Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

Ramfest 2009: 'n Fees wat brul tot die bittereinder-blues


Annie Klopper - 2009-03-13

Ek het dit miskien reeds die Sondagmiddag geweet toe die laaste noot van Dan Patlansky se kitaar soos ’n slagter se lem deur murg saag. Nee, dalk vroeër ... Ek het dit al geweet toe Snake Venter die vorige aand van die verhoog af klim met bloed wat stigmaties deur sy vingers en oor sy tromstokkies stroom. Selfs vroeër dalk. Het ek dit reeds verlede jaar geweet? Toe ek vir die eerste keer aan tentpale moes vasklou om regop te bly terwyl rock 'n roll luid en onaards brul uit die valleie van Worcester en ek sien hoe die punte van berge teen die naglug verskuif. Het ek dit tóé geweet? Toe ek opkyk en besef: die konstellasies lyk anders hier. Dit lyk anders as jy in ’n byna magiese realiteit kan slenter tussen freakshows en hotdog-stalletjies met dorings tussen jou tone, glowsticks in jou hare en Battery 9 wat teen jou skedel angle-grind.

Ja, dis toe ek geweet het.

Maar voordat ek dit hier kon erken, moes iets anders eers gebeur. Ek moes Maandag 2 Maart deur Stellenbosch se strate loop en ’n vrou sien in ’n somerrok met kitten heels, ’n vars manicure, botox, blinkskoon hare en ’n hartseer kyk in haar oë. Ek moes haar sien en besef: sy was nie die afgelope naweek by Ramfest nie. As sy was, sou ’n mens steeds die nadraai van een van die beste line-ups in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse musiekfeeste op haar gesig kon sien. Die kennismaking met groepe soos The Dirty Skirts, Kidofdoom, Fokofpolisiekar, Foto Na Dans, Taxi Violence, Lark, New Holland, aKING, Isochronous, Van Coke Kartel, Bed On Bricks en Die Antwoord sou vassit onder gebreekte naels en tussen split-ends.

Ek sal weet. Want daar is die res van ons wat wel by die derde jaarlikse Ramfest by Nekkies-vakansieoord buite Worcester was. Dié duisende van ons wat die lyne van min slaap met trots onder ons oë dra. Want hoe slaap ’n mens? Tussen ’n hoofverhoog waarop al jou gunsteling bands speel, die hoogs vermaaklike plaaslike air guitar-kampioenskap, ’n Black Parade-verhoog (waar hardcore bands aan "die dal van doodskaduwee" nuwe betekenis gee), en dan nog boonop ’n electronic tent waar jy saam met ouens soos DJ Sassquatch tot die vroeë oggendure al dansend van die laaste rillings in jou lyf ontslae kan raak.

En daar sit ek die Sondagmiddag en luister na Little Kings, The Violent Free Peace en Dan Patlansky wat die stof voor die verhoog net nie wil laat lê nie. In skadukolle, in die swembad en in die rivier weier die Ram om die allerlaaste groep feesgangers uit sy kloue te laat wegkom. Hier en daar hoor jy hoe ’n enjin teësinnig aangeskakel word. Môre gaan ’n halfgeëte shwarma onder die passasiersitplek begin muf. Een van die passasiers gaan wonder watter musikant se handtekening is in permanent marker op haar heup geskryf, terwyl een van die ander duwweltjies uit sy sole trek en probeer om die meisie langs hom se naam te onthou. Môre sal iemand hulle in die straat sien en weet: hulle was by Ramfest.

So daardie Sondagmiddag, in die warm wind waar die bome blare huil saam met die bittereinder-blues het ek geweet: dis onmoontlik om te verduidelik hoe cool die Ramfest is. Jy moes daar wees om te verstaan.

(Intussen kan jy kyk na my foto’s van mense wat wel daar was en ’n knoop in jou derm maak om volgende jaar te gaan.)

Foto’s deur Annie Klopper