Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Daaglikse geweld


W Gouws - 2009-03-17

Vir F Kafka

Gister was dit die ystervark in die TV-kamer. Nogal ’n albino. Toe ek hom kon sien, was hy al baie kalmer; vir seker heeltemal radeloos. Sy pienk ore lyk op ’n haar na net soos daardie seuntjie van Jan en Hester s’n; of dan – behalwe nou vir die kleur - nes my vriend van destyds, Steve Bantu, s’n. Dié het altyd klein ore gehad en het nie oud geword nie. Grootoormense word deur ’n langer lewensverwagting in die oë gestaar. Steve se dood was wel ook nie weens natuurlike oorsake nie – volgens die reduktiewe siening en kennis van die natuur van diegene betrokke by jurisprudensie, bygesê. Maar die ystervark was moeg. ’n Dosyn of wat losgeraakte blonde penne het kruis en dwars op die vloer naby die koffietafel rondgelê. Iemand het die twee kelims opgerol en dit lengtegewys oor die sofa en die chaise neergesit. Op die Italiaanse quarry-teëls kon hy (as die dier ’n mannetjie was) niks doen nie.

Ek het na hom toe geloop waar hy in die hoek anderkant die kaggel tussen die muur en die lazyboy gewag het. So drie meter spasie tussen ons gelos en gaan staan. Stadig afgesak tot op my hurke. “Jy’s in die aangesig van iets, ou maat,” het ek sag gesê. Sy oë (soos jong niervleis) was vol begrip. Hy was tjoepstil, selfs sy stert, met sy ken vas teen die vloer gedruk - ook toe my selfoon met Händel se Halleluja-wysie beginne lui het. Die vinnige vibrasie van die ystervark se wit snorhare het egter tot stilstand gekom. Ek moes gaan, en is saggies en agteruit daar van hom weg.

Sy dood sou weens ’n baie natuurlike oorsaak wees, indien jy ’n oordeel van Annetjie sou vra, want sy sal die gereg uit die ystervark voorberei vir Jaco se ete. “My ou dierbaarste verdien regtig iets spesiaals,” het sy nogal suggestief gelag.

Dit was gister.

Vanoggend word ek in Marie se huis wakker en besef nie dadelik, met haar Chanel nog duidelik onder my neus, dat daar ’n probleem is nie.