Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Probleme met oupas


Danie Botha - 2009-03-10

Daar in die jare vyftig was die radio vir ons boerefamilie regtig 'n aardigheid.
         
As oom Kosie Malan sy skoonpa-hulle 'n slag wou plesier, het hy op 'n Saterdagaand die draadloos met die formidabele battery in die bakkie van Boplaas aangery sodat almal by Oupa-hulle Die Mielieblaarklub kon luister. Die lugdraad is by die hoë voorhuisvenster uitgehang.
         
Later het Oupa en Ouma 'n eie radio gekry, een wat met 'n klomp batterytjies gewerk het. As hulle begin pap word, pak Oupa hulle op die vensterbank in die son om te laai.
         
Ons wat langsaan gewoon het, het eers jare later 'n transistor gekry. Daarom moes ek altyd vroegmiddag omdraf om na Die indringer (“Dricky Beukes se verhaal wat elke moederhart sal roer”), Die volmaakte uur en Portia faces life te gaan luister. En weer laatmiddag vir Ons roep die jeug. Tant Anna het soms saam met Ouma gewonder of ek nie te veel draadloos luister nie – wat van my skoolwerk?
         
Vrydagaande was daar die lang sit, voete op die sport van die stoel met die groen sitplek en lang, regop rug. Koulik en styf het jy hier ná nege omgestap kamer toe, nog diep onder die indruk van die lewensleed wat jy aangehoor het in Radioteater. Deur die venster geklim terwyl die ander al slaap.  
         
Elke ander aand van die week is 'n ritueel voltrek. Sewe-uur luister ek en Oupa en Ouma die hoofnuus en die streeknuus. Dan is daar tien minute speling voor die aandvervolgverhaal begin. In daardie tien minute vat Oupa-hulle boeke. Ouma lees uit die Bybel en dan sak ons op ons knieë by die warmgesitte groen stoelholtes neer sodat Oupa kan bid.
         
Elke aand dieselfde half-Hollandse gebed. Altyd dieselfde woorde, teen dieselfde tempo, en altyd emosioneel uitgewroeg: "Gaat tog deze donkere nag weder met ons in. Wees tog al onze kinderen een God van naby, waar zij ook al mag zijn."
         
Met die orentkom draai alleenlik Oupa die radio se aansitknoppie, presies betyds vir die kenwysie van Jan Schutte se Die Du Plooys van Soetmelksvlei. Ons het nie geweet dis een van Rachmaninoff se variasies op 'n tema van Paganini nie.       
         
Een aand is daar die geur van modder en nat bloekoms deur die venster. 'n Vir die Boland lang droogte is gebreek met dae en nagte se vlae reën.
         
Oupa se beker van dankbaarheid is aan die oorloop. Hy voeg iets by! "Oooo, onze God en almagtige Vader, ons wil U dank en prys ... vir die milde regen wat op die aarde ... neergedroppelen het."
         
Stadig gaan sit Oupa weer, sy gedagte nog by die genadegawe. Ek wil hom aanhelp ... Ná 'n ewigheid laat hy die knoppie klik.
         
Teen daardie tyd "Maar Bartel!" tant Hybie al.
         
Huisgodsdiens met Ver-Oupa was 'n ander storie. Hy het ná Ouma se dood nogal dikwels by ons kom kuier, vir Pa help appelkoosbome snoei of wingerdstokkies ent. Of daardie geheimsinnige werk aan die varke in hulle hok.
         
Baie skoolgeleerdheid had hy nie; het maar net standerd drie gemaak. Maar op sy oudag was hy 'n man van aansien op Worcester. Oom Koos Möller het glo eindeloos vir reg en geregtigheid op die kerkraadsvergaderings gestry; die dominees was in hul pasoppens vir hom. En menige oggend het hy met Pennie, sy worshond, oor Stasieheuwel gestap en sy wysheid met sy tydgenote in Tuindorp gaan deel.
         
As hy dan op die plaas kom kuier, word ons eetkamertafel skielik 'n huisaltaar. Ander tye het Ma eers vir ons in ons kamer kom lees uit Die Kind se Bybel (van Herman B Scholtemeijer) en ons gebedjies aangehoor. Daarna kon ons ver weg hoor hoe Ma en Pa stiltetyd hou - sy wat voorlees uit die Bybel en Uit die Beek. Dan die stilte waarin elkeen seker op sy eie gebid het.
         
Maar nou: Oupa met sy kaalkop sit aan die kop van die tafel, Pa aan sy linkerkant.
         
Een aand sit boet Koos regoor Oupa aan die onderpunt van die tafel. Hy 'n mannetjie in standerd vier en Oupa se genant.
         
Toegewyd en waardig lees Oupa, soms met 'n effense klank van aangedaanheid in die stem.
         
En net daar begin Koos te sukkel met 'n lagbui.
         
Pa steek 'n vadoek in sy mond om vir Koos te beduie hoe hy die gegiggel kan keer. Maar hoe meer Pa dit doen, hoe meer lag Koos.
         
"Jakobus!" spreek Oupa hom toornig aan. Dadelik help dit.
         
Later in die slaapkamer sê Koos hy't gelag oor hy, die standerd vier-ou, wat moet luister hoe lees die standerd drietjie.

<< Terug na Vintage@LitNet <<