Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Kuiertydjies met oom Piet Nien


Ellen Botha - 2009-03-10

'n Vriendelike oom wat baie interessant kon gesels, het so een of twee keer per maand van Johannesburg af na sy plaas Libri in die Senekal-distrik gery. Vir ons as jong dogters was prof PJ Nienaber net oom Piet Nien, ons ouers se goeie vriend, en ook ons s'n. Hy het altyd belang gestel in en uitgevra na ons kinders se doen en late. Die gewoonte was dat hy eers by ons in die dorp inloer vir 'n geselsie en sy glas koue water met twee blokkies ys. Dan het hy sy hoed afgehaal en ons kon sy deurmekaar bos hare gadeslaan.

Hierdie "geselsies" was gewoonlik lang gesprekke wat tot laatnag aangehou het. Hy en my pa het 'n jare lange vriendskap geniet – saam met hul voorliefde vir sigarette en soms 'n Ritmeester-sigaartjie in die hand, totdat albei ophou rook het.

Toe oom Piet vroeg een aand weer opdaag, wag ons om sy sigaret vir hom aan te steek en hy deel ons mee dat hy mos nie meer rook nie. Die taalkundige in hom het dadelik na vore gekom. Ons moes veral oplet na die woord "mos", wat volgens hom boekdele spreek. Só het hy ons deeglik bewus gemaak daarvan dat selfs 'n onbeduidende woordjie 'n groot betekenis kan hê.

Die lewendige gesprekke tussen die twee vriende was nie net oor landsake, filosofie, die weer en sport nie, maar natuurlik ook oor dinge wat in die literêre wêreld aan die gebeur was. Daar is toe veral baie gepraat oor NP Van Wyk Louw en Opperman, onthou ek. Ook oor Elisabeth Eybers (hul destydse buurvrou en vriendin) en oor Sheila Cussons, wat van oom Piet se broer Stoffel geskei was en in Spanje gaan woon het. Later, ná haar terugkeer na Suid-Afrika, het oom Piet Nien haar dikwels in die stilligheid finansieel gehelp.

Vakansietye was die hele Nienaber-gesin op Libri en dit het 'n oor-en-weer-gekuier tussen die families afgegee. Ons kinders het saam gaan fliek in Bethlehem en in die winter saam met tannie Kitty gaan kyk na die sneeu op Lesotho se berge. Oom Piet het hom liewer met sy plaasdinge besig gehou.

Hul seun Hanko was my ouderdom, Nestrus bietjie ouer en Gawie hul jongste. Twee van my bakvissie-niggies was smoorverlief op die handsome Gawie. Hulle het knaend kom kuier wanneer die Nienabers in die omgewing was en het omtrent gesoebat om saam plaas toe te ry. Gawie was salig onbewus van hierdie fladdering wat hy in die meisies se harte losgelaat het. Maar met sy fyn waarnemingsvermoë het oom Piet dit dadelik agtergekom en die jongmense se verliefdheid geniet. Ek en Hanko het mekaar ook so half versigtig uitgekyk, maar dit het op 'n hegte vriendskap, sowel as 'n briefwisseling, uitgeloop, soortgelyk aan dié wat ons pa's gehad het. Ons skryf steeds aan mekaar.

Gedurende daardie tyd gee oom Piet my sy eie eksemplaar van Ek versamel boeke– die één boek wat hy nie van homself kon gegaps het nie! En voor in die boekie skryf hy, sekerlik met 'n knipoog: "Ellen, wat versamel jy?" Ek, wat juis toe tussen twee kêrels moes kies, het kompleet gevoel asof hy my behoorlik uitgevang het.

'n Paar van my pa se boeke het ook skielik weggeraak, altyd net ná een van oom Piet Nien se kuiertjies. Toe my pa agter die kap van dié spesifieke byl kom, het hy begin om oom Piet besonder hartlik en o, so intiem ,te omhels wanneer hulle mekaar gegroet het, net om seker te maak dat daar geen dikkerige harde dinge in oom Piet se baadjie- of jassakke versteek was nie!

Oom Piet was nie 'n biétjie trots op al die verbeteringe wat hy op Libri aangebring het nie. Ons moes gereeld gaan kyk tot waar die dam of die nuutste muur al gevorder het. Wanneer een van sy sogenaamde patente nie so goed uitgewerk het nie, het hy lakonies opgemerk dat elke verbetering 'n verandering is, maar nie elke verandering altyd 'n verbetering nie.

Intussen was hy selfs op Libri ook besig met een van sy groot take – om 'n herdruk van sy eerste Bibliografie van Afrikaanse boeke op datum te bring. Ek en my sus Rosa, toe albei al op hoërskool, het hom kastig in die buitekamer gehelp met die liassering daarvan. Dit het ons vreeslik belangrik laat voel, veral toe hy ons met sjokolade vir ons werk en hulp bedank het. Hy het werklik die gawe gehad om selfs kinders spesiaal te laat voel.

Rosa het op 'n keer saam met oom Piet in sy motor na Libri gery. Die sinkplaat-plaaspaaie was doerie tyd taamlik gevaarlik, maar dit het hom nie in die minste afgesit nie. Wanneer 'n groot ou lorrie stadig in die middel van die pad aangekruie het, het oom Piet dit doodeenvoudig sommer aan die linkerkant verbygesteek so tussen die stofwolke deur. En dié saam met hom in die motor moes maar hoop dat daar niks voor die lorrie in die pad sou wees nie. Dit wil voorkom asof sy beskermengel gedurig oortyd moes werk wanneer oom Piet op 'n plaaspad was.

Ons jongste sus, Carina, laat weet die volgende:

"Die een ding wat ek so goed van oom Piet Nien onthou, is die grap wat hy ten koste van homself vertel het: van die student wat uit sy klas geloop het terwyl hy dink hy't 'n goeie lesing aan die gang. Hy kry toe die man die volgende dag by die ingang van die lesingsaal, vra hom of dit hy is wat uit die klas geloop het en toe sê die student vir hom: 'Nee, Prof, ek loop nooit in my slaap nie.'

"Oom Piet het vertel dat hy vir die eerste keer in sy lewe sprakeloos was."

Later tref 'n tragedie die Nienabers: tannie Kitty se rumatiek het so versleg dat sy in 'n versorgingsoord in Pretoria opgeneem is. Wanneer oom Piet nog sporadies na sy plaas gegaan het, was dit vir my ouers opmerklik hoe groot die uitwerking hiervan op hom was. Daar was nie meer 'n geliefde wat kon omsien na sy klere of sorg dat sy hare netjies en skilferloos bly nie. Hy het sy klein steunpilaartjie geweldig gemis. Ek self het toe klavierlesse by Pretoria se destydse Kollege vir Gevorderde Tegniese Onderwys gegee. Wanneer ek tannie Kitty gaan opsoek het, was oom Piet meermale ook by haar. Sy het steeds daarop aangedring om self die tee te maak. Haar hande was al só verwronge dat sy nie eens die skakelaar vir die ketel kon aansit nie. Sy moes dit doen met haar kierie tussen die arms vasgeklem. En wanneer ons klaar gekuier en haar verlaat het, was daar meer as een keer trane in my en in oom Piet se oë.

Op my pa se begrafnis in 1972 het oom Piet Nien namens die Akademie vir Wetenskap en Kuns 'n roerende huldeblyk gelewer. En 'n mens kon aanvoel dat hy die lang verbintenis en weeklikse korrespondensie met sy ou vriend ook erg sou mis. Oom Piet, wat toe reeds in Bloemfontein bedrywig was met die totstandkoming van 'n Afrikaanse letterkundemuseum en navorsingsentrum, het voorgestel dat daar 'n kamer in die nuwe NALN vir my pa beskikbaar gestel word. Dit was dan ook die eerste voltooide een daar.

Ná tannie Kitty se afsterwe loop oom Piet Nien sy heel eerste skoolliefde weer raak. Hulle is kort daarna getroud. Só ontmoet ons toe die net so liewe tant Matty – en 'n splinternuwe oom Piet, met netjiese hare, goedversorgd en uiteindelik weer sielsgelukkig. My ma het na my pa se dood ook Bloemfontein toe getrek, die ou vriendskapsbande is hernu, en vir die volgende veertien jaar het ons met elke besoek aan haar soos in die ou dae saam met die Nienabers oor en weer gekuier. Somertyd is ons daar weg met vrugte uit hul tuin. In die winter was hul warm gasvryheid genoeg om die Vrystaatse koue meer draaglik te maak. Hy was nog net so spitsvondig soos altyd, hoewel sy gesondheid algaande verswak het.

In 1986, op my ma se begrafnis, het oom Piet weer eens in Senekal se ou Moederkerk 'n huldigingswoord kom lewer, hierdie keer op ons versoek. Te midde van die eie hartseer en skok oor haar skielike dood, het ek hom so innig jammer gekry. Dit was amper onmoontlik vir hom om te praat. Sy stem het gebreek en hy moes kort-kort stilbly om sy emosies in toom te probeer hou. Ons het eers later besef hoe ontsettend moeilik dit vir hom moes gewees het en dat hy inderdaad skaars daartoe in staat was. Maar hy wou aan ons versoek voldoen. As dierbare familievriend sou hy dit nooit geweier het nie, al was dit ten koste van homself.

Ná my ma se dood was ons nie weer Bloemfontein toe nie, hoewel ek nog kontak met oom Piet Nien behou het deur briewe en telefoonoproepe. Sy laaste paar briefies aan my was weens sy bewende hande byna onmoontlik om te lees, en daarom ekstra kosbaar.

Ons was besonder bevoorreg om oom Piet as huisvriend te kon hê. Vir ons as gesin was dit meer werd as sy reusewerk in verband met die letterkunde, die oprig van musea en sy talle ander nagelate werke wat hy in sy besige lewe ingepas gekry het. Hy was nooit te besig om tyd vir ons te maak nie.

Hoe onthou ek hom? As liefdevolle, gewaardeerde vriend, as iemand by wie 'n mens veilig en geborge kon voel omdat hy ons onvoorwaardelik aanvaar het. Ek hoor steeds sy stem as hy met aansteeklike entoesiasme vertel van sy jongste projek. Ek onthou sy sin vir humor, maar ook sy trane wat hy nie kon keer nie wanneer iets hom diep geraak het. Ek onthou hoe trots hy op sy drie seuns was. En ek onthou hom op sy plaas, wat vir hom 'n aflaaiplek van al die stres was waaronder hy moes gewerk het om alles gedoen te kry. Hoe hy ná 'n kuiertjie met die groetslag gesê het: "Tot 'n volgende keer, dan."

Ons heel laaste ontmoeting was toe oom Piet en tant Matty weer by een van haar dogters in Piketberg gaan kuier het. Hulle het soos altyd van daar af geskakel en gesê hulle wil ons in die Kaap kom groet. Toe hulle hier instap, het ek reg gestaan met sy glas koue water en die twee ysblokkies.

Ná die besoek het hy nie soos gewoonlik gegroet nie. Ons albei het mos geweet dat daar nie 'n volgende keer sou wees nie.

Ellen Botha

* Hierdie bydrae sal verskyn as deel van 'n huldigingsbundel vir PJ Nienaber, saamgestel deur Leandré Hanekom. Indien jy 'n bydrae wil maak, stuur 'n e-pos aan bloemdodo@yahoo.com.