Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Sy hang wasgoed op


Nandi Venter - 2009-03-11

Sy bly skaam afkyk na haar hande. Elke nou en dan draai sy haar kop skuins na die vrou langs haar en knik 'n ja om te wys sy luister. Die vrou maak haar baie senuweeagtig, want sy's mooi en sy sit te naby aan haar. Ria wonder hoekom hulle nou weer so naby mekaar sit op hierdie harde seegroen bankie in die metrotrein tussen 'n klomp slapende mense. Sy probeer haar aandag terugbring na die vrou langs haar se gesprek, maar sukkel om te fokus. Haar gedagtes is verward, soos 'n duif in 'n kerk wat telkens teen 'n venster vasvlieg, op soek na  uitkoms.

"… is dit nie vir jou ook so nie?" vra die mooi vrou op 'n stadium. Sy het geen idee waarvan die vrou praat nie.

"Ja," sê sy skaam.

Die vrou praat verder, blykbaar dood tevrede met haar antwoord. Eintlik weet Ria dat die rede waarom die vrou met haar praat, bloot net uit simpatie is. Sy wens net dat die vrou nie so mooi en gaaf was met haar sagte sussende stem nie. Dit maak dit moeilik om nie te wil huil nie. Huil? Hoekom sal sy nou dink dat sy wil huil? Sy huil dan in elk geval nooit nie. Die laaste keer wat sy gehuil het, was die dag toe Pa die ysterpyp vuurrooi gemaak het oor die kole. Sy't nooit weer gehuil daarna nie; hoekom wil dié vrou se sagte stem haar dan nou laat huil? "… die winkel verkoop die mooiste materiaal en die pryse is ook baie billik …" Die vrou se hande gesels saam soos klere wat wapper aan 'n wasgoedlyn.

Hulle het mekaar by die kenmekaar-groep ontmoet. Ria sou nooit gegaan het as dit nie vir die geskree in haar eie kop was nie. Sy moes uit, weg; iewers moes daar tog normale mense met normale gesprekke oor die weersomstandighede en ekonomie wees. Daar het sy toe opgedaag. Sy was vroeg daar, sodat sy 'n sitplek agter in die hoek kon kry. Maar toe dit tyd was vir teedrink, het 'n groepie vrouens om haar kom kloek en probeer gesels maak. Sy kon nie veel uitkry nie, haar mond was droog en die koppie tee wat iemand in haar hand gedruk het, te sterk. Later het die vroue een-een weggedrentel en net die mooi vrou het oorgebly. Hulle het 'n rukkie gesels oor iets wat Ria nou nie meer kan onthou nie en toe afgespreek om weer te ontmoet en saam iewers heen te gaan. So nou is hulle hier in die metrotrein op pad iewers heen.

Ria vryf haar hand deur haar kort hare en trek aan haar T-hemp met die silhoeët van twee figure met bokshandskoene aan. Sy weet dat die vrou die twee letsels op haar voorkop raakgesien het. Ria wens sy kon opstaan, die treindeure oop forseer en uitspring. Sy vryf haar hande angstig en bly afkyk. Die vrou se skoene is effens deurgeloop aan die kante, sien sy. Ria voel haar hart vinniger klop. Die vrou wat se hande saam met haar gesels, vat elke nou en dan aan Ria se arm. Sy wens sy kon die vrou se hande vashou, net vir 'n rukkie. Sy wens sy kon dit koester soos die klein voëltjies wat sy as kind grootgemaak het. Mooi hande, sag en warm. "… ek het toe klaargemaak by die universiteit daardie jaar en dadelik in hierdie pos ingestap …" Die vrou se hand land weer op Ria se arm. "Ek praat te veel. Vertel my van jou kleintyd," glimlag die vrou na haar kant toe.

Ria skrik vir die skielike stilte. Sy maak haar keel skoon en druk haar hande onder haar bene in om hulle stil te hou. "O, ag, ek het grootgeword in die platteland. My pa was 'n meubelmaker. My ma was maar sieklik." Sy sien weer die ou huis met die skewe posbus en haar ma wat op die stoep sit met haar kniekombers. Sy ruik geskaafde hout en voel die ou bekende angstigheid in haar maag kriewel. "Ek het skool klaargemaak en deeltydse kursusse gedoen en ek werk nou by 'n maatskaplike sentrum, waar ek help om die kinders te versorg wat weggevat is by hulle ouerhuise en uitgeplaas moet word na voogouers." Ria is bewus daarvan dat sy soveel as moontlik probeer inprop in een sin. Sy hoop die vrou vra nie verder uit nie.

Haar pa se figuur is donker teen die gloeiende vuur. Sy skaduwee teen die wit tuinmuur laat Ria dink aan 'n reuse-beer. Sy sukkel om die bloed in haar mond uit te spoeg, dit bly in haar keel afloop. Haar lyf voel swaar en haar een oog wil nie lekker oop nie. Sy probeer regop sit, maar haar arms en bene wil nie saamwerk nie. Sy kan nie sien wat haar pa maak by die vuur nie. Sy ruik die houtsaagsels op die vloer. Haar pa het iets in sy hand, maar dit is te donker om te sien wat dit is. Ria weet sy het iets verkeerd gedoen, maar haar kop is deurmekaar; die hou wat sy teen haar slaap gekry het, is die laaste wat sy kan onthou. Sy hoor haar ma iewers kerm. Ria voel hoe haar trane warm strepies maak oor haar wang, maar sy voel niks binne haar nie. Sy is nie bang nie, niks is meer seer nie. Alles is 'n droom. Haar pa draai om en sy sien die ysterpyp in sy hand met die punt daarvan 'n gloeiende rooi. Die pyp maak patrone in die donker, kringetjies en kruisies soos 'n dronk vuurvlieg. Haar pa is 'n kulkunstenaar met 'n towerstaf. Ria voel niks. Haar pa ruk haar aan haar hemp regop. "Hou op huil! Hou op! Dis al wat julle kan doen, neul in my ore. Tjank en neul. Dis oor julle dat ek is soos ek is. Jy en jou verskoning vir 'n ma. Dis oor julle dat ek hier sit met niks!" Ria se pa skreeu so hard dat daar spoeg in haar gesig spat. Sy probeer haar arms voor haar gesig hou, maar haar pa gryp dit vas en druk dit bo haar kop teen die muur vas met een hand. Haar pa is 'n beer. Die vuurvlieg kom nader en land op haar voorkop net bo haar linkerwenkbrou. Ria voel niks. Dan styg die vuurvlieg op en land weer bo die regter wenkbrou. "Dis waar jou horings hoort, dogter van Satan." Haar pa gooi haar op die grond neer. Die laaste wat sy hoor, is haar ma wat iewers haar naam gil.

"... my ouers is nou albei afgetree en bly in 'n gemaklike meenthuis in 'n sekuriteitskompleks." Die mooi vrou se armbande skuif af teen haar arm terwyl sy na iets in haar handsak soek. "Waar is jou ouers nou?"

Ria kyk vir die eerste keer op van haar voete af en kyk die vrou langs haar in die oë. Die vrou het donkerbruin oë met lagplooitjies omraam, haar lippe is ’n ligte pienk en haar glimlag maak ’n kuiltjie bo die hoek van haar een mondhoek. Sy wens sy kon die vrou soen op daardie klein kuiltjie. "Hulle is dood." Ria besef na 'n oomblik van stilte dat die vrou se hand nou op háár hande rus. Ria maak haar keel skoon. "Hulle is oorlede in 'n ongeluk 'n hele paar jaar gelede."

Die vrou frons simpatiek terwyl sy nou albei Ria se hande vashou in hare. "Ek's jammer om dit te hoor. Dit is nie maklik om mens se ouers af te staan aan die dood nie." Die vrou se hande is so sag, sy ruik so lekker. Sy wens sy en die mooi vrou was die enigste mense in die trein.

Sy maak haar oë toe en onthou die koue harde rand van haar bruin tassie met die ballonne op en sy sien weer haarself op die sypaadjie oorkant die huis sit. Sy was nog altyd bang vir die donker, maar nie daardie aand nie. Daar was 'n oranje gloed wat die donker om haar verwilder het. Sy het met haar hande onder haar ken gesit, elmboë op haar knieë. Die wind het haar kuif oor haar voorkop met die rowe geskuif. Sy onthou dat sy nie eers haar oë geknip het toe die huis se vensters een vir een gebars het nie.