Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Oumense kan mos nie slaap nie


Reney Warrington - 2009-03-17

Die wekker lui. Dis 05:30. Ek moet my ouma Kroonstad toe vat en sy wil sewe-uur al ry. "Oumense kan mos nie slaap nie," is wat sy gisteraand vir my oor die telefoon gesê het. Vir ’n oomblik lê ek warm en lomerig in die bed, in die donker, en dink aan die dag wat voorlê. Ek het die vrou lanklaas gesien. Sy is ’n hardkoppige ou tannie wat nie huiwer om vir mense presies te sê wat met hulle persoonlikhede en lewens skort nie. Sy sal ’n glorious tyd hê met my lewe.

Ek stort en maak oats op die stoof sonder om my beter helfte wakker te maak. Die espresso sal moet wag tot by die eerste Wimpy. Ek drink pepermenttee by die kombuistafel en wonder waaroor ons gaan gesels.

Die GPS tel die ouetehuis op en ek ry rustig agter Greitje se Hollands aan. Bettie, die Afrikaanse stem, klink te veel soos ’n polisievrou wat jou gaan donder as jy verkeerd afdraai. (Nou sê my Afrikaanse spellcheck ek het alweer ’n aanstootlike woord, donder, gebruik en ek moet hersiening oorweeg. Dis groen strepe net waar ek kyk.) Anyway, die strate is heerlik stil en ek luister Patti Smith se klassieke 1975-album Horses. Oud voor my tyd, sê my ma al van kleins af oor my musiekversameling.

In Roodepoort, nog steeds vroegoggend, stop ek dan voor ’n ontsettend depressing gebou. Dit lyk meer soos ’n tronk met sy bruin baksteenmure, kortgeknipte gras, geel vensters, sementpaadjies en swart diefwering. ’n Tronk of ’n NG Kerk, as ek nou eerlik moet wees.

Soos afgespreek, rapporteer ek my aankoms by die nagverpleegster. Sy is van die vriendelike tipe. Ons almal ken haar. Middelklas, highlights in die hare, ronde wange, eienaar van die ou vorm Opel Kadett, rugby-ondersteuner, vreeslik opreg en so behulpsaam sy kan bars. Die geduldige tipe wat jy wil hê moet omsien na jou ouma, want jy is te sleg om haar in te vat.

“Môre. Ek is hier vir mevrou Bester?”

Sy glimlag dan ook vriendelik.

“Jou ouma is al reg van 06:00 af, mensie.” Die idee van my ouma met haar handsak op haar skoot, kiertsregop op haar bed, maak my onverhoeds hartseer. “Ek gaan haal haar gou-gou,” sê die vrou en stap kordaat in die ellelange gang af. Haar wit verpleegsterskoene squeak oor die blink vloer, haar wit verpleegstersuniform span oor die bultende Boerelyf.

Ek raak kriewelrig, waaroor weet ek nie, maar ek is lus en loop uit. Ek haal diep asem en kyk hoe lyk die krulle wat ek by my ouma geërf het in die venster se reflection. Ek hoor haar gesels voor ek haar sien.

Sy lyk korter. Sy lyk nog soos ek haar onthou. Twee bolletjies regop gehou deur twee dun beentjies. Die kleiner bolletjie is haar perfek-"gedoende" hare, afgerond deur die ekstragroot bril wat haar oë nóg groter laat lyk. Die oë wat ek ook geërf het. Die groter bolletjie is haar ronde lyf. Oor die crimplene-rok het sy ’n ligte truitjie aan, aan haar plat voete die lapskoene wat vir haar so gemaklik is.

Sy kyk op en glimlag vir my. En dit raak my so dat ek wil huil.

“Hallo Ouma,” sê ek sag en vat die 10 kg-handsak wat haar omtrent omtrek. Sy pak vir enige onvoorsienigheid. Ek sien haar hande en dit lyk soos my ma s’n.

Ek kry ’n druk, ’n stewige ouma-druk. “Hallo Grootoog.” Sy onthou nog my bynaam.

Ek glimlag verspot. “Is ouma reg?”

“So reg soos hierdie ou lyf ooit sal wees, jong.” Sy het nog genoeg skop om grappies te maak.

“Ek het by die syhek parkeer, soos Ouma gevra het.”

Sy knik en groet eers die verpleegster.

“Wonderlike mens daardie,” sê sy en wys na die nurse. “’n Kind van die Here.”

Ek knik maar. Sy sal nie dieselfde van my dink nie. Sy haak by my in en ek raak weer verdomp huilerig. Wat gaan aan?

Voor die Fiat-bakkie soek ek vir die sleutels en sit ek die handsak vir ’n oomblik agter op die bak neer. My ouma se oë rek. “My handsak gaan nie agterop ry nie, gaan dit?”

Ek glimlag. “Nee, Ouma, ek het net nog ’n hand nodig gehad.”

“Hmmm, goed so.”

Sy wys na my gatsak waar ’n sleutelhouer uitsteek.

“A, dankie.”

Ek sluit die deur oop, maar Ouma klim nie.

“Jou ma sê dan jy ry so ’n lae karretjie waaruit ek nooit sal kan uitkom nie.”

“Ek doen, Ouma.” Maar ek het die Ford KA geruil vir my lover se bakkie vandag. “Ek het ’n ander kar geleen vir vandag.”

“Wie s’n?”

Jy lieg vir haar eie beskerming, so dit is eintlik nie lieg nie.

“Hmmm, sommer ’n pel s’n.”

Sy los dit daar en tree versigtig nader.

“Kan ek help?” vra ek met ’n hand wat ek uitsteek.

“Watwou,” sê sy vir my en klim self in die kar.

Ek kyk op na die wolke en skud my kop. My ouma sit haar safety belt aan terwyl ek Greitje opstart.

“Nou watse gedoente is dit dié?” vra sy en kyk Greitje nuuskierig aan.

“Dis ’n GPS, Ouma.”

“Nee, jy moet maar verduidelik.”

Ek trek weg en begin in eenvoudige taal verduidelik.

Sy skud haar kop in ongeloof en sê: “Soos my ma altyd gesê het, Baby, maar die Ingelse is darem slim.”

Ek lag vir die uitdrukking wat my ma vandag nog gebruik.

Sy leun oor en kyk na my spoedmeter. “Ek hoop nie jy ry vinniger as 60 nie.”

“Dis ’n 80-sone, Ouma.”

“Dit maak geen verskil nie. Hier is huise en dit beteken kinders op fietse.” Nie meer in vandag se tyd nie, Ouma. “Ek sê ons ry 60 en dis klaar.”

Oumense darem.

“Goed, Ouma.”

“Of is jy haastig? Wil jy net jou arme Ouma so vinnig as moontlik afgooi en terugjaag …?”

Dit was die plan, maar skielik voel dit vir my soos ’n onreg, soos ’n plan wat ’n lafaard en ondankbare kleinkind sou uitgedink het die vorige aand. “Nee, nee, glad nie. Ek het die dag afgevat.”

“Dis goed so.” Sy grawe rond in haar handsak. “Sweetie vir jou?”

Die pakkie "pienkpilletjies" in haar hand bring baie herinneringe terug. Sondae, in die kerk, as my vierjarige self nie kon stilsit nie, het sy skelm vir my pienkpilletjies gevoer. Dan het ek stilgesit tot een sweetie klaar gesuig is en vir nog gevra. Ek vat een, sit dit in my mond en kry die huilerigheid onder beheer.

“Hoe gaan dit by die werk? Wat doen jy nou weer?” vra sy met ’n frons wat vergroot word deur die groot ronde bril. Ek het al keer op keer vir my Ouma verduidelik wat "scouting" beteken. Sy kan dit net nie kleinkry nie. Ek glimlag vir myself. Hier gaan ons weer.

“Ek is ’n location scout, Ouma.” Ons is nou al op die snelweg en kruip voort teen ’n skamele 80 km. “As iemand ’n advertensie wil skiet vir ’n tydskrif en hulle soek byvoorbeeld ’n swembad of ’n hotel of ’n mooi stuk pad, dan word ek gestuur om dit te gaan soek.”

“En jy word betaal hiervoor?”

“Nie baie goed nie, maar ja, Ouma, ek maak ’n lewe daaruit.”

“Hmmm.”

Ek onthou skielik van die billboard wat ek gescout het. “Kyk byvoorbeeld na daardie bankadvertensie.”

“Die sokkerveld?”

“Ja, ek het dit gekry.”

“Waar?”

O jinne.

“In Soweto,” sê ek sag en na my ruit se kant toe.

Sy lyk skielik meer geïnteresseerd.

“In Soweto?”

“Ja, Ouma.”

“En hoe lyk dit daar?” vra sy met haar neus opgetrek.

“Soos ’n gewone dorp met ryk buurte, middelklasbuurte en natuurlik baie arm buurte.”

“Hmmm,” sê sy weer. “Kan jy nou meer.”

Ek onthou hoe verbaas ek was met die Ja/Nee-referendum in die vroeë '90’s. Terwyl ander oumense gekerm het oor die land wat weggegee word, het my ouma met haar elmboog op die kas gerus, haar oë toe van die moegheid, en gesê: “Dit is die beste ding. Dit kan nie so aangaan nie.”

“Is hier bietjie musiek in hierdie kar?” vra sy uit die bloute uit.

“Ja, ek het net gedink Ouma gaan nie daarvan hou as ek musiek speel in die kar nie. Soos Ma. Sy raak paniekerig.”

My ouma glimlag van agter haar bril af vir my. “Weet jy wat my ma altyd van jou ma gesê het?”
 
Ek weet baie goed, maar ek wil dit nog ’n slag hoor.

“Nee, sê maar.”

“Daai een, sy is gebore vir die stage.”

Ek lag kliphard.

“My oumagrootjie was dan reg.”

My ouma sit sommer self die radio aan. Dadelik eject ek vir Patti. Sy vloek en skree te lekker op die album. Ek grawe rond vir Cowboy Junkies. Hulle het nog nooit iemand geaffronteer nie.

Die groen padteken, links bo, waarsku my daar is ’n Wimpy 2 km van nou af. “Hoe lyk dit, Ouma, sien Ouma kans vir ’n koffie by die Wimpy?” vra ek sonder veel hoop.

“Vir seker.”

Ek moet seker nie verbaas wees nie, maar ek is. Ek stop so na aan die ingang as moontlik sodat sy nie te ver hoef te stap nie. Geduldig wag ek by haar deur en hou ek die karre om my dop. Netnou stamp iemand haar. Ek raak weer kriewelrig. Ek moet myself keer of ek vat haar hand en lei haar in die Wimpy in.

“Waar wil Ouma sit? By die venster of by die booths?”

Sy kies die booths, want "dit is sagter op die ou lyf.”

“Ek stem.”

Ek wag tot sy sit voor ek gaan sit. Ingeval ek moet help of vang of so iets.

“Dis nou aangenaam,” sê my ouma en kyk grootoog rond na die Wimpy se dodgy interior decorating.

Sibongile stap vriendelik nader en oorhandig twee spyskaarte. My ouma slaan oor na haar beste Britse Engels toe. Ek is reg om Sibongile in die rede te val as sy ongeskik is met die ou dame. Dis egter onnodig. Sy kyk met groot agting na die gogo wat ’n koppie rooibostee bestel. Ek las vinnig ’n espresso by.

Sibongile vat die spyskaarte en los my alleen oorkant my ouma.

“En hoe gaan dit met die liefdeslewe?” vra die vrou uit die bloute uit.

Ek slaan summier in ’n koue sweet uit. Lieg maar. Dit is vir haar eie beskerming, onthou?

“Nee, maar stil, Ouma.”

Sy tilt haar kop na een kant toe en frons vir my ’n allemintige frons.

“Maar bly jy nie al tien jaar saam met iemand nie?” Angs oorval my. Ek is nie getroud nie!
“Wat is haar naam nou weer?”

Ek verstar. Háár? Die huilerigheid sit vlak agter die skok en angs.

“Wat bedoel Ouma?” vra ek met ’n stem wat selfs ek kan hoor bewe erg.

Sy glimlag ’n sagte, groot glimlag en dit laat my beter voel, al weet ek nie wat volgende kom nie.

“Ek wéét, Grootoog.”

Sy vat my hand en dit is toe sy wat my lei.

“Ouma ...,” is al wat ek kan uitkry. Die trane stoot op saam met die hartseer. Ek steek dit so lank al weg, vir so baie mense vir wie ek eintlik lief is.

“Here we go, ladies,” sê Sibongile terwyl sy die tee en espresso aflaai. As sy my trane opmerk, steek sy dit goed weg. “Anything to eat?”

“No thank you, dear,” antwoord my ouma namens ons, aangesien ek onkapabel is.
Sibongile knik en verdwyn.

“Vat eers ’n sluk van daai klein koffietjie,” sê my ouma.

Ek skeur die suiker oop en wonder hoe ek die onmoontlike gesprek gaan aanpak. Hoe gaan ek jare en jare se gelieg regmaak? Ek roer die bruinsuiker in en vat ’n sluk van die sterk koffie. Waar begin ek?

“Maak sy jou gelukkig?” onderbreek my ouma my confusion mee. Sy sien toe regdeur al die nonsens en dié keer kan ek nie die trane keer nie.

Verskriklik baie, Ouma.”

Sy haal ’n opgevoude tissue uit haar handsak uit en gee dit aan. “Vertel my dan meer van haar.”

Die wekker lui. Dis 05:30. Ek moet vandag ’n dodgy hotel soek vir ’n advertensie. Vir ’n oomblik lê ek warm en lomerig in die bed, in die donker, en dink aan die droom wat ek gehad het. Ek mís haar – my ouma. Sy is 15 jaar gelede dood. Ek het nooit die kans gehad om vir haar te sê nie.