Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Waarom die UV parallelmedium moet behou. ’n Opiniestuk vir kommentaar


Prof Theodorus du Plessis - 2009-03-12

Die UV se huidige taalbeleid is nou, meer as ooit tevore, onder die soeklig. Nie net is ons beleid gekritiseer deur die ministeriële komitee wat ons vroeër vanjaar besoek het nie, maar ons is eintlik ook bygekom deur die ouditkomitee (ek gebruik sommer die populêre woord). In beide gevalle het die mening van die betrokke instansies die pers bereik. Verder was daar natuurlik Reitz 2008.

Ons taalbeleid word voorgehou as dat dit verdeeldheid sou skep, of ten minste aanmoedig. Die veronderstelling wat gemaak word, is dat die verdeling Afrikaanse klasse / Engelse klasse kousaal korreleer met die verdeling wit/swart. (Die arme ware Engelstalige studente wat ook in die Engelse klasse sit! En die bruin outjies in die Afrikaanse klasse!) Ook beperk dit ons natuurlik met personeelinname en word druk geplaas op personeel wat nie Afrikaans magtig is nie, om tog die taal onder die knie te kry.

Daar gaan natuurlik ook al ’n hele paar jaar intern kritiese geluide op wat ook ons taalbeleid te lig bevind. Afrikaanssprekende kollegas vind dit onder meer diskriminerend dat hulle hul Engelstalige kollegas se lesings moet herhaal (sonder bykomende vergoeding daarvoor). Ander vind dat "die mark" Engels is en dat ons ons tyd mors met die instandhouding van ’n Afrikaanse onderrigbaan. Nog ’n klompie meen dat ons met oëverblindery besig is, aangesien die oorwegende aantal bronne tog maar Engelstalig is – uiteindelik is dit slegs die ou paar woordjies tydens die lesing self en miskien nog die studiegids en -handleiding wat Afrikaanstalig is; streng gesproke eintlik – n baie swak vorm van parallelmediumonderrig, meen hulle.

Natuurlik is daar ook nog ander argumente uit eie oord wat voortvloei uit ons transformasiegesprekke en grootliks aansluit by die kritiek vanuit ministeriële en hoëronderwysraadskringe. Dit klink byna of laasgenoemde eersgenoemde eggo.

Die logiese vraag wat in baie gemoedere leef, is: Waarom lees die UV dan nie die spreekwoordelike skrif teen die muur en word gewoon ’n enkelmediuminstelling nie? (Natuurlik enkelmedium Engels!) Presies dit wat die UV by sy ontstaan was. Vir baie begin so ’n besluit na die "logiese" , noodwendige en half onvermydelike opsie lyk. Kom ons wees eerlik, dit is die taal van die regering, van die ekonomie, wat ons swart studente wil hê . Ook is dit ’n internasionale taal. Daar kan ook nog ’n hele boel ander argumente bygesleep word – die wat die debat by Stellenbosch volg, sal weet watter soort argumente daar bedink word ten gunste van Engels.

Waarom dan nie maar ophou skop teen die prikkels nie?

Daar bestaan wel baie goeie oorwegings waarom nie, waarom ons ’n parallelmediuminstelling moet bly. Waarom dit die verantwoordelike ding is om te doen. Hier volg ’n paar (wat hopelik verskil van die meer gebruiklike sentimentele argumente):

  1. Dit verg nie veel vindingrykheid om die besluit te neem om na enkelmedium oor te skakel nie. ’n Mens sou wou dink dat na alles ’n besluit rondom die taalkwessie ’n oorwoë een is wat darem ooglopend sal (probeer) verskil van populistiese opvattinge.
  2. Daar kan geredeneer word dat van die sieninge hier bo oor die rol van ons taalbeleid by die verdeeldheid op ons kampus in werklikheid ’n baie simplistiese uitkyk verteenwoordig. Dit veronderstel enersyds ’n baie simplistiese (en eintlik kunsmatige) siening van integrasie en andersyds ’n baie simplistiese siening van die rol van taal in die samelewing. Anders gestel, die rassis gaan nie noodwendig verander omdat die voertaal verander nie. Dit spreek eintlik vanself dat een voertaal wel een klas tot gevolg sal hê wat ooglopend "geïntegreerd" lyk, maar nog glad nie aan die werklike vraagstukke rondom integrasie enige duit verander nie. So magies is die taal Engels nog nie; daar bestaan nog nie enige navorsing wat kon vasstel dat Engels die taal van engele is nie. Integrasie veronderstel tog iewers dat gesprek gevoer word. Lesings is waarskynlik nie altyd die beste geleenthede vir interpersoonlike gesprek nie.
  3. Ons wil sekerlik graag ’n multikulturele instelling bly waar ons nie ons "tradisionele" studentekorps sal vervreem en uiteindelik verskraal nie. Tensy alle tweetalige universiteite waar Afrikaans eens ’n prominente voertaal was, gelyktydig besluit om te verengels, het ons geen waarborg dat ons nog groot getalle Afrikaanstalige studente sal bly werf nie. En wil ons werklik uiteindelik ’n "swart" universiteit word? Nie dat daarmee per se iets fout mee is nie, maar is ’n "swart" universiteit verteenwoordigend van die groter Suid-Afrika? Bring ’n rasgemengde instelling ons nie nader aan die multikulturele ideaal nie?
  4. Die enkelmediumopsie is wesenlik ongrondwetlik. Wat ons ons moet afvra, is of dit die uiteindelike bedoeling van die grondwetskrywers was om alle staatsinstellinge te laat verengels? Het hulle teruggedeins vir die uitdagings van meertaligheid en dus eintlik onderliggend voorsien dat Engels tog maar die allerantwoord is? Indien dit wel die geval is, waarom dan die minimum vereiste dat staatsinstellinge in minstens twee amptelike tale sal funksioneer? En waarom die komplekse taalbeleidsnorme en voorwaardes? Twee voertale in hoër onderwys klink nader aan die merk as een.
  5. Die enkelmediumopsie druis ook wesenlik in teen die ideale van die Taalbeleid vir Hoër Onderwys soos deur die betrokke minister voorsien. Daarin staan onteenseglik dat Afrikaans as voertaal aan hoëronderwysinstellings behou sal word. Al het die betrokke dokument weggedoen met enkelmedium Afrikaanse instellings, was dit nie die bedoeling om uiteindelik weg te doen met Afrikaans as voertaal en wetenskapstaal nie. Hieroor is die dokument baie duidelik. Daar bestaan dus goeie ministeriële gronde vir ’n hoëronderwysinstelling waar Afrikaans ook ’n voertaal is.
  6. Binne bogemelde model verrig ’n voertaal aan – n Suid-Afrikaanse universiteit – n instrumentele funksie. Suid-Afrika het dus wegbeweeg van die etnolinguistiese universiteitsmodel van vroeër, waar Afrikaanse universiteite ook grootliks Afrikaner-universiteite was, byvoorbeeld. Die parallelmediummodel (wat trouens in die Taalbeleid vir Hoër Onderwys voorsien word) word gebaseer op die veronderstelling dat studente uit een van twee instrumente kan kies (of selfs beide kan kies, soos wat reeds begin gebeur – een module in Afrikaans, – n ander module in Engels). Dit word nie veronderstel dat studente ’n keuse oor identiteit uitoefen nie. Die Afrikaanse klas is nie inherent ’n "Afrikaner"-klas nie; dis ’n klas waar een van die UV se voertaalinstrumente vir onderrigdoeleindes aangewend word. Die omgekeerde geld min of meer vir die Engelse klas. Insgelyks kies swart studente nie om identiteitsredes oorwegend vir Engels nie.
  7. Enkelmedium maak nie gelyk nie. Die "middelgrond"-gedagte kom hier aan die orde: as tweede taal van beide die Afrikaanse en swart student skep Engels die spreekwoordelike middelgrond. Hier word weer foutiewe aannames gemaak oor die rol van taal by onderrig. Swart studente KIES om in hulle tweede taal onderrig te word. Dit is ’n keuse wat hulle reeds baie vroeg op skool maak. Die studente kom dus nie na die UV met die bedoeling of verwagting om in hulle moedertaal onderrig te word nie. Hulle skakel dus nie hier oor na hulle tweede taal nie. Ook belangrik is dat ons hier praat van niemoedertaalgebaseerde tweetaligheid. Die verwerwing van Engels as tweede taal onder swart studente word nie gedoen op basis van die behoud van hulle moedertaal as voertaal op skool nie. Afrikaanse studente, daarenteen, verwerf meestal Engels as tweede taal binne ’n model van moedertaalgebaseerde tweetaligheid: die moedertaal word as voertaal behou. Hier sit ons dus met ’n inherente ongelykheid wat nie deur enkelmediumonderwys (in die gesamentlike tweede taal, Engels) aan die UV opgelos kan word nie. Die uiteenlopende tweetalige modelle bring mee dat daar nie gelykheid in emosionele en kognitiewe ontwikkeling by die twee stelle leerders was nie.
  8. Deur enkelmediumonderrig faal die UV in sy groter onderrigtaak. Gegewe die ideale van ’n funksionele meertalige bestel het die UV ’n onderrigverantwoordelikheid wat Suid-Afrika se taalbestel betref. Indien ons Grondwet nie amptelike eentaligheid as uitkoms vir die dilemmas van meertaligheid voorsien nie, moet ons ons afvra wat ons doen om studente voor te berei op ’n samelewing waar meertaligheid ’n inherente deel van die daaglikse uitdagings is. Deur na enkelmedium oor te skakel, leer ons vir studente dat die grondwetlike taalbepalings eintlik onbelangrik en selfs oorbodig is, dat taaldiversiteit ietwat van ’n lastigheid is. Parallelmedium skep die geleentheid vir ons studente om te leer dat Suid-Afrika se taalbestel ’n komplekse een is, een waarvoor daar nie simplistiese oplossings bestaan nie. Dit is ’n verantwoordelikheid soortgelyk aan die een rondom koshuisintegrasie. Suid-Afrika se taalkompleksiteit word allermins opgelos met slagkrete en ’n aandrang op Engels elke keer wanneer die meertalige realiteit vir ons een te veel word.

Hierdie paar oorwegings bied sekerlik nie antwoorde op al die vrae rondom die taalkwessie wat tans die rondte doen nie. Ook probeer ek doelbewus die emosionele en sentimentele argumente (aan beide kante) vermy. Debatte wat hierdeur geïnspireer word, val soveel kere vas in ’n warboel van persepsies en etikettering. Ek laat dit maar aan andere oor.

Prof Theodorus du Plessis
Eenheid vir Taalbestuur
UV