter dorp ’n handjie vol geld aan die ma van een van sy kinders kon gaan gee.

Ander weer, het van hom te hore gekom. Selfs op hierdie oop vlaktes versprei nuus vinniger as die duif se vlieg en hier en daar het iemand hulle langs die pad sit en inwag.

“Jou geloof sal jou seën,” het hy hulle keer op keer verwelkom.

Watersakke kon hulle by windpompe en plaasdamme volmaak, maar vanoggend het Hannas hom gewaarsku dat hulle kos min raak. “Weet jy dan nie?” het hy kortaf geantwoord, want sedert daardie aand op die pawiljoen het sy oë met agterdog oor die veld bly vee.

Ver weg heuwels wat by beskutte klofies in spier.

Verleidelike boesmangras wat oor die vlaktes streel.

Plek-plek kalkoenbos wat tergend opvlam.

’n Verraderlike land wat jou nader lok, maar soos brandskaap sal verteer, het hy aan hom bly sê.

Volg hy egter die pad wat snags deur stemme en drome aangedui word, sal daar voorsien word.

Daarvan getuig die engele immers; nie dat hy die vreemde een wat etlike dae gelede sy verskyning gemaak het, leer verstaan het nie. Hy’t hom af en toe in die groeiende groepie gewaar, maar dié engel het ’n distansie van hom af bly hou. Hy’t ’n onderlinge kommer weens sy sporadiese verskyning onderdruk; die pad sal wel aangedui word, voorsien sal daar voorsien word, soos die komende nag se kampeerplek aan hom aangedui was.

Dus kon hy vandag nie anders as om met afwagting te kyk wanneer daar ’n bakkie uit die verte aangery gekom het nie, drie keer vanoggend. Maar soos al die ander bakkies tydens die dae van tevore, het ook hierdie drie verby hulle gery, boere op pad dorp toe.

Later het ’n polisiewa verskyn en kort voor hulle kom stilhou. Hy het na die polisieman wat uitgeklim het, toe geloop.

“Is dit jy wat nou die dag ...?” Dié man het baie van hom geweet.

“Ek is wie jy sê ek is.”

Die polisieman wou weet waarheen hulle op pad was.
         
“Na die hoofstad toe.”
         
“Hoofstad toe?”
         
Hy’t geknik. Dis waarheen sy drome hom lei.
         
“Ons soek nie moeilikgeid hier nie.”
         
“Ek bring nie moeilikgeid nie.”
         
“En dié mense?”
         
“As iemand jou vra om vir ’n aand voor sy huis wag te hou,” het ’n engel na vore getree, “dan doen jy so vir twee aande.”
         
Die polisieman agterdogtig geknik.
         
“En as iemand jou op die regterwang slaan,” het die engel vir hom bygevoeg, “dan bied jy hom die ander wang ook.”
         
Hierop het die polisieman gelag en weer oor moeilikheid gepraat voordat hy weggery het. Hoe klein die geloof van ’n geharde mens nie kan wees nie! Hy het aan dié om hom vertel dat nie die gehardes nie, maar die sagmoediges die nuwe aarde sal erf.

’n Opgewondenheid het soos ’n ligte windjie oor herfsblare oor hulle gevee en hy het besluit om hulle ’n storie van ’n saaier te vertel; ’n eienskap soos sagmoedigheid word tog deur jou manier van doen gekweek. En hierdie saaier het saad op die pad gegooi, tussen rotse en tussen onkruid ook, maar hy’t ook op vrugbare grond gesaai.

Die ligte windjie het opgetel en sterker geword.
         
“Sien jy,” het hy een van hulle aan ’n ander hoor fluister. “Hy gaan vir ons grond gee.”
         
“En nie sommer vlak grond of klipgrond nie,” was die ander se antwoord.
         
Hy was uit die veld geslaan, ’n verbasing wat in ’n handomkeer in ’n kortstondige woede verander het. Dat dié wat die koninkryk sal erf, die geringstes, die sagmoediges en die armes, nie wil sien nie!

Die engel van geduld het egter na vore getree en voor sy mond gewaak. Vandag val sy woorde op ’n hart van klip, môre verstrengel en versmoor hulle in ’n siel met onkruid oorgroei, maar as daar grond is vir onkruid om in wortel te skiet, sal daar ook vrugbare grond wees waarin sy woorde nog wortel kan skiet!

Hy het besluit om dié gelykenis aan hulle te verduidelik, dit uit te lê, maar ’n bakkie wat oor ’n stofbult verskyn het, het hom daarvan weerhou. Hy’t onmiddellik geweet dat dít die beloofde voorsiening was: ’n boer en die werker wie se dogter hy etlike dae gelede genees het.

So was dit ook, met ’n kampeerplek wat deur skool- en kerkgroepe gebruik word en waar hulle vir die nag kon oorbly. Op die werker se aandrang het daar ’n slagding ook op hulle gewag.

“Messe om mee te slag,” wou die boer weet, “dié het julle seker?”
         
Hulle het gehad en hy het die boer en sy werker geprys. “Wie omsien na sy werkgewer en sy weldoener se belange,” het hy glimlaggend belowe, “sal daarvoor eer ontvang.”
         
Buiten die slagskaap was daar water, want die kampeerplek was naby ’n spruit. En vuurmaakhout ook, maar Hannas het hom eenkant toe geroep en gesê dat een skaap nie genoeg vir almal sal wees nie.
         
“Moenie so kleingelowig wees nie,” het hy hom met toorn geantwoord terwyl die engel van voorsiening hulle te hulp gekom het.

“Laat daar dan meer wees,” het die engel deur hom gepraat en daar was ’n hele troppie.

Soos gewoonlik was hy onbewus van die reaksie wat op ’n wonderwerk gevolg het.

Daarná voel hy steeds uitgemergel en hy’t hom teruggetrek om te rus, maar ook om duskant die spruit te bid en te besin, met die hoop om sy herhalende droom, asook dié engel wat hy nie ken nie, te ontrafel.

VI

Hy sit sedert douvoordag peinsend die lug in en staar. Die nagkoepel het sy lakens opgevou en die laaste sterre het in ’n sagblou bed begin kwyn, voordat die dag se vuurbal met ’n swaar galop sy intrek geneem en die lug in sy kil wit greep vasgevang het.

Sy nag was moeilik.

Hy’t Hannas gevra om saam met hom wakker te bly en te bid, maar hy het self keer op keer aan die slaap geraak, met die gewone droom wat hierdie keer angs in hom teweeggebring het. Daar was die gewone sel en traliehek, sleutels wat raserig geterg het en die eensaamheid van die sel, maar nou het ’n vol saal inbreuk op dié eensaamheid gemaak.

Daar was ’n man met ’n wit pruik wat bo almal getroon het, mense wat op mekaar geskree het, maar dis die aanblik van ’n geweer wat hom laat wakker skrik het.

’n Ligstraal het deur ’n hoë venster geskyn, op die geweer geval en dansend op sy koue loop weerkaats. Toe hy wakker skrik, het hy gevoel asof hy weer in sy pa se huis was, want hy’t weer hardop gevra dat hom dít, ongeag die betekenis daarvan, gespaar sal word.

Gun my rus!

Gaan beproef iemand anders!

Want ’n moeilike disselpad lê hom voor. Só voel dit hom vanoggend, met die dag se wit hitte wat die vroeë oggendblou lank reeds in sy wurggreep het.

Hannas kom vanaf die kampeerplek na hom toe aangehardloop.

“Hulle wil nie verder gaan nie,” sê Hannas uitasem waar hy voor hom te staan kom. “Hulle sê hulle bly hier.”

Hy kyk hom vraend aan.

“Hier’s vrugbare grond,” verduidelik hy. “En volop water.”

Hy kyk Hannas steeds woordeloos aan. Hy wens dat hy hom hiervan kon onttrek, hom kon terugtrek om nogmaals te bid en te peins, maar omdat hy gedurende die nag aan die slaap geraak het, vererg hy hom.

Alhoewel hy vir homself kwaad is, gooi sy siel dié kwaad na buite en hy spring op. Vererg haas hy hom na die kampeerplek toe. Hy hoor skape blêr, sien met die naderkom meer as een kampvuur wat brand en loop in die messelaar en die huishulp vas. Hulle staan vanoggend hand om die lyf en kyk hom uitdagend aan.

“Wat gaan hier aan?” vra hy.
         
“Jy’t gesê maghebbers sal van hulle trone af geruk word,” sê sy. “En dat óns verhoog sal word.”

“Net gister nog het jy ons vrugbare grond belowe,” voeg hy by.

“Grond soos hierdie. Hier sal saad goed wortel skiet én hier is water.”

“Met só ’n begin?” vra hy verontwaardig. “Proe die een ná die ander?”

“Ken jy ooit ’n vrou?” snou die messelaar hom toe.

“Dis ’n land wat julle sal verteer,” sê hy steeds vererg en kyk verby hulle na die ander.

’n Paar staan en kyk hóm vraend aan, afwagtend op sy goedkeuring.

Etlike ontwyk trotserend sy blik.

Ander sit of lê traag, met ’n paar leë bottels wat rondlê om hulle traagheid te verklaar.

Radeloos draai hy van hulle af weg en nou eers val sy oë op hóm: die engel wat homself nie tydens die maan se siklus openbaar het nie. Hy sit eenkant op ’n groot klip, met sy rug na almal toe gedraai.

Hy frons. Tot dusver het die engele hom gelei, wanneer en na waar nodig, maar draai ook ’n engel twyfelend sy rug op die mens?

Wanneer hy onseker van dié engel af wegdraai, kom die boer en sy werker, elk met ’n sambok in die hand, asook gister se polisieman en ’n polisievrou na hom toe aangestap.

“Ek het vir julle ’n slagding en oornagplek gereël,” sê die werker beskuldigend.

“Ons het gesê een nag,” voeg die boer by waar hulle voor hom te staan kom. “Is dit nie waar nie?”
         
“My waarheid ... is nie van hierdie wêreld nie,” soek hy na woorde. “En vanoggend ...”

“Net gister het jy gesê dat ’n mens na jou weldoener se belange moet omsien,” onderbreek die werker hom. “En hierdie skape ...”

“Kom ek vertel jou wat die waarheid is,” val die boer sy werker in die rede. “Hulle sê jou pa is ’n skrynwerker en het ’n besigheid. En jou pa is daarop geregtig om sy besigheid te verkoop of een van sy kinders te laat erf. Maar hy sal nie toelaat dat iemand oornag in sy besigheid instap, sy goed vat en môreoggend sê dat dit aan hom behoort nie.”

“Ook my pa is nie van hierdie wêreld nie.”

“En julle kry voor twaalf ’n interdik om hierdie grond te verlaat,” ignoreer die boer hom.

“Voor twaalf,” sê die polisieman. “En nie ’n minuut later nie.”

“So nie, weet jy wat op jou wag,” voeg die polisievrou by.

“Eintlik hou ons van moeilikgeid hierrond,” sê die werker.

Opeens hoor hy ’n sel se traliehek agter hom toeslaan en draai vraend van hulle af weg. Sy oë vee vlugtig oor die kampeerplek. Óf vraend óf trotserend, almal kyk hom nou aan.

Behalwe dié ene op die groot klip. Hy sit steeds met sy rug op hulle gedraai.
Hy grinnik binnensmonds; dat selfs ’n engel nie weet nie!

Dan gee hy ’n tree vorentoe en kyk vraend in die lug op, verby die kil wit hitte wat die dag aan die verstrengel is.